|
||||
Peter Vale
*Nelson Mandela Professor in Politieke Wetenskap aan Rhodes-universiteit
Die Honderdste Herdenking van Hannah Arendt se geboorte op 14 Oktober bied ’n oomblik van besinning oor een van die innemendste politieke denkers van die 20 ste Eeu. Oor die jare heen was die kritiese beskouings oor Arendt egter nie eenvormig nie. Sy is in die 1960’s saam met ’n ander radikale Duitse denker, Herbert Marcuse, vereer omdat sy ’n liberaal was wanneer dit oor demokratiese instellings gaan, maar uitgesproke linksgesind wanneer dit by maatskaplike kwessies kom. Dit was die les uit Arendt se werk in ’n kursus getitel “Freedom and Authority”, wat ek in 1969 aan Wits bygewoon het en wat deur twee merkwaardige pedagoë geïnisieer is. Die meeste studente het hulle gehaas om van haar geskrifte in die hande te kry. Ek onthou nog my opgewondenheid (en verrassing) toe ek ’n skatkis daarvan in die naslaanafdeling van Johannesburg se Openbare Biblioteek ontdek het! Maar in die aangesig van die gelykmakingskrag van moderniseringsteorie en die verdiepende Koue Oorlog – om van apartheid nie eens te praat nie – het die belangstelling in Arendt oënskynlik verflou. Nogtans het dit onlangs weer verdiep feministe veral stel besonder belang in haar sienings oor hulle kwessie. Vanjaar dink baie natuurlik aan haar lewe en werk. Terwyl ek hierdie woorde skryf, is daar aan die Yale University ’n Eeufeeskonferensie aan die gang onder die titel: “Hannah Arendt: Crisis of our Republics”. Hierdie gebeurtenis trek sommige van Arendt se intellektuele en politieke kwellings – Totalitarisme, Politieke Geweld, “Judgement and Evil, the Human Condition” – nog nader na hierdie uitsiglose nuwe eeu. Hierdie temas suggereer dat Arendt se oeuvre wyd loop en dat dit op die spilpunt tussen filosofie en openbare beleid lê. Wat die titellys nie kan wys nie, is dat Arendt die diep put van politieke teorie uitgelig het na die moment waar dade en waardes bots. Haar doel was nie bloot om politiek te begryp en verklaar nie; sy het eerder gehoop om die “absolute standaarde” van die filosofie op die “waansin van politiek” af te dwing. Die doel hiervan, so lui haar beroemde uitspraak, was “not to rule the city...but to make...(its)...citizens more truthful” (nie om die stad te regeer nie, maar om die inwoners eerliker te maak). Haar betrokkenheid by daaglikse gebeure was uitgebreid: die vestiging van die staat van Israel, diskriminasie in die Verenigde State, die oorlog in Viëtnam, regstellende aksie aan die universiteite, die uitdaging van Onderwys – om maar ’n paar te noem. Haar avontuur is moontlik gebore uit haar ongelukkige Duitse kinderdae onder die skaduwee wat uiteindelik rondom die Nazis saamgepak het. Sommige skrywers het egter daarop gesinspeel dat haar vierjarige liefdesverhouding met die invloedryke filosoof Martin Heidegger – destyds haar professor – die aanleiding was tot haar intellektuele hardnekkigheid. Heidegger het voortgegaan om die Nazis te ondersteun, maar Arendt, wat ’n Jood was, het hom daarvoor vergewe met die skryf van ’n merkwaardige eerbetoon vir sy lewe en werk op sy 80ste verjaardag. Maar ’n ewe geloofwaardige verklaring vir haar intellektuele energie kan haar ervaring van ’n tweeledige ballingskap wees: eers in Parys waar sy die toorn van die Vichy-regering die hoof moes bied, en later, in die Verenigde State – waar haar reputasie hemelhoog gestyg het, nie alleen vir die diepte van haar ontledings nie, maar ook vir die elegansie van haar skryfwerk. Wat die verklaring ook al mag wees, en soos die meeste mense wat tot Arendt se werk aangetrokke is spoedig besef, loop daar nie ’n enkele en dominante tema daardeur nie, anders as by die werk van baie ander filosowe. Inderdaad glo die politieke filosoof, Sheldon