|
||||
Na aanleiding van die gesprek tussen die FAK en die AB skryf Willie Reyneke op 12 November 2004: Die konsep van eenheid onder een nasie en dat ons moet inkoop in demokrasie klink vir my bietjie demoonagtig. Die feit dat die FAK terug na sy ontstaanswortels wil gaan, kan ek nie raaksien in die gesprek nie. Miskien moet die AB en FAK ophou droom en na ons eie wortels terugkeer. Ons Redakteur antwoord: Mnr. Reyneke, u moet versigtig wees om so vinnig te lees. Soos die FAK die afgelope maande by talle geleenthede dit duidelik gemaak het, is hulle juis gekant teen ‘n sentralistiese begrip van nasiebou wat as demokrasie aangebied word. Daarenteen huldig die FAK die standpunt dat die welstand van gemeenskappe, eerder as van die staat, die toetssteen van demokrasie is. Hiermee is die FAK inderdaad besig om terug te keer na sy wortels van ‘n gemeenskapsdemokratiese instelling. Na aanleiding van Louis Louwrens se brief oor Afrikatale as universiteitsvak en ons Redakteur se antwoord daarop skryf prof. Vic Webb, Direkteur, Sentrum vir Navorsing in Taalpolitiek, Universiteit van Pretoria op 15 November 2004: Louis Louwrens en Johann Rossouw se opmerkings oor die swak posisie van die Afrikatale (lees maar: Bantoetale) is in die kol: die sprekers van hierdie tale ervaar nie 'n dwingende behoefte om hul eie tale te bevorder nie, en hierdie tale het "'n mindere simboliese gewig". Dus: die betekenisvolle opwaardering van die Afrikatale lyk na 'n onuitvoerbare opdrag. Daar is goeie rede vir hierdie pessimistiese siening: oor die afgelope 70 jaar was daar talle konferensieverklarings oor die hele Afrika heen (en selfs in Europa) wat gerig was op die bevordering van die Afrikatale. Om maar drie te noem: die (voormalige) OAE- "Language Plan of Action for Africa" van 1986, die "Pan-African seminar on the problems and prospects of the use of African national languages in education" in Accra, Ghana, 1996, en die "Intergovernmental conference of ministers on language policies in Africa", Harare, Zimbabwe, 1997. In die algemeen was al hierdie besluite taalpolities gesproke deeglik begrond. Maar: nie een van hierdie (en talle meer) besluite en aanbevelings het enige verskil gemaak nie: die taalpolitieke stand van die Afrikatale is tans niks beter as op enige tydstip in die geskiedenis van koloniale Afrika nie. Desondanks, en ook ondanks die negatiewe ervarings van die Departement Afrikatale by Unisa, mag ons nie maar net besluit dat geen eksterne aksies gaan help om die situasie te verander nie en dat daar gewag moet word totdat "'n nuwe taaltrots, as't ware 'n nuwe taalnasionalisme met 'n gepaardgaande nuwe en sterk groepsidentiteit ontwaak". Daarvoor is die groter saak te belangrik: die bevordering van die Afrikatale in (Suid-) Afrika is part en deel van die uitskakeling van ongelykhede van alle geaardhede, die opvoedkundige, ekonomiese, maatskaplike en kulturele ontwikkeling van die mense van hierdie land, die uitbouing van demokrasie, die singewing aan die beginsel van menseregte, en die gestaltegewing aan die filosofie van pluralisme (met inbegrip van die beskerming en bevordering van verskeidenheid, en die benutting daarvan op kreatiewe en opbouende wyse). Daarby het dit vir navorsers oor taalbeplanning duidelik geword dat die afgelope 40 jaar se "een-taalbenadering" tot openbare administratiewe bestuur en dienslewering (die gebruik van bv. net Engels as werkstaal van die administrasie) misluk het. 