blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die FAK in gesprek met die ANC 2004-12-02

Die FAK het Donderdag die 25ste November 'n vrugbare gesprek met die ANC gehad. Die gesprek was in opvolging tot 'n ontmoeting wat voor die algemene verkiesing vanjaar plaasgevind het.

Tydens die gesprek het die FAK sy kommer uitgespreek oor die neiging in Suid-Afrika om die ekonomiese, politieke en kulturele mag al hoe meer in die hande van 'n nuwe elite te bundel. Volgens die FAK is dit 'n herhaling van die koloniale patroon wat oor eeue in Suid-Afrika gevestig is, en lei dit opnuut tot radikale onmag onder gemeenskappe, sowel Afrikaners as Afrikane.

Die FAK het ook sy kommer uitgespreek oor die druk waaraan Afrikaans in die onderwys en aan histories Afrikaanse universiteite onderwerp word. Die FAK het die ANC daarop gewys dat die huidige gebrek aan 'n taalbeleid nie net tot die wegkalwing van Afrikaans lei nie, maar ook die ander inheemse tale in 'n situasie van koloniale onmag hou met die gevolg dat dieselfde gemeenskappe as in die verlede bevoordeel en benadeel word. Ter wille van ekonomiese en kulturele groei is dit van die allergrootste belang dat moedertaalonderrig uitgebou word. Waar dit nie gebeur nie, lei dit tot elitistiese bevoorregting en die verrinnewering van gemeenskappe.

Die ANC het saamgestem dat die hantering van Suid-Afrika se taalverskeidenheid 'n uitdaging is wat nog opgelos moet word, en ook hulle verbintenis tot skakeling met gemeenskappe beklemtoon, ook en veral buite die partypolitiek en binne die burgerlike samelewing.

Die FAK het die voorstel ondersteun vir 'n breë en verteenwoordigende gesprek tussen Afrikaners en die ANC. Tydens die vergadering sal armoede en taal waarskynlik hoog op die agenda wees.

Die ANC-afvaardiging het bestaan uit me. Dorothy Mahlangu (LUR), mnr. Mandla Dlamini (ANC-verkiesingseenheid); mnr. Pule Thathe (ANC-verkiesingseenheid); en mnr. Steyn Speed (ANC-kommunikasieafdeling). Die FAK-afvaardiging het bestaan uit prof. Danie Goosen (voorsitter); mnr. Roland Henwood (ondervoorsitter); mnr. Wimpie van Ryneveld (direksielid); en mnr. Johann Rossouw (navorsings- en kommunikasiebeampte)


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=83
Artikel nagegaan:
    -