blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


The Winter of Images and the Fall of Thought: 'n Terugblik op die Amerikaanse Presidentsverkiesing 2004-12-02
Farhang Erfani

Deur Farhang Erfani, Iranees-Amerikaanse politieke filosoof, Medeprofessor in die Kernhumanoria, Villanova-universiteit, Philadelphia, VSA

"Did you, too, O friend, suppose democracy was only for elections, for politics, and for a party name? I say democracy is only of use there that it may pass on and come to its flower and fruit in manners, in the highest forms of interaction between [people], and their beliefs -- in religion, literature, colleges and schools -- democracy in all public and private life." Walt Whitman 

     "Anyone who tries to affect the lives of our good
      citizens is evil." George W. Bush

Vandag se verkiesing - of nou reeds gister se verkiesing, soos ek hierdie woorde in die vroeë ure van Woensdagoggend skryf - het my op 'n manier verras. Ek weet dat die meeste van my vriende en kollegas hartseer is; so ook ek. Hulle is hartseer omdat hulle gedink het Kerry kon wen; ek het nie. Ek is slegs verras dat dit so naby was, dat Kerry amper 'n kans gehad het. Ek is verbaas dat hy soveel state verower het en dat byna die helfte van die bevolking vir hom gestem het. Ek het nooit gedink Kerry kan wen nie. Nie vir 'n sekonde nie. Oorlogpresidente verloor nie. Dit is so eenvoudig soos dit.

 Ek stel my voor hoe die res van die wêreld hierdie Woensdagoggend sal ontwaak en ons verwens. Mense sal wonder hoe dit moontlik is. Hoe kon ons W herkies? Diegene - en dit lyk asof daar baie van hulle is - wat min van Amerikaners dink, sal hulle koffie in die oggend drink, meer as ooit daarvan oortuig dat ons in Amerika naïef is, dat ons blind is, en dat ons nie weet wat ons doen nie. Weet Amerikaners nie dat die oorlog in Irak 'n mislukking is nie? sal mense rondom die wêreld wonder. Weet hulle nie dat daar geen wapens van massavernietiging was nie? Weet hulle nie dat Amerika geïsoleerd is en dat bondgenote hom nie langer vertrou nie? Het hulle nie die Abu Ghraib-beelde gesien nie? Het hulle nie die grootste georganiseerde betoging in die wêreld se geskiedenis gedurende Februarie 2003 gesien nie? Was al daardie miljoene mense verkeerd? Glo Amerikaners dat slegs hulle reg is? Sien hulle nie dat Al-Kaida selfs 'n nog groter bedreiging inhou nie, met meer rekrute as voorheen? Sien hulle nie dat die oorlog hulle geruïneer het nie? Sien hulle nie dat die res van die wêreld hou by die internasionale waardes en verdrae wat die president trots is om van af te stap nie? Sien hulle nie dat die Guantanamo wetlike limbo 'n belediging is van alles waarvoor ons vir dekades, indien nie vir eeue nie, geveg het? Sien hulle nie dat die huidige Irak-regering onderweg na 'n diktatorskap is nie? Weet hulle nie dat "'n oog vir 'n oog" die wêreld blind laat nie, en dat die "oorlog teen terreur" 'n nimmereindigende, swak omskrewe en kwalik bedekte verskoning vir vergrype is nie? Sien hulle nie dat hierdie 'n pad na 'n selfvervullende profesie is nie?

 Met alle respek teenoor die res van die wêreld - en baie van ons in Amerika respekteer die wêreld - hierdie is nie die regte vrae nie. Dit lyk asof die meeste Amerikaners - Demokrate sowel as Republikeine - al bogenoemde geweet het. Die ooglopende vraag is dan: wetende dit alles, waarom is W herkies (of vir die eerste keer verkies)?

