|
||||
Desmond Painter Jan Rabie het na Kreta, waar hy 30 maande gewoon het, verwys as die "klipwieg" van Europa en die Westerse beskawing. Die Minoïese nalatenskap, oral te sien op die eiland, skep inderdaad die indruk van ? byna ondeurgrondbare historiese en kulturele kontinuïteit. Maar Kreta was nog altyd eintlik meer kruispad as vestiging - ? gebied van hibriede identiteite nog voor die begrip "hibriditeit" in die postkoloniale teorie modieus geword het; ? plek van invallers en vlugtelinge; ? sone van besettings, vestigings en hervestigings. ? Mens sal verskoon word as jy dink Kreta se enigste besoekers is die massas toeriste wat jaarliks op haar strande toesak. Die nasionalistiese preokkupasie met een kultuur, een taal en een godsdiens is hier net so vanselfsprekend as elders in Europa, en alledaagse, toeristiese sowel as amptelike voorstellings van Kreta is dat dit eksklusief Grieks was, is, en altyd so sal wees. Tog is daar benewens die jaarlikse kom en gaan van toeriste ? ewe aktiewe verkeer van ongedokumenteerde migrante (in die openbare diskoers, onwettige migrante), asook politieke vlugtelinge en asielsoekers. Somige van hierdie hoopvolle ongedokumenteerdes steek die verraderlike Middellandse See oor in bote van Noord-Afrika, op pad na verskillende bestemmings op die Europese vasteland (daar is al na die Middellandse See verwys as die grootste Europese massagraf sedert die Tweede Wêreldoorlog); ander, en die meeste van diegene vir wie Kreta die bestemming is, kom van plekke soos Albanië, Bulgarye en Sirië - en ander lande op die suid-oostelike periferie van die Europese Unie (EU). Sommiges kom met die idee om te bly; ander steek die grens, of meervoudige grense, meermale oor in komplekse, dikwels seisoenale patrone van transnasionale beweging. Die belangrikste rede vir hulle ingewikkelde, dikwels gevaarlike passate - soms op hulle eie, soms georganiseer deur sindikate - is die beskikbaarheid van werk in die toerismebedryf, konstruksie of landbou. Duisende word aangekeer en gedeporteer (die grens word immers geïntensifiseer, eerder as ondermyn, in ? multinasionale Europa waar elke deelstaat verantwoordelikheid aanvaar vir elke ander deelstaat se grens), maar ? groot groep word nie-amptelik en sonder dokumente deurgelaat. Eerder as totaal gefortifiseer, volg die grens ? differensiële logika wat ? fyn aanvoeling toon vir die arbeidsbehoeftes in die onmiddellike omgewing. Ongedokumenteerde migrante bevind hulle dus in ? soort skadu-ekonomie wat ? goedkoop ooraanbod van arbeid beskikbaar maak aan taverne-eienaars, boere en boukontrakteurs, sonder dat enige maatskaplike voorregte en sekuriteit of kulturele en politieke verteenwoordiging in ruil aangebied word. Die amptelike nie-verteenwoordiging of onsigbaarmaking van ongedokumenteerde migrante beteken dat hulle dikwels uitgelewer is aan ander, meer venynige soort voorstellings - byvoorbeeld, die manier waarop die media en politici hulle verbind aan die morele panieke oor georganiseerde misdaad en, deesdae veral, internasionale terrorisme. Hierdie kortsluiting in die politiek van verteenwoordiging kan natuurlik toegeskryf word aan die feit dat politieke verteenwoordiging steeds grootliks binne die parameters van die nasiestaat bedink word. Selfs welwillende intervensies volg meerendeels ? nasionalistiese logika: migrante moet geïntegreer word in die heersende nasionale kultuur. Die probleem is egter dat hierdie soort reaksies nie tred hou met die manier waarop ongedokumenteerde migrasie, soos die gedereguleerde vloei van kapitaal, ? outonome, transnasionale proses geword het nie. Die nasionalistiese raamwerk, of dit nou eksklusief of inklusief is, faal dus as ? politieke verbeelding wat ongedokumenteerde migrante, en eintlik ons almal, van voortgesette verteenwoordiging en openbare deelname aan ? politieke gemeenskap (eerder as ? privaat deelname aan ? suiwer ekonomiese gemenebes) in ? globaliserende, post-nasionalistiese wêreld kan verseker. Dit is met hierdie bereidwilligheid om die periferale as sentraal aan te spreek, en om die foutlyne van ons eie politieke leefwêrelde in die lot van die ongedokumenteerdes te sien, dat ? groep akademici, navorsers, aktiviste en kunstenaars tydens Oktober in Rethimno, ? kusdorp in Kreta, saamgetrek het vir die simposium, Transit Migration I: Migration across Southern/Eastern borders. Benewens akademiese verslae en dokumentêre rolprente oor grenspolitiek en die verteenwoordiging van onwettige migrante in spesifieke streke (Slovenië, Italië, Griekeland, Turkye, ens.) het die kongresgangers erns gemaak daarmee om Europa vanuit die perspektief van transnasionale vloei, veranderlikheid en interkonneksies kultureel en polities te herdink. Terwyl Europa aan die eenkant deur uitbreiding as geopolitieke streek vergroot, bevestig en gefortifiseer word, word dit aan die anderkant ook juis in hierdie nuwe grensgebiede toenemend gedesentreer en vloeibaar gemaak. En dit is juis Suid-Oos Europa, tradisioneel op die periferie van Europa, wat op hierdie manier die middelpunt geword het van transnasionale bewegings en, meer grondliggend, Europese selfdefinisies. Wat ek hierbo oor Kreta gesê het, geld dus ook Griekeland, Slovenië, Suid-Italië, Turkye en ander, waar die rituele dramas van grensbeheer, nagtelike oorgange, deportasies, vlugtelingkampe, en die informele arbeidsmark plaasvind. Dit is hier, eerder as as in die ekonomiese en ideologiese hart van die EU, waar die betekenis van Europa, grense, burgerskap, en van politieke gemeenskap opnuut bedink kan word. Presies hoe ? post-nasionale politieke gemeenskap sal lyk, en of begrippe soos "burgerskap", "internasionale menseregte" of "gemeenskap" nog enige drakrag het, was nie duidelik nie. Wat wel duidelik was, is dat migrasie toemenend aangespreek en verhef word tot 'n strydpunt vir diegene in Europa wat soek na 'n regverdiger globalisering en die definiëring van ? ander politiek. Dit is ook die toetssteen vir pogings om anders (lees: post-nasionaal) te begin dink oor dinge soos minderheidsregte, rassisme en anti-rassisme, burgerskap, politieke gemeenskap en die rol van die media. Die vraag waarmee die simposium ons gelaat het, was: Hoe moet ons ons posisioneer in ? markfundamentalistiese wêreld waar plek toenemend opgehef, grense noodwendig oorskry en gerelativeer, en die rol van nasionale politiek vereng word tot die bied van polisiëring en militêre eerder as maatskaplike sekuriteit? ? Wêreld, met ander woorde, waar nie net wegdoenbare produkte nie, maar ook wegdoenbare gemeenskappe, plekke, omgewings en lewens geskep word. Ek het reeds daarop gewys dat nasionalisme, inklusief sowel as eksklusief, deur die meerderheid simposiumgangers afgewys is. Maar wat van "gemeenskap"? In die soort wêreld hierbo beskryf is 'n beroep op gemeenskap dikwels 'n kragtige reaksie teen die gevoel van verplasing en die sistematiese aftakeling van plek, identiteit en maatskaplike sekuriteit. Tog, die geneigdheid van gemeenskapsdenke om te fokus op historiese geheue en kontinuïteit beteken dat migrasie vasgevang bly in ? diskoers van "lande van herkoms" en "gasheerlande"; dit word as't ware van twee kante genasionaliseer, met die gevolg dat die outonome, transnasionale aard van die fenomeen steeds ontken word. Maar natuurlik, ? beroep op gemeenskap kan ook ? strategiese ruimte wees vanwaar ? nuwe wêreld bedink kan word - mits gemeenskap ? toekomsgerigte, oop identiteit veronderstel. Transit Migration II word volgende Oktober in Keulen, Duitsland aangebied. Soos die eerste simposium word dit aangebied deur die Instituut van Kulturele Antropologie en Europese Etnologie aan die Universiteit van Frankfurt am Main en die Instituut van Teorie van Ontwerp en Kuns, ICS/HGK Zurich. Meer inligting oor die pas afgelope sowel as die komende simposium kan gevind word by www.transitmigration.org |