|
||||
Coenraad Grebe
*Ontwerper
By enige volk wat histories konstant in konflik verkeer, is sekuriteit die hoogste goed. Hierdie behoefte aan sekuriteit vind dikwels neerslag in die veiligstelling van grondbesit – die strewe na Utopia (1) – in die geval van Afrikaners na wat Herman Gilliomee die sogenaamde “Witmansland” noem. Dit moes ’n tuiste tot stand bring waar Afrikaners kon woon, werk en vooruitgaan. Hier moes alles wat vir hom kosbaar was soos sy geloof, taal, waardes en geskiedenis onbedreigd gedy. Hierdie toe-eiening van Suid-Afrika deur Afrikaners vind ook neerslag in Die stem van Suid-Afrika: “…ons vir jou Suid-Afrika”. Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek verklaar utopia as ’n “denkbeeldige, volmaakte staat” (kursivering my eie). Hieruit blyk die sinneloosheid van die najaag van so ’n ideaal reeds duidelik. Afrikaners was nie enig in hulle najaag van hierdie ‘volmaakte staat’ nie. Die filosoof Doxiadis beskryf ’n utopie as ’n “plek waar volmaakteid” heers, en verwys na veral die Grieke en die Romeine wat die stadstaat beskou het as die ideale beliggaming van hierdie strewe. Tans waan die Verenigde State van Amerika hom die ideale demokratiese staat. Hierdie sogenaamd volmaakte staat/plek/toestand is per definisie ’n illusie - ’n konstruksie in tyd, plek en ruimte. Die begrip utopia is al ontluisterend gedefinieer as ’n manifestasie van onsekerheid en ’n pessimistiese toekomsperspektief, verkleed tot onvervulbare drogbeelde van hoop. Een van die belangrikste eienskappe van die soeke na ’n utopiese samelewing is die strewe na ’n sogenaamd ‘natuurlike lewenstaat’. Dit is nodig om te onderskei tussen die begrippe utopia en paradys, soos Giliomee dit doen as hy dit het oor die “soeke na die (sogenaamde) Witmansland”. Ofskoon sowel Utopia as die Paradys verwys na wat filosowe ‘die volmaakte staat’ noem, is daar nietemin ’n wesenlike verskil. Sedert Adam en Eva se uitbanning is die Paradys sinomiem met ’n ‘eteriese droomwêreld’ en versinnebeeld dit die idealisering van die natuur, terwyl die utopiese ideaal altyd verwys na die nastrewe of ontwerp van die ‘ideale staat’ deur die bemoeienis van die mens. Frappant is dat hierdie bemoeienis telkens tot ’n probleem lei! Volgens Karl Mannheim is dit hierdie inmenging van die mens – daardie wil om alles aan sy wil ondergeskik te maak – in sy soeke na iets ‘beters’ wat juis die utopiese ideaal kenmerk. As ’n mens Apartheid beskou in die lig van wat hierbo opgemerk is, bied dit ’n moontlike verklaring vir beide die ontstaan en uiteindelike ineenstorting daarvan. Apartheid is op segregasie gegrondves; dit wil sê die uiteenhou van verskillende mense, terwyl die utopiese ideaal berus op wat sogenaamd ‘natuurlik’ is. Sou ’n mens Apartheid as natuurlik kan beskou? Nog ’n teenstrydigheid spruit voort uit die omskrywing van Utopia (dus die ideale staat) as synde nie-paternalisties. Die Apartheidsisteem was daarenteen wesenlik paternalisties van aard. Volgens Doxiadis is Utopia per definisie ’n “nie-plek”, dit wil sê ’n utopiese ideaal wat gebou is op die drogbeeld dat so ’n staat inderwaarheid haalbaar is. Hierdie utopiese mentaliteit skiet meestal tekort. Dit is dus gebrekkig en daartoe geneig om wesenlike aspekte van die werklikheid doelbewus te verhul. Vanuit hierdie gesigspunt openbaar Apartheid besliste tekens van utopiese denke en die uiteindelike gevolge daarvan. Die onafwendbare ineenstorting en destruksie was ’n noodwendigheid. Hierin lê die tragedie: as gevolg van die verbete hunkering na Utopia is die uiteinde ontgogeling en ’n toestand van distopie. Hierdie siening van die noodwendig destruktiewe aard van die utopies ideale Utopia word deur Doxiadis onderskrywe as hy beweer dat dit simptomaties van die moderne samelewing is om destruktiewe utopiese ideale na te jaag. Die term distopie word binne die kader van die poststrukturele denke verklaar as die binêre teenpool van die term utopie. Hierooreenkomstig is ’n toestand van distopie dus die teenpool van Doxiadis se “volmaakte staat”; die “gebroke staat” of anders gestel, die gevalle mens. Die utopiese ideaal is noodwendig ideologies gekleur. In die meeste gevalle is daar ’n politieke dryfveer. Die toestand van distopie is al treffend gedefinieer as die gevolg van ’n afgedwonge bestel voortspruitend uit die utopiese strewe van ’n maniak. Dat Apartheid dus misluk het, is nie verwonderlik nie! Die gevolge van Apartheid as die mislukte strewe na Utopia is nie uniek in die wêreldgeskiedenis nie. Die Duitse Derde Ryk en die Sowjet-Unie kan insgelyks as verkommerde Utopias beskou word.
