|
||||
Theo de Jager
*Voorsitter, Agri-Limpopo
Grondhervorming raak algaande een van die grootste verleenthede vir die Mbeki-regering, en die weinig plase wat oor die afgelope 13 jaar aan swart grondbesitters oorgedra is, is monumente vir die onvermoë van ’n amptenary wat van meet af aan nie met planne, kapasiteit, kundigheid of insig toegerus was vir die taak wat aan hulle opgedra is nie. Die gevolg is dat landbou en landelike ontwikkeling, veral in die Noordelike provinsies, vermink is, en dat voedselsekerheid vir die eerste keer in eeue in Suid-Afrika in gedrang is. Dit is ook nie net boere en ander kommersiële grondbesitters wat die al te dikwels moedswillige, magsdronk grondhervormingsamptenare vir die huidige krisis verkwalik nie, want gefrustreerde begunstigdes is waarskynlik nog meer krities jeens die lamlendige burokrasie. Nieteenstaande dié jammerlike baanrekord beur die minister voort om gevestigde kommersiële boere wat kan en graag wil boer, met onervare swart aspirante te vervang waarvan die meeste nooit eers wou boer nie. Maar as ’n mens op staatskoste en sonder enige risiko grond op jou naam kan kry, waarom sou enigeen dit van die hand wys? Selfs die pynlike terugname deur die Limpopo Departement van Landbou van die eerste 71 spogplase wat in dié provinsie se grondhervormingsprogram oorgedra is, omdat dit erg verwaarloos en geplunder is, noop die minister nie om die huidige manier van doen in heroorweging te neem nie. By enige kritiek op die mislukte vestiging van swart boere, word die skuld daarvoor op die kommersiële boere se brood gesmeer. Die staat skoei sy optrede en strategie op die aanbevelings van die grondberaad van Julie 2005 waar 1 000 grondregte-aktiviste by Nasrec in ’n aanskoulike oefening in struggle-jargon en Mugabe-verheerliking ongekompliseerde grondgrype geëis het. 20 Kommersiële boere is ook genooi om die balans te handhaaf. Die aanbevelings, wat by wyse van meerderheidstem aanvaar is, het die landbougemeenskap en ander grondeienaars vir stormagtige restitusie- en herverdelingsprosesse voorberei. Van al die gedreig en beloftes van versnelde grondhervorming het tot dusver egter dadels gekom, buiten vir ’n paar absurde voorstelle oor die afskaffing van die vrywillige verkoper-beginsel en ’n progressiewe grondbelasting wat senior amptenare van die Departement van Grondsake saam met die Wêreldbank by eksklusiewe werksessies bekook het. In die proses het die Grondsake-amptenare minstens in die openbare debat die morele hoëgrond verloor, en hulself laat in 2006 die gramskap van sowel die Minister as die President op die hals gehaal. Sommige van die grondberaadaanbevelings word redelik afgewater, soos die voorgestelde beperkings op buitelandse grondbesit. Die regering se seën op die onlangse transaksie waarin die Victoria & Alfred Waterfront in Kaapstad vir meer as R7 miljard aan ’n buitelandse groep verkoop is, sou dit moeilik maak om vorentoe buitelanders se belangstelling in eiendomme aan bande te lê. Dreigemente met hierdie strekking is waarskynlik net so aanvegbaar soos die regering se diskriminerende optrede teen buitelandse beleggers wat nie aan die vereiste stappe vir regstellende aksie voldoen nie, en wat twee Italiaanse granietmynmaatskappye nou in ’n tugverhoor voor ’n Wêreldbank-tribunaal wil toets. Ander grondberaadaanbevelings soos die aandrang op ’n algehele moratorium op afsettings van plase, en die skrapping van die vrywillige verkoper-beginsel word egter met mening op die Nasionale Loodskomitee oor Grondsake se agenda gedryf.