'n Meertalige benadering in staatsbestuur is ononderhandelbaar (maar moet uiteraard nie binne 'n raamwerk wat ooreenkom met apartheidsdenke gevoer word nie). Dus: die wat kan, en die wat wil, moet eenvoudig op enige en elke wyse bydra tot die konstruksie van 'n wêreld waarin burgerlike leiers (soos predikante en onderwysers in die tyd van die GRA) die leiding in die Afrikataalgemeenskappe neem in die ontwikkeling van die politieke wil om hul eie tale te bevorder en hierdie tale se "simboliese gewig" te verhoog. Die vernaamste redes vir die swak posisie van die Afrikatale is, waarskynlik, die vernietigende impak van slawerny en kolonialisme (waarvan apartheid 'n vertaalde weergawe was) en die hegemonie van Engels (met elders in Afrika: Frans en Portugees), wat versterk word deur globalisering. Hierdie kragte het in algemene terme waarskynlik bygedra tot hul sprekers se negatiewe selfbeelde en sin vir eie waarde, en meegebring dat die waarde van die eie tale ook geringgeskat is. Saam hiermee moet rekening gehou word met die neiging van die post-koloniale heersende elite om hul eie materiële behoeftes te dien deur deelname aan politieke en ekonomiese besluitneming effektief te beperk (onder meer deur die sentralisering van die taal van die elite, en die marginalisering en onderskikking van die ander tale). Hierdie redes onderlê in een of ander mate ook die nie-implementering van die grondwetlike taalbepalings en die onbegryplike vertraging in die plasing van die voorgestelde Suid-Afrikaanse Talewet op die parlementêre agenda - aksies wat gewoonlik versteek word agter argumente soos die sg. hoë kostes en die praktiese onimplementeerbaarheid van meertaligheid. Kyk 'n mens na die groter scenario vanuit die perspektief van die magsdimensie in taalbeleidsontwikkeling en -toepassing, is hierdie twee argumente duidelik maar net rookskerms. Die vraag is dus nou: gegee die gebrek aan 'n taalpolitieke bewustheid in die Afrikataalgemeenskappe, wat kan gedoen word om linguistiese transformasie in Suid-Afrika te bewerkstellig? As die redenasie tot dusver 'n mate van geldigheid bevat, volg dit dat linguistiese transformasie (die bevordering van die Afrikatale) waarskynlik nie maklik gaan plaasvind as dit slegs afhanklik moet wees van die regerende elite nie, d.w.s. van aksies van "bo-af". Wat waarskynlik nodig is, is optrede en druk van onder af, vanaf die kant van diegene wat die belange van gewone mense wil dien (soos in die geval van die GRA aan die einde van die 19e eeu). Om dit te kan regkry, is dit nodig om hierdie mense - gemeenskapsleiers soos predikante, prokureurs, vakbondleiers, onderwysers, skoolhoofde, lede van skoolbeheerrade en andere, in te lig oor: die fundamentele rol van taal op alle terreine van die openbare lewe (insluitende die onderwys), die sakewêreld (fabrieke, die mynbedryf, die bankwese, ens.) en die arbeidsektor; die rol van taal in die stryd teen voortgesette ekonomiese, opvoedkundige en maatskaplike ongelykhede; en die belangrikheid van taal vir mense se toegang tot hul regte en voorregte (onder meer deelname aan politieke besluitneming, toegang tot inligting, ontspanning). Mense moet besef dat die taalkwessie nie 'n soft issue is nie, nie 'n "abstrakte" saak is wat "net" verband hou met goed soos menseregte en taalregte en die beskerming van kulturele en linguistiese diversiteit - kwessies wat "slegs" van akademiese belang is nie. Hulle moet weet die taalkwessie raak elke mens se