Wolin, dat Arendt onklassifiseerbaar is. Dit kompliseer elke poging om haar werk sistematies te bespreek. Behoort ’n mens slegs, soos sommige wel doen, op haar gedagteryke werk, “The Origins of Totalitarianism” te konsentreer? Dit is die enigste van haar geskrifte wat regstreeks na Suid-Afrika verwys; sy karikaturiseer die Boere as totale rassiste, maar hou haar toorn vir groot imperialiste soos Cecil John Rhodes. Haar ontleding van wat totalitarisme uitmaak, was oorweldigend: dit het die weg gebaan vir alle toekomstige besprekings van die begrip. Dit het ook gelei tot sommige analitiese wanvoorstellings, wat die simplistiese vergelyking van apartheid met nazisme insluit. Ander skrywers beklemtoon Arendt se verheerliking van klassieke politieke optrede – die ideaal van die polis ontleen uit Griekse tye: Wolin suggereer dat Arendt baie opgenome met die klassieke opvattings was. Ander kommentators het weer gefokus op Arendt se begrip van die moderne rewolusionêre tradisie, die aard van vryheid en gesag, en die vermoëns wat die lewe van die denke (“life of the mind”) uitmaak – tegelyk die titel van ’n onvoltooide manuskrip wat na haar dood in 1975 gepubliseer is. So is dit dan dat begrip en waardering van Arendt en haar werk in die huidige tydsgewrig, soos met hierdie essay gepoog word, van ons vereis om nie alleen spaarsaam nie, maar ook selektief uit haar indrukwekkende lys werke te leen. Maar die onlangse boetedoening deur die voormalige Minister van Polisie, Adrian Vlok, het ruimte geskep om ’n geringe aspek van Arendt se werk te beskou wat van plaaslike belang kan wees. Bepaald sou Vlok, as tragiese figuur – as meerduidige simbool van Suid-Afrika se wrede verlede – Arendt geïnteresseer het. Baie daarvan sou in beslag geneem geword het met die komplekse kwessies soos hoe om die politieke boosheid te vergewe wat gepleeg is deur ’n individu wat in ’n eksistensiële moment gevang is. By hierdie geleentheid is my belangstelling egter nie gerig op Arendt se digte argumente rondom vergifnis nie, maar sal ek eerder ’n enkele (hoewel belangrike) aspek van Arendt se belangstelling in hierdie sake – die banaliteit van boosheid – nader aan die kontemporêre Suid-Afrika wil trek. Wat my opgeval het omtrent Vlok se openbare herverskyning was sy niebeantwoording van herhaalde vrae of hy meer omtrent apartheid se gruweldade geweet het as wat hy bereid is om te onhul. Keer op keer het hy die vraag weggelei na naamlose andere in die apartheids-veiligheidstelsel. Terwyl hy dit gedoen het, het ek gedink aan Arendt se mees kontroversiële werk, Eichmann in Jerusalem: A Report on the Banality of Evil. Om die kernboodskap daarvan te verstaan, moet ons na die 1960’s terugkeer – veral na die ontvoering deur die Israeliese Geheime Diens van Otto Adolf Eichmann, destydse Luitenant-kolonel in die Nazi-SS, uit Buenos Aires. Eichmann is na Israel gevlieg om tereg te staan op ’n aanklag van “crimes against the Jewish people, crimes against humanity, and war crimes during the whole period of the Nazi regime”. Op daardie tydstip het Arendt in New York gewoon en met die Redakteur van die New Yorker Magazine, William Shawn, gereël om na Israel te reis om die verhoor te dek. Haar verslag en, belangriker nog, haar waarnemings rondom die gebeure het in 1963 in ’n reeks van vyf dele in die tydskrif verskyn; twee jaar later is hulle in boekvorm uitgegee, waarvan meer as 260 000 eksemplare verkoop is. Arendt het aangevoer dat Eichmann nie deur fanatisisme aangedryf was nie – wat die vervolging se uitgangspunt was – maar eerder deur die geleentheid om die sleurbestaan wat op hom (en die hele mensdom) deur die prosesse van moderniteit afgedwing is, te ontvlug. Die geleentheid om te dien, het dit vir Eichmann moontlik