In Bitterkomix word hierdie toestand van distopia as synde mislukte Utopias aan die kaak gestel. Hierdie ontmaskering van distopiese elemente in Bitterkomix is nie uniek nie. Dit is literêr onder meer reeds onder woorde gebring in 1984 (1949) en Brave New World (1932). Die gebruik van die strokiesmedium (strip) is ’n gewilde voertuig vir skrywers en kunstenaars weens die toeganklikheid daarvan. Die lesers word gewaarsku teen die gruwels van die samelewing deur die ontluisterende aard van die strip-verhaal. Dink maar aan die onlangs verfilmde V for Vendetta, wat die ‘heldedade’ van die gemaskerde terroris V verbeeld in sy stryd om Brittanje uit die kloue van ’n verregse fascistiese party te bevry. Die optrede van die eertydse Britse eerste minister, Margaret Thatcher, word ontluister. Tog staan Bitterkomix haaks op bogenoemde strip. Selfs met ‘tipiese’ distopiese films, soos Gattaca, The Island, Ghost in the shell, The Matrix, Clockwork Orange, Dark City, Equilibrium en Metropolis is die ooreenkomste nie opvallend nie. Nietemin speel die misgelope strewe na Utopia in Bitterkomix ooglopend mee. Maar anders as in Orwell se 1984, Huxley se Brave New World en genoemde films en strippe, is die distopiese uitbeelding in Bitterkomix veel subtieler ten spyte van die dikwels eksplisiete inhoud daarvan. Dit trek veel sterker op die David Lynch-film uit 1986, Blue Velvet. Alhoewel Lynch se film nie enige van die tradisionele elemente van ’n distopiese samelewing bevat nie, is dit tóg ’n uitbeelding van die gevalle menslike staat. Blue Velvet is ’n ontluisterde uitbeelding van seks, misdaad, geweld, mag en die misbruik daarvan. In ’n dorp op die Amerikaanse platteland sinnebeeldend van die ‘Amerikaanse Droom’ – heers perversiteit, slordigheid, prostitusie en ongebreidelde geweld. Die openingskote van Lynch se film verbeeld ’n idillies pastorale landskap in skakeringe van patriotiese rooi, wit en blou. Lang talmende skote verbeeld suburbia kompleet met sy “white picket fencing”, bloedrooi rose en ’n wolkelose blou hemel. Terwyl ’n man sy lowergroen tuin natlei, kyk sy vrou in alle rus binne na die televisie. David Lynch hou die kyker hierdie beeld van ’n lommerryke voorstedelike tuin nie somaar om dowe neute voor oë nie. Die kamera spied geleidelik oor die landskap en dring dan skielik die digte woekerende weligheid van die voortuin in. In die donker geilte gaan die duister skuil: ’n menigte wriemelende honger en grieselige insekte verdring mekaar. Soos in die film, Blue Velvet, konfronteer Bitterkomix die kyker/leser nie net met ’n ontluisterde Utopia, soos in die geval van V for Vendetta, Equilibrium en Animal Farm nie, maar eerder met die teendeel daarvan; met ’n sogenaamde ‘slegte/bose plek’, of anders gestel, met ’n perverse, aardse gevallenheid. ‘n Mens sou Bitterkomix kan beskou as ’n voortsetting van die sogenaamde “horror comics” van die McCarthy-era tydens die 1940’s en 1950’s in die VSA. Die skeppers van strippe soos Crime Suspense Stories, Strange Tales, Shock SuspenStories en Haunt of Fear wis dat die werklikheid selfs gruweliker is as die fantasiewêreld van Mary