blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
Le Monde diplomatique: Palestina, Libanon, Irak... 2006-08-16
Alain Gresh

*Senior joernalis en spesialis van die Midde-Ooste, Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]

 

Tientalle burgerlikes koelbloediglik afgemaai in Irak bloot omdat hulle “Soenniete” is. ’n Ongeëwenaarde misdaad in die Midde-Ooste sedert die Libanese burgeroorlog van 1975-1976, toe Falangistiese militantes Moslems tereggestel het net omdat hulle Moslem was.

 

Volgens die Verenigde Nasies is 6 000 Irakese net in Mei en Junie doodgemaak. Sowat ’n honderd ander burgerlikes, dié keer in die suide van Afghanistan, was “onregstreekse slagoffers” van die voortgesette aanslag wat deur die VSA geloods word om die “terugkeer” van die Taliban te verhoed. Selfmoordaanvalle, vroeër ongekend in dié land, neem toe.

In Gaza is 1,5 miljoen Palestyne vasgevang tussen die Israeliese weermag se aanvalle en die besluit van die VSA en die Europese Unie om alle direkte hulp te vries. In Libanon, geknel deur die wurggreep van sanksies, dreig die toenemende brande en slagting veroorsaak deur blindelingse bombardemente van sy infrastrukture, stede en dorpe om uit te loop op ’n streekskonflik met Sirië en Iran, terwyl die noorde van Israel lamgelê word deur Hisbolla se vuurpyle. Ten slotte bly die krisis rondom die Iranse kernkwessie hangend, en Teheran dreig om hom uit die Nieproliferasieverdrag te onttrek.

Maar net ’n gewone Juliemaand, drie jaar nadat die president van die VSA, George W. Bush, op ’n vliegdekskip die einde van gevegte in Irak aangekondig het met ’n klinkende militêre “Sending voltooi!”. In die somer van 2006 bars die rekord van die towenaar se leerjonge uit al sy nate: nog nooit in onlangse heugenis het die Midde-Ooste soveel brandende en gelyktydige krisisse beleef nie. Hoewel elkeen sy eie redes het, is daar ’n duisend-en-een drade wat hulle verbind, wat gedeeltelike oplossings bemoeilik en die hele streek vinniger die afgrond in stuur.

Wie het begin? Vir baie kommentators is die oorsaak duidelik. Dit is Hisbolla wat nie alleen Israel se ondergang beoog nie, maar “wyer gesien die hele Westerse kamp wil destabiliseer”. Die organisasie en sy ondersteuners hoop op niks minder nie as “die daarstel van ’n universele Islamitiese diktatuur”. (1) So ’n analise, wat nou alom in die media en politiek aanvaar word, sluit aan by dié van die Amerikaanse neoliberale: ’n nuwe wêreldoorlog het begin.

Michael Leeden, navorser aan die American Enterprise Institute, som dit so op: “Dit is ’n oorlog wat gevoer word van Gaza tot in Israel, deur Libanon en van daar tot in Irak deur Sirië. Die metodes verskil van Hamas in Gaza tot Hisbolla in Sirië in Libanon, en die ‘oproer’ met sy vele fasette in Irak. Maar daar sit ’n dirigent daaragter: die mollahkrasie, die fascistiese, revolusionêre Iranse staat wat sewe-en-twintig jaar gelede oorlog teen ons verklaar het en wat nou moet rekenskap gee”.

“Dit is ons oorlog,” verkondig Wiliam Kristol, een van die grootste neokonserwatiewe ideoloë, met trots (3). In die aangesig van wat dan “´n algemene poging om die Westerse wêreld van balans af te gooi” sou wees, is die Israeliese regering van Ehud Olmert in “die regte kamp”. Die G8 se verklaring in Sint Petersburg, wat Frankryk (4) onderteken terwyl Libanon onder die bomaanvalle steier, beaam dat Israel “die reg het om hom te verdedig”.

Wie het begin? Op 12 Julie veroorsaak ’n militêre operasie deur Hisbolla teen ’n Israeliese patrollie ses sterftes en stel die Libanese organisasie in staat om twee soldate gevange te neem. ’n Weerligstraal in ’n wolklose hemel? ’n Mens moet onthou dat skermutselings alledaags is, veral rondom die betwiste gebied van die Shebaa-plase, wat deur die ganse Libanese regering as ’n besette gebied beskou word; dat Israeliese vliegtuie elke dag die Libanese lugruim skend; dat Israel op 26 Mei in die Land van Seders ’n leier van die Islamitiese Djihad om die lewe gebring het; dat Israel verskeie Libanese militante gevange hou, onder andere Samir Al-Qantar sedert 1978, Nassim Nisr en Yahya Skaf sedert 1982.

Aan die ander kant, as ’n mens Hisbolla se handeling as onwettig beskou, hoe beskryf jy die sistematiese verwoesting van Libanon wat sedertdien van stapel gestuur is, met burgerlike infrastrukture, stede en dorpe as teikens, en meer as 600 000 mense wat uit hulle huise moes vlug? In internasionale reg, waarop die internasionale gemeenskap hom graag berus, het dit ’n naam: “oorlogsmisdaad”. Bykomende protokol I van 1977 tot die Geneefse konvensie omskryf duidelik die beginsel van proporsionaliteit. Aanvalle “is ontoelaatbaar as daar verwag kan word dat hulle meegaande verlies aan menselewens in die burgerlike bevolking, beserings van burgerlikes of skade aan burgerlike eiendom tot gevolg mag hê wat buite verhouding is tot die verwagte daadwerklike, direkte menslike voordeel”. (5) Kan enigeen vir ’n oomblik glo dat die verklaarde doelwit – die redding van twee soldate – die talle verwoestings en sterftes wat deur Israeliese bombardemente veroorsaak word, regverdig? Is die lewe van ’n Arabier of ’n Libanees minder werd as dié van ’n Israeli?

Die gevolge van hierdie Israeliese aanval is nog lank nie verby nie. Hisbolla is die grootste party in Libanon, en sterk gevestig in die land se grootste gemeenskap, die Sjiïete, wat baai in die glorie van die bevryding van die suidelike deel van die land in 2000, 12 afgevaardigdes in die parlement het, en met sterk politieke magte verbind is, soos dié van generaal Michel Aoun, die Kommunistiese Party, die Siriese Nasionaal-Sosialistiese Party, invloedryke Soennitiese figure soos Osama Saad of Omar Karamé, of Maroniete soos Souleiman Frangié. Om hulle as “blote pionne van Iran of Sirië” te sien, grens aan wensdinkery.

      Anthony H. Cordesman, een van die invloedrykste navorsers van die Center for Strategic and International Studies in Washington, wat nouliks van pro-Islamitiese sentimente verdink kan word, merk op: “Ontleders en joernaliste moet omsigtig wees en die feite respekteer wanneer hulle van Iran se rol in die huidige krisis praat. Uit talle oorde – insluitend dié van Israeliese amptenare en offisiere – word die Libanese krisis nou gebruik om nuwe verskonings te kry om Iran aan te val (...). Die gevolg is dat vermoedens en halwe waarhede omvorm word in samesweringsteorieë. Die Amerikaanse inligtingsdiens het geen bewys dat Iran Hisbolla beheer nie, maar slegs dat die land ’n belangrike bron van finansiering en bewapening van dié party is”. (6)

      Een van die hoofteikens van die Israeliese “selfverdedigings”-operasie is die burgerlike lughawe van Beiroet. Die geskiedenis word herhaal. Einde 1968, terwyl die Midde-Ooste sukkel om van die oorlog in Junie 1967 te herstel, word die Palestynse weerstand georganiseer. Die Palestynse Bevrydingsfront, ’n radikale groep, val op 26 Desember 1968 op die lughawe van Athene ’n vliegtuig van die Israelse redery El-Al aan, en dood in die proses ’n afgetrede offisier. Een van die kommandolede is afkomstig uit Libanon en dié land aanvaar verantwoordelikheid vir die operasie. Twee dae later verwoes ’n Israeliese kommando dertien passasiersvliegtuie op die internasionale lughawe van Beiroet.

