blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Reeks: Wat is transformasie? Partylojaliteit en die buit van “bevryding” 2006-08-16
Jannie Gagiano

*Afgetrede dosent in politieke wetenskap, Universiteit Stellenbosch en tans DA-raadslid van Stellenbosch-munisipaliteit. Uit die Engels vertaal deur Johann Rossouw, [email protected]

 

Talle regstellende aksie-aanstellings vertoon ’n patroon waar mense wat generiese vaardighede op een samelewingsterrein verwerf het dit suksesvol na ander terreine kan verplaas.

As ons regstellende aksie opneem as sou dit beteken wat liberale in die VSA aanbeveel as metode om ’n meer legitieme maatskaplike orde tot stand te bring in ’n samelewing wat histories geteister is deur die al die ou vorme van gedwonge ongelykheid wat die menslike vlees beërwe het, insluitend apartheid, dan behoort niemand in Suid-Afrika teen hierdie remedie beswaar te maak nie.

Maar ons tuisgemaakte weergawe van regstellende aksie word nie ingegee deur ’n liberale etos soortgelyk aan dié wat hierdie remedie van historiese ongeregtighede so gewild in die VSA gemaak het nie. Dit word onderskryf deur ’n maatskaplike metafisika van ’n gans andere orde. Die kardinale bedoeling onderliggend aan die begrip wat in die huidige Suid-Afrika as regstellende aksie deurgaan, behels “bevryding” van vreemde inbreuk en beheer oor die instellings van mag in die Suid-Afrikaanse samelewing. Bevryding vereis die vervanging van die personeel wat die stelsel bedien het van staatsdominasie opgerig onder die beskerming van kolonialisme, kapitalisme en imperialisme (KKI) met dienspersoneel bestaande uit lede van die outochtone (aboriginal) bevolkings. Dit berus op die vertrekpunt dat maatskaplike geregtigheid en demokrasie in Suid-Afrika slegs verwesenlik kan word wanneer die outochtone bevolkings beheer herwin oor dit wat hulle ontneem is deur die optrede van agente van KKI.

“Die mense” (the people) as die bron van demokratiese legitimiteit word omskryf in terme van ’n kriterium wat diegene uitsluit wat as die bevoordeeldes van apartheid beskou kan word. “Die mense” as ’n “maatskaplike formasie” word afwisselend omskryf as “die voorheen verdruktes”, “diegene wat onder koloniale en imperialistiese verdrukking gely het” of wat nou gemeenplasig in die diskoers geassosieer met regstellende aksie geword het, “lede van die voorheen benadeelde gemeenskappe”.

Hierdie amandla awethu-logika vind sy grondlegging in die invloed wat Bolsjewisme uitgeoefen het oor bevrydingsideologie tydens die uitgebreide periode wat die ANC en die SAKP saamgespan het in ’n bevrydingsoorlog onder die voogdyskap van die Sowjet-Unie.

Bolsjewisme was ’n vorm van kettery binne die Marxistiese tradisie wat afgewyk het van die klassestrydlogika van die ortodokse Marxisme, en die opvatting omarm het dat oorloë van nasionale bevryding van imperialisme en kolonialisme die klasseoorlog vervang het as die belangrikste bevrydingsprojek van die “progressiewe” mensdom.

´n Suksesvolle bevrydingsoorlog herstel die selfbeskikking       van ’n morele gemeenskap genaamd “die mense” wat moet heers, sodat die politieke bestel (polity) die benoeming ‘demokrasie’ waardig kan wees. In die bevrydingswoordeskat hou demokrasie op om ’n reëling te beskryf waarvolgens die mense besluit hoe en deur wie hulle geregeer sal word. Nasionale onafhanklikheid van buite-oorheersing (nasionale selfbeskikking) word die hoofkenmerk van demokrasie. Die sentrale eienskap van so ’n opvatting van demokrasie word goed saamgevat in ’n antwoord deur die Afrikaleier, Sekou Toure, toe dit aan hom uitgewys is dat talle van die nuut onafhanklike Afrikastate deur diktators geregeer word: “Ja, maar hulle is ons diktators!”

Daardie politieke magte wat verkiesings betwis teen die voorhoede van die mense, die ANC, is nie soos hulle in ’n normale demokrasie sou wees slegs in opposisie teenoor die regerende party nie; hulle is in opposisie teenoor demokrasie self. Om die ANC te opponeer, is om bevryding te opponeer. Die demokratiese oomblik vereis die ANC in mag. As die ANC byvoorbeeld nie Stellenbosch-munisipaliteit regeer nie, kan die mense van Stellenbosch nie geag word as demokraties geregeer nie. Onder bv. DA-regering is die alledaagse gebruik om na Stellenbosch as ’n “niebevryde sone” te verwys. Die pogings van die DA om die oorhand oor die ANC in die verkiesingsarena te kry is “eintlik” (diepliggend, subliminaal, onbewustelik, in die versteekte uithoeke van die kollektiewe wit bewussyn, in die oeropwelling van die wit libido dominandi) ’n poging om beheer van buite oor die mense te vestig. Om die aanstootlike onderwerping van “die mense” soos dit onder KKI en apartheid gegeld het, te herstel.

