|
||||
Christo Viljoen Deur Christo Viljoen, afgetrede Viserektor (Bedryf) van die Universiteit Stellenbosch Dit is Joseph Goebbels wat sou gesê het: "As jy 'n groot leuen genoeg herhaal, sal mense dit later glo." Met die universiteitsubsidielegende, onlangs weer verkondig deur prof. Sandra Klopper (Professor in Beeldende Kunste aan die Universiteit Stellenbosch) ten tye van die Fischer-eregraaddebat, staan dit ook gevaar om as die waarheid aanvaar te word. As uitgangspunt van 'n onsuksesvolle mosie waarvoor sy voor die Konvokasie as mede-sekondant opgetree het, het sy naamlik plegtig verklaar: "Die US het die meeste baat gevind by staats- en semistaatsfinansiering in die vorige bedeling." Dieselfde onbewese uitspraak is herhaal in 'n koerantberig op 13 November in Die Burger. Dit is tyd dat die werklike feite oor universiteitsubsidies "in die vorige bedeling" van naderby beskou word. SANSO-subsidiestelsel Alle sogenaamde histories bevoordeelde universiteite (na wie dikwels as die groep van Historiese Wit Universiteite, afgekort HWU's, verwys word) was "in die vorige bedeling" aan presies dieselfde SANSO (Suid-Afrikaanse Na-Sekondêre Onderwys) subsidieformule onderworpe. Daarvolgens is universiteite se staatstoekenning deur die Departement van Nasionale Opvoeding (of ook Onderwys) hoofsaaklik gebaseer op die sogenaamde VES'e (voltydse ekwivalente studente), en aspekte soos navorsings-uitsette. Die VES'e het sowel 'n koppetelling van studente, as studente se slaagprestasies ingesluit. Studente in die natuurwetenskappe het 'n goter staatsubsidie per VES as studente in die geesteswetenskappe gegenereer as gevolg van die hoër onderrigkoste van eersgenoemde (wat hoofsaaklik laboratoriumgebaseer is). Nagraadse studente het eweneens 'n hoër staatsubsidie per VES tot gevolg gehad. Dit het beteken dat die US, per VES, presies dieselfde staatsubsidie ontvang het as UCT, UP, Wits, Universiteit van Natal, UPE, UOVS, PUvCHO, ens. Daar was inderdaad géén onderskeid nie. Dat "die US die meeste baat gevind het by staats- en semistaatsfinansiering" is dus gewoon nie waar nie. Ironies genoeg was dit ook in die geval van die HWU's nie die geval nie, soos wat ek aanstons sal aantoon. In dieselfde tyd het die sogenaamde histories benadeelde universiteite (oftewel Historiese Swart Universiteite, afgekort HSU's) hul staatsubsidies ontvang van verskillende staatsdepartemente, en was dit normaalweg gebaseer op 'n begroting wat aan die betrokke staatsdepartement voorgelê is. Vir UWK was die verantwoordelike staatsdepartment die Departement van Kleurlingsake, en vir die ander HSU's die Departement van Bantoesake (in die nomenklatuur wat destyds gegeld het), en hul opvolgdepartemente in latere jare. Skrywer kan onthou hoe hy, as jong dosent aan die US, met afguns verneem het van die ultramoderne IBM 360 rekenaar wat destyds by die UWK in gebruik geneem is, terwyl die Stellenbosse dosente en studente nog jare lank moes sukkel met 'n verouderde IBM 1620 sentrale rekenaar. Toe hy dit teenoor 'n kollega wat aan UWK verbonde was noem, was sy antwoord: "Wel, ons vra net in die begroting daarvoor en dan kry ons dit." (Bygesê, via dieselfde vriend se invloed kon ek oorry na die UWK-kampus om my berekeninge op hul onderbenutte en veel kragtiger IBM 360 rekenaar te gaan uitvoer.) In die middel negentigerjare is van owerheidskant besluit om álle universiteite in SA oor een kam te skeer en sou dieselfde SANSO-subsidieformule voortaan op almal van toepassing gemaak word. Met die eerste resultate van berekening van die toepassing van die SANSO-subsidieformules op die HSU's, het dit finansiële ontsteltenis in dié geledere veroorsaak. Dit blyk toe naamlik dat die HSU's se totale subsidie-inkomste, volgens die SANSO-formules, aansienlik minder sou wees as wat hulle voorheen ontvang het! Soos dikwels die geval is, is 'n verskeidenheid van ongegronde en onbewysbare gerugte opgedis dat die SANSO-stelsel kwansuis ontwerp sou wees om die HWU's te bevoordeel. Die Departement van Onderwys moes die krisis ontlont en die oorgang na 'n subsidieformule wat op alle universiteite van toepassing sou wees, oor 'n tydperk infaseer. C-faktor aangepas Die oplossing was om die sogenaamde C-faktor anders aan te pas vir die HSU's. Die C-faktor was naamlik deur die Minister van Onderwys ingevoer om sy begroting te laat klop, en was jaarliks arbitrêr deur hom bepaal. Dit is die faktor waarmee die berekende subsidie volgens die SANSO-formules afgeskaal word om binne die Departement van Onderwys se begroting te bly. As die totale beskikbare fondse dus net sê 80% was van wat die SANSO-subsidieformules voorgeskryf het, het die minister eenvoudig C = 0,8 gestel en het elke HWU 80% ontvang van dit waarop dit volgens die formulas aanspraak gehad het. Die Minister van Onderwys se woord was finaal, en die HWU's moes daarby inval. Van konsekwentheid van jaar tot jaar was daar nie juis sprake nie: in een