toegang tot werksgeleenthede, vordering in sy/haar werkslewe, hul kinders se sukses as leerders, effektiewe gesondheidsorg (dink maar aan hospitale waar dokters diagnoses moet maak sonder dat hulle met pasiënte kan kommunikeer), regspleging (dink maar aan die Durbanse landdros wat hofstukke nie wou aanvaar nie omdat hulle in Afrikaans opgestel is), ens. En dink ook maar aan Pansat se bevinding in 2000 dat slegs 22% van alle Suid-Afrikaners ouer as 16 effektiewe toegang het tot tekste (soos regeringstoesprake en verklarings), wat slegs in Engels beskikbaar gestel is. Aan die anderkant moet daar ook onthou word, soos Louis Louwrens tereg sê: taalbevordering - die verandering van 'n gemeenskap se openbare taalgedrag (linguistiese transformasie), is 'n uiters komplekse taak. In sy repliek op Louis Louwrens se brief stel Johann Rossouw die standpunt, na aanleiding van Debray en Anderson, dat 'n taalbewussyn ('n nodige komponent vir taalbevordering) onder Afrikataalgemeenskappe eers tot stand sal kom wanneer hul tale die wêreld van die gedrukte woord betree en "geïnstitusionaliseer" word. Dis sekerlik 'n geldige opmerking in die algemene sin (gedenk die sentrale betekenis van Eugene Marais se Winternag in 1905 vir die institusionalisering van Afrikaans), maar wat beteken dit binne die eietydse tegnologiese era? Hoe moet dit gebeur? Moet klassieke werke in die Afrikatale vertaal word? Moet skrywers aangemoedig word om skeppende werk van estetiese waarde in hierdie tale te lewer? Moet uitgewers gesubsidieer word om dergelike werke te publiseer? Maar wat maak jy in die geval van 'n gemeenskap wat feitlik uitsluitlik radio luister of televisie kyk, wat maak jy met die lae vlak van (funksionele) geletterdheid en die afwesigheid van 'n kultuur van lees (veral lees vir intellektuele genot)? Wat maak jy met gemeenskappe wat nie kan bekostig om R200.00 te betaal vir iets wat een keer gelees word en dan (dalk met trots) op 'n rak gebêre word? Hoe toepaslik is Johann Rossouw se gedagte in hedendaagse terme? Dalk moet mens meer prakties en onmiddellik dink. Afgesien van die moontlikheid dat suksesvolle en prestigevolle sprekers van hierdie tale oorreed moet word om hierdie tale te gebruik in hoëfunksiekontekste (bv. deur hulle te oortuig dat hulle daardeur hul politieke magsbasis kan versterk onder lede van die onderklasse?), is 'n fundamentele, maar heel praktiese maatreël dat hierdie tale ekonomiese waarde moet verkry, d.w.s. hul sprekers moet geld kan verdien met hul vaardigheid in hierdie tale, daarmee werk kan kry en beroepsvordering op basis van hierdie vaardigheid kan verwag. En hier kan die Suid-Afrikaanse regering 'n eenvoudige bydrae lewer - deur vaardigheid in 'n Afrikataal as voorvereiste te stel vir enige aanstelling in die staatsdiens, die gebruik van hierdie tale as onderrigmedia in basiese onderwys op ondubbelsinnige wyse aan te moedig en, selfs, te vereis dat medici, tandheelkundiges, prokureurs en ander kategorieë beroepspersone wat diens aan die publiek lewer, 'n kennis van 'n plaaslike Afrikataal moet hê indien hulle professioneel wil praktiseer. En, indien die nasionale vergadering ooit so ver kan kom om die Suid-Afrikaanse talewet gepromulgeer te kry, sal redigeerders, vertalers, tolke, onderwysers en selfs taalbeplanners opgelei moet word in hierdie tale en sal prof. Louwrens se 23 eerstejaarstudente in Noord-Sotho geleidelik dalk weer toeneem. Ons Redakteur antwoord: Baie dankie aan