| ||||
Abraham Philips
*Skrywer. Hierdie referaat is gelewer as ongeskeduleerde bydrae tydens die beraad oor Afrikaanse universiteite gehou op 1 en 2 September te Stellenbosch.
Hierdie beraad vir die volhoubare plek vir Afrikaans in die universiteite kan nie op ’n meer geleë tyd gekom het nie. Dit is egter kommerwekkend, selfs belaglik, dat so ’n beraad oor een van die land se kosbaarste erfenisse en wat so baie mense se lewens regstreeks raak na twaalf jaar van demokrasie en vryheid hoegenaamd nodig was. Dat Afrikaans nie op tersiêre gebied sy dominansie kan handhaaf nie, gee ek toe, maar om Afrikaans so af te skaal tot die punt tot waar hy nou is, rym nie met ’n demokratiese bestel nie. Van die vraestellings aan hierdie beraad is hoe gunstig of ongunstig is die huidige politieke klimaat om ’n plek vir Afrikaans in hoër onderwys te verseker. Hoe volhoubaar is die plek van Afrikaans as onderrigtaal op die langtermyn en wat is die regering se standpunt oor die aangeleentheid. Die bewoording en trant van die vrae onderstreep die belaglikheid van die situasie asook die bekommernis wat ook uit hierdie beraad behoort te kom, want in ’n vrye demokratiese bestel praat jy nie oor ’n politieke klimaat nie. Die regering is verbind om die lewenskwaliteit van al sy burgers te verbreed en te verbeter. Asook om die taal waarin hulle dit kan bereik, te waarborg. Die regering se standpunt is welbekend. Binne ’n demokratiese bestel kry die regering dit reg om nie net op tersiêre gebied nie, maar ook in alle sfere van die samelewing Afrikaans van sy regmatige plek te ontneem. Om hierdie stelling te verduidelik wil ek die beraad daarop wys dat die volhoubaarheid van Afrikaans nie ’n voorreg is nie, maar ’n reg. Wat meer substansie aan hierdie reg gee is dat ’n baie groot deel van sy sprekers nie ’n menswaardige lewe sonder opleiding in Afrikaans kan lei nie. ’n Demokratiese bestel eindig nie by die stembus nie. ’n Demokratiese bestel behels sigbare geregtigheid vir almal. Dit sluit die taal wat die hart, siel en verstand van die mens is, in. Ongeag wat sy ras, kleur of geloof ook al mag wees. Dis met hierdie gegewe dat die beraad na die regering behoort te gaan. Geregtigheid vereis dat die fokus rondom Afrikaans as sodanig na die menslike element, naamlik die arm ongeletterde bruin en swart Afrikaanssprekende mense moet verskuif. Hierdie mense wat nie Engels kan praat of verstaan nie, se getalle gaan nie minder word nie, maar vermeerder. Om hierdie mense maatskaplik en ekonomies, asook geestelik en sielkundig vanuit die moeras van ellende te trek is die volhoubaarheid van Afrikaans nie net in die skole of op tersiêre gebied nie maar ook in die breë samelewing soos die televisie noodsaaklik. Dat niemand nog ooit sigbaar opgestaan het oor die onreg wat teenoor die Afrikaanssprekende bruinmense op daardie gebied gepleeg word nie, is skokkend, absoluut skokkend. My bejaarde moeder wat geen woord Engels kan praat of verstaan nie moet soos so baie ander haar laaste jare in haar geboorteland sluit met groot hartseer en pyn. Dit nadat sy ’n leeftyd van verdrukking en ontberings oorwin het. Ek self het oor die jare dosyne oproepe na die SAUK gemaak, asook talle briewe, sonder sukses na hulle geskryf. Hoe kan ons veg vir die volhoubaarheid van Afrikaans op tersiêre gebied as ons toelaat dat daar geen opvoedkundige of gewone programme vir die Afrikaanssprekende bruinmense bestaan nie? Dis sieldodend vir hierdie mense. Baie van hulle begin glo dat hulle geen geskiedenis het nie en dat daar geen stories oor hulle te vertel is nie. Wat daartoe bydra dat frustrasies vinnig besig is om oor te slaan na haat. Hierdie toedrag van sake veroorsaak geestelike en sielkundige agteruitgang wat die selfbeeld van die Afrikaanssprekende bruinmense ondermyn en wat baie daartoe bydra vir die hoë