periode van twee jaar het SA nie minder nie as vier verskillende Ministers van Onderwys (waaronder Piet Koornhof) gehad. Met die toepassing van die SANSO-subsidieformule op álle universiteite, was die C-faktor vir alle HWU's dieselfde gehou, maar is dit as oorgangsmaatreël per inrigting vir die HWU's indiwidueel aangepas om hulle van finansiële ondergang te red. Vir die meeste HWU's was die tussentydse C-faktor inderdaad méér as eenheid, wat beteken dat hulle méér geld per VES ontvang het as wat selfs die SANSO-subsidieformules voorgeskryf het. Een van die HSU's se aangepaste C-faktor het bv. tot gevolg gehad dat dié inrigting 5,8 keer méér staatsfondse per VES van die staat ontvang het as enige HWU! Die vraag wat nog nooit behoorlik beantwoord is nie, is hoe dit moontlik is dat die HSU's, met 'n gunstiger finansiële bedeling (per VES) as wat die HWU's tot in dié stadium geniet het, dan "agter geraak" het? Personeelvoorsiening Een van die verklarings lê in die personeelvoorsiening van die verskillende universiteite. Universeel word aanvaar dat 'n universiteit tipies nie meer as twee-derdes van sy sentrale begroting (koshuis-akkommodasie uitgesluit) aan personeeluitgawes moet spandeer nie. Vir een HSU (wie se naam ek liewers verswyg) het die personeeluitgawes 92% van die totale begroting in die middel 1990's bedra, wat uiteraard baie min laat oorbly vir bedryfs- en kapitaaluitgawes. Rojale personeelgetalle was aan die orde van die dag, met gunstige student/dosent getalleverhoudings. Trouens, een HSU het, vir drie trekkers wat hul besit het, nie minder nie as 24 trekkerbestuurders op hul personeel aangestel gehad. Bykans elke gesin op die dorp het 'n lid gehad wat by die plaaslike universiteit werksaam was. Dit is bekend dat 'n lektor aan 'n HWU destyds 'n aansienlik kleiner totale vergoedingspakket as sy eweknie aan sommige HSU's ontvang het. Om te kompenseer vir die Groepsgebiedewet wat verhoed het dat nie-wit dosente naby die kampus kon woon, het enkele HSU's ook nog "reis- en ontberingstoelaes" aan hul nie-wit personeel betaal; dié toelaes het van dieselfde orde as hul basiese salarisse bedra. Studentegelde Dit word toegegee dat studentegelde ook 'n invloed gehad het op die HSU's. Vir 'n tipiese HWU het sowat twee-derdes van sy begrote inkomste van die staatsubsidie gekom, 'n kwart van studentegelde, en die res (minder as tien persent) van ander inkomstebronne. Vir die HSU's was die vernaamste bron van inkomste die staatsubsidie, ook as gevolg van die onvermoë van hul studente om by te dra tot vergelykbare klasgeldinkomste. Die aansienlik kleiner getal studente in die natuurwetenskaplike rigtings (wat 'n groter subsidie per VES genereer as hul eweknieë in die geesteswetenskappe) aan die HSU's was uiteraard ook 'n bydraende faktor. In baie gevalle het dit onekonomiese klein klasgroottes tot gevolg gehad, wat uiteraard deur groter departemente gekruissubsidieer moes word. Studenteslaagsyfer en navorsingsuitsette Studentedeurvoer het uiteraard die VES-berekeninge van elke inrigting beïnvloed, aangesien die helfte van die berekende VES bestaan het uit die sukseskoers van die betrokke student. Tans nog word dit beraam dat die totale getal studente wat uit die hoër opvoedkundige inrigtings in SA verdwyn sowat 100 000 per jaar bedra (uit 'n totale studentebevolking van 600 000 in dié inrigtings). Die sukseskoers per kursus bedra sowat 70% of minder, en die gradueringstempo is dikwels 15% of minder, hoofsaaklik as gevolg van die stakings, herhalings, ens. 'n Belangrike verskil het gekom by die subsidiekomponent wat gekoppel is aan navorsingsuitsette. Daarvolgens ontvang universiteite 'n subsidie vir elke navorsingsartikel wat in 'n erkende vaktydskrif gepubliseer word. Hier het groot verskille tussen die HWU's en HSU's voorgekom, en bestaan dié situasie nog steeds bykans onveranderd. In 1998, byvoorbeeld, was ongeveer 65% van alle navorsingspublikasies wat vir subsidiedoeleindes geproduseer is, afkomstig vanaf slegs ses van die 21 universiteite, nl. UCT, Wits, Natal, Vrystaat, Pretoria, en Stellenbosch (almal toevallig HWU's). In sommige jare was die navorsingsuitsette van bepaalde HSU's nul, sodat geen subsidie in dié kategorie verdien is nie. Dieselfde ses voormelde inrigtings het ook bykans 70% van Suid-Afrika se totale magister- en doktorsgraduate gelewer, waarop uiteraard ook 'n groter staatsubsidie verdien word. Op die gebied van navorsingsuitsette was die prestasie van die HSU's aansienlik swakker as dié van die HWU's. Bydrae (%) van HWU's en HSU's tot die toale SANSO navorsingsuitsette (1995-2001)
Ten slotte Die agteruitgang ten opsigte van fisiese fasiliteite en infrastruktuur van die HSU's is 'n ingewikkelde aangeleentheid met verskeie oorsake, waartoe bestedingspatrone aan universiteite, interne finansiële beheer en -dissipline, studentesamestelling en sukseskoerse, navorsingsuitsette, ens. almal 'n bydrae gelewer het. |