| ||||
Mnr. Hans Pienaar is in hierdie artikel ongelukkig heeltemal vervreemd van die werklike volgorde van gebeure asook sommige feitelikhede met betrekking tot Suid-Afrikaanse en Kubaanse betrokkenheid in Angola in 1974/1975. Dit is jammer dat mnr. Pienaar deur middel van die hoogs gerespekteerde Die Vrye Afrikaan ’n beeld by die lesers kan skep wat skerp van die waarheid verskil, naamlik dat Kuba magte na Angola gestuur het “in 1974 nadat Suid-Afrika die land binnegeval het”. Die waarheid is dat die eerste RSA-magte in Augustus 1975 die SWA/Namibiese grens na Angola oorgesteek het. Dit het gebeur op versoeke van die leiers van Unita en die FNLA sedert ongeveer Mei 1975. Hulle het onder meer as motivering vir hul versoeke bewys gelewer van Kubane in Luanda en elders in Angola voor daardie datum (Mei 1975). Dit is onvanpas om hier uit te brei oor die redes vir Suid-Afrika se besluit om gehoor te gee aan die versoek van Unita en die FNLA, behalwe om te sê dat dit die Suid-Afrkaners se mening was dat Unita en die FNLA in daardie stadium groter steun onder die Angolese bevolking geniet het as die MPLA wat deur die USSR en Kuba ondersteun is. Ek vertrou dat Die Vrye Afrikaan se lesers verskeie van mnr. Pienaar se ander uitlatings in die artikel as sy eie mening, waarmee baie kenners nie saamstem nie, sal beoordeel, soos bv: Castro se generaals se vernuf en die lugmag se oorheersing van die lugruim is reeds deel van die geskiedenis. Dis glad nie onmoontlik dat hulle Neto en sy MPLA so bekyk het, en gou gesien het dat hulle nie opgewasse sou wees teen Suid-Afrika en sy swart troepe onder leiding van Jonas Savimbi nie - vandaar die onverwagse besluit om ’n Kubaanse mag van Havana te laat invlieg. Wat Kuba natuurlik wel bereik het, was om die Suid-Afrikaanse magte so die skrik op die lyf te jaag dat die era van hervorming en uiteindelike oorgawe aan ’n demokratiese regering begin het. |