ongeletterdheidsyfer en hoë drank- en dwelmmisbruik wat in groot mate die oorsaak is vir die bendegeweld, moord, aanrandings, verkragtings en vroue- en kindermishandeling wat onder die Afrikaanssprekende bruinmense woed. Hierdie gegewens toon aan hoe enorm die beraad se taak werklik is. Die vraag is natuurlik wat gedoen kan word om hierdie toedrag van sake om te keer. Eerstens behoort alle verteenwoordigers op hierdie beraad enige politieke vooroordele agterweë te laat. Die kritiese stem waar nodig is noodsaaklik vir die voortbestaan van vryheid en demokrasie. Geregtigheid vir almal kan nie net in teorieë bestaan nie. Ook sal daar gewaak moet word dat die mooi en pragtige geskrewe Grondwet nie net vir die magtiges, deur die magtiges geskryf is nie en die Grondwet nie vertolk word deur die magtiges vir die magtiges nie, want die onregverdige behandeling van Afrikaans kan nie losgemaak word van die vele ongeregtighede in die Suid-Afrikaanse samelewing nie. Vandag se vriend is môre se vyand. Tweedens moet ons ophou om verby mekaar te praat, of soos met die debat oor die toekoms van Afrikaans op die Universiteit van Stellenbosch mekaar verdag te maak rondom die mengelmoes van tegniese en wetenskaplike teorië. Ook die voorstel dat dosente en voornemende studente na twee jaar Afrikaans moet verstaan en praat of moet loop is die dood in die pot. Dit klink baie soos die bruid en bruidegom wat die duiwel na hul troue uitnooi. Jy kan nie petrol gebruik om vuur mee te blus nie, want jy kan nie jou wil in ’n vrye demokratiese Suid-Afrika aan ander opdwing nie. Soos die ervaring ons leer lyk dit of daar geen maklike oplossings is nie. Nietemin gaan al hierdie teorieë en voorstelle onafwendbaar ly tot verengelsing met tragiese gevolge. Die enigste weg is jou godgegewe reg. Daar moet ten minste twee Afrikaanse universiteite wees. Daardie twee inrigtings moet oop wees vir almal ongeag sy ras, kleur of geloof. Die nie-Afrikaanssprekende student wat daar wil studeer weet byvoorbaat dat hy sy lesings in Afrikaans gaan ontvang. Die nie-Afrikaanssprekende student het in elk geval so ’n wye keuse van inrigtings dat dit niemand behoort te ontstel nie. Iets wat die Afrikaanssprekende student nie het nie. Wat hierdie beraad se taak soveel moeiliker maak is die oningeligtheid en kwaadwilligheid wat weer eens in die taaldebat rondom Afrikaans by die Universiteit van Stellenbosch woed. Ongevoeligheid is aan die orde van die dag. ’n Mens kan net kyk na uitsprake en artikels wat in die koerante verskyn. Soos bv die artikel deur ’n vooraanstaande akademikus van die Universiteit van Stellenbosch in Rapport van 30 April 2006. Ek haal ’n greep vanuit daardie artikel aan: “Die transformasie van Suid-Afrika se historiese Afrikaanse universiteit beteken in praktyk veral een ding, groter diversiteit in hul studente en personeelkorps. In Stellenbosch se geval is dit nie moontlik om daardie diversiteit doelwitte, let wel, nie onderhandelbaar, te haal deur slegs meer bruin studente wat Afrikaanssprekend is aan die Universiteit van Stellenbosch toe te laat nie. Daar is te min Afrikaanssprekende bruin mense wat universiteit toe gaan. Minder as vyf persent van die bruin bevolking en alle historiese Afrikaanse universiteite ding boonop mee om daardie studente”. Voordat ek op daardie artikel antwoord, net die volgende. Geen regdenkende Suid-Afrikaner, veral nie met ’n geskiedenis soos dié van ons, ontken die behoeftes en verwagtinge van die nie-Afrikaanssprekende mense wat verreweg in die meerderheid is nie. Maar die vraag bly en sal nie weggaan nie, wat dan van die miljoene arm bruin en swart Afrikaanssprekende mense in die woonstelle, agterplase van woonbuurtes en plakkerskampe, op die Kaapse vlaktes en die platteland? By die lees van die artikel het die hartseer my oorweldig. Wat beweeg ’n persoon om so