|
||||
Johann Rossouw
*Redakteur
Op ietwat ongebruiklike wyse begin ek graag hierdie artikel, waarin ek veral met Moeletsi Mbeki se openingsbydrae tot hierdie reeks (1) in gesprek tree, met ’n persoonlike staaltjie: In 1990, tydens my tweede jaar as student, met die belofte van ingrypende politieke, ekonomiese en maatskaplike veranderinge in die lug, gesels ek eendag met ’n swart vrou wat as huishulp werk by mense waar ek loseer. Die presiese besonderhede van die gesprek kan ek vandag nie meer onthou nie, en miskien sê die staaltjie meer van my destydse politieke naïwiteit as van enigiets anders, maar wat ek helder onthou is die gewaarwording wat ek in die gesprek gekry het, naamlik dat die grootste begeerte van die vrou voor my nie was om ’n ander land uit te vind nie, maar gewoon om aan die bestaande stelsel deel te kry en die destydse (wit) heersersklasse na te boots. Te midde van my groeiende destydse besef van die mate waarin Afrikaners self hoofsaaklik maar nie volledig nie uiteindelik dekades na 1948 die tipiese pad van Westerse modernisering gestap het eerder as om ’n ander vorm daarvan uit te vind, was hierdie gewaarwording in gesprek met die vrou voor my erg neerdrukkend. Natuurlik kon hierdie enkele vrou met haar gebrek aan formele opleiding nóg instaan vir alle swartmense, nóg sonder meer die grondlegger van ’n nuwe Suid-Afrikaanse politieke filosofie word, maar wat sedertdien vir my net op al hoe groter skaal duidelik bly word het, is die mate waarin die voormalige slaaf – om nou Hegel se taal te gebruik – nie anders as die voormalige meester wil wees nie, maar soos hy. Anders gestel, die mimetiese of nabootsende begeerte by die voormalige slawe is ’n fenomenale krag in die huidige Suid-Afrikaanse politiek, en dit is miskien al so sedert die eerste ontmoeting tussen inheemse en die uitheemse vanaf die middel van die 17de eeu in Suid-Afrika. Oor die mimetiese begeerte in die Westerse wêreld is al baie geskryf, maar minder oor hoe dit in die (voormalige) koloniale wêreld funksioneer. In navolging van Moeletsi Mbeki se gevoeligheid vir plaaslike variante van die globale kapitalisme, kan ek ook nie anders nie as om aan te voer dat die mimetiese begeerte op verskillende maniere in verskillende (voormalige) kolonies manifesteer. In die Suid-Afrikaanse geval is dit ongetwyfeld so dat die aanvang van die invoer van die heersende Westerse tegniese bestel tweehonderd jaar voor die res van koloniale Afrika, en die versnelling wat hierdie invoer vanaf die Britse kolonisasie van 1806 gekry het, Suid-Afrika voor die volgende boeiende paradoks geplaas het: terwyl die materiële verwoesting waaraan swart Suid-Afrikaners blootgestel was, moontlik nie so erg was soos in sommige ander gekoloniseerde Afrikalande nie, was die simboliese verwoesting moontlik van die ergste. Hierdie graad van simboliese verwoesting – waarmee ek verwys na die skade aan inheemse tradisies, wêreldbeskouings, praktyke, tegniese stelsels, ensovoorts – was nie soseer toe te skryf aan die groter wil daartoe by die koloniste nie, maar kan verstaan word as newe-effek van die verskerpte en verhoogde invoer van Westerse tegniek na Suid-Afrika soos dit veral vanaf die ontdekking van goud en diamante in die 1860’s en 1870’s beslag gekry het – die datum wat Moeletsi Mbeki per implikasie aandui as die geboortejare van die Mineraalenergiekompleks (MEK). Die verwoesting wat uit die invoer van Westerse tegniek vir inheemse gemeenskappe gespruit het, kan verstaan word as ’n gevolg van die feit dat tegniek nie net ’n vorm van uitvoering (execution) is nie, maar ook ’n hele simboliese orde beliggaam. Om dit met ’n voorbeeld te illustreer: hoewel ’n besem en ’n stofsuier min of meer dieselfde funksie het, verskil die wêrelde waaruit hulle gebore is radikaal van mekaar. Danksy die groter doeltreffendheid en kapitaal onderliggend aan die ingevoerde Westerse tegniese stelsel, is inheemse tegniese stelsels en simboliese wêrelde oral waar hulle die ingevoerde stelsel ontmoet het, verinneweer en verneder. Aangesien hierdie botsing veral plaasgevind het in die gebiede wat vandag die belangrikste stede van Suid-Afrika uitmaak, neem die graad van ruïnering en vernedering af namate ’n mens dieper die platteland in beweeg – wat dan ook vandag nog die gebiede uitmaak waar premoderne tradisies in wisselende