|
||||
Johann Rossouw Met George W. Bush se oorwinning in die Amerikaanse presidentsverkiesing was miskien die algemeenste koerantopskrif: "Nog vier jaar van Bush". Uit die aard van die saak is die vooruitsig van nog vier jaar van Bush nie aangenaam nie as 'n mens sy regering se hantering van sekuriteit, die ekologie, internasionale verhoudinge en talle ander sake in aanmerking neem. Maar om jou blind te staar teen die figuur Bush, is kortsigtig: veel eerder moet ons ons aandag bepaal by die breër politiek-ekonomiese struktuur waarvan hy maar die jongste effek is. Om die moontlike naderende einde van Amerikaanse hegemonie te verstaan, is dit raadsaam om stil te staan by sowel die Amerikaanse samelewing as die geopolitieke toneel. Wat die geopolitieke toneel betref, is die enkele belangrikste faktor wat Amerikaanse hegemonie gedurende die twintigste eeu verseker het, die VSA se tegniese meerderwaardigheid. Teen die agtergrond van die feit dat die VSA oor geen strategiese grondstowwe buiten beperkte oliereserwes beskik nie, het die VSA die afgelope honderd jaar en meer gereageer deur met ingevoerde grondstowwe sy tegniese meerderwaardigheid op te bou. Waar demografie histories 'n belangrike magsbasis was, het die VSA se ongekende tegniese vooruitgang hom gedurende die 20ste eeu in staat gestel om die yserwet van demografie oënskynlik te deurbreek. Die VSA bevind hom egter vandag voor twee onontkombare tegniese feite. In die eerste plek is hy vir veral sy energie - wat sentraal tot tegniese vooruitgang staan - afhanklik van olie wat bykans alles van onstabiele wêrelddele ingevoer word, en waarvan die Midde-Ooste die belangrikste is. Ook die finansiering van sy tegno-ekonomie berus op 'n daaglikse kontantinvloei van meer as 1,4 miljard dollar vanaf die res van die wêreld. Die onstabiliteit van die olielande en die noodsaak van buitelandse kapitaal plaas die VSA in 'n onhoudbare posisie van afhanklikheid, wat inderdaad verdoesel word deur die propagandamasjien van die Amerikaanse massamedia, insluitend Hollywood, en die neo-konserwatiewes se oorlogspeletjies, waarmee die illusie van hegemonie instand gehou word. Hierdie illusie is absoluut noodsaaklik ten einde die vloei van olie en buitelandse kapitaal na die VSA te waarborg. In die tweede plek konfronteer China en Indië die VSA met 'n kombinasie van tegniek en demografie soos wat die wêreld nog nie gesien het nie. Dit is waar dat China en Indië nog maar aan die begin van hul ontwikkelingspoging staan, en dit is geen uitgemaakte saak dat hierdie poging suksesvol sal wees nie. Beide lande het met reuse maatskaplike probleme te make, maar eweneens kon hierdie maatskaplike probleme nie die oorhoofse stabiliteit van die lande tot dusver bedreig nie. As China en Indië egter daarin kan slaag om genoeg mense deel van hul tegno-ekonomiese vooruitgang te maak, en dit binne 'n groter alliansie van lande, sal die VSA op die lange duur nie meer sy hegemonie kan handhaaf nie. Die feit dat die VSA byvoorbeeld die hantering van die Noord-Koreaanse situasie in die fynste oorleg met China hanteer - indien nie aan China oorlaat nie - ten spyte van Bush se praatjies oor Noord-Korea as deel van 'n bose spil, spreek boekdele. Wat die Amerikaanse samelewing betref, is 'n belangrike verklaring vir Bush se oorwinning die feit dat sy religio-militarisme kennelik die bang Amerikaanse kieserspubliek veilig laat voel. Bush is sonder twyfel besig om die onderskeid tussen kerk en staat - 'n hoeksteen van die Amerikaanse Republiek - te vertroebel, en om die oudste truuk van 'n uitgeputte nasionalisme in te span, naamlik die aanwending van God as regverdiging vir militêre maneuvers. Reeds in die 1980's het Ronald Reagan soortgelyke taktiek ingespan, en in die proses miskien die sentrale Amerikaanse idee - the American Dream - vernietig, aangesien dit die tydstip was waarop die gaping tussen ryk en arm in die VSA begin vergroot het. Reagan het natuurlik ook nie geskroom om hom op God te beroep, of na die Sowjet-Unie as 'n "bose ryk" te verwys nie. Soos bekend het talle van George W. Bush se vertrouelinge hul politieke tande in die Reagan-era gesny. Die politiek leer dat wanneer die idees waarop mense hulle beroep, hul drakrag verloor, dit mense onseker laat, en dat die enigste alternatief vir sekuriteit dan in 'n meer kru vorm van transendensie in kombinasie met strukturele mag te vinde is. Afrikaners wat die 1980's meegemaak het, behoort te verstaan waaroor dit hier gaan: teen daardie tyd was die politieke idee waarop die Nasionale Party se Suid-Afrika berus het lankal van sy drakrag gestroop, en het die militarisering van die samelewing sy hoogste vlak ooit bereik. Die verhouding tussen kerk en staat was ook veels te intiem, en die charismatiese beweging, met sy vereenvoudigde transendensie en verkinderlikte godsdiensbelewing, het inslag begin vind. Kenmerkend van die Bush-regering, net soos dié van P.W. Botha, is hoe elke politieke probleem hanteer word met 'n kombinasie van kommunikasie en militêre mag. Hoe groter die krisis, hoe groter die staatspropaganda en die militêre reaksie. So gesien is die VSA eintlik reeds ver gevorder om sy hegemonie prys te gee. Binnelands word die politiek deur 'n religio-militarisering aan bande gelê, en word openbare debat en denke gekortwiek. Dit kan slegs uitloop op 'n konformistiese politiek, wat geensins in die komplekse, moderne wêreld staande kan bly nie. Buitelands versuur die religio-militêre omgang met die res van die planeet alle internasionale verhoudinge, en staan anti-Amerikaanse sentimente op 'n historiese hoogtepunt. Dit is te vroeg om die einde van Amerikaanse hegemonie ongekwalifiseerd aan te kondig, maar dat dit aan die wankel is, is seker. |