iets te skryf? Kan dit wees dat die skrywer van daardie artikel werklik oningelig is oor die omstandighede, behoeftes en verwagtinge van sy naaste? Of is dit bloot kwaadwilligheid. Die persepsie dat die Afrikaanssprekende bruin mense nie omgee wat met en rondom hulle gebeur nie en die artikel in elk geval bedoel is vir die elite om hulle verder te ignoreer en te isoleer. Die persoon skryf van vyf persent: wat dan van die vyf- en-negentig persent van die Afrikaanssprekende bruinmense? Is hulle dan alreeds as mens afgeskryf en moet hulle maar sienderoë vergaan? Is hulle dan nie ook Suid-Afrikaners nie? Daardie artikel onderstreep maar net weer die tragiese omstandighede waarin die Afrikaanssprekende bruin mense hulle bevind. Ek is miskien ’n stem roepende vanuit die duisternis, maar maatskaplike en ekonomiese opheffing is noodsaaklik. Afrikaanse maatskappye, instellings en instansies, moet sigbaar betrokke raak. Die regering, departemente soos maatskaplike dienste, behuising, veiligheid en onderwys moet betrek word. ’n Revolusie vanuit die hart. Dit kan en behoort egter nie daar te eindig nie, want om die volhoubaarheid van Afrikaans, wat die enigste voertuig tot hierdie revolusie is, op tersiêre gebied te waarborg, moet verantwoordelikheid, aanspreeklikheid en eerlikheid aan plaaslike politieke en gemeenskap leiers geleer word sodat die vertroue tussen hulle en die mense herstel word. Dit moet vanaf onder en nie van bo aangepak word. Dit moet ’n goed georganiseerde en volhoubare program insluit om die bestaande ongeletterdheidsprogram vir volwassenes te verskerp, meer vaartbelyn en omvattender te maak. Asook om die veiligheid in en rondom die Afrikaanse skole te waarborg. Dit moet ook die ewigdurende tekort aan handboeke en geriewe aanspreek om die Afrikaanssprekende onderwyser weer van sy verantwoordelikheid bewus te maak. Hierdie revolusie moet die hele Afrikaanse taalgemeenskap betrek. Gesindhede moet verander sodat alle skole in die Afrikaanssprekende gemeenskap betrek word by die volhoubaarheid van Afrikaans op tersiêre gebied. Onderwysers moet geïnspireer word. Hoop moet na die klaskamer gebring word. Die lig aan die einde van die tonnel, naamlik ’n Afrikaanse universiteit, moet die kind kan sien deur middel van aanmoediging en beurse. Daardie Afrikaanssprekende bruinkind is die voedingsbron van enige Afrikaanse universiteit. In ’n vrye demokratiese Suid-Afrika waar kleur en geloof geen rol speel nie, behoort met die nodige welwillendheid en deursettingsvermoë ons met hierdie projek te slaag. Word dit egter soos in die verlede nie ernstig opgeneem nie, is die ideaal van volhoubaarheid van Afrikaans op tersiêre gebied baie moeilik bereikbaar. Want dan bly dit maar net ’n inrigting vir die magtiges, die elite van hierdie samelewing. Nog ’n kwessie rondom die taaldebat is die kwessie van globalisering en innemendheid. Veral by die Universiteit van Stellenbosch. Vrae wat hieruit voortvloei, is was die Universiteit van Stellenbosch dan nie maar altyd ’n vooraanstaande inringting nie en wat is regtig vir die universiteit belangrik? Wêreldwye aansien met Engels as die groot dryfveer of die arm Afrikaanssprekende bruin en swart mense rondom hom? Dit is baie jammer dat tyd, energie en breinkrag so vermors word, want dit dwing elke keer die ware feite rondom die taalkwessie van die pad wat onnodige rassespanning en onregverdige politieke inmenging veroorsaak. Ek is maar net die ouderwetse boodskapdraer met weinig of geen skoolopleiding nie. Tog wil ek vandag deur middel van hierdie beraad die hooggeplaastes, die elite van hierdie samelewing, mense wat die lot van ander in hul hande dra, daarop wys dat hulle met vuur speel. Geen mens bou sy huis op die grafte van ander nie, veral nie op die grafte van die armsaliges en armoediges van hierdie wêreld nie. Die menslike