mate voortbestaan. (As ek die woord premodern gebruik, is dit hoegenaamd nie met ’n konnotasie van agterlikheid nie, inteendeel.) Dit is dan die spesifieke aard en omvang van die botsing tussen Westerse en inheemse tegniese stelsels, en die gepaardgaande vernietiging van inheemse selfrespek in die aangesig van die koloniseerder wat die inheemse gemeenskappe met ’n allesoorheersende drang om die herwinning van selfrespek gelaat het. Die herwinning van selfrespek kan in so ’n situasie waarin meester en slaaf teenoor mekaar staan op een van twee maniere geskied: óf die slaaf moet die meester in sy eie spel klop en daarop verbeter, óf die slaaf moet sy eie spel skep wat die meester agterlaat of minstens relativeer. Dit is my betoog dat die eerste strategie tot nou toe gevolg is deur Suid-Afrika se inheemse gemeenskappe in hul anti-koloniale versetstryde, soos dit veral in eers Afrikanernasionalisme en later Afronasionalisme beslag gekry het. Dit is ook my betoog dat die tweede strategie nog nooit as hoofstrategie deur die inheemse anti-koloniale bewegings ingespan is nie, en dat as dit oor transformasie gaan, daar geen sprake van transformasie kan wees sonder om die tweede strategie te volg nie. Moeletsi Mbeki se ontleding van die ontstaan, opkoms en selfhandhawing van die MEK is myns insiens ’n belangrike en deurtastende bydrae tot die verstaan van moderne Suid-Afrika, maar sy ontleding vra om enkele kwalifikasies en aanvullings as daar tot ’n werklike moontlikheid van transformasie gekom moet word. Die kern van Moeletsi Mbeki se betoog is om Suid-Afrika aan die hand van ekonomiese magskonstellasies te ontleed: op klassiek Marxistiese wyse word die ekonomie as die finale terrein van vryheid verstaan, en die stryd om vryheid as ’n ekonomiese een. Daar kan geen twyfel oor die sentrale belangrikheid van die ekonomie in die stryd om vryheid wees nie, maar vryheid is nie uitsluitlik (of selfs hoegenaamd) ’n ekonomiese begrip nie. Eweneens kan die oormatige klem op die ekonomie ons blind maak vir van die ander bepalende faktore wat Suid-Afrika steeds vandag in ’n wesenlik koloniale situasie hou, en waar die vernaamste inheemse versetstrategie dié van nabootsing eerder as heruitvinding is. Dit sou natuurlik naïef wees om nabootsing en heruitvinding as twee volkome afsonderlike strategieë te hanteer, en in die werklikheid werk dit ook nie so nie. Nietemin is die gevaar van ’n strategie van nabootsing heel eenvoudig, naamlik koöptering, veral omdat die slaaf nie sonder meer die meester in sy eie spel klop nie – hoewel ons weet dat dit vandag in die sportwêreld gebeur as ons maar net kyk waar, sê, Engeland in sokker teenoor Brasilië staan, of teenoor Nieu-Seeland in rugby! Dat die verskillende inheemse anti-koloniale versetbewegings, waarvan Afrikaner- en Afronasionalisme die belangrikste was, uiteindelik op koöptering uitgeloop het, word dan ook uitstekend deur Moeletsi Mbeki aangetoon. Veral die transformasievergelyking wat hy uitlig, bevestig dat die koöptering van die Afronasionaliste deur die MEK vandag in volle swang is. Ter wille van volledigheid herhaal ek weer hierdie vergelyking, naamlik parlementêre demokrasie + globalisering + SEB (Swart Ekonomiese Bemagtiging) = transformasie. Onderliggend aan die enorme energie wat eers aan meerderheidsbeheer oor die parlement en die staat bestee is, en nou by wyse van SEB oor die plaaslike tak van die globale kapitalisme bestee word, is die versugting van die voormalige slaaf om die meester in sy eie spel te klop en daarop te verbeter (soos dit byvoorbeeld in Suid-Afrika se besonder hoë internasionale ambisies beslag kry). Wanneer daar oor die staat en die plaaslike tak van die globale ekonomie gepraat word, word kodes soos demografiese verteenwoordiging ingespan om die aspirasie te verwoord van ’n staat en ’n ekonomie wat die nuwe meesters nog beter sal dien as die vorige (en steeds bestaande) meesters (soos beliggaam in die MEK). En inderdaad is dit dan nie vreemd nie dat die megalomanie en materialisme wat Afrikanernasionalisme in die laaste twee dekades van die vorige bedeling van alle voormalige waardigheid gestroop het, dan nou ook reeds besig is om nog meer verwoestend op Afronasionalisme in te werk – met geen teken dat die grondliggende produksiepatrone in die ekonomie aan die verander is nie. Nog