blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Westerse Onderduimsheid in Irak: 'n Samevatting van 'n verslag deur Michel Despratx en Barry Lando wat verskyn het in Le Monde Diplomatique, November 2004 2004-12-02

Westerse Onderduimsheid in Irak: 'n Samevatting van 'n verslag deur Michel Despratx en Barry Lando wat verskyn het in Le Monde Diplomatique, November 2004

Dit is alombekend dat die regime van Saddam Hoessein vir dekades die steun van etlike Westerse lande geniet het. In 'n verslag deur Michel Despratx en Barry Lando, wat verskyn het in Le Monde Diplomatique van November 2004, word nadere lig op hierdie steun gewerp. Dit verskaf 'n besondere blikpunt op die "integriteit" van Westerse regerings, en in besonder dié van die VSA.

Despratx en Lando (D + L) wys daarop dat die Amerikaanse en Irakese organiseerders van Saddam Hoessein se komende verhoor geen buitelander van medepligtigheid mag beskuldig nie. Die rede is voor die hand liggend: oor die afgelope veertig jaar was vyf Amerikaanse presidente, minstens drie Franse presidente, etlike Britse premiers en 'n aantal Westerse ondernemers medepligtig of aandadig aan talle misdade van Hoessein se Baath-regime.

D + L toon aan dat die verhaal begin tydens die presidentskap van John F. Kennedy. Gegewe die toenadering tussen Irak se president Abdel Karim Qassem en Moskou, te midde van die Koue Oorlog, en Qassem se dreigemente om Irak se olie te nasionaliseer (wat natuurlik toe al die VSA se energiesekuriteit kon bedreig) besluit die VSA om op te tree. Meer spesifiek steun hulle die anti-kommunistiese Baathparty se staatsgreep op 8 Februarie 1963. D + L haal die politieke raad van die VSA se ambassade pas na die staatsgreep, mnr. James Akins, aan: "Ons het die Baathiste voorsien van geld, baie geld, asook van toerusting. Dit is nie openlik gesê nie, maar baie van ons het dit geweet."

Na president Qarrem geskiet is, het die Baathiste duisende kommuniste en linksgesindes gemartel en vermoor. Verskeie organiseerders van die staatsgreep het verklaar dat, ten spyte van Washington se ontkennings, die CIA 'n rol in die slagting gespeel het deur naamlyste van die kommuniste aan die Baathiste te gee. 'n Amerikaanse diplomaat van daardie jare word in dié verband aangehaal: "Ons was kortom bly om van die kommuniste ontslae te raak. Dink u dat hulle meer regverdige behandeling verdien het? U grap. Die saak was veels te ernstig." Tydens 'n vergadering in Bagdad op 9 Junie 1963 van die Baathiste en die Amerikaners is saamgestem dat sowel die kommuniste as die noordelike Koerdiese minderheid deel van die vyand is. Mnr. Subhi Abdelhamid, wat destyds in bevel van die Irakese weermag se optrede teen die Koerde was, vertel dat hy persoonlik die aflewering van vyfduisend bomme vir gebruik teen die Koerde met 'n Amerikaanse attaché onderhandel het. Dit was napalmbomme wat gebruik is op Koerdiese dorpe.

Vervolgens verskuif D + L die soeklig na 1980. Hoessein sal teregstaan op aanklagte dat hy die oorlog teen Iran ontketen het, maar volgens verskeie bronne het Washington hom aangemoedig om die oorlog te begin omdat dit hulle gepas het om terug te slaan teen die rewolusie van Ajatollah Khomeini. 'n Geheime Amerikaanse regeringsdokument van 1984 lui dat president Carter - dieselfde Carter wie se instituut vandag wêreldwyd vir regverdige verkiesings werk - "die groen lig aan Saddam Hoessein gegee het om die oorlog teen Iran te ontketen."