element in enige debat moet altyd eerste gestel word. Hoe eenvoudig in statuur of getalle daardie menslike elemente ook al mag wees. ’n Verdere vraagstelling aan die beraad is hoe moet ’n gesprek gevoer word wat daarop gemik is om die regering te oorreed om fondse beskikbaar te stel vir meertalige hoër onderwys. Ek dink die vraag moet liewers in ’n teenvraag gestel word. As die regering, of moet ek liewer sê mense wat voorbrand maak vir die regering, die Afrikaanssprekende waarsku dat hy sy fondse sal onttrek in die tweetalige debat, hoe moet die gesprek dan met die regering oor meertaligheid gevoer word? Soos in die geval van Afrikaans, is die regering in ’n vrye en demokratiese Suid-Afrika verbind om fondse vir meertaligheid beskikbaar te stel. Weer eens gaan dit hier oor die benadering en gesindheid in die gesprek met die regering. ’n Benadering van nie “ons” en “julle” nie, maar ons almal as mede Suid-Afrikaners en ’n gesindheid van gelykheid wat die Grondwet in ’n vrye en demokratiese Suid-Afrika aan ons almal bied. Die beraad sal egter bedag daarop moet wees om nie soos so baie instansies voor hom in dieselfde mynveld van verwarring oor meertaligheid te beland nie. Afrikaans is reeds ’n wetenskaptaal. Die ander inheemse tale nie. In die soeke na fondse en bemagtiging vir alle inheemse tale sal daar dus ’n duidelike verskil moet wees. Die een is reeds daar. Jy breek nie af wat jy reeds het nie. Dit gaan oor die inheemse tale wat nog nie daar is nie. ’n Vraag wat natuurlik ook ter sprake kom, is of die regering die enigste rolspeler in die aangeleentheid is. Was daar al ooit ’n deeglike wetenskapstudie gedoen oor hoe die sprekers van die ander inheemse tale werklik oor hul eie taal of wetenskaplike grond voel? Handel ons nie maar net weer op perspesies nie? Het ons dan die verlede vergeet waar daar namens ander besluit is en die wil op ander opgedwing is? Net soos in die geval van Afrikaans behoort die sprekers op grondvlak van daardie inheemse tale geken te word oor die pad vorentoe. Na my beskeie mening behoort dit baie te help om misverstande, propoganda en haat te ontlont. ’n Verdere vraag is of ’n statutêre rigting, soos wat die departement van onderwys in die Wes-Kaap van plan is om te doen, nie meer net weer is om jou wil op ander af te dwing nie. ’n Besluit wat weer eens die menslike element ontken en die kiem in hom dra wat soos in die onlangse verlede groot ontberings, pyn en haat kan ontketen. Die arm Afrikaanssprekende bruinkind, veral dié op die platteland, gaan gebuk onder ontsettende armoede. Hulle sukkel om in hul eie taal Afrikaans behoorlik te kan lees, skryf en tel. Boonop het hierdie plan byvoorbaat groot logistieke probleme. Om ’n derde taal aan hierdie kinders op te dwing is moeilik om te verstaan. Is vrywilligheid in die vorm van die gedrukte en elektroniese media nie die beste geplaas om meertaligheid op kort en medium termyn aan te pak nie? In die ou dae was die kop van die boodskapdraer afgekap, omdat die koning nie wil hoor oor wat hy veronderstel is om te hoor nie, die waarheid. ’n Vrye en demokratiese Suid-Afrika is presies wat dit sê. Niemand behoort trou te sweer aan enige politieke party of organisasie nie, maar aan die behoeftes en verwagtinge van al sy mense. Ongeag sy ras, kleur, geloof of taal. Ons durf ons nie van die waarheid en van geregtigheid vervreem nie, want die waarheid en geregtigheid is en was nog altyd nie wie is reg nie, maar wat is reg. Met bogenoemde stellings suggereer ek nie dat die beraad die koning is nie. Inteendeel, hierdie beraad en die boodskapdraer is een en dieselfde in hul siening rondom die Bybelse figuur, Job. Hierdie materiële oorvloed en mag beteken vir my niks op hierdie aarde sonder die sin vir geregtigheid nie. Nakend het ek hier gekom en nakend sal ek weer hierdie aarde verlaat. |