 George Orwell het een keer gesê, "In 'n tyd van universele bedrog word om die waarheid te vertel 'n revolusionêre daad." Dit is goed om na Orwell te verwys omdat talle die Bush-regering Orwelliaans noem… maar in hierdie opsig is Orwell verkeerd. Die kritici van demokrasie - al die pad terug tot by Plato - glo dat demokrasie nie die waarheid kan snap nie. Die kampioene van demokrasie, soos Orwell, hou gewoonlik vol dat die probleem is dat mense nie toegang tot die waarheid gegee word nie. Demokratiese rasieleiers aanvaar dat indien die massas die waarheid geken het, hulle die regte ding sou gedoen het en vir die waarheid stem. Die afgelope verkiesing daag hierdie aanname op grondliggende wyse uit. Dit behoort ons te laat besef dat hierdie ten beste 'n onvolledige formule is.

 Die res van die wêreld se demokrasieë wat Amerika bespot het nie 'n baie beter rekord nie. Is Chirac begaan oor die waarheid? Is Berlusconi regverdig? Is Blair daaraan gewy om dit reg te kry? Het Sharon 'n beter sin van werklikheid of geregtigheid? Is Mbeki aan die mense toegewy? In elke demokratiese land vind ons soortgelyke foute. In elke demokratiese land mor en pruil intellektuele omdat die massas - waartoe hulle "opsigtelik" nie behoort nie - deur politieke truuks geflous word. Dit lyk asof die mense daarvan hou dat daar vir hulle gelieg word; hulle hou van 'n goeie vertoning; hulle hou van die laagste gemene deler; hulle lees nie; hulle kyk sport; hulle is beïndruk deur TV; hulle gaan na die winkelsentrum!!! (So ook ons, die intellektuele, maar ons is nie gelukkig daaroor nie!) Die mense van hierdie demokrasieë is ook ontevrede. Die meeste mense besef dat hulle verraai word en dat hul regering nie vir hulle werk nie.

 Laat ek 'n suggestie maak: demokrasie gaan nie wesenlik daaroor om te stem nie. Selfs in Iran, Libië en Egipte stem mense! Ons is geneig om hulle maklik af te maak, maar ek glo dat hierdie voorafbepaalde verkiesings op 'n manier belangrike kenmerke deel met ons gewaande vrye, egte verkiesings. Die mees algemene fout in huidige demokrasieë is dat ons alles tot die verkiesing verskraal. Laat ek, om absoluut duidelik te wees, sê dat ek glo dat verkiesings saak maak. Maar as demokrasie slegs dit was… is ons in die moeilikheid. Dit blyk dat ons inderdaad in die moeilikheid is.

 Ek en my wonderlike vrou het gestem. Sy het vir die grootste gedeelte van haar dag gewerk as vrywilliger vir die Kerry-veldtog en toe sy teen vyfuur klaar was, is ons na die stembus. Ons het vir byna 'n halfuur in die ry gestaan. As dít demokrasie is - vyf sekondes elke vier jaar - dan is dit nutteloos. As dít demokrasie is, moet ons nie deur hierdie verkiesingsuitslag verbaas wees nie.

 Daar is 'n rede waarom ek nie vir 'n sekonde gedink het Kerry kan wen nie. Dit is juis omdat ek weet dat demokrasie beperk tot en gedefinieer is deur hierdie klein oomblik. Vir vier jaar skenk mense geen aandag aan demokrasie nie. Miskien volg hulle die politiek, hulle mag dalk koerante lees, maar hulle wag vir die volgende verkiesing. Hulle tree nie demokraties op nie, omdat hulle aan demokrasie dink as bloot om te stem. Kortom, Kerry kon nie wen nie omdat die Amerikaanse politiek vir die laaste drie jaar bevrore was; dit was onmoontlik om waarlik polities te dink. Die bevrore beeld van 9/11 het al ons gedagtes tot stilstand gebring.