Shelley se Frankenstein (1818) of Bram Stoker se Dracula (1897). Temas soos egskeiding, mishandeling en geweld skeur gesinne uiteen. Hierdie strippe maak gebruik van sogenaamde ‘horror imagery’ om die tradisionele beeld van suburbia te ondermyn. In Kannemeyer se “Boetie” word die skynbaar perfekte Bolandse bestaan van ’n wit Afrikanergesin verbeeld deur ’n nette tuin, kompleet met sproeier à la David Hockney. Hierdie idille word egter in die kiem gesmoor deur die ontstellende narratief wat uit Kannemeyer, alias Joe Dog, se pen vloei. Tipies distopiese tonele soos ’n vader wat hom teennatuurlik aan sy seun opdring, word geskets, maar terselfdertyd word die illusie van normaliteit voorgehou. Wanneer Boetie uit die bed opspring as hy die bedoelinge van sy vader snap, bly Pappa gewoon stil. Hy laat nie blyk dat hy hom daarvan bewus is dat sy seun weet dat hy hom wou molesteer nie. Alles dui daarop dat dit ’n doodnormale gesin is wat in vrede saamwoon. Tog weet die leser/kyker dat die bose hier skuilgaan. ’n Voorstedelike ‘horror comic’; nie bevolk deur monsters nie, maar deur ‘gewone mense’ speel hom in ’n rustige Bolandse dorp af. Daar is reeds op gewys dat die strewe na ’n utopie altyd politieke ondertone het. In byna elke uitgawe van Bittercomix word daarop gesinspeel dat die Nuwe Suid-Afrika die resultaat is van die mislukte utopiese strewes van die Apartheidsideaal. Ironies sou ’n mens egter ook kan aanvoer dat juis in hul ontluistering van die vorige regime se strewe na ’n utopiese bestaan in Afrika die skeppers van Bitterkomix self ook tastend onderweg is na húl Utopia. Die satiriese en ironiese elemente in hulle werk relativeer en verhul hierdie strewe, maar juis deur die frappante uitbeelding van die verworde samelewing in die hedendaagse Suid-Afrika word die heimlike hoop op ’n beter toekoms des te markanter. Elke slegte einde of gevalle staat roep vanself weer die moontlikheid van ’n nuwe begin en goeie uiteinde op. Anders as in die geval van tipies utopiese tekste, is hier geen verlange na die herowering van mag nie. Hier is veel eerder sprake van ’n byna kinderlike verlange na vreedsame naasbestaan gebou op gedeelde verantwoordelikheid. Ten spyte van die brutale inhoud van talle van die narratiewe, is daar geen begeerte om die status quo omver te werp nie. Deur konstant die aandag te vestig op die gruwels van die verlede en die sondes van die vadere word mag, voorheen gesetel in wit Afrikaner manlikheid, juis ondermyn. Daar is al beweer dat Bitterkomix die beginsel van Ubuntu ondergrawe. Maar die strewe na Utopia en die beginsels van Ubuntu is juis op dieselfde strewe na ’n beter toekoms – die volkome staat – gegrondves. Dit beteken ook dat soos in die geval van Bitterkomix, die bedreigings onder oë gesien moet word.
_________ (1) Utopia verwys spesifiek na ’n denkbeeldige, volmaakte staat (dus ’n plek wat idealitêr sou kan bestaan), terwyl utopie die implikasie het van ’n droombeeld of hersenskim. Ter illustrasie: die implementering van Apartheid was ’n poging tot ’n Afrikanerutopia. Die term utopie verwys by implikasie na ’n onvervulbare hunkering. |