Dit is nie al nie. Volgens die destydse Iranese president, mnr. Abolhassan Bani Sadr, het die Iranese geheime diens 'n afskrif bekom van 'n gevegsplan wat in 'n Paryse hotel deur die Irakese en die Amerikaners opgetrek is. Volgens Sadr het die Irakese streng by hierdie gevegsplan gehou, en kon die Iranese stand hou omdat hulle die afskrif gehad het. Hoewel die VSA amptelik neutraal was in die oorlog, het 'n Amerikaanse ondersoekkommissie bevind dat die Withuis en die CIA wapens aan Hoessein verskaf het. Mnr. Rick Francona, 'n Amerikaanse intelligensieoffisier, vertel hoe die lys van Iranese teikens wat hy in 1988 na Bagdad geneem het Irak in staat gestel het om die uiteindelike oorwinning te behaal.

Vervolgens verskuif die toneel na 1988 se gasaanvalle op die Koerdiese minderheid deur Saddam Hoessein (waarna George W. Bush en Tony Blair gereeld verwys as aanduiding van watter booswig Hoessein was). Hoessein sal nou ook teregstaan op 'n klag dat hy 5 000 Koerde vergas het. Destyds het president Ronald Reagan 'n wetsontwerp om Amerikaanse handel met Irak op te skort as strafmaatreël vir die Koerdiese vergassing, geveto. Verder is 'n teleks na alle Amerikaanse ambassades gestuur om hulle opdrag te gee om te sê dat die Koerde vergas is deur Iran!

Ook Franse regeringslui van die era se hande is nie skoon nie. Die destydse Franse Minister van Buitelandse Sake, mnr. Roland Dumas, het gesê: "Dit is waar dat die Weste sy oë 'n bietjie gesluit het omdat Irak 'n land was wat ons nodig vir streekstabiliteit geag het." Op sy beurt het die Franse Minister van Verdediging, mnr. Jean-Pierre Chevènement, oor die vergassing te Halabja, Irak, gesê: "As 'n mens die saak in sy geheel wil beoordeel, moet jy kyk na die beslissende belang van dié streek vir die wêreld se oliebehoeftes: wie hierdie streek beheer, beheer die wêreld se finansiële ewewig. 'n Mens het dus nooit 'n keuse tussen goed en kwaad nie, maar tussen die verskriklike en die aaklige." Daarbenewens was Frankryk ook Irak se voorste wapenverskaffer.

Op sy beurt was die destydse Franse Hoof van Buitelandse Veiligheid, mnr. Pierre Marion, besorg oor Frankryk onder Mitterand se steun aan Hoessein. Volgens hom was dié steun ingegee deur Franse wapenhandelaars wat voordeel getrek het uit die oorlog teen Iran. Hy sê dat die Franse wapenvervaardiger Dassault beskik het oor "uiters energieke, kragtige vorme van druk op die Franse leiers". Die gas wat teen die Koerde gebruik is, het - ironies - van Duitsland gekom, terwyl die Irakse gasvervaardigingsfabrieke deur Frankryk en die VSA toegerus is. Volgens 'n lys wat die CIA probeer verduister het, en wat D + L besigtig het, het die Franse Laboratoire Pasteur biologiese kieme aan Hoessein verkoop; die Franse onderneming Protec 'n gasfabriek in Samarra, Irak toegerus; en Bechtel, die Amerikaanse firma wat die Bush-familie se verkiesingsveldtogte finansier, Irak van 'n chemiese fabriek voorsien.

