blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Na aanleiding van die hoofartikel in Die Vrye Afrikaan van 18 Augustus (“Waarheid en vrede sneuwel”) skryf prof. Lawrie Schlemmer, redaksionele raadslid van Die Vrye Afrikaan, uit Houtbaai 2006-09-13

Sover my kennis van die opset in Israel en die naasliggende gebiede strek, is daar inderdaad mense en groeperinge binne Hamas en moontlik Hisbollah wat onder sekere omstandighede daarvoor te vinde sou wees om Israel se bestaansreg te erken en om ’n weg na vrede te soek. So ook is daar Israelis, selfs binne die mees behoudende elemente van Sionisme, wat ook vir een of ander skikking te vinde sou wees mits die sekuriteit in hul land verseker sou kon word. Die brutaliteit van die Israeli bombardemente kan nie verstaan word sonder die wete dat Hisbollah en Hamas doelbewus hul oorlogsmasjinerie binne woonwyke oprig nie. 

Die heersende omstandighede en natuurlik die huidige geweld van weerskante verydel egter enige vreedsame strategiese toenadering. Beroepe op Israel, Hamas, Hisbollah en die streeksmagte wat hulle ondersteun om uit eie inisiatief gewelddadige optredes ter wille van ’n soeke na ’n skikking te staak, is tevergeefs. Solank leidende kragte binne Hisbollah, Hamas, Iran en ander oorde en organisasies met diepgaande ideologiese en teologiese motiverings tot die uitwissing van Israel verbind is en hul strategiese sienings binne eie geledere afdwing, sou ’n skietstilstand op sy eie slegs die onderliggnde pobleem uitstel en dalk verdiep. Slegs ’n internasionale vredesmag tussen die vegtende partye sal die meer gematigde moontlikhede tyd gun om te ontwikkel. Selfs dit sal egter vir Israelis nie die toekomstige bedreiging vanuit Iran kan besweer nie. Volgehoue inisiatiewe deur ’n invloedryke internasionale taakspan sal dus ook nodig wees. Intussen help dit weinig om enige kant te kies.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=683
Artikel nagegaan:
    -