|
||||
Op Vrydag 11 Mei begin die eerste Afrikaanse film in 10 jaar, Ouma se slim kind, draai. Ons gesels met die filmmaker, Gustav Kuhn.
Die Vrye Afrikaan: Hoe het jou pad vanaf skool tot by die maak van Ouma se slim kind geloop? Gustav Kuhn: Vandat ek kan onthou, was musiek my passie; ek het absoluut daarvoor geleef. Gedurende my laaste paar jaar op skool het ek myself leer kitaar speel. Huiswerk was dus nie ’n prioriteit nie, maar om vir ure te sit en liedjies oefen was nooit plig nie – net louter plesier. Mettertyd het ek beter begin klink, en met skool agter die rug kon ek al my tyd aan my kitaarspel bestee. Swot was ook nie op daai stadium nou juis ’n drukkende drang nie, maar nuwe kitaarsnare was wel. Snare kos geld, en noodgedwonge wend ek my toe tot die restaurantbedryf. Ek sou nooit kans sien vir kelner speel nie – dié dat ek my eerder agter in die kombuis tuisgemaak het. Vir agtien maande het ek geleer van Caeser’s salad tot die regte manier om ’n “fillet steak te butterfly” (oop te vlek). Tog het my ware liefde by die musiek bly lê. Op ’n dag het ’n pel my van die kibboets in Israel en van al sy ondervindinge daar vertel. Die idee het dadelik ’n indruk op my gemaak. My vriend se stories het bly spook. Kort voor lank het ek my kitaar gepak en die vreemde gaan trotseer. Die impak wat Israel op my lewe gehad het, kan ek onmoontlik binne die bestek van dié onderhoud weergee. Wat ek wel kan meedeel, is dat my kamer sewe minute se stap van die Jordaan-rivier was en nog ’n verdere drie tot by die See van Galilea. Ek was so in vervoering dat ek dit vir twee jaar my tuiste gemaak het. Om langs die rivier te kon sit en kitaar tokkel onderwyl pelgrims hier vlak voor my die rivier inloop om gedoop te word, was ’n belewenis. Die lewe was nog nooit so eenvoudig nie. Na my rondlopery was dit onvermydelik om terug te keer. Terug op eie bodem het ek weer begin kook, hierdie keer in Italiaans. Ek was skaars gevestig in my nuwe beroep toe die noodlot tref. Ek was betrokke by ’n ongeluk waarin ek my regterarm verloor het. Dit was nie net die einde van my kookloopbaan nie, maar ook van my kitaarspel. Na die ongeluk het ek my gewend tot die tegnologie maar ek en rekenaars is nou eenmaal nie maats nie. Ek het van ’n filmskool te hore gekom en besluit dat filmmaak my nuwe roeping is. Dis ’n geleentheid om ’n storie te kan weergee met musiek, woorde, tonele wat mense aanraak. Na ek my graad verwerf het, was dit 7de laan toe met my. Gedurende my twee jaar daar het ek die draaiboek vir Ouma se Slim Kind geskryf. Met die finansiering in plek het ek bedank en saam met Renier Basson Southern Sky Pictures gestig. Ouma is gebore, en die res is geskiedenis.
DVA: Wat is jou belangrikste invloede in die letterkunde en rolprentwêreld? GK: My invloed strek so ver terug as toe ek toegelaat is om televisie te kyk. Ek het Topsy Smith se Trompie-boeke gelees en nie maklik ’n program misgeloop nie. Rolprente soos Boetie gaan border toe het ook op ’n vroeë ouderdom ’n impak op my gehad. Van kleins af was daar altyd ’n Siamese kat, Koki, in ons huis; ons het dus grootgeword met NP Van Wyk Louw se Raka. Koos du Plessis se lirieke en verse is altyd gespeel en Daleen Matthee se Kringe in ’n Bos, soos ook die film, was inspirerend. Ook Kubrick se werk en Oliver Stone het ’n blywende indruk op my gemaak.
DVA: Waarom het jy die rolprent gemaak? GK: Die eerlikste antwoord op die vraag is soos volg. Dit is wat ek ken en voor lief is. Kyk maar net na die gehalte, integriteit en eindresultaat van sekere produksies wat op plaaslike bodem vervaardig word. Hierdie “produksies” is niks minder as swak reproduksies van oorsese wenresepte nie. Hulle tekortkominge skryf ek eenvoudig toe aan ’n gebrek aan kreatiwiteit en oorspronklikheid. Hoekom ’n produk vervaardig waarvan jy niks weet en waarmee jy geen kulturele identifikasie het nie? Persoonlik het ek gehonger na dieper materiaal in Afrikaans. Ek veroordeel nie al die ligsinnige vermaak waaraan ons as Afrikaanse gehore en kykers gewoond geraak het nie. Inteendeel, ek voel dat humor en die vrymoedigheid om met jouself te spot, waarlik ’n gesonde eienskap is.