Plaasafsettings
Plaasafsettings word veral in die Suidelike provinsies deur grondregte-aktiviste as ’n mobilisasiespilpunt misbruik, en dit wil voorkom of dié kwessie by gebrek aan ’n groot belading van grondeise as kapstok vir gedwonge plaastransaksies gebruik kan word. In dié verband word daar veral klem gelê op morele aspekte rondom die lot van hawelose plaasplakkers en voormalige plaaswerkers nadat hulle van plase afgesit word, en dit was ook die dryfveer agter die Wet op Verblyfregsekerheid (Wet 62/1997, sg. ESTA-wet). Die Minister se gewraakte radio-advertensieveldtog van Desember wat haar verhouding met Agri-SA verongeluk het, was juis op grondregte-aktiviste se “navorsingsverslae” gebaseer, wat kwansuis sou aandui dat meer as een miljoen plaasplakkers al onwettig van plase afgesit is. Dit is ’n gemiddeld van meer as 25 afsettings per individuele boerdery! Waarskuwings dat boerderybedrywighede asook nuwe ontwikkelinge van plaasarbeiderbehuising deur die wet ernstig geïnhibeer sal word, en dat dit plaasveiligheid in gedrang bring, is in die wind geslaan. Vandag is dit ’n kriminele oortreding om plaasplakkers sonder ’n hofbevel van jou grond af te sit. Dit is onduidelik waarom daar net op die belange van plaasplakkers gefokus word terwyl honderdduisende mense op myngronde, staatsgronde en ander privaatgrond dikwels ook vanweë afsettings haweloos raak. Dit skep die indruk dat dit vir die vaandeldraers van ’n moratorium op plaasafsettings belangriker is om die boere te irriteer as om die behuisingstekort op te los. Verblyf op plase is, soos in enige sake-onderneming, deel van ’n werknemersooreenkoms. Wanneer ’n dienskontrak verstryk, verstryk verblyfreg ook, tensy anders ooreengekom is. ’n Plaas is allereers ’n produksie-eenheid, en nie vir residensiële doeleindes bedoel nie. Met die huidige druk vir ondiskriminerende verblyfreg op plase is die regering besig om boere te belas met ’n behuisingskwessie wat primêr die staat se verantwoordelikheid is. ’n Moratorium op afsettings skree teen elke beginsel waarop Artikel 25 van die Grondwet geskoei is, en sal ernstige inbreuk op eiendomsregte maak. Boonop is plaasplakkers dikwels ’n nes van diefstal, aanrandings en ander misdade, en weier munisipaliteite om riool- en waterdienste na verafgeleë plaasbehuising aan te lê.
Restitusie
Onduidelikheid oor beleid en implementeringsreëls oor aspekte van grondhervorming veroorsaak omvattende konflik tussen grondeienaars en amptenare. So het landbouers aanvanklik geen probleme met die restitusiewet gehad nie. Die wyse waarop dit geïmplementeer is, is egter uiters ontwrigtend vir beide landbou en die res van die grondhervormingsprogram. In die Noordelike provinsies is die meer suksesvolle herverdelingsproses op die ys geplaas in afwagting dat grondeise afgehandel word. In die omvangryke gebiede waar grondeise afgekondig is, het ontwikkeling op plase tot stilstand geknars. Wat algemeen beskou is as ’n vinnige, duur proses waar ongeregtighede van die verlede deur eise teen die staat reggestel sou word voordat die herverdeling van grond ’n aanvang sou neem, het in ’n kraaines van administratiewe rompslomp en botsende aansprake ontaard waar tot 88 % van ’n provinsie se landbou-eiendomme vir etlike jare van alle ontwikkelingsmoontlikhede ontneem word. As enigste (gedwonge) koper was die staat self nie gerat vir die omvang van ’n grondoordragproses wat op kansvatter-eise en vrywillige verkopers, eerder as historiese ontneming van grondregte, bedryf word nie. Suid-Afrika het ’n uitstekende restitusiewet, waarvan die implementering deur onbevoegde aktivis-amptenare ’n nagmerrie veroorsaak. In vier jaar van intense betrokkenheid by grondeise het ek nog nooit ervaar dat ’n grondeisekommissaris bereid was om selfs in die minste ’n oop gesprek met ervare plaaslike boere oor die toekoms van volhoubare landbou-aktiwiteite op die grond te voer nie. Daar is ook geen sprake ooit van ’n volle en finale skikking van ’n grondeis nie. Grondeise-amptenare is stormramme wat net een styl handhaaf: boelietaktiek, intimidasie en dreigemente. Die resultaat is voorspelbaar: negatiwiteit en onsekerheid in die landbousektor, geen beleggings in die landelike gebiede nie, en onbetrokkenheid van suksesvolle boere by die na-vestigingsfase van grondhervormingsprojekte. Tot Oktober 2006 het die Hoof- grondeisekommissaris konsekwent die sukkelende restitusieproses op die gebrek aan samewerking van boere geblameer. Herhaalde mislukkings en growwe teregwysings in die Grondeisehof het hom sy deuntjie egter laat verander. In die Hlaneki-saak teenaan Giyani het regter Justice Moloto na provinsiale grondeisekommissaris Mashile Mokono verwys as ’n arrogante boelie, en in die Daisy Kopje-saak in Barberton kon regter Antonie Gildenhuys dit nie oor sy hart kry om “getraumatiseerde grondeienaars weer aan die onbevoegdheid van provinsiale grondeisekommissaris Peter Mangwani bloot te stel nie”. In Februarie 2007 is selfs in die parlement erken dat “kapasiteitsprobleme” in die Grondeisekommissie en interne konflik in eisergroepe die vernaamste oorsake vir die gesloer met grondoordrag is. Die heel eerste eiendom wat vir restitusiedoeleindes onteien is, word nou deur die staat self in besit geneem omdat die eisergemeenskap onderling baklei oor wie die reg het om hulle te verteenwoordig. Spogplase in Magoebaskloof, waaronder die wêreldbekende teeplantasies, lyk drie jaar nadat die eis in die staatskoerant afgekondig is, na oerwoud omdat daar minstens vyf instansies is wat daarop aanspraak maak dat hulle die Makgoba-eisers verteenwoordig. Die rol van amptenare en partypolitieke voorkeure in die manipulasie van hierdie interne konflikte moet ook nie gering geskat word nie.