Vanuit so ’n vertrekpunt is dit maklik om die afleiding te maak dat om ontslae te raak van die personeel wat nie as “voorheen benadeel” kwalifiseer nie, ’n nodige stap vir die bevordering van demokrasie is, asook sy bloedverwante soos nasionale bevryding, maatskaplike en ekonomiese emansipasie, vryheid, amandla awethu, ens. Die morele dwang samehangend met die projek van bevryding is ’n veeleisende baas. Dit vereis onbuigbare lojaliteit en toewyding aan die “breë kerk”. Emplojering is ’n funksie van ontplooiing eerder as ’n onafhanklike vorm van beroepsbetrokkenheid.

Nog ’n sêding wil dit hê dat daar in elke vet man ’n maer man is wat wil uitkom. Die ironie van die grondwetlike bedeling in Suid-Afrika is dat ons hier ’n regering met ’n Bolsjewistiese denkraamwerk dog vasgevang in ’n liberale Grondwet het. Ideoloë in “Ons Beweging” praat van “tweefaserewolusies”, “posisie-oorloë”, “sonsondergangklousules”, ens. in die debatte oor hoe die doelwitte van bevryding bevorder kan word in weerwil van die liberale “dwangbuis” waarin opposisiepartye soos die Demokratiese Alliansie hulle “progressiewe” bevrydingsprojekte wil perk. Die liberale opvatting van die skeiding van magte uitgeoefen deur staatsorgane sodat hulle vir mekaar as wigte en teenwigte kan dien in diens van die beskerming van die individu se vryheid, word voorgehou as ’n hindernis vir bevryding. Bevryding vereis die fusie van mag.

Bevrydingsideologie verkondig die opvatting dat die staat moet dien as motor van bevryding en die bevrydingsprojek (veral die verwesenliking van sy gelykheidsoogmerke) vereis die fusie van die staat se administratiewe, geregtelike en wetgewende organe in die skoot van die “organisatoriese uitdrukking van bevryding”, die African National Congress. Wat in Suid-Afrika bekendstaan as regstellende aksie, beskryf ’n proses van die oprigting van ’n stelselmatige vorm van hegemoniese beheer van die party oor staatsinstellings. Dit het niks te make nie met die logika van verspreidende geregtigheid onderliggend aan die opvatting van regstellende aksie in die Verenigde State. Daar het regstellende aksie ’n liberale afkoms en is dit gerig op die verspreiding van geleenthede en belonings op ’n billike wyse. Die logika van regstellende aksie in Suid-Afrika het ’n Bolsjewistiese afkoms. Dit gaan oor amandla awethu. Amandla awethu is geregtigheid. Dit is die nodige en doeltreffende voorwaarde wat verwesenlik moet word sodat geregtigheid in Suid-Afrika moontlik kan word.

In die “dwangbuis”-logika van liberale konstitusionalisme word openbare amptenare gelas om hulle politieke oortuigings te onderdruk en te privatiseer. Per slot van rekening bedien hulle ’n korpus van burgers wat allerlei uiteenlopende politieke oortuiginge huldig en wat as ’n saak van reg kan verwag om behandel te word as burgers van gelyke stand, selfs al was hulle in die verlede die kwelgeeste (tormentors) van “die mense”. In ’n grondwetlike staat soos ons s’n, wortel politieke legitimiteit in die opvatting van burgerskap van gelyke waarde. Ons mag dalk maatskaplik en ekonomies ongelyk wees, ons mag toevallig lede wees van gemeenskappe wat bevoordeel is onder apartheid, ons mag Afrikaanssprekend en wit wees, ons mag lede wees van “kapitalistiese maatskaplike formasies” of lede van die uitgebuite massas onder internasionaal georganiseerde Westerse imperialisme, maar grondwetlik word ons gelyk geag.

As ’n teenhanger het ons gelyke regte. Die Grondwet maak geen melding nie van “die mense” as die gesalfdes van die geskiedenis met spesiale aansprake op voordele wat in diens van geregtigheid en regverdigheid ontsê kan word van diegene wat nie van die “voorheen benadeeldes” is nie. Per slot van rekening is die ou bevooroordeelde apartheidstaat wat wittes as die enigste opbetaalde lede van die politieke gemeenskap behandel het, nou agter ons. Ons is nou almal Suid-Afrikaans. Die “nasionale vraagstuk” mag dalk nie in die hoogdrawende filosofie van bevrydingsideoloë opgelos word nie, maar vir sover dit die Grondwet aangaan, is dit passé.

