| ||||
Die FAK antwoord hiermee as volg op die Minister van Onderwys wat in Staatskoerant no. 26911 van 18 Oktober 2004 kommentaar aangevra het op die wysigingswetsontwerp op Onderwyswette. 1. Prinsipiële argumentasie 1.1 Ingevolge gees en letter gee die Suid-Afrikaanse Grondwet erkenning aan die federale beginsel van "subsidiariteit". Dié beginsel sê dat gemeenskappe soveel as moontlik gesag oor sake moet uitoefen wat hulle ten nouste raak, terwyl net dié magte aan sogenaamde hoër instellings oorgelaat moet word wat die gemeenskappe nie self kan hanteer nie. Dit blyk onder meer in die wyse waarop die Grondwet oor die gesag van die provinsies nadink. Volgens die Grondwet moet slegs dié magte aan die sentrale regering oorgegee word wat die provinsies self nie kan hanteer nie. 1.2 Histories staan nasiestate voortdurend voor die versoeking om die gesag van die gemeenskappe te ondermyn deur dit onder meer in die hande van burokrate te bundel. Apartheid was self hiervan 'n voorbeeld. Soos ander nasiestate van die moderne era het ook die apartheidstaat die beginsel van subsidiariteit ten gunste van sentralisering beklemtoon. 1.3 Om sentralistiese tendense in nasiestate te beantwoord, is 'n herinnering aan die beginsel van subsidiariteit altyd weer nodig. Die egte demokratiese gees lewe dáár waar erkenning aan die beginsel van subsidiariteit gegee en die gesag so ver as moontlik in die hande van die gemeenskappe geplaas word.
2.1 Die FAK is daarvan oortuig dat die wysigingswetsontwerp op kardinale punte tekens van sentralistiese denke vertoon en dat dit dus in spanning met die beginsel van subsidiariteit tree. 2.2 Dit blyk op 'n kommerwekkende wyse uit die mate waarin die voorgestelde wysigings die bevoegdhede van beheerliggame inkort. Die belangrikste voorbeelde van dié inkorting is die volgende: a). Volgens die bestaande reëlings rondom die handhawing van dissipline in skole het die beheerliggame die bevoegdheid om 'n leerder ná 'n regverdige verhoor as 'n korrektiewe maatreël vir een week of in afwagting van 'n beslissing deur die Departementshoof te skors. b). Die belangrikste inkorting van die bevoegdhede van beheerliggame deur die wysigingswetsontwerp hou verband met die aanstelling van opvoeders. Volgens die wysigingswetsontwerp word beheerliggame se bevoegdheid om 'n aanbeveling oor die aanstelling van opvoeders aan die Departementshoof te maak, onderwerp aan die vereiste dat 'n kortlys van minstens vyf name aan laasgenoemde verskaf moet word. Die Departementshoof mag enige van die vyf kandidate aanstel. Volgens die wet moet die beheerliggaam aan vyf maatstawwe voldoen by die opstel van 'n kortlys. Indien die Departementshoof sou oordeel dat die maatstawwe nie deur die beheerliggaam toegepas is nie, moet die aanbevelings van die hand gewys word. Die Departementshoof moet dan self al die aansoeke oorweeg en daarna 'n tydelike aanstelling maak, of die pos heradverteer. Indien die beheerliggaam nie ná vyf dae teen die aanstelling na die LUR appèlleer nie, kan die Departementshoof die aanstelling permanent maak. So verkry die Departementshoof die mag om enige tydelike aanstelling permanent te maak sonder 'n aanbeveling van die beheerliggaam. 3. Gevolgtrekking. Vanweë die gevare verbonde aan sentralisering moet sodanige ingrype egter altyd weer onderwerp word aan prinsipiële oorwegings. Volgens die FAK is dit 'n gevaarlike argument om krisisse as verskoning vir burokratiese ingrype in wetgewing te verskans, omdat sentralistiese neigings in nasie-state daardeur gelegitimeer word. Uitsonderlike toestande verskaf met ander woorde dikwels die rasionaal vir die sogenaamde 'normalisering' van die ganse institusionele struktuur. Maar daarmee word juis verder weggekalwe aan die beginsel van subsidiariteit. In plaas daarvan om alle skole in alle gemeenskappe aan 'n verlammende proses van ontmagtiging te onderwerp, behoort die Minister eerder meganismes in werking te stel waarvolgens die "goeie oordeel" gebruik kan word. Slegs dié beheerliggame behoort aan bogenoemde beperkinge onderwerp te word waar dit volgens die goeie oordeel absoluut noodsaaklik is. Die riglyn waarvolgens deurgaans opgetree moet word, moet egter steeds die beginsel van subsidiariteit bly. Indien laasgenoemde nie nougeset beskerm word nie, word weggekalwe aan een van die hoekstene van die moderne demokratiese tradisie. |