***

 In die vroeë ure van 11 Januarie 2004 was ek op Luxemburg-lughawe waar ek my ouers totsiens gesoen het, onderweg terug na die Verenigde State van 'n reis na Frankryk om hulle te besoek. Die klein lughawe was voller as gewoonlik en ons kon nie help om die merkwaardige aantal Derdewêreldse reisigers daardie oggend op te merk nie. Sonder om 'n woord te sê of oogkontak te maak - want ons weet almal van beter - het ons, soos altyd, probeer om 'n goeie kykie van die ander passasiers te kry en hulle nasionale herkoms te raai terwyl ons oor hulle uiteindelike bestemming wonder en, bowenal, oor die soort paspoort wat hulle dra. Almal ken die speletjie en wonder hoe die ander by die veiligheidshekke, doeane en die immigrasietoonbank sal vaar. Ten spyte van 'n totale gebrek aan skuld verwag ons almal steeds 'n vlak van deursoeking wat enige onskuldige persoon sal laat bewe en skuldig lyk. Ek weet dat ander reisigers wat ongetwyfeld aan dieselfde aktiwiteit van paspoortafloerdery deelneem, my my posisie in hierdie ongelukkige spel sal beny. In vergelyking met die meeste is ek heel gelukkig. Die draer van 'n Amerikaanse paspoort, getroud met 'n Amerikaner, vlot in Engels, geïntegreerd in die kultuur, is ek die voorspelde wenner van 'n kompetisie wat van ons almal verloorders maak. Natuurlik gly ek nooit deur kontrolepunte nie - en ek was inderdaad vir vyftien minute deursoek en ondervra terwyl my ouers toekyk en die angs komende van hul eie uitgebreide ervaring probeer wegsteek - maar alles in ag genome het ek 'n beter hand as soveel ander in hierdie vrot transaksie. Toe ek uiteindelik deur Veiligheid is, draai ek om en probeer my bes om te glimlag en ontspanne te lyk sodat my ouers huis toe kon gaan met 'n beter laaste indruk. In feite het ek geweet dat ek bykans tien uur oor het om te glimlag; 'n Midde-Oosterse man met 'n glimlag op sy gesig is baie minder verontrustend. In 1984 is daar 'gesigmisdaad'.

 Soos andere van my etniese afkoms - ek is Iranees van geboorte en was vir baie jare 'n vlugteling - is ek gewoond daaraan om die teiken van lughaweveiligheid te wees. Ons verwag altyd die ergste en hoop om aangenaam verras te word. Ek het nooit gedink - of eens gevra - dat mense van Europese afkoms my posisie sou verstaan nie en ek was dikwels verras dat hulle my gevra het om hulle s'n te verstaan. Op dieselfde manier wat 'n swartman veronderstel is om eerlik te erken dat hy senuagtig is in die teenwoordigheid van 'n ander swartman op straat wat hy nie ken nie, word ek dikwels gevra om te erken dat ek ook senuagtig is as ek 'n jong, mede-Midde-Oosterling aan boord van 'n vlug sien gaan.

 Interessant genoeg is dit nie langer ons spesiale behandeling nie - almal is nou in 'n mate verdag. Die dag voor my vlug het die filosoof Giorgio Agamben 'n kort opstel gepubliseer in Le Monde  se Point de vue-afdeling waarin hy Amerika se nuwe beleid van die vingerafdrukking en fotografering van die meeste buitelanders wat die land besoek afgekeur het. "Ek het geen voorneme om myself aan sulke prosedures te onderwerp nie", het Agamben geskryf, "en dit is waarom ek onmiddellik my kursus wat ek veronderstel was om in Maart by New York-universiteit te doseer, afgestel het." Agamben spoor sy Europese kollegas aan om ook so te maak en om te weier om hulself te onderwerp aan die "groeiende verdierliking van die mensdom" wat sulke "bio-politieke tatoëring" insluit. Agamben betoog dat ons so 'n beleid moet weerstaan omdat die "geskiedenis ons leer dat praktyke wat eers vir vreemdelinge gereserveer is later op die res van die burgery toegepas word." Dit is met ander woorde die begin van 'n glibberige afdraande wat alle burgers kan affekteer en nie slegs my nie. In dieselfde artikel herinner Agamben ons dat hy elders "geskryf het dat die stadstaat nie langer die Weste se politieke paradigma is nie, maar die konsentrasiekamp, en dat ons beweeg het van Athene na Auschwitz." Europa het sy eie fantoom van fascisme - in Frankryk, Duitsland, Oostenryk en Agamben se eie Italië! Ten spyte van Agamben se analoog is ons probleem anders. Ultranasionalisme is ons probleem. Voor ek enigsins hiermee voortgaan, wil ek byvoeg dat duisende Derdewêreldse geleerdes en studente vir baie jare al - en selfs voor 9/11 - visas of toegang tot die VSA ontsê is. Hoewel ek Agamben se pleidooi sekondeer dat ons hierdie gevaarlike stappe moet weerstaan voor hulle "die res van die burgery" affekteer, vind ek dit nogtans ongelukkig dat dit 'n skending van Europeërs se regte geverg het om daarvan 'n kwessie te maak.

