blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


PATAT Slaan Toe 2004-12-02
Kleinjan Schietekat

Deur Kleinjan Schietekat, Rondreisende Verslaggewer

Motoriste wat gebruik maak van Durbanweg in Durbanville, Wes-Kaap, was onlangs verbaas deur die ontsiering – of is dit die versiering? – van twee ontwikkelings langs dié besige hoofstraat. Die eerste ontwikkeling, waar reuse Korinthiese pilare met ‘n dakkie so reg uit die Parthenon onlangs hul verskyning gemaak het, word reeds die afgelope maande adverteer deur ‘n yslike bord waarop die woorde “Enter utter opulence” verskyn. Dié is onlangs met helderrooi verander na “Enter Gutter Opulence”, en feitlik elke paneel van die muur vertoon nou die netjies gesjabloneerde swart woorde “PATAT sal jou vasvat”.

Skaars ‘n kilometer verder het ‘n “Toskaanse” ontwikkeling ook deurgeloop. Die kompleks word al etlike maande geadverteer as ‘n “quaint village”, maar die oulike aanskyn is aansienlik verinneweer deur die woorde “Van Bos-Tos sal PATAT jou verlos” wat ook op talle plekke van die kompleks se muur aangebring is.

Die Vrypostige Afrikaan kan vandag meer lig op hierdie saak werp. Ons susterpublikasie, Die Vrye Afrikaan, is onlangs geskakel deur ‘n man wat nie sy identiteit oor die telefoon bekend wou maak nie, maar gesê het dat hy inligting het om met ons te deel ná die publikasie van prof. Ora Joubert van die Universiteit van Pretoria se intreerede in Die Vrye Afrikaan.

Ons het ‘n afspraak met die geheimsinnige beller gemaak, en die ontmoeting het na middernag in ‘n verlate parkeerterrein plaasgevind. Die beller, volledig geklee in swart, met ‘n klapmus waarop die woord PATAT wit afgedruk is, het homself voorgestel as Koert Spuitverf, woordvoerder en medeleier van PATAT. “Ons het nie baie tyd nie – ons het iets om vir jou te wys,” is al wat hy gesê het terwyl hy in die rigting van ‘n afgeleefde 1400-bakkie beduie.

Binne ‘n halfuur het ons aangesluit by ‘n groep van sowat 10 ander mense, wat ons naby Tygervallei-winkelsentrum ingewag het, sommige op motorfietse, sommige in ‘n ou Ford Sunbird. Sonder enige woorde het die geselskap daarop onder leiding van ons metgesel beweeg in die rigting van die eerste ontwikkeling, waar die spuitverfwerk binne minute met metodiese noukeurigheid uitgevoer is. Dit is gevolg deur die aanslag op die Toskaanse ontwikkeling. Alles was binne 45 minute afgehandel, waarna Spuitverf die eerste keer bereid was om ons vrae te beantwoord, op voorwaarde dat dit geskied in ‘n swakverligte kroeg in Seepunt.

“PATAT staan vir People Against Terrible Architectural Designs”, sê Spuitverf. “Ons is ‘n groep mense wat meesal in die boubedryf werk, hoewel ons ook ‘n militante huisvrou en ‘n voormalige vragmotorbestuurder in ons geledere het.” Volgens Spuitverf het PATAT ontstaan nadat een van sy lede, ‘n joernalis, met die dood gedreig is oor ‘n ondersoek wat sy na ‘n korrupte ontwikkeling gedoen het. “Kyk, man, die bliksems is almal kop in een mus. Die Atlantic Seaboard lyk net so sleg as wat dit klink. Met die dreigemente wat Annie Verfkan gekry het, het ons besluit ons gaan ondergronds. Ek het jare lank by die munisipaliteit gewerk, en gesien hoe hierdie goed gekook word. Intussen verander die stedelike landskap in ‘n kloning van ‘n Italiaanse poskaart.”

Spuitverf sê egter hulle gebruik ook ander, meer konvensionele metodes. Tans oorweeg hulle dit byvoorbeeld om ‘n bouer wat ‘n “Franse dorpie” met ‘n “Engelse naam” adverteer vir misleidende bemarking by die Bemarkingsombudsman te verkla. “Daar’s nie ‘n manier waarop die bouer se aansprake waar kan wees nie. Hy gaan beslis die saak verloor, en ons het ook ander vertragingstaktiek gereed. Ons strategie is om sy kapitaal in ‘n regsvorteks in te suig.”

Volgens Spuitverf ontvang PATAT heelwat steun uit onverwagse oorde. ‘n Dronk verkeerskonstabel het blykbaar die oggend ná hulle in Durbanweg toegeslaan het met ‘n patrolliemotor deur die muur van die Toskaanse dorpie gebars op maat van Twisted Sister se “We’re not gonna take it anymore”. “Ons het ook ‘n groep Pretoriase digters wat ons met slagspreuke help,” sê Spuitverf. “Bos-Tos was juis een van hulle woorde, en dit is ‘n inkorting van die styl genaamd Bosveldse Toskaans. Blykbaar gaan dit van erg na erger in Pretoria, en die digters het ons juis nou gevra of ons kan raad gee met ‘n soort spuitverf wat deur mure vreet. Japie Dulux, ons verfmaker, werk aan ‘n resep.”

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=84
Artikel nagegaan:
    -