|
||||
Soos dit met alle oorloë in die era van kommunikasie gaan, was die waarheid ook een van die eerste slagoffers in Israel se aanvalle op Libanon. Selfs intelligente demokrate wat moeite doen om ingelig te bly, sal maklik die amptelike propaganda van Israel en die VSA kan glo: dat Israel uit selfverdediging Hisbolla-vestings in Libanon aangeval het - nadat Hisbolla, marionet van Iran en Sirië, op 12 Julie twee Israeli-soldate uit die bloute gevange geneem het – in ’n poging om Hisbolla eens en vir altyd uit te wis. Eerder as om hierdie propaganda vir die waarheid aan te sien, behoort die volgende feite oorweeg te word: Eerstens word die demokraties verkose Hamas-regering van die Palestynse gebiede die afgelope maande deur ’n kortsigtige Israelse en Westerse boikot lamgelê en is veral die Gaza-strook die voortdurende skyf van Israelse destabilisering. Die wydgerapporteerde insident waartydens Hamas ’n Israeli-soldaat gevange geneem het om onderhandelinge vir sy vrylating in ruil vir die vrylating van bykans 10 000 Palestynse politieke gevangenes aan te knoop, het gevolg op Israel se ontvoering van twee Palestynse burgerlikes, ’n dokter en sy broer. Laasgenoemde insident is aanvanklik feitlik slegs in die Turkse pers gerapporteer (1). Tweedens, op 27 Junie “onderteken al die Palestynse organisasies (met die uitsondering van die Islamitiese Djihad) ’n teks wat vra om ’n politieke oplossing, gebaseer op die skep van ’n Palestynse staat naas dié van Israel, en wat gewapende weerstandsoptredes in besette gebiede bekamp. Hierdie ooreenkoms baan die weg na die saamstel van ’n nasionale eenheidsregering wat met vredesonderhandelinge sal kan begin. Net die volgende dag sou die Israelse weermag na Gaza toe ‘terugkeer’ onder die voorwendsel dat een van sy soldate ontvoer is, maar in werklikheid om Hamas te ‘likwideer’” (2). Derdens kon Israel nie in die loop van 18 jaar se besetting van Libanon (tussen 1982 en 2000) daarin slaag om Hisbolla, wat ontstaan het in reaksie op Israel se inval van Libanon in 1982, te vernietig nie. Vierdens is dit absurd om Hisbolla te sien as ’n blote marionet van Iran en Sirië. Soos Alain Gresh, Midde-Oosterse kenner dit stel: “Hisbolla is die grootste party in Libanon, en sterk gevestig in die land se grootste gemeenskap, die Sjiïete, wat baai in die glorie van die bevryding van die suidelike deel van die land in 2000, 12 afgevaardigdes in die parlement het en met sterk politieke magte verbind is, soos dié van generaal Michel Aoun, die Kommunistiese Party, die Siriese Nasionaal-Sosialistiese Party, invloedryke Soennitiese figure soos Osama Saad of Omar Karamé, of Maroniete soos Souleiman Frangié. Om hulle as ‘blote pionne van Iran of Sirië’ te sien, grens aan wensdenkery (4).” In die lig hiervan is dit baie duidelik dat ons hier te make het met ’n strydlustige regime – Israel – wat met die ondersteuning van ’n supermoondheid in die greep van ’n klein groepie neokonserwatiewes totaal uit voeling met die werklikheid daarop uit is om homself met mag eerder as met redelikheid te handhaaf. Elders in hierdie uitgawe verduidelik die Israelse historikus, Gadi Algazi, in watter mate Israel homself ondermyn deur koloniaal in die Palestyne gebiede op te tree, desperaat om sy grondgebied vir nuwe aankomelinge te vergroot, en voortgaan om “feite op die grond te skep”. Dit alles getuig van die klassieke moderne verskynsel van die nasiestaat wat sy ideologiese bronne uitgeput het – in hierdie geval Sionisme – en by gebrek aan die vermoë tot ideologiese herverbeelding homself eerder by wyse van brute mag handhaaf. As dié verskynsel slegs tot Israel en sy onmiddellike bure beperk was, sou die implikasies miskien nie so ernstig wees nie, maar ongelukkig het Israel se selfvernietigende optrede planetêre implikasies weens die betrokkenheid van die VSA by dié katastrofe. Enigiemand wat twyfel aan die erns van die situasie, kan die ontstellende beeld in Newsweek van 31 Julie, 2006 lees van ’n George W. Bush wat kennelik nie insig het in wat werklik in die Midde-Ooste in die spel is nie. So verklaar hy dan aan sy getroue bondgenoot, Tony Blair, in ’n nou reeds berugte uitspraak oor wat die G8-leiers te doen staan: “What they need to do is get Syria to get Hizbullah to stop doing this shit, and it’s over (4).” Op die koop toe is die G8 en selfs die Verenigde Nasies vandag ooglopend impotent in die aangesig van hierdie katastrofe. Nadat Israel op 28 Desember 1968 ook in ’n buitensporige teenaanval 13 passasiersvliegtuie op Beiroet se lughawe vernietig het, het die VN die aanval onmiddellik veroordeel en het Frankryk se president De Gaulle ’n wapenverbod teen Israel ingestel. Hierdie keer kon die G8 op sy spitsberaad homself nie so ver kry om eers vir ’n skietstilstand te vra nie, en het dit die VN weke geneem om dit te doen. Intussen word die mees gematigde en moderne land in die Midde-Ooste, Libanon, terug tot in die Steentydperk gebombardeer en word die 1,5 miljoen Palestyne in die Palestynse gebiede brutaal deur die “internasionale gemeenskap” aan hulle lot oorgelaat. Die Staat van Israel, gerig deur Sionisme, het in 1948 tot stand gekom te midde van wêreldwye simpatie en die besetting van die morele hoëgrond. Teen die middel 1970’s het sy ideologie uitgedien geraak, het hy die morele hoëgrond afgestaan en sy demokratiese geloofsbriewe begin verbrand op die brandstapel van militêre selfhandhawing. In die vroeë 1990’s het die leierskap van Israel ’n proses van demokratiese skikking met die Palestyne begin. Ongelukig kon die Israeli’s hulself nie so ver kon kry om die Palestyne hul eie staat te gun nie. Nadat Israel in die Sesdaagse Oorlog 11 lande verslaan het, kon hy tot dusver nie Hisbolla met sy leër van 6 000 ondersit nie, en daarmee saam is die mite van sy militêre gesag ook aan flarde: as jou militêre oefening tot die bombardering en teistering van Palestynse burgerlikes beperk is, boet jy kennelik behoorlike gevegsvaardigheid in. Die Staat van Israel behoort hom te hou by die VN-resolusies oor die konflik met die Palestyne, en die Palestyne behoort elke moontlike demokratiese vorm van steun in die verwerwing van hulle staat op grond van volgehoue vrede met Israel te kry. Hoe gefrustreerd die Palestyne ook al is, word hulle saak geensins gedien deur vuurpyle op Israel se burgerlikes te laat reën nie – om die waarheid te sê verswak dit net die posisie van die Palestynse burgery, afgesien van die feit dat dit gewoon immorele taktiek is. Want uiteindelik word vrede naas die waarheid die slagoffer van hierdie katastrofe.
_________ (1) Mail & Guardian, 28 Julie, 2006, “Liquidation of the Palestinian Nation”. (2) Lees Alain Gresh se artikel in hierdie uitgawe op p.1 (3) Ibid. (4) “Backstage at the crisis” |