 Hoe hou dit verband met die oorspronklike kwessie van die verkiesing? Ek het voorgestel dat demokrasie nie oor om te stem gaan nie - of dat dit nie tot om te stem verskraal kan word nie - omdat 'n verkiesing die eindresultaat van 'n lang oorlegplegende proses moet wees, wat gewoonlik nie plaasvind nie. Na my oordeel is hierdie verkiesing lank gelede beslis omdat alle vorme van ware bevraagtekening sedert 9/11 in Amerika verbode is. Die logika van "jy is óf saam met ons óf teen ons"; die diabolisering van die Midde-Ooste; die Patriotwet se skending van privaatheid; die arrestasie van duisende burgers van buitelandse afkoms; die opskorting van grondwetlike waarborge (rule of law) en die regering se duidelike minagting van regte - daardie klaarblyklik verouderde ideaal van voor 9/11 - het die Amerikaanse politieke spektrum bevries. Erger nog, dit het dit verskraal.

 Laat ons nie die president se eie woorde op sy ranch in Texas gedurende Augustus 2002 vergeet nie: die "gees van moed en onselfsugtigheid het aan die wêreld gewys waarom ons volk die grootste krag vir die goeie in die geskiedenis is". Kan enigiemand buiten letterlik die duiwelsadvokaat die grootste goeie bevraagteken? Ná die Abu Ghraib-skandaal het die Republikeinse senator van Oklahoma, James Inhofe, sy "verontwaardiging oor die wêreld se verontwaardiging" verklaar. Hy het ons herinner dat hierdie gevangenes "nie daar is vir verkeersoortredings nie… hulle's moordenaars, hulle's terroriste, hulle's insurgente." Hy het bygevoeg dat talle van hierdie gevangenes waarskynlik "Amerikaanse bloed op hul hande" het. Natuurlik het hy nie verwys na die feit dat die Rooi Kruis gerapporteer het dat 70% tot 90% van hierdie gevangenes "verkeerdelik gearresteer" is nie, of dat ons eenvoudig nie dit aan moordenaars doen nie, en ook nie behoort te doen nie.

 Hierdie neiging het reg na die 9/11-aanvalle begin. Senator Trent Lott, wat toe die Republikeinse Leier in die Amerikaanse Senaat was, het 'n venynige aanval geloods op die Demokratiese Senator Tom Daschle wat baie mak vrae oor die rigting - en nie eens die geldigheid nie - van die beplande oorlog gevra het. Lott is in die Washington Post aangehaal: "Hoe durf Senator Daschle President Bush kritiseer terwyl ons ons oorlog teen terreur voer, veral terwyl ons troepe in die veld het?"  Daschle het sopas sy bod om herkiesing verloor. Miskien het niemand dit beter opgesom nie as die Prokureur-Generaal, John Ashcroft, wat na 9/11 aan die Senaat se Regterlike Komitee gesê het: "Aan diegene wat vredeliewende mense met spoke van verlore vryheid bangmaak, is my boodskap: 'Julle taktiek help bloot die terroriste.'" 

 Hoe kan ons verwag dat mense na dese teen die president moet stem? Hoe kan ons verwag dat mense vir Kerry stem nadat die media die regering se aansprake soos die Evangelie hanteer het? Die konserwatiewe media se Mologte van selfopoffering het almal verskrik. Dit is maar eers onlangs dat die New York Times en die Washington Post in die openbaar bely het dat hulle die publiek in die steek gelaat het. Hulle was te bevrore deur die beeld van 9/11.

***

 'n Belangrike onderskeid is nodig. Talle eietydse filosowe, soos Claude Lefort, onderskei tussen politiek en die politieke. Politiek gaan oor die instellings en reëls van die politieke masjien. Die politieke is die simboliese horison waarbinne politieke denke moontlik is. Wanneer talle van ons dan die verkeerde praktyke van hierdie regering afkeur, is ons veral besorg oor die huidige, bevrore horison van moontlikhede. Met ander woorde, hierdie verkiesing was absoluut regverdig; dit het die reëls nagekom; daar was geen majeure oortredings nie; die kandidate is byna dieselfde op televisie behandel, ens.

 In baie lande is die instelling self foutief. Slegs sommiges kan stem; slegs sommiges kan kandidate wees; die verkiesings is beknoei. Hier is die deursigtigheid van die politiek misleidend. Dit weerspieël nie die engheid van die politieke wat John Kerry 'n onmoontlike kandidaat gemaak het nie. Oor die meeste kwessies kon hy nie wesenlik van die president verskil nie. Die verskille was op die oppervlak. Kerry het per slot van rekening gesê hy glo in die doktrine van voorkomende aanval. Die politieke horison is so verskraal sedert 9/11 dat dit ondenkbaar lyk om selfs daarteen te betoog!

 Die konstante vernouing van die politieke en die klem op om te stem - die geldigheid van politiek - is nie eie aan Amerika nie. Ons het dit bloot in 'n groter mate beleef. In alle lande word die veld van politieke alternatiewe en moontlikhede by die dag verskraal en trek die status quo daagliks voordeel daaruit. Dit lyk alles geldig. Per slot van rekening het die mense gepraat!

 Wat staan ons te doen? Moet ons ophou stem? Absoluut nie! In plaas daarvan moet ons ons politieke reikwydte uitbrei. Na my oordeel is demokratiese burgerskap 'n taak, 'n werk, of, nog beter, arbeid. Ons moet elke dag demokraties wees - nie net op Verkiesingsdag nie. Ek glo dat demokrasie 'n karaktertrek moet wees en dat dit deurlopend beoefen moet word. As ons hierdie karaktertrekke inlê in ons algemene gemeenskaplike praktyke, kan ons meer van ons politici verwag. Hulle lieg vir ons en manipuleer ons omdat hulle kan en omdat ons hulle toelaat. Hulle kan ons waninlig en mislei omdat ons nie kritiese lesers, denkers, skrywers en deelnemers is nie. Tensy ons die soort mense wat ons is verander, sal elke demokrasie ter wêreld die verkiesingsproses gebruik om anti-demokratiese agendas te bevorder. Die vaardighede wat ons vir demokratiese burgerskap benodig - dit wat ek die demokratiese karakter noem - kan nie elke vier jaar soos 'n ou motor aangeskakel word nie.

 Wat is sodanige trekke? Hierdie is nie die plek om te veel op hierdie idee uit te brei nie, maar ons kan minstens 'n paar identifiseer en hulle moet saam geneem word. 'n Demokratiese persoon - en nie bloot 'n kieser nie - is iemand wat toegewyd is aan verdraagsaamheid. In die meeste demokrasieë is baie burgers bloot onverdraagsaam. Om die waarheid te sê, hoop hulle om hulle onverdraagsaamheid deur demokrasie uit te druk.

 Tweedens moet 'n demokratiese persoon aan diversiteit toegewy wees. Dit is van toepassing op 'n diversiteit van idees sowel as op 'n diversiteit van agtergronde en praktyke. Politieke Manicheïsme van absolute goed teen absolute kwaad sal nie deug nie.

 Derdens is respek nodig. In alle eerlikheid respekteer ek almal wat vir Bush gestem het al het ek nie self nie. Ek glo dat hulle verkeerd was en dat hulle Amerikaners en ander mense op die lange duur skade berokken. Ek het my perspektiewe te alle tye met respek aangebied. Ek doseer op 'n redelik konserwatiewe kampus en al my konserwatiewe studente kan van hierdie respek getuig. Sonder hierdie respek kan ons nie in demokrasie glo nie. Respek in Amerika is verweer.

 Vierdens moet demokratiese mense altyd hulself en hul leiers bevraagteken; hulle het 'n plig om ingelig te bly. Dit is baie moeiliker om toe te pas gegewe ons media se geneigdheid om toe te gee aan die smaak van die publiek, maar ons het toegang tot 'n veelheid van bronne wat ons moet gebruik. Belangriker nog moet ons deurgaans vra waar ons staan. Om die stelsel te bevraagteken sonder selfbevraagtekening is waardeloos. In hierdie sin glo ek dat ons huidige pedagogiese styl aan universiteite hierdie ideaal kultiveer. Ons vra ons studente om moeilike vraagstukke korrek te ontleed en te verstaan en hul eie lewens daarheen te bring. Dieselfde vaardighede moet na buite ons kampusmure uitgevoer word.

 Vyfdens moet ons onsekerheid en oopeindigheid aanvaar. Die struktuur van demokrasie self weerspieël ons onvermoë om dit vir eens en vir altyd reg te kry. Ons het gereelde verkiesings juis omdat ons dikwels verkeerd is. Elke paar jaar kry ons die kans om te sê, "Jammer, ons was verkeerd; kom ons raak ontslae van hierdie mense." Burgerlike vryheid beklemtoon dieselfde erkenning. In demokrasieë bind die meerderheid sy eie hande sodat dit nie sigself en die lewens van minderhede skend nie. Dikwels word hierna verwys as die Ulysses-strategie. Daar is geen verdienste daarin om burgerlike vryhede en regte te respekteer as alles goed gaan nie. Dit is in krisistye wat ons moet wys in watter mate ons uit ons verlede en ons geneigdheid om oorhaastige besluite te neem geleer het. Om burgerlike vryhede te onderskryf is 'n teken dat 'n mens waarlik demokraties is; ná 9/11 het ons 'n paar dinge wys geword van hoe demokratiese mense werklik is en van hoe gou ons ons regte afgewys het.

 Daar is ander kenmerke, soos om hervormingsgesind, eksperimenteel en gewillig om voortdurende aanpassings te maak, te wees. Maar daar is 'n ander baie belangrike kenmerk wat van besondere belang vir ons linksgesindes is. Ons moet aanvaar dat demokratiese politiek 'n verloorstryd is. Oor die algemeen kan of moet niemand dit alles beïnvloed nie. Geen enkele visie behoort vir altyd te geld nie. Dit is die aard van demokrasie. Die meeste van ons kan nie onsekerheid in die baie beperkte ruimte van ons privaat lewens hanteer nie. Ons soek absolute sekerheid en ons laak diegene wat effens van ons verskil; ons het geen geduld nie. As ons dit nie tuis kan doen nie, hoe kan ons dit in die gemeenskap doen?

 In die geval van die progressiewes moet ons aanvaar dat konserwatiewes altyd op die korte duur wen en dat ons sommige slae dalk op die lange duur kan wen. Dit is 'n frustrererende lewe. Vat dit of los dit. Ons moet aan die toekoms toegewyd wees en die gewig van die status quo opweeg. Toe vroue in die 19e eeu vir stemreg protesteer het, het hulle geweet dat hulle dit nie in hul leeftyd sou sien gebeur nie. Vandag sal nie eens die mees konserwatiewe politikus in die VSA daardie reg bevraagteken nie.

 Baie mense is verskriklik teleurgesteld in die uitslag van hierdie verkiesing en ek vrees dat hulle die politiek mag verlaat omdat ons nie die Amerikaanse politiek in een dag verander het nie. Hoe kon ons? Die meeste van ons was stil vir amper drie jaar. Dit was 'n onmoontlike verwagting. Ons kom te staan teen 'n skromelose konserwatiewe masjien. Daar is 'n goeie rede waarom ek na die arbeid van burgerskap verwys het, omdat ek glo dit is 'n moeilike, tydsame, pynlike taak. Maar ons weet dat om te stem maar 'n klein deeltjie van die totale beeld is. Die probleem is dat as ons eers eenmaal gestem het, ons ons aan die politiek onttrek en wag. Ons word passief en dan wonder ons waarom die verkiesings afloop soos hulle afloop. Dit is waarom ek sterk van Agamben se gebaar verskil. Om Amerika aan homself oor te laat, is nie die antwoord nie. Al diegene wat hard geveg het vir Kerry en nou teleurgesteld is moenie opgee nie. Ons moet die demokratiese geveg al die pad tot 2008 en daarna voortsit ten einde 'n ander uitslag te behaal.

 Om dit konkreet te stel, vergun my 'n laaste paar woorde oor wat ek glo Amerikaanse progressiewes moet doen. Ons hooftaak is om die veld van die politieke oop te maak sodat die verkiesing nie langer 'n afskriktaktiek oor terrorisme en gay huwelike is nie. Ons kan nie ophou vrae vra nie; ons kan nie sonder respek teenoor Republikeine optree nie; ons kan nie onverdraagsaam word nie, en ons kan nie ophou probeer nie. Ons moet hierdie demokratiese karaktertrekke elke dag vertoon. Ek het genoem dat die bevrore beeld van 9/11 die politieke spektrum verlam het. Om dit te oorkom, moet ons die politieke ideale van Amerika wat die konserwatiewes versmoor het laat herleef. Daar is nie een Amerika nie. Ek het hierdie land lief juis weens sy diversiteit, weens sy toewyding om verskillende ideale en verskillende weë te beproef. Daar is die Amerika van Rush Limbaugh, Pat Robertson, John Ashcroft en die Bush-dinastie wat die verkiesing gewen het. Maar daar is ook die Amerika van Thomas Jefferson, Ralph Waldo Emerson, Tom Paine, Walt Whitman, Mark Twain, John Dewey, Franklin en Eleanor Roosevelt, Bobby Kennedy en Martin Luther King. Die konserwatiewes het die Amerikaanse vlag gekaap, maar hulle besit dit nie. So as ons die verwagting van 'n ander verkiesing wil hê, moet ons aanhou verwys na hierdie ander kant van Amerika wat vrygewig, verbind aan geregtigheid, pasifisties en kosmopolitaans is. Deur die betekenis van Amerika self te verruim, kan ons ook alternatiewe voorstelle maak. Kerry kon nie wen nie, omdat die konserwatiewes elke enkele een van sy posisies verander het in onpatriotiese, on-Amerikaanse verraad. Die Demokratiese Party het verloor omdat dit bang is om onpatrioties genoem te word. Ek is gereed om te wed dat hulle ook ter wille van verkiesingsukses gedurende die volgende paar jaar hiperpatrioties en konserwatief gaan word. Maar die ander kant beset reeds daardie posisie; niemand hou van plakkers nie. Dit lyk of slegs die hartland Amerika besit. Maar ek is ook 'n trotse Amerikaner en ek weier hierdie monisme. Presies soos Europese anti-Amerikanisme verkeerd is om ons almal in een klein, oorvereenvoudigde kategorie te plaas, so is ook die konserwatiewes.

 In hierdie vroeë ure van Woensdagoggend kyk ek nog 'n laaste keer na die televisieskerm; die finale verkiesingskaart is byna 'n bloutjie van 2000 s'n. Ons is regtig bevrore en verlam. Daar is werk om te doen. Ek gaan nou kampus toe om te doseer. Vandag doseer ek die Evangelie van Mattheus (15:38), Foucault en Sartre in verskillende klasse. Dit is vroeg, maar ek moet hierdie nag afstap. Ek moet Pennsylvania se fris herfslug inasem en my gereedmaak. Ek berei my voor vir 2008; ek lees Walt Whitman.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=85
Artikel nagegaan:
    -