blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die FAK en SASCO in gesprek 2004-12-02

Afvaardigings van die South African Students’ Congress (SASCO) en die FAK het mekaar op Vrydag 12 November in Pretoria ontmoet om hul sienings betreffende uitdagings wat Suid-Afrika tans in die gesig staar, veral rakende die jeug, te bespreek. SASCO het hul kommer uitgespreek oor voortslepende probleme soos studentefinansiering, verblyf en toegang tot universiteite, insluitend histories Afrikaanse universiteite (HAU’s). SASCO het ook beklemtoon hoe belangrik dit vir hulle is om meer Afrikaner-studente as vennote in hul struggle te werf. Die FAK het sy simpatie vir hierdie kwessies uitgespreek en beklemtoon dat waar die huidige gebrek aan ‘n duidelike taalbeleid aan die HAU’s inderdaad probleme vir swart studente skep, die wegkalwing van Afrikaans as universiteitstaal die toegang van Afrikaanse studente tot universiteite bedreig. Beide afvaardigings het saamgestem dat verdere ontledings van die aard van die Suid-Afrikaanse staat, in besonder sy oorblywende koloniale karaktertrekke, soos skewe ekonomiese besitspatrone en ‘n gebrek aan agting vir ons inheemse tale, dringend nodig is om demokrasie in Suid-Afrika te versterk. SASCO en die FAK het ooreengekom om weer in die nabye toekoms te ontmoet om moontlike samewerking te bespreek, veral rondom die idee van ‘n Afrika-universiteit, waar Afrikaners en swartmense groot bydraes te lewer het.

SASCO se afvaardiging het bestaan uit mnr. Bandile Masulu (president), mnr. Francis Malesela Maleka (sekretaris-generaal) en mej. Pamela Masiko (ledebestuurder). Die FAK se afvaardiging het bestaan uit mnr. Hennie de Wet (besturende direkteur) en mnr. Johann Rossouw (navorsings- en kommunikasiebeampte)


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=81
Artikel nagegaan:
    -