blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Mediaverklaring oor die eredoktorsgraad aan Bram Fischer/ Media release on the honorary doctorate for Bram Fischer 2004-11-10

EREDOKTORSGRAAD AAN BRAM FISCHER SANKSIONEER NUWE NASIONALISME EN RASSISME

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) doen hiermee 'n beroep op die Universiteit Stellenbosch om die toekenning van 'n eredoktorsgraad in Wysbegeerte postuum aan advokaat Bram Fischer in heroorweging te neem. Hoewel Bram Fischer vir 'n nie-rassige, de mokratiese bestel in Suid-Afrika gestry het, werp sy steun vir 'n doktrinêre kommunisme en simpatie met Josef Stalin, een van die gewelddadigste diktators van die 20ste eeu, ongelukkig ook 'n skadu oor Fischer se nalatenskap wat nie te versoen is met die ideale waarvoor die Universiteit Stellenbosch vandag staan nie.

Die fel openbare reaksie wat veral in Afrikaanse geledere teen die toekenning uitgebars het, toon ook duidelik dat die Universiteit Stellenbosch hiermee gevaar loop om verdeeldheid eerder as versoening, veral onder sy voedingsgemeenskap, aan te help. Aangesien die motivering vir die toekenning op baie vae argumente berus en Fischer nie 'n alumnus van die Universiteit Stellenbosch is nie, word die indruk ongelukkig geskep dat die Universiteit met hierdie gebaar daarop uit is om politieke guns by die regering van die dag te soek, net soos wat ongelukkig ook onder die vorige bedeling gebeur het, en waarvoor Stellenbosch reeds 'n hoë prys aan intellektuele en politieke integriteit moes betaal. Op die koop toe openbaar die regering van die dag toenemend 'n skerp Afro-nasionalistiese inslag met die skep van 'n nuwe rasse-elite as eerste oogmerk, en al hoe minder verdraagsaamheid vir openbare kritiek. Hiermee misken die regering van die dag toenemend die nie-rassigheid en de mokrasie waarmee Fischer se naam verbind word, en beoefen hy juis die nasionalisme waarteen Fischer sy lewe lank krities was. Die Universiteit Stellenbosch loop dus met die toekenning van hierdie graad die gevaar dat hulle nogmaals 'n rassistiese, nasionalistiese regering gaan sanksioneer.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=71
Artikel nagegaan:
    -