minder lyk dit asof die staat as magsinstrument in die heersende globale ekonomiese klimaat ingespan kan word deur die Afronasionalistiese elite om die MEK koud te sit – soos Moeletsi Mbeki skryf, is die staatselite kwesbaarder as die MEK, omdat die MEK nuwe partye kan steun om die huidige staatselite uit te knikker. Die feit dat die hoofstrategie onderliggend aan die heersende transformasievergelyking dan nabootsing eerder as heruitvinding is, verklaar dan ook waarom die woord “toegang” vandag met fanatieke ywer soos ’n mantra deur die Afronasionalistiese elite herhaal word. Die harde waarheid van Afronasionalisme is dat hy net soos sy voorganger, Afrikanernasionalisme (waarteen hy hom naas die MEK verset het), eerder wil naboots as wil nuutskep. Daar is ’n tragiese gebrek aan politieke verbeelding in Afronasionalisme, en die versugting om op ’n waardige manier weer “ons” te kan sê, word reeds vervang deur krete van “my, my, my”… In hierdie klug is die grootste narre daardie selfontkennende Afrikanerintellektuele en -sakelui wat armoedig aan verbeelding en versmorend aan hulle historiese skuld dink dat om ’n paar swart en bruin gesigte na die vleispotte van Egipte te nooi, “progressief” of “regstellend” is. Die skouspelagtige dekadensie en denkarmoede wat hierdie narre vandag beliggaam, is om van skaam te word, aangesien dit nooit by hulle opkom om die grondliggende instellings van die Suid-Afrikaanse politieke bestel, naamlik die staat en die MEK, grondig en krities te ondersoek nie. Nuwe vlieëniers in atoombomwerpers gaan nie help om landerye te bewerk nie. In die lig daarvan dat die onderliggende aanname van transformasie vandag eerder die vergroting van die stelsel as die wesenlike omvorming daarvan is, wil ek as eerste aanvulling tot Moeletsi Mbeki se analise klem lê op die rol wat die staat as instelling sedert die Britse kolonisasie in Suid-Afrika speel. In Moeletsi Mbeki se taal gaan die geboorte van die moderne Suid-Afrikaanse staat die geboorte van die MEK met sowat 60 jaar vooraf, maar dit is belangrik om te verstaan dat die Suid-Afrikaanse staat en die MEK albei onderlê word deur die koloniale logika, waar ’n uitheemse minderheid ’n inheemse meerderheid oorheers en die winste van die oorheersing uitvoer. Dit is eweneens belangrik om daarop te let dat die MEK, veral as dit by die grootskaalse tegniese modernisering van SA kom, dit nooit sonder die staat sou kon doen nie. Een voorbeeld: die eerste treinspoor in SA word in die vroeë 1860’s gebou voor die ontdekking van goud en diamante, maar die spoornetwerk word aansienlik daarna uitgebrei en voltooi (c.1905 deur Milner, die eintlike grondlegger van die moderne SA staat, danksy die feit dat hy die gebied wat vandag as SA bekendstaan in een entiteit omvorm het deur middel van ’n nasionale spoornetwerk). Veral as dit by die hef van belastings kom, is die staat aansienlik versterk deur die opkoms van die MEK, maar die staat kon nog nooit ’n alternatiewe ekonomie naas die MEK tot stand bring nie, ofskoon die Afrikanernasionaliste se pogings in dié verband met die parastatale vandag ewe handig deur die Afronasionaliste gebruik word om hul ondersteunerskorps te paai en die illusie van breedgrondige bemagtiging te skep. Tans is die verhouding tussen die staat en die MEK paradoksaal tegelyk intiemer en meer gespanne as ooit, en hierdie groeiende naburigheid moet deeglik verreken word in die nadenke oor transformasie. Maar hoe het die MEK daarin geslaag om oor meer as 130 jaar sy magsbasis te behou? Hier wil ek verdere aanvullings tot Moeletsi Mbeki se analise aan die hand doen. Ek wil dit doen vanuit die bewering dat die enkele belangrikste faktor in Suid-Afrika se politieke ekonomie afstand is: wie aan afstand uitgelewer is, is uitgelewer aan onveiligheid, swak dienste, swak onderwys, min kapitaal, ensovoorts. Omgekeerd is dit ewe waar dat wie afstand beheer, Suid-Afrika beheer: presies dieselfde politieke aspirasie het Paul Kruger se droom van ’n spoorlyn na die destydse Lourenço Marques (Maputo) onderlê as wat tans die geval met die ANC se droom van internet vir almal is. Die twee vernaamste maniere waarop afstand in Suid-Afrika geneutraliseer en beheer word, is vervoer en kommunikasie. Die moderne Suid-Afrikaanse vervoer- en kommunikasienetwerk se grondslag is gelê tussen die 1860’s (aanvