blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Reeks: Die Afrikaanse universiteit van die toekoms: Afrikaans binne meertalige verband? 2006-08-16
Theo du Plessis

*Eenheid vir Taalbestuur, Universiteit van die Vrystaat

 

Die huidige debat oor die posisie van Afrikaans aan Suid-Afrikaanse universiteite geskied uiteraard binne die konteks van ’n breër debat oor meertaligheid binne die Suid-Afrikaanse universiteitswese.

Universiteite soos die Universiteit van Stellenbosch bly praat oor die handhawing van Afrikaans as taal van hoër onderwys binne “meertalige verband”; KOVSIES (’n benaming waarmee heelwat swart studente terloops nie kan identifiseer nie) se taalprofilering aksentueer multikulturaliteit,’n verwante konsep (maar nie onproblematies nie), ensovoorts. Trouens, die rektore van die voormalig hoofsaaklik wit universiteite waar Afrikaans tot teen die middel van die negentigerjare van die vorige eeu as primêre onderrigtaal aangewend is, het vroeër vanjaar die Minister van Onderwys versoek dat hulle trosbenaming verander na “Meertalige universiteite”. (’n Waardige poging om weg te beweeg van die histories onjuiste benoeming “Histories Afrikaanse Universiteite” – dis ’n benoeming wat sekerlik tog net kan geld vir universiteite wat inderdaad histories as Afrikaanse instellings gekonseptualiseer is. Universiteite soos die Universiteit van Pretoria en die Vrystaat is immers histories Engelstalige instellings.) Dit is egter nie net universiteite wat die meertaligheidsnaar tokkel nie – onse regering self doen dit gretig, sonder om noodwendig verder te gaan as tokkel. ’n Mens kom tekens van gewaande meertaligheidsbewustheid selfs in die sakewêreld teë.

Voorlopig is geluide rondom meertaligheid dus nog polities korrek, uiteraard ook in hoëronderwysverband. Maar ons moet onmiddellik toegee dat daar tog ook bepaalde nasionale direktiewe rondom meertaligheid bestaan wat kwalik tot beeldpoetsing beperk is. Taalpolities beskou, is Suid-Afrika besig om te transformeer van ’n tweetalige na ’n meertalige land, wat dit ook al mag beteken. Die Taalklousule vereis byvoorbeeld steeds ’n vorm van tweetalige bediening en funksionering in regeringskringe as minimum vereiste, sonder om dit natuurlik soos in die verlede vas te pen binne ’n spesifieke taalformule. Verder word meertaligheid as oogmerk nie pertinent by die naam genoem nie – vandaar die tendens om vaagweg na die Grondwet se “gees van meertaligheid” te verwys. Die hoër onderwys kan nogtans nie ontsnap aan georkestreerde pogings tot herprofilering op taalgebied nie. Juis daarom behoort kennis geneem te word dat beide die Language Policy in Education (1997) en die Language Policy in Higher Education (2002) – vir ons doeleindes sentrale beleidsdokumente – meertaligheid pertinent as oogmerk stel. By eersgenoemde gaan dit oor die bevordering van “toevoegende” meertaligheid (as sodanig al ’n reuse opgaaf) en by laasgenoemde oor die bevordering van meertaligheid oor die algemeen en spesifiek die vestiging van meertaligheid in die institusionele beleid en praktyke van hoëronderwysinstellings. Wat natuurlik nou telkens met die betrokke begrip bedoel word, is myns insiens ’n sleutelvraag in die debat oor meertaligheid in hoër onderwys.

In die taalsosiologie word die begrip meertaligheid meestal op minstens twee maniere verstaan. Die begrip kan soms oorkoepelend verwys na die voorkoms van meertaligheid as samelewingsverskynsel, byvoorbeeld waar verwys word na die meertaligheidsprofiel van ’n land soos Suid-Afrika, ’n land waarin letterlik meer as een taal gebruik word. So gesien, verwys die begrip dus na die meertaligheidsprofiel van ’n spesifieke gemeenskap of streek of land ensovoorts. Maar die begrip kan ook verwys na die linguistiese repertoire van ’n individu, byvoorbeeld waar verwys word na ’n individu se beheersing van meer as een taal. Vereenvoudig gestel, kan eersgenoemde gebruik ook genoem word samelewingsmeertaligheid, en laasgenoemde individuele meertaligheid.

Pas ons nou hierdie onderskeiding toe, kom ’n mens onmiddellik agter waarom die populêre (en populistiese) rondstrooi van die begrip meertaligheid binne die Suid-Afrikaanse konteks eintlik mistifiserende afmetings aanneem. Wanneer die Language Policy in Higher Education byvoorbeeld die bevordering van meertaligheid beoog, word daarmee samelewingsmeertaligheid of individuele meertaligheid bedoel? Dieselfde vraag het ook betrekking op die wens dat meertaligheid inherent deel van instellings se daaglikse aktiwiteite word. Sekerlik word albei bedoel, maar klaarheid omtrent watter een, wanneer en hoe ontbreek natuurlik (soos in enige ander “goeie” taalbeleidsdokument). Dit is byvoorbeeld moeilik om in vandag se lewe ’n greep te kry op die begrip “eentalige” universiteit (wanneer na meertaligheid as samelewingsverskynsel verwys word) net soos dit in dieselfde asem nogal moeilik is om te verstaan wat met die begrip “meertalige” universiteit bedoel word. (Terloops nog ’n rede waarom die begrip Histories Afrikaanse Universiteit ietwat stom is.) Ons sal dus ons terminologie rondom die talige beskrywing van hoëronderwysinstellings ’n bietjie moet verfyn. Ofskoon dit gaaf is dat die Minister van Onderwys nou moet besin oor ’n meer gepaste benaming vir die vyf universiteite waarby Afrikaans vir enkele jare as primêre voertaal gebruik is, vertroebel die voorstel wat sy tans moet oorweeg ongelukkig die debat, eerder as wat dit ons vorentoe neem.

Nou kan ons ook sien dat die begrip “Afrikaans binne meertalige verband”, hoe mooiklinkend, goed bedoeld of polities korrek ook al, eintlik ’n konstatering is van ’n normale, eietydse taalekologiese werklikheid. Die betrokke stelling kan ewe goed geld vir ’n taal soos Russies of Japannees, of selfs vir Engels; noem maar op. Suid-Afrikaanse kampusse is by verstek reeds meertalig gewoon omdat daar  meer as een taal op hulle kampusse voorkom.

Gegewe die Suid-Afrikaanse meertalige werklikheid, wat uiteraard ook op ons universiteitskampusse neerslag vind – ek stel dit as minimum vertrekpunt – lyk dit my sinvol om te vra met watter belangrike tendense binne hierdie taalekologie universiteite rekening behoort te hou en wat hulle hieromtrent te doen staan. Die debat oor Afrikaans vorm uiteraard deel van so ’n besinning. Natuurlik roep so ’n wending onvermydelik die vraag op of universiteite inderdaad ’n taalopdrag het, ek praat nou van ’n selfopgelegde opdrag en nie van die een wat die staat oplê nie (bv. die een oor meertaligheid waaroor die besinning hier gaan). Uit die geskiedenis leer ons dat Suid-Afrkaanse universiteite hulle nog nooit eintlik vreeslik aan die staat se taalopdrag gesteur het nie, immers een van die redes waarom die beginsel van taaldifferensiasie in hoër onderwys ontstaan het. Die resultaat was juis die ontstaan van “Engelstalige” teenoor “Afrikaanstalige” instellings met enkeles daartussen, die sogenaamde “tweetalige” instellings waar verskillende vorme van tweetalige hoër onderwys gepraktiseer is. Maar kom ons aanvaar vir die wyle dat universiteite inderdaad met die meertalige taalwerklikheid “daar buite” rekening behoort te hou en kyk na ’n ander invalshoek wat dalk ander perspektiewe tot die debat oor Afrikaans kan oplewer.

Dit bring ons dan by die onstuitbare opmars van Engels as sekerlik dié tendens waarmee vandag rekening gehou moet word. Die huidige debat oor die rol van hierdie taal aan Suid-Afrikaanse universiteite (wat nog met Afrikaans as onderrigtaal wil voortbeur) kan grootliks gesitueer word binne die konteks van samelewingsmeertaligheid; dit gaan vir heelwat gespreksgenote oor die taalekologiese impak wat Engels het op die funksionering van Afrikaans binne hoëronderwysverband. Taalonderwysmodelle waarbinne Afrikaans gekoester of minimaal beskerm word, bly dus ’n belangrike spilpunt binne sulke gesprekke. Ofskoon ’n belangrike debat, word die noodsaak van individuele meertaligheid of eerder individuele tweetaligheid egter soms uit die oog verloor. Die parallelmediummodel wat die Universiteit van die Vrystaat skynbaar met ’n mate van sukses toepas, bied dus taalekologies gesien verskansing vir Afrikaans, ’n aspek van ons samelewingsmeertaligheid word institusioneel verskans, maar watter bydrae lewer die model tot individuele tweetaligheid? Aan die ander kant lyk die kontensieuse T-opsie dalk na ’n beweeg in die ander rigting, maar watter voordeel trek die leerder wat Engels verlang juis omdat Afrikaans ontoeganklik is? Ironies genoeg kan die Afrikaanssprekende leerder na gelang van watter permutasie van die T-opsie toegepas word, op die ou end dalk wel tweetalige voordeel begin trek, maar is dit werklik die bedoeling wat voorop gestel word?

Waaroor miskien nie genoeg besin word nie, is oor universiteite se bydrae tot die uitbou van individuele tweetaligheid wat ons onderwysstelsel al etlike jare in gedagte het, hoe gebrekkig dit ook al mag wees. Ek gee onmiddellik toe, die universiteit is nie die plek om te begin werk aan individuele tweetaligheid nie, maar ons kan ook nie die huidige diskontinuïteit gewoon daar laat nie. Die hele kwessie van tweetalige hoër onderwys, iets wat in die Unietydperk effektief gestigmatiseer geraak het, behoort dus weer ter tafel geneem te word. En met tweetalige hoër onderwys word bedoel individuele onderwys.

Individuele hoër onderwys kan binne ’n dubbeltalige onderwysmodel aangepak word. Die Engelse begrip is “dual medium education”. (Let op, ek vermy die begrip dubbelmediumonderwys omdat Suid-Afrikaners die begrip sodanig verwater het dat gemengde medium, met ander woorde twee tale binne dieselfde klassituasie, as dubbelmedium voorgehou word.) Dubbeltalige onderwys verwys na onderwys in twee verskillende tale aan dieselfde leerder, maar nie gelyktydig nie. Kompartementalisering is een van die belangrike beginsels by die toepassing van dubbeltalige onderwys. Op universiteitsvlak beteken dit tipies dat ’n leerder ’n graad in twee tale neem, wat sou impliseer dat ’n bepaalde aantal modules in ’n tweede of alternatiewe onderrigtaal aangebied moet word. Elke instelling kan hierdie verdeling na gelang van omstandighede skik. Vir ons sou dit beteken dat ’n Afrikaanse student dus ’n deel van ’n kwalifikasie in Engels sal neem.

Die probleem met dubbeltalige hoër onderwys is dat ’n vorm van tweetalige vaardigheid as voorvereiste gestel moet word. Binne die Suid-Afrikaanse konteks beteken dit dat Afrikaanssprekende leerders dalk beter mag kwalifiseer as Engelstalige leerders, en dat leerders wat die ander Suid-Afrikaanse tale (die sogenaamde Afrikatale – insgelyks ’n misleidende begrip) praat, dan waarskynlik nog verder benadeel kan word. ’n Mens sou egter ook kon redeneer dat dubbeltaligheid dalk ook die moontlikheid kan open om juis van hierdie tale te begin gebruik as hoëronderwystale na gelang van regstellende aanstellings wat gemaak word. Dubbeltalige onderwys kan dus na drie rigtings toe werk.

Dis jammer dat daar nie meer ondersoek gedoen is rondom dubbeltaligheid aan die eertydse “tweetalige” universiteite soos die ou UPE nie, of dat dokumentering rondom hierdie model nie geredeliker beskikbaar is nie. Vir ’n herbesinning oor die lewensvatbaarheid van hierdie model binne die huidige Suid-Afrikaanse konteks is sulke inligting (en ervaring) van groot belang. Die voorbeelde van buitelandse universiteite waar hierdie model toegepas word, is uiteraard nuttig, maar ons weet al nie altyd heeltemal redupliseerbaar hier te lande nie.

Ook is dit jammer dat tweetalige hoër onderwys gedurende die Unietydperk ’n stigma ontwikkel het. Dalk is ons historiese geheue hieromtrent ook aan die kort kant en kan dit help om die gesprek te heropen.

Ek voeg dus graag toe tot die huidige debat oor Afrikaans aan universiteite die leuse, “Afrikaans binne individuele tweetalige verband”. Hopelik kan daar ook besin word oor dubbeltalige hoër onderwys en die waarde wat dit vir Afrikaanstaliges maar ook vir ons ander Suid-Afrikaners kan inhou, indien natuurlik kreatief ingerig. Ek moet ten besluite dus toegee dat my pleidooi aansluit by die polities “korrekter” wordende “en-en”-model (en nogal populêr in die veranderingsbestuurskader) wat ook al in die Stellenbosche taaldebat geopper is. Hiermee steun ek my slotgedagte, dat ons rondom die posisie van Afrikaans in die hoër onderwys kwalik op eie houtjie moet probeer. Dit mag selfs nodig word dat die vyf universiteite waar Afrikaans nog as onderrigtaal gebruik word, dalk besin oor ’n gesamentlike strategie, en dalk in die proses weer die Gerwel-dokument afstof en die oordadige onderneming van die rektore destyds altemit herroep. Sonder om natuurlik die noodsaak aan individuele tweetaligheid prys te gee! 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=660
Artikel nagegaan:
    -