gemaak om deel te word van ’n breë beweging – die Nazis – wat hom vanweë hul eie pretensies toegelaat het om ’n veel boeiender figuur te word as wat hy as rondreisende olieverkoper, sy burgerlike beroep, kon wees. Hoewel hy ’n mindere pos gehad het, het Eichmann uiteindelik gevorder tot ’n spilposisie in die Groot Slagting (Holocaust); en is hy inderdaad as ’n soort tegniese deskundige oor die “Joodse Probleem” beskou, hoewel hy self nooit ’n enkele slagoffer vermoor het nie. Eichmann het sy medepligtigheid as helper en medeknoeier in een van die groot misdade in die geskiedenis begryp, maar die breër aantygings ontken. Ek wil aanvoer dat al hierdie eienskappe in ’n mindere of meerdere mate in die Vlok-geval weerspieël word. Hannah Arendt was op baie vlakke met die verhoor en die politiek daarvan gemoeid. So het sy byvoorbeeld nie Israel se reg om Eichman te verhoor ontken nie, maar sy was gekwel oor die regering se misbruik van die gebeurtenis vir nasiebou. Haar grootste belangstelling het egter by Eichmann gelê. Watter soort man is hy? Waarom het hy hierdie gruweldade gedoen? Om hierdie en ander vrae te ondersoek het Arendt haar gewend tot twee temas wat deur haar werk loop; die eerste oor die aard van totalitarisme; die tweede, die rol van die denke in die goed- of boosmaking van die wêreld. Omdat die intrinsieke boosheid van totalitarisme uitsluitlik ’n eienskap van die huidige tydsgewrig is, was tradisionele benaderings om die politiek daarvan te begryp, ontoereikend. Slegs deur ’n soeke anderkant die grense van die eindelose produksie van praktiese kennis kan die boosheid wat inherent aan totalitarisme is, verstaan en opgelos word. Eichmann kon dit nie doen nie, want, volgens Arendt, is sy ervaring gedoop in ’n “afwesigheid van denke”. Hy het ’n wêreld bewoon wat deur ’n neiging tot die gehersikleerde frases van mag en beheer gevorm is en wat integraal aan alle prosesse van moderne regering en die prosedures van moderne administrasie is. Eichmann was volgens haar nie in staat om ’n enkele sin te uiter wat nie ’n cliché is nie. Die uiteindelike doel van hierdie eindelose voorraadfrases was om daaglikse toesighouding en politieke beheer te verkry, en omdat dit in ’n maatskaplike praktykskode ingebed is, is funksionarisse magteloos om iemand anders se kant van die saak in te sien. Gevolglik kon Eichmann nie vir die hof gelieg of hulle bedrieg het nie, het Arendt aangevoer, omdat kommunikasie met hom oor hierdie sake gewoon nie moontlik was nie. Die rede hiervoor was dat hy omring was “deur die betroubaarste van alle beveiligings teen die wêreld en die aanwesigheid van ander, en dus teen die werklikheid self”. Anders gestel, was Eichmann se lewe ’n lugleegte, en sy denke verwyderd van die realiteit van sy dade. Enkele jare na die publikasie van die boek het Arendt ’n verdere beskouing oor die kwessie uitgebring, met ’n sprekende beskuldiging van die modernistiese ervaring: “The sad truth is that most evil is done by people who never make up their minds to be either good or evil.” Hierdie waarneming (en sy wortels in Arendt se denke) resoneer luid in die neerdrukkende tye waarin ons leef. Die neiging om politiek tot ’n vorm van maatskaplike geniëring te reduseer – wat deur ’n kader van “deskundiges” toegedien moet word, is die alledaagse ervaring van ons lewens. Hierdie benadering tot die politieke is in die alledaagse geroetineer deur die gekodeerde taal (en metafore) van die ekonomie, wat sonder uitsondering in materialistiese terme gehul is. In Suid-Afrika – maar elders ook – kry hierdie negering van die ware doel van die politiek – wat bedoel is om die polis te versterk – demokratiese instellings verswak deur toe te laat dat hulle deur private en klassebelange uitgebuit word. Kortweg, die morele imperatief van politiek – in die tradisionele sin – het geërodeer geraak: doelwitte word gestroop van hul intrinisieke waarde en word, in plaas daarvan, deel van ’n “waardeketting” – in die geykte woorde van die vroeë 21 ste eeu. Die hersikleringstaal van moderniteit – die leë terminologie van terme soos “verantwoordbaarheid”, “deursigtigheid”, “staatsbestuur/regering” – dien slegs ekonomiese belange. Dit moedig die polis aan om hom te laat prys – nie deur morele waardes soos gelykheid nie – maar deur “meningspeilings”, soos verlei deur die mode-industrie, georkestreer deur politieke “wandelgangknoeiery”, tot orde gedwing deur partymasjinerie, toegedien deur burokrasie – en bestudeer deur die sosiale wetenskappe. In Suid-Afrika is hierdie benadering tot maatskaplike verhoudings versterk deur die mag van “dinktenks”, wat die kritiek oorboord gegooi het wat hulle eenmaal uitgeoefen het. (Dinktenkers is besonder onsmaaklik vir Arendt, wat eenmaal verklaar het: “the trouble with Think-Tankers is that they cannot think”.) Gevolglik kwyl funksionarisse en “deskundiges” geykte uitsprake oor gefabriseerde idees. Waar genoeg verskil die woorde self van dié wat eenmaal deur die apartheids-apparatchiks gebruik en so geesdriftig deur Adrian Vlok self gehanteer is, en van dié wat Hannah Arendt van die lippe van Eichmann aangehoor het. Maar die kumulatiewe uitwerking is dieselfde – politieke retoriek deurspek van cliché, ’n geseëlde (consummate) onvermoë om die ander se standpunt in te sien, ’n banaliteit van boosheid. Hannah Arendt het geglo dat daar nie “gevaarlike gedagtes” kan wees nie, maar dat denke, omdat dit alle stabiele oortuigings en geloofsoortuigings oplos, ’n gevaarlike tydverdryf/aktiwiteit is. Terwyl ons hierdie troostelose eeu beleef, sou sy ons sekerlik aangeraai het om gevaarlik te leef – slegs dit kan aan die polis weer lewe gee.
___________ Bibliografie:
Hannah Arendt. The Origins of Totalitarianism. Harcourt, Brace and Co. 1951. Hannah Arendt. Eichmann in Jerusalem: A Report on the Banality of Evil. Viking Press, 1963. Hannah Arendt. On Violence. Allen Lane The Penguin Press, 1969. Hannah Arendt. “A Special Supplement: Reflections on Violence”. The New York Review of Books, 29 Februarie 1969. Hannah Arendt. (translated by Denver Lindley) “Thoughts on Politics and Revolution”, The New York Review of Books, 22 April 1971. Hannah Arendt. “Lying in Politics: Reflections on The Pentagon Papers”. The New York Review of Books, 18 November 1971. Hannah Arendt. Crises of the Republic. Harcourt, Brace and Co. 1972. Peter Baehr. (editor) The Portable Hannah Arendt. Penguin Books, 2000. Peter Baehr. “Of Politics and Social Science. ‘Totalitarianism’ in the Dialogue of David Riesman and Hannah Arendt”. European Journal of Political Theory, 3: 2. Dean Hammer. “Hannah Arendt, identity and the politics of visibility”. Contemporary Politics, 3: 4. Mark Lilla. “Menage à Trois”. The New York Review of Books. 18 November 1999. Patchen Markell. “The Rule of People: Arendt, Arche, and Democracy”. American Political Science Review, 100: 1. Samantha Power. “The Lesson of Hannah Arendt”. The New York Review of Books. 29 April 2004. Corey Robin. “Total Terror. Hannah Arendt on Totalitarianism”. International Centre for Advanced Studies, New York University, Working Paper # 10. Alfons Sollner. “Hannah Arendt’s The Origins of Totalitarianism in its Original Context”. European Journal of Political Theory, 3: 2. Ronaldo Vazguez. ”Thinking the Event with Hannah Arendt”, European Journal of Political Theory, 9: 1. Dana Villa. (editor) The Cambridge Companion to Hannah Arendt. Cambridge University Press, 2000. Sheldon Wolin. Politics and Vision. Princeton University Press, 2004. |