blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Reeks: Wat is transformasie? Die voortsetting van benadeling: ras- en klassehiërargie 2006-10-18
Sipho Seepe en Annette Lansink

*Verbonde aan onderskeidelik Henley Management College en Universiteit van Venda

 

Die aankondiging deur die Ministerie en Departement van Onderwys om die huidige hoëronderwysbenadering van die bevordering van gelyke behandeling van universiteite te heroorweeg ten gunste van ’n tweelaagstelsel bestaande uit 5 of 6 A-groep universiteite, met B-status-toekenning aan die oorblywende inrigtings, herinner ’n mens aan idees wat vroeër gedebatteer is. Dit gee nuwe betekenis aan die gesegde ‘ou wyn in nuwe kanne’.

      Dit lyk baie na ’n poging om by die agterdeur ’n voorstel te laat inglip wat deur ’n demokratiese beleidsverbintenis verwerp is. Die verslag van die Raad op Hoër Onderwys, getitel Towards a New Higher Education Landscape: Meeting the Equity, Quality and Social Development Imperatives of South Africa in the 21st century (2000) het ’n feitlik soortgelyke aanbeveling gemaak. Dit het ’n uiters gedifferensieerde stelsel bepleit, bestaande uit bodeminstansies wat voorgraadse programme aanbied, ’n tweede groep wat uitgebreide meesters- en geselekteerde doktersgrade aanbied, en navorsingsintensiewe instansies (derde groep) wat die leeue-aandeel van nagraadse onderrig op hom neem. Die drielaagstelsel is verwerp op grond daarvan dat dit die ras- en klasgebaseerde hiërargie van instansies versterk. Die voorstel het die Witskrif se aanbeveling van ’n programgebaseerde stelsel en sy oproep vir transformasie en gelykheid weerspreek.

      Die Vereniging van Historiese Benadeelde Tersiêre Inrigtings (Association of Historically Disadvantaged Tertiary Institutions) het vroeër inisiatiewe beskryf wat gefaal het om die geskiedenis van benadeling te faktoreer as “a betrayal of the struggle for a truly and genuinely transformed higher education system in terms of the goals, objectives, principles and challenges identified by the White Paper on Higher Education.”

Die onlangse voorstel van die Departement van Onderwys kan ook gesien word as ’n erkenning van die mislukking van die huidige stelsel om sy oogmerke te bereik, veral ten opsigte van die uitdaging om voormalige ongelykhede reg te stel. Dit is ’n stilswyende erkenning dat die transformasie van hoër onderwys soos dit in die Witskrif vir Hoër Onderwys: No 3 (1997) nie verder as die vertonerige herstrukturering van die landskap deur samevoegings gevorder het nie.

Oënskynlik suggereer dit dat die nalatenskap van apartheid nie transformeerbaar is nie, en dat ’n meer pragmatiese beskouing voorkeur behoort te kry. Kenners soos professor Malegapuru Makgoba het inderdaad die voorgestelde differensiasie van die stelsel onderskryf. Met inagneming van die verskil in navorsingsuitset en belegging in navorsing deur inrigtings, voer Makgoba aan, “no matter how one looks at the statistics, it is an inescapable fact that differentiation is occurring and affecting our national development.” Hiermee verwerp hy die algemene benadering van gelyke behandeling van alle universiteite. Hierdie gelyke behandeling lê in die kern van die mislukking van Suid-Afrikaanse hoër onderwysinrigtings om onder die top 200 universiteite wêreldwyd gereken te word. In sy woorde:

“While it is important to harmonise and promote quality assessment in higher education, it is equally important to differentiate. Uniform treatment not only destroys academic innovation, creativity and merit, it also produces an equality of misery.”

Professor Jonathan Jansen het dieselfde siening uitgespreek. Hierdie verwikkeling het ’n aantal vrae laat ontstaan. Wat het geword van die verbintenis om ’n ‘well-planned, integrated and high quality system of higher education’ te ontwikkel? Is ons nie meer verbind tot die oogmerke van toegang tot hoër onderwys en die konstitusionele imperatief van niediskriminasie en gelykheid nie?

Vroeër het die Ministerie en Departement van Onderwys aangevoer dat hoër onderwys op ’n wyse gestruktureer moet word wat die ongelykhede en ondoeltreffendheid van die apartheidsera sal regstel en om aan die nuwe maatskaplike, kulturele en ekonomiese eise uitvoering te gee. Die verwagting is gekoester dat die transformasie en herstrukturering aandag sal skenk aan die demografiese en sosiopolitieke eise vir hoër onderwys, die verandering van die vaardigheids- en kennisvereiste tot verhoogde produktiwiteit en innovering, en om tot ’n nuwe burgerskap by te dra.