Die lys van verrotte Westerse praktyke in Irak strek nog verder. Hoessein sal ook binnekort teregstaan op 'n klag dat hy Koeweit in Augustus 1990 ingeval het. Destyds het president George H. Bush van Hoessein gesê, "Ons het te doen met 'n nuwe Hitler." Maar verskeie bronne dui op Amerikaanse medepligtigheid aan die inval in Koeweit. Nà die veeleisende oorlog teen Iran moes Irak homself heropbou. Onder meer het Irak Koeweit gevra om sy skuld aan Irak terug te betaal, maar Koeweit, gesteun deur die VSA, het botweg geweier. Op die koop toe het Koeweit eensklaps sy olieproduksie verhoog, en sodoende sowel die olieprys as Irak se ekonomie gesaboteer. Dit was die agtergrond waarteen Hoessein, volgens die Franse oud-ambassadeur en Midde-Oosterse kenner, mnr. Eric Rouleau, bedreig gevoel het en sy troepe na die Koeweitse grens gestuur het. Agt dae voor die inval van Koeweit het Hoessein die Amerikaanse ambassadeur, mev. April Glaspie, ingeroep om te sê dat Koeweit se houding op 'n oorlogsverklaring neerkom. Glaspie het Hoessein verseker dat die VSA "geen posisie" in 'n konflik tussen Irak en Koeweit sal inneem nie, soos die Amerikaanse Adjunkminister van Buitelandse Sake, mnr. John Kelly, twee dae later in die openbaar dit herhaal het.

D + L skryf dat 'n hoogwaardigheidsbekleër van die Baathparty, mnr. Abdel Majid Rafai, aan hulle gesê het dat Hoessein sy partyleierskap vyf dae na die inval in Koeweit ingelig het dat 'n onttrekking op hande is. Maar volgens mnr. Jim Akins, Amerikaanse oud-ambassadeur in Saoedi-Arabië, was Bush sr. nie van plan om Hoessein te laat wegkom nadat die VSA eers sy troepe gemobiliseer het nie.

Hoessein sal ook teregstaan op 'n klag dat hy in 1991 na die VSA se Operasie Woestynstorm verantwoordelik was vir die dood van honderde duisende mense nadat hy 'n opstand van die Shi'ite-Moslems onderdruk het. President Bush verwys dikwels na hierdie grusame gebeure as regverdiging vir die ontsetting van Hoessein, maar die feit van die saak is dat die VSA en sy bondgenote aandadig daaraan was.

Op 15 Februarie 1991 het President Bush sr. die Irakese tot 'n opstand teen Hoessein aangemoedig met die volgende boodskap: "Die Irakese weermag en volk moet hulle eie bestemming ter hand neem en die diktator Saddam Hoessein dwing om uit te tree." Die boodskap is herhaal dwarsdeur Irak op die Voice of America, geheime radiostasies van die CIA en deur middel van die verspreiding van traktaatjies uit Amerikaanse vliegtuie. Onder die indruk dat die Hoessein-regering na die Golfoorlog op die rand van ineenstorting was, het 'n kombinasie van Shi'ite-Moslems, lede van die Irakese weermag en die Koerdiese minderheid in die noorde saam in opstand gekom.

Maar hierdie opstandelinge het hulle misgis met die groter prentjie. Eerstens het President Bush sr. die Amerikaanse magte se vyandelikhede in Koeweit voortydig gestaak, sodat Irakese elite-eenhede ongeskonde daarvan afgekom het. Vervolgens het die Amerikaanse bevelvoerder, genl. Norman Schwarzkopf, die verslane Irakese generaals toegelaat om steeds hul gevegshelikopters te gebruik, wat in feite aangewend is om die opstand te onderdruk. Die VSA en sy bondgenote het nie 'n vinger gelig om die opstandelinge te help en selfs geweier om hul aanvoerders te ontmoet. Die rede hiervoor was dat Bush gehoop het dat Hoessein se generaals hom self met 'n "meer redelike sterkman" sou vervang waarmee die Weste sou kon skakel. Die laaste ding wat hulle wou hê is 'n populêre opstand wat die land uiteindelik langs etno-religieuse lyne verdeel, meer onstabiel maak en Iran se invloed vergroot (soos wat tans in Irak wel gebeur!) Verskeie geallieerde woordvoerders, waaronder die Franse en Amerikaanse Ministers van Buitelandse Sake, is op rekord dat hulle nie die opstande wou steun nie, onder meer omdat hulle nie met 'n "religieuse magshebber" ná Hoessein wou handel nie.