In ’n liberale demokrasie is openbare amptenare veronderstel om onderworpe te wees aan die doeltreffende funksionering van die beginsels van gelyke burgerskap en die outonomie van die staat. Ten einde daaraan effek te gee, word dit van openbare indiensnemingspraktyk vereis om te wortel in die norme geassosieer met die professionalisering van loopbane in die staatsdiens, en die gebruik van reëls van werwing en plasing wat poste in politieke partye en verteenwoordigende instellings doelbewus skei van poste in die staatsapparaat. Die vereiste dat dít twee aparte loopbaantrajekte moet uitmaak is die norm in werkende grondwetlike demokrasieë. Instemming met hierdie norm is wesenlik om die outonomie van openbare instellings te stut tot op ’n vlak waar hulle beskerm word teen ’n terugval na ’n soort partisane staat waar openbaar gegenereerde hulpbronne gewy word aan die voordeel van sommige burgers tot nadeel van ander burgers. Die geskiedenis is besaai met voorbeelde van politieke klasse wat soos roofdiere in die samelewing opgetree het, en die meeste van die institusionele vooruitgang in die vestiging van demokratiese politieke praktyke in die Weste het ontwikkel in reaksie op die noodsaak om politieke roofdierskap teen te werk en die mag van potensiële politieke roofdiere te tem. Ons het geen begeerte nie om terug te keer na ’n situasie waar die logika van maatskaplike geregtigheid ’n waarborg word wat roofdieragtige politieke elites toelaat om die versterkings wat ons Grondwet opgerig het om hulle gierige drange af te weer, te verswak. Ons het genoeg daarvan onder apartheid en in die Mugabe-agtige optrede van ons eerbiedige naburige Afrikastate gesien.

Wat ons van die indiensnemingspraktyke van die regerende party in Suid-Afrika gesien het, ondermyn grootliks sowel die norm van die instandhouding van die outonomie van openbare instellings, as die handhawing van die beginsel van burgerskap van gelyke waarde.

Die oëverblinderstruuk wat die ANC probeer uithaal, werk so: Historiese geregtigheid word gedien deur “regstellende aksie”. Die toepassing van sirkulêre redenering op amandla awethu-vertrekpunte bevestig dat regstellende aksie diegene bevoordeel wat onder apartheid die verknegtes was. ’n Ongekende geleentheid duik op vir “die voorheen benadeeldes” in die vorm van ’n bevrydingsdividend. Die reusagtigheid van hierdie dividend is van so ’n aard dat hulle maklik oorgehaal word deur amandla awethu-voordele wat hulle kan toekom, dat die toetredingskwalifikasies van ’n suksesvolle openbare loopbaan geesdriftige instemming met die regerende party vereis. (Baantjiesjag [careerism] word gebore.) Elke nikswerd intellektueel met ’n derdeklas B-graad kan nou voordeel trek uit die kategoriefout wat dit wil hê dat die kleur van ’n mens se vel onweerlegbare bewys is van waar ’n mens jou bevind op die groot gaping tussen die bevoordeeldes (wit) en die benadeeldes (swart). En dit in weerwil van groeiende getuienis dat die enigste swartheid wat werklik geld, die swartheid is wat kom daarvan om opgewek te word in die politieke baarmoeder van die regerende party. (Byvoorbeeld, in utero bevrugte swartes kan baie ryk word sonder om die voordele te verbeur daarvan om lede van die “histories benadeeldes” te wees. Selfs diegene wat ryk geword het onder apartheid of voordeel getrek het daaruit om gekoöpteer te word tot samewerking met die regime verbeur nie hulle status as “voorheen benadeeld” nie.) In die lig hiervan swerm die veiles en die ambisieuses vinnig na die skoot van die party waarvandaan hulle hul lojaliteit aan die saak proklameer en gevolglik hulle kandidatuur om bevoordeeldes van “bevryding” te word. (Baantjiesjag word haalbaar. Die siniese najaag van persoonlike gewin in die naam van toewyding aan die doelwitte van die Struggle word gemeenplasig, so gemeenplasig dat ons staatspresident dit in die openbaar gediagnoseer het as een van die hoofredes vir die mislukking van plaaslike regering in Suid-Afrika.)

Aangesien historiese geregtigheid (bevryding) slegs teweeg gebring kan word deur diegene wat vertrou kan word met die akkurate implementering van die bevrydingsprogram, word partygetroues uitgesonder vir ’n manjifieke monopolie op poste. (Vanselfsprekend kan slegs die Mense se mense regeer as die Mense regeer. Hierdie riglyn vloei uit die amandla awethu­-logika waarna hierbo verwys.)

Die selfdienende sirkel word voltooi deur ’n mens se lojale kaders te plaas in die kruin van elke instelling waar mag uitgeoefen word, terwyl jy hulle beloon met netjiese salarisse uit openbare fondse en daarvandaan die instelling se gedrag beheer. Die parlement word ’n voorste ideologiese kwekery om die vaardighede van die politieke priesterdom af te rond en as LP’s na topposte “herontplooi” word, word ruimte vir nuwe rekrute van die kwekery geskep. Dit alles op openbare onkoste.

Soos ’n verowenderende weermag voed die beweging vanaf die land waardeur dit marsjeer.   


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=661
Artikel nagegaan:
    -