Vrywillige verkoper-beginsel en ’n voorkoopreg
Ongekende druk op politici om die vrywillige verkoper-beginsel op te skort, spruit uit aansprake van amptenare dat die staat as gevange koper geen prysbedingingsmag het nie, en dat grondeienaars grondpryse kunsmatig opjaag. Tog is daar in die parlement erken dat gedwonge transaksies in die restitusieproses konsekwent op markwaarde en hoër geskik word, terwyl vrywillige transaksies in die herverdelingsproses gemiddeld 30 % onder markwaarde realiseer. In restitusie betaal die staat die volle koopsom, en in herverdeling word daar tot 25 % gesubsidieer, terwyl banke die balans moet finansier. Die finansiële risiko in die herverdelingsproses plaas afwaartse druk op grondpryse. Politieke venyn en ideologiese uitgangspunte kan dus die enigste dryfveer wees agter die beweging om met die vrywillige verkoper-beginsel weg te doen. Selfs die voorgestelde instelling van ’n voorkoopreg op alle eiendomstransaksies ten gunste van die staat, soos in Namibië, is ondeurdag. Die amptenare wat die voorstel gemaak het, het nog nie eers gedink aan oordragte van ’n privaat eienaar aan sy familietrust, beslote korporasie, maatskappy of sy kinders nie, wat vir boedelbeplanningsdoeleindes kan gebeur. Ook nie aan transaksies wat vir konsolidasie van plase plaasvind nie. Die grootste beswaar teen so ’n voorkoopreg is egter onvermoë van amptenare. In die Maroba-eis by Hoedspruit het vrywillige verkopers hul aanbiedinge op 11 Desember 2004 al aanvaar, en sedertdien nooit weer van die Departement gehoor nie. In die Selwane-eis by Giyani is die grond van vrywillige verkopers in September 2006 uiteindelik aan die eisers oorgedra, 38 maande nadat hulle hul aanbiedinge aanvaar het. Hoe lank sal ’n verkoper moet wag as dieselfde amptenare ’n voorkoopreg op alle eiendomtransaksies moet oorweeg? Die oplossing vir vertraagde grondhervorming lê nie in komplekse skemas soos ’n voorkoopreg of die skrapping van die vrywillige verkoper-beginsel nie. Dit is so eenvoudig soos om amptenare aan te stel wat kan administreer, en nie van aktiviste te verwag om as salaristrekkers ’n staatsdepartement te bestuur nie. Die vrye mark en markgebaseerde eiendomswaardasies is die enigste haalbare vertrekpunt vir grondhervorming. As die staat dié beginsel verwerp, wat sou as alternatief kon dien? Enige ander benadering sal Zimbabwe se spook oproep, en Suid-Afrika in die internasionale drein laat afspoel. Die regering moet aanvaar dat grond ’n skaars, duur kommoditeit is, en dat die rekening vir grondhervorming nie net deur die boere gediens kan word nie.
Grondhervormingsforums
Grondhervorming kan net slaag as dit met verbeeldingryke landbou-ontwikkeling gepaardgaan, en as alle belanghebbendes daarby betrokke raak. Dit vereis ’n verbintenis van munisipaliteite, boereverenigings, banke, grondbehoewendes, plaaswerkers en agri-besighede. Sonder inklusiewe plaaslike grondhervormingsforums, waar amptenare tot deursigtige konsultasie genoop word, is dit nie moontlik om wye eienaarskap oor die proses te vestig nie, en bly konflik en verdagmaking ons voorland. Grondhervorming in Suid-Afrika kan eintlik so konstruktief geïmplementeer word, as die oogmerk die praktiese herverdeling van eiendom en verblyfregsekerheid is. Dit is ondeursigtige agendas en ideologiese byklanke wat die huidige onsekerheid en plofbare verhoudingskrisisse veroorsaak. |