Dit is moeilik om jou voor te stel hoe die nuwe denke in die Ministerie en die Departement van Onderwys hierdie imperatiewe sou aanpak. Tog is die antwoord nie moeilik om te kry nie. Dit lê in die onvanpaste oplossings wat in die Departement van Onderwys se voorstelle vir die herstrukturering van die stelsel voorgestel word.

Die Nasionale Plan vir Hoër Onderwys van 2001 is byvoorbeeld meer deur die imperatiewe van die makro-ekonomiese beleid gedryf, wat die beperking eis van openbare besteding aan maatskaplike dienste, insluitend die onderwys. Gevolglik kon dit slegs die sake hanteer wat met institusionele volhoubaarheid en finansiële lewensvatbaarheid te make het. Samevoegings was nog nooit gepas om kwessies van gelykheid, gehalte, navorsingsuitset en hulpbrondiskrepansies tussen swart en wit instansies op te los nie. Voldoening aan die leerbehoeftes en –aspirasies van die nuwe Suid-Afrika en die bydrae tot die sosialisering van die gemeenskap sal meer vereis as ’n nuwe reorganisasie van inrigtings.

          Hoewel baie meer Afrikastudente nou by histories bevoordeelde instansies ingeskryf is, het groot getalle Afrikastudente in landelike gebiede slegs toegang tot steeds benadeelde instansies. In daardie sin het herstrukturering geen verskil gemaak aan die ongelyke verspreiding van toegang en geleenthede vir studente en personeel volgens ras, klas en geografie nie.

Die voorgestelde tweelaagstelsel sal die twee-nasies-konseptualisering van die land voortsit. Die provinsiale wanbalans rakende die verskaffing van hoër onderwys sal onveranderd bly. Waar gaan die navorsingsuniversiteite geleë wees? Gaan daar aan Limpopo, ’n provinsie met ’n bevolking van 5.3 miljoen, navorsingsuniversiteite toegedeel word? Ons weet dat die Wes-Kaap met ’n kleiner bevolking waarskynlik twee sal hê. Tensy daar aandag aan hierdie sake gegee word, sal Afrika-studente steeds disproporsioneel geraak en gemarginaliseerd bly. Die skepping van ’n kritieke massa swart intellektuele en navorsers verg dat toereikende geleenthede en hulpbronne behoorlik ontplooi word.

Onderwysbeslissings word al hoe meer as tegniese probleme beskou wat die instrumentalistestrategieë van ‘neutrale’ deskundiges vereis. Dit neem besluitneming effektief weg uit die terrein van politieke debattering. Die rassegaping wat deur apartheid geskep is, was grotendeels polities van aard. Die oplossing sal ook ’n politieke verbintenis verg.

      Twaalf jaar van demokratiese regering het nie ’n duik gemaak in die uitdaging wat die hoër onderwysstelsel in die gesig staar nie. Die sistemiese uitdagings van ontwikkeling, vaardighede, kwaliteit, gelykheid, regstelling en verhoogde toegang, herverdeling van hulpbronne en diversifisering van kennisproduksie staan nog oor.

      Histories swart instansies bly onderontwikkeld, terwyl die histories wit instansies bly voordeel trek uit die geskiedenis van oorallokering van hulpbronne (menslik en kapitaal) en regeringsteun en borgbefondsing in uiteenlopende areas. Kennisproduksie dra steeds die stempel van apartheidsgeniëring. Wittes dra 92% by, terwyl die bydrae van swartes aan navorsing ’n skamele 3% beloop.

      Maar hierdie realiteit was te verwag. So vroeg as 1998 is daar al gevrees dat die rigtinggewende beginsels vir transformasie, regstelling, demokratisering, ontwikkeling en kwaliteit óf vervang, óf in die skadu gestel gaan word deur die narratief van effektiwiteit en doeltreffendheid en ’n beperkte (indien nie beperkende nie) opvatting van gelykheid. Al wat gebeur het, is dat die grootskaalse verpligte samevoegingsproses energie en hulpbronne weggelei het van die uitdagings om kwaliteit, toegang en gelykheid te verbeter. Saamgevoegde inrigtings het onvolhoubare entiteite geword wat deur verwarring, onsekerhede en groter onderhoudskoste geteister word. Herstrukturering bly in gebreke om ’n lewensvatbare platform vir volhoubare, sigbare transformasie in die hoër onderwys te wees.

Die voorstel deur die Departement van Onderwys loop gevaar om die rasgeïnspireerde ongelykhede voort te sit.



 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=721
Artikel nagegaan:
    -