Ook op grondvlak het die Amerikaners fisiek geweier om die rebelle te steun. 'n Lid van die Amerikaanse Spesiale Magte wat destyds in die suide van Irak gestasioneer was, mnr. Rocky Gonzalez, word aangehaal: "Opstandelinge het by ons opgedaag met chemiese brandwonde op hul gesigte en ontblote veldele… Ons opdragte was om alle versoeke om militêre en ander hulp te weier. Ons kon dus niks doen nie. Ek het vir hulle gesê, 'President Bush sê die oorlog is verby.'" Oorlewendes van die opstand vertel ook hoe die Amerikaanse weermag hulle verhoed het om Bagdag binne te gaan om Hoessein omver te werp. Die Irakese generaal wat die opstand in Basora moes onderdruk, Najib Al-Salhi sê: "Op hulle barrikades het die Amerikaners die opstandelinge wat ons wou aanval, ontwapen. By Safwan het ek selfs gesien hoe hulle laasgenoemde keer om ons linies te bereik." Die Amerikaanse weermag het ook op hul terugtrekkingsroete Irakese wapenvoorrade wat die opstandelinge kon gebruik, vernietig.

Maar die grootste lewensverlies in Irak is ongetwyfeld veroorsaak deur die VN-sanksies wat op Irak toegepas is na die inval van Koeweit, vanaf 1990 tot 2003. Volgens die VN het dit tot die dood van tussen 500 000 en 1 miljoen Irakese kinders gelei. In reaksie op die sanksies het die VN se humanitêre koördineerder in Irak, mnr. Dennis Halliday, in 1998 bedank uit protes teen wat hy as "volksmoord" beskryf het. Volgens Halliday het die sanksiekomitee van die VN Irak se gesondheidstelsel vernietig deur te keer dat higiënetoerusting en noodsaaklike medisyne Irak bereik omdat dié produkte op een of ander manier gebruik kon word "om wapens van massavernietiging te vervaardig." Op 'n vraag van 'n Amerikaanse joernalis of die sanksies werklik die dood van 500 000 Irakese kinders werd is, was die antwoord van die Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake, mev. Madeleine Albright: "Dit is 'n baie moeilike keuse, maar ja, ons dink dat die prys die moeite werd is om te betaal." Die prys waarna sy verwys het was die ontsetting van Hoessein, wat natuurlik nooit deur die sanksies behaal is nie.

Veral die Amerikaners het van die standpunt uitgegaan dat druk op die bevolking weens sanksies daartoe sou lei dat hulle teen Hoessein in opstand kom. In 1991 het die VSA die Irakese water- en elektrisiteitsnetwerk met chirurgiese noukeurigheid uitmekaar bombardeer. Die volgende tien jaar moes die Irakese sonder drinkwater leef, wat volgens mnr. Halliday tot talle verwante siektes, soos tifus, gelei het. Volgens 'n geheime Pentagon-dokument van 1991 het die VSA geweet dat die vernietiging van die waternetwerk tot massiewe sterftes en epidemies sou lei. Gedurende hierdie tyd het die VSA en Brittanje die sanksiekomitee oorheers en seker gemaak dat toerusting vir die herstel van die waternetwerk nie ingevoer kon word nie.

D + L sluit hulle verslag met die volgende woorde af: "Die sanksies is uiteindelik beëindig met die val van Saddam Hoessein in April 2003. 'n Jaar en 'n half later is nóg die waternetwerk, nóg die rioolstelsel, nóg die hospitaalinfrastruktuur herstel. Bloedjong, siek Irakese wat sterwend is weens die afwesigheid van drinkwater vul steeds hospitale dwarsoor die land op."


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=90
Artikel nagegaan:
    -