Prof. Webb vir sy uitstekende brief, wat help om die gesprek vorentoe te neem. Die vrae wat u aan myself stel, verdien ‘n behoorlike antwoord, wat ek hoop om in die nabye toekoms by wyse van ‘n artikel te gee. Na aanleiding van die FAK se mediaverklaring oor die US se eregraad aan Bram Fischer skryf mnr. Jannie Momberg, Suid-Afrikaanse Ambassadeur uit Athene, Griekeland op 2 Desember 2004: Die absolute belaglike FAK Mediaveklaring noop my om te reageer. Om die regering van rasseonverdraagsaamheid te beskuldig, is 'n leuen. As iemand wat reeds in 1992 by die ANC aangesluit het en twee keer tot die Parlement verkies is en die warmte van daardie organisaie ervaar het wil ek ten sterkte beswaar maak oor die snert wat die FAK die wêreld instuur. Die FAK hunker dalk terug na die goeie rassistiese dae van die vorige regime. Ons Redakteur antwoord: Die feit dat mnr. Momberg “warmte” in die ANC ervaar het, vrywaar ongelukkig nie die regering van die rassisme waaraan hy hom toenemend skuldig maak nie. ‘n Mens kan jou voorstel dat talle NP-lede ook gedurende die vorige bedeling die “warmte” in NP-geledere beleef – “warmte” is gewoonlik eie aan nasionalistiese bewegings – maar dit het ook nie die NP van sy rassisme gevrywaar nie. Wat die rassisme van die huidige regering/ANC betref, verwys ons Mnr. Momberg na die volgende onder talle ander voorbeelde: 1. Pres. Mbeki se gereedheid om maar die geringste kritiek op die ANC, veral vanuit wit geledere, met rassisme gelyk te stel. Onlangs is mnr. Ryan Coetzee van die DA, wat ‘n vraag oor die verkragting van Suid-Afrikaanse vroue in die parlement aan mnr. Mbeki gestel het, se vraag nie net geheel en al geïgnoreer nie, maar is hy ook blootgestel aan ‘n presidensiële redevoering oor rassisme, wat telkens hardnekkig na die stel van die volgende vraag aan die president voortgesit is. Voorts het Mnr. Mbeki reeds ‘n ryk skat van rassistiese uitsprake versamel in sy weeklikse rubriek in ANC Today. 2. Jan-Jan Joubert, parlementêre verteenwoordiger van Beeld, het onlangs in ‘n knap rubriek die rassisme binne die ANC ontleed. Dit strook met die ontleding van die verskynsel wat R.W. Johnson, wat by die ANC aangesluit het lank voor dit polities veilig geword het, gee in sy jongste boek South Africa: The First Man, The Last Nation. 3. In die November se maanduitgawe van Die Vrye Afrikaan toon Chris Louw met vers en kapittel aan dat grondhervorming vir die ANC allereers oor swart grondbesit gaan, in plaas van oor suksesvolle kommersiële (swart) boere. 4. In die alledaagse handel en wandel is daar talle voorbeelde van regeringsrassisme. Onder meer is Suid-Afrika se twee wenners van die Nobelprys vir Letterkunde, J.M. Coetzee en Nadine Gordimer van alle mense self die laaste jare by geleentheid van rassisme beskuldig. Me. Gordimer is op die koop toe ‘n jarelange lid van die ANC – ‘n mens wonder of sy ook dieselfde warmte as mnr. Momberg na dese ervaar het. 5. Die essensiële politieke probleem van Suid-Afrika bly die feit dat ‘n koloniale staatsbestel telkens onveranderd deur ‘n nuwe etno-elite oorgeneem word, wat tot ‘n nuwe ronde van gemeenskapsontkenning, nasionalisme en rassisme lei. Totdat hierdie staatsbestel nie grondig hervorm word nie, sal niemand daarvan gevrywaar wees nie, afgesien van watter morele hoëgrond hulle mag of beklee. 6. Mnr. Momberg se byna histeriese toon is alte tekenend van die trant waarop die regering/ANC toenemend in die openbaar op kritiek reageer. |