      Die Veiligheidsraad veroordeel eenstemmig dié optrede en vra dat Israel die skade vergoed, wat nooit gedoen word nie. Frankryk verklaar dat die beginsel van “weerwraak” onaanvaarbaar is. Generaal De Gaulle vaardig ’n embargo uit op wapens na Israel, en weier om 50 Mirages te lewer waarvoor Israel reeds betaal het. (7)

      Die Franse kabinetsraad se verklaring op 8 Januarie stel dit so: “Ons het die aanval in Athene op ’n Israelse vliegtuig opgeweeg teen die operasie op die Beiroetse lughawe: dié twee optredes is inderdaad nie vergelykbaar nie. In Athene was dit optrede georganiseer deur lede van ’n geheime organisasie. In Beiroet is die operasie geloods deur ’n staat wat sy militêre toerusting, in die besonder Super-Frelons en Alouettes wat deur Frankryk vervaardig is, teen die burgerlike apparaat van ’n ander staat gebruik het.” Parys huiwer nie om die skuld op “Israeliese invloede [wat] op ’n sekere wyse merkbaar is in noue inligtingskringe” te plaas nie. (8) In daardie dae het die De Gaulle-regering nie doekies omgedraai nie.

      Ons is nou in die veertigste jaar van besetting, dié van Gaza, die Wesoewer, Oos-Jerusalem, om nie van die Siriese Golanhoogland te praat nie. Ondanks tallose resolusies deur die VN se Veiligheidsraad, ten spyte van paaiende verklarings – volgens die beplanning wat deur die VSA, Rusland, die Europese Unie en VN aanvaar is, sou ’n Palestynse staat voor die einde van 2005 geskep word! – lyk dinge al slegter in Palestina.

Die jaar 2005 verloop sonder enige blyke van vordering. Hoewel die owerhede in Tel Aviv onophoudelik beduie dat Yasser Arafat ’n “struikelblok vir vrede” is, beweeg sy dood en vervanging deur Mahmoed Abbas (Abou Mazen) Ariel Sharon nie daartoe om sy “unilaterale” politiek te staak nie. Die onttrekking uit Gaza in die somer van 2005, wat deur politieke leiers en die media as “’n moedige daad” geprys word, is ’n doodslag vir wat nog van die Osloverdrag oorgebly het: die beginsel waarvolgens vrede deur bilaterale onderhandeling bewerkstellig sou word. Vir die Palestyne van Gaza bring die ontruiming geen verbetering in hulle situasie nie, inteendeel (lees die getuienis hierna).

Terwyl die kolonialisering voortgaan en verskerp op die Wesoewer (lees bladsye 9 en 10) en die “vredesproses” in een sin opgesom word in die “internasionale gemeenskap” se verklarings, wen Hamas die verkiesing in Januarie 2006. Kan dit ’n mens werklik verbaas? Maar omdat hulle “verkeerd gestem het”, word die Palestyne gestraf, onder meer deur die Europese Unie wat met die steun van Frankryk die Owerheid alle regstreekse hulp ontneem, en so daarmee nog ’n bietjie bydra tot die ineenstorting van die bevolking se materiële toestande en die verkrummeling van Palestynse instellings.

En die vuurpyle wat uit Gaza op Sderot laat reën? Gideon Levy, ’n Israeliese joernalis by Haaretz, stel die vraag: “Wat sou gebeur het as die Palestyne nie Qassams afgevuur het nie? Sou Israel die ekonomiese boikot teen Gaza opgehef het? Sou hy gevangenes vrygelaat het? Die verkose Palestynse leiers ontmoet en met onderhandelings begin het? Onsin. As die inwoners van Gaza mooi stilgesit het soos wat Israel gehoop het, sou hulle saak van die agenda verdwyn het – hier en in die res van die wêreld. (...) Niemand sou hom oor die volk van Gaza se lot gekwel het as hulle nie gewelddadig opgetree het nie”.  (9)

Op 27 Junie, na vele spanninge, onderteken al die Palestynse organisasies (met die uitsondering van die Islamitiese Djihad) ’n teks wat vra vir ’n politieke oplossing gebaseer op die skep van ’n Palestynse staat naas dié van Israel, en wat gewapende weerstandsoptredes in besette gebiede bekamp. Hierdie ooreenkoms baan die weg na die saamstel van ’n nasionale eenheidsregering wat met vredesonderhandelinge sal kan begin. Net die volgende dag sou die Israelse weermag na Gaza toe “terugkeer” onder die voorwendsel dat een van sy soldate ontvoer is, maar in werklikheid om die Hamas te “likwideer”. (9)

Ook hier kom Israel se optrede – die bombardering van kragstasies en ministeries, die inhegtenisneming van politieke leiers en verwoesting van huise, die gebruik van burgerlikes as menseskild (10) – neer op “oorlogsmisdade”. Die Switserse regering, bewaarder van die internasionale menseregtekonvensies, sê op 4 Julie 2006: “daar bestaan geen twyfel nie dat Israel nie die nodige voorsorg getref het wat deur die internasionale reg vereis word om burgerlike bevolkings en infrastrukture te beskerm nie”.

Oorlog teen die Palestyne, oorlog teen Libanon – twee aanslae wat deel uitmaak van dieselfde strategie: die afdwing van ’n “oplossing” wat slegs met Israel se belange ooreenstem. Nog nooit die afgelope veertig jaar het die Israeliese beleid soveel Westerse steun geniet nie: bitter min afwysende stemme, behalwe uit die Vatikaan, word gehoor.

Weer eens stel die Arabiese wêreld sy onmag ten toon. Die Arabiese state wat bondgenote van die VSA is, was nog nie in staat om druk op Washington uit te oefen nie. Hulle was maar tevrede – merkwaardig genoeg – om ook van hulle kant af Hisbolla en Hamas te veroordeel, en dus Israel se optrede te regverdig ... Saoed Al-Fayçal, Saoediese Minister van Buitelandse Sake, het nie-Arabiese partye gevra om buite die konflik te bly: hy het duidelik nie na die VSA verwys nie, maar na Iran...

Soos die hoofartikelskrywer van die pan-Arabiese dagblad Al-Hayat, Abd-al-Wahab Badrakhan, dit stel: “Elke Arabier, van die Atlantiese kus tot aan die Persiese Golf, weet dat die vrede dood is en dat die Arabiere weer ’n keer, twee keer, duisend kere om die bos gelei is. Hulle weet nie hoe om uit die moeras te kom waarin hulle verdrink nie. Dus, of ons dit nou wil hê of nie, lê die laaste woord by dié wat ons as “ekstremiste” of “waaghalse” bestempel.” (11) Hamas het in 1987 in Gaza die lig gesien, ná twintig jaar van Israeliese besetting, gerugsteun deur die eerste Intifada; Hisbolla is geskep tydens die stryd teen die besetting wat gevolg het na Israel die Land van Seders in 1982 binnegeval het. Watter nuwe gewelddadige organisasie sal uit die puin waarin Libanon dié keer gelê word, verrys?

 

_________

(1) Lees Gérard Dupuy, “G8 hors-jeu”, Libération, 17 Julie 2006.

(2) National Review Online,13 Julie 2006.

(3) Weekly Standard, 24 Julie, 2006.

(4) Lees “Proche-Orient, la voix brouillée de la France”, Le Monde diplomatique, Junie 2006.

(5) Crimes de guerre. Ce que nous devons savoir, Parys: Autrement, 2002.

(6) http://www.csis.org/media/csis/pubs/060715_Hisbolla.pdf

(7) Lees Xavier Baron, Les Palestiniens, un peuple,  Parys: Le Sycomore

(8) Aangehaal deur  Samy Cohen, De Gaulle, les gaullistes et Israel, Parys: Alain Moreau, 1974, p. 134.

(9) Haaretz, 9 Julie 2006.

’n Mens moet onthou dat die Hamas die wapenstilstand met Israel van Februarie 2005 tot 10 Junie 2006 gerespekteer het. Hy het dit slegs opgesê nadat moordaanvalle op spesifieke teikens toegeneem het, en ’n Palestynse gesin op 10 Junie op die Gaza-strand uitgemoor is.

(10) Lees die verslag van die Israeliese organisasie B’Tselem, btselem.org/english

(11) Al-Hayat, Beiroet, 17 Julie 2006. 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=658
Artikel nagegaan:
    -