blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Rock-kroniek: Nick Drake, Gevalle Engel 2006-11-15
Shiloh Noone

*Rock-historikus en skrywer van Seeker’s Guide to the Rhythms of Yesteryear, [email protected]

 

Miskien is daar iets inherent skoons aan geïsoleerde intensiteit wat sidder van pyn en eensaamheid, ’n ruimte waar die voortreflikste digters, kunstenaars en musici vertroosting en realiteit vind?

Hierdie voorbestemde sjabloon het swaar geval op ’n jong Nick Drake, gebore in die Burmees-Japanse nasleep van 1948. Getoë in ’n welvarende en vooraanstaande Koloniale gesin, het Nick op die ouderdom van ses jaar deuntjies begin komponeer wat hy dan op ’n bandmasjienrol opneem. Na sy graduering aan Marlborough College in Wiltshire, waar hy kaptein word van die rugbyspan, het Nick die klarinet, saksofoon en klavier leer bespeel, en nie minder nie as sewe GCE-onderskeidings behaal, maar soos alle kunstenaars Fisika en Chemie gedruip. In hierdie tyd koop hy sy eerste akoestiese kitaar en begin met oopsnaarwerk eksperimenteer. Teen 1966 wen Nick ’n beurs om Engelse literatuur aan die Universiteit van Cambridge te studeer, voorafgegaan deur sy ses maande sabbatsverlof aan die Universiteit van Aix, Frankryk. Dit was hier, in die Parys van Henry Miller se straatvrouebuurt, dat Nick ernstig begin skryf en hom met allerlei bymiddels behelp het. Die Paryse wedervaringe het aan hom ook ’n nuwe intimiteit besorg met die sangeres Françoise Hardy. Nick het dikwels in haar woonstel in Parys tuisgegaan en talle opnames gemaak, wat Françoise Hardy gesweer het sy nooit sal vrystel nie. By sy terugkeer na Londen tree hy op as ondersteunende speler vir Country Joe & the Fish by die Roundhouse in Camden Town, waar hy groot indruk gemaak het op Ashley Hutchings, stigter van Fairport Convention. Na die konsert het Ashley Nick aan Island Records se Joe Boyd voorgestel, wat gelei het tot die opname, in die lente van 1969, van Five Leaves Left, met musikale ondersteuning deur Fairport Convention en sy Kollegevriend, Robert Kirby, as opname-ingenieur. Die album was slim, in die besonder die alleenstaande “River Man” met sy 5/4 maatslag, harmoniewisselings en aanwending van versifikasie. Nick se snaarplukwerk was briljant en het veral geskitter in die fluitagtig vreeslose “Three Hours” en veeleisende “Cello Song”, met die vergunning van Strawbs-oorgeklankte Claire Lowther (Walkabouts het dit gedek). Die eerste “drie-uur”-sessies het die Traffic-weeskind, Reebob Kwaakhu Baah, met sy voodoo-klankteksture en Tintagel se Ian McDonald op die fluit ingesluit.

Na die album het Nick die Kollege verlaat en na Londen verhuis, waar hy drie onbegeleide liedjies opgeneem het vir John Peel van die BBC. In dieselfde jaar het hy ondersteunend maar ongemaklik opgetree vir Fairport Convention in die Royal Festival Hall in Londen, sonder om die gehoor aan te kyk of met hulle te praat, en tussen elke twee liedjies van die verhoog padgegee. Nick se jazz-agtige volgende opname, Bryter Lyter, het die minimalis John Cale van Velvet Underground getrek, wat die orrel en celeste bespeel het in die skouspelagtige “Northern Skies”, ’n gunsteling van Piet Botha se groep. Hier was die onskuld nou in flirtasie met die stralekranse van engele wat in die borealis gebaai het, en nog het die wêreld niks opgemerk nie. Niks, in vlees of gees, kom naby die vlugtige “Northern Sky” nie. (Geïnspireer onderwyl hy met ’n rugsak deur Noorweë op pad was), adem Cale se celeste soos ’n neersiftende misreën deur hierdie dampvenster. Bryter Lyter was, uit patroon, meer van ’n fusion-mengeling van mistige folk met onstuimige jazz-stuwings soos “Hazy Jane 11”. Die album was deurtrek van innuendo deur Melody Maker, hoofsaaklik vanweë die Fairport-ondersteuning. Fluitis Ray Warleigh en Lyn Dobson adem onderskeidelik deur die instrumentale “Bryter Lyter” en “Sunday”, met Ian wat in King Crimson aansluit. Let daarop dat Nick se instrumentale passasies nie simptomaties van ’n inspirasieblok was nie, maar eerder toegeskryf moet word aan sensitiewe skakeling tussen die mood-variante. Die vingerplukkende “Hazy Jane 1” wat met Kirby se orkestrasie gedwarreldans het, het later die strande van Afrika bereik deur twee klein winkeltjies in Stellenbosch, Sigma Records en Adrian’s Records. Onder die “gedooptes” was Koos Du Plessis, en die Kombuis waarvan ek persoonlik kan getuig!! Die jazz-agtige “Poor Boy”, ondersteun deur die voormalig Suid-Afrikaanse Blue Notes-pianis Chris McGregor, indertyd ’n lid van Brotherhood Of Breath, kon ewegoed enige Ronnie Scott-konstabulary binnegegaan het. (Chris het hom uit baie snitte onttrek omdat hy gevoel het dat hulle nie die jazz regverdig nie.)

Die Londense gekletter met sy drukte en verpligtings het nou in ’n migraine-blikkering ontaard vir Nick, wat sy vlerke gesprei en hom onttrek het na sy stil woonstel. Daardie selfde jaar het Nick na die eerste toneel uit Ralph Mctell se konsert gestap. Kort daarna het Nick se familie hom oorreed om ’n psigiater by St Thomas te raadpleeg, wat antidepressante voorgeskryf het. Nou het hy nog slegs gepraat met John Martyn en sy vrou Beverley, vir wie Nick omtrent verafgod het. Nick sou voortaan deur die onderwêreld steier en doelloos deur die lewens van sy vriende dwaal, soos ’n skim in vrye val. Hierna het Nick weereens die ateljees betree en die sober, strak Pink Moon opgeneem, onbegeleid afgesien van ’n klavieroorklanking, en ’n vroeëre demo genaamd “Place to Be”. Hier was Drake nou in eensame verfyning, iewers in die kraters van die maan waar stilte ontsag adem en skaduwees van hulleself wegvlug. Tydens die insinking van 1974 skryf John Martyn sy waarskuwende “Solid Air” vir Nick, wat daarin geslaag het om ’n verdere vier liedjies op te neem. Op die 25 ste November het Nick die grens oorgesteek nadat hy per abuis ’n oordosis van Tryptizol gebruik het. Hy is onder ’n eikeboom in die Tanworth-begraafplaas begrawe. Die artistieke Drake-bloed het deur die TV-sepie “Crossroads” bly vloei via die talente van sy suster Gabriella, terwyl Nick se nalatenskap spiritueel ontwaak het deur kunstenaars soos R.E.M, Paul Weller, Dream Academy en vele ander. Nick was waarlik die rykdom van ’n herfsblaar, en sal ons vir altyd herinner hoe broos die lewe en leefduur van ’n ware digter kan wees.  

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=765
Artikel nagegaan:
    -