Oor of dit gevaar loop om leë, denklose vermaak te word wat selfs begin grens aan kultureel afbrekend en tot ’n “minderwaardigheidskompleks” kan lei, sou ek my nie graag wou uitlaat nie. Ek voel tog sterk daaroor dat daar te min stimuli in dié verband vir ons gehore en kykers is. Ek verwys natuurlik na stof met ’n bietjie meer om die lyf. Verskoon tog, ek het ’n fout begaan: daar word nie “te min” Afrikaanse rolprente gemaak – drama of te nie – daar word géén Afrikaanse rolprente gemaak nie, punt klaar. Daar is werklik ’n herlewing in Afrikaans – kyk maar na die musiekbedryf, asook die letterkunde. Dit was hoog tyd dat die Afrikaanse filmbedryf hierby aansluit.
DVA: Wat het dit alles geverg om die rolprent te maak, in terme van tyd, finansies, borge, verspreiders, ens.? GK: Bloed, sweet en trane, ja. Heg ons nog waarde aan daardie woorde? Of het ons die rympie al so veralgemeen en vryelik misbruik dat dit gewoon en alledaags geword het? Indien wel, is dit seker óók ons skuld – wat my betref, sal ek daardie woorde nooit weer ligtelik gebruik nie. Ek sou net graag “bid” ook agterna byvoeg. Hier is ’n verkorte weergawe van sekere van die struikelblokke wat oorkom moes word. Bo en behalwe die algemene probleme soos geld en tyd wat filmmaak bemoeilik, noem ek ’n paar uitdagings wat ’n reeds moelike situasie amper onmoontlik gemaak het. Twee eenderslykende varke, ’n grote en ’n kleintjie, moes weke voor die tyd makgemaak en opgelei word. Dan was daar die perde, donkies, slange, tarentale, hoenders, ongeveer dertig kinders en een mampoerstoker.
DVA: Daar word nogal heelwat gepraat en geskryf oor die stand van die Suid-Afrikaanse rolprentwese. Maar wat kan volgens jou gedoen word om die Afrikaanse rolprentwese te verbeter? GK: Ja – sedert Charlize en Tsotsi word daar seker meer notisie geneem van onse rolprentbedryf. Laat ons tog ook nie die string politiekgedrewe prente vergeet nie. Dis natuurlik als goed en wel, maar het dit ’n ou soos ek en ’n film soos myne enigsins bevoordeel of gebaat? Nee, hoegenaamd nie. Inteendeel, dit het dalk net my poging om ’n Afrikaanse prent te maak verder bemoeilik. Dit kom neer op die tekort aan of absolute afwesigheid van geloofwaardigheid onder diegene wat hulself in kritiek belangrike magsposisies binne die bedryf bevind. My antwoord op wat die Afrikaanse rolprentbedryf sal verbeter, lei my amper in die versoeking om ’n wenslysie op te stel en te glo dat die goeie fee dit sal laat waar word! Die realiteit is eenvoudig. As dit belangrik genoeg is vir Afrikaners om vir die eerste keer in tien jaar ’n prent in hulle moedertaal te kan geniet – sodat hulle bereid sal wees om die moeite te doen om dit te gaan sien, dan kan ons praat oor voortbestaan ...
DVA: Volgens inligting wat reeds in die media bekend is, is Ouma se slim kind sterk in ’n gemeenskapswêreld gewortel. Wat is jou standpunt oor die rol van gemeenskappe in Suid-Afrika en die wêreld vandag? GK: Ek dink die rol van gemeenskappe in ons land word ondermyn. Almal kan nie net terugsit en verwag die ouens wat in leiersposisies is, moet alles verander nie. Dit mag nou dalk na ’n cliché klink, maar verandering vind plaas as elke persoon binne hom- of haarself, sy huis, gesin, gemeenskap iets begin doen. ’n Gemeenskap skep ook die gevoel van samehorigheid en betrokkenheid. As daar binne gemeenskappe in Suid-Afrika saamgewerk word, ondersteuning aan mekaar gebied word, kan daar ook weer ’n gevoel van patriotisme ontwikkel word. ’n Gemeenskap is nie noodwendig taal- of ras- of kultuurgebonde nie. Dis juis oor ’n gevoel van isolasie en vervreemding dat negatiwiteit die oorhand in ons land kry. Ouma se slim kind is ’n film wat tot alle gemeenskappe spreek, oud en jonk, nie net ’n sekere groep nie.
DVA: Is daar ander projekte wat jy in die vooruitsig stel? GK: Definitief – ek is druk besig met my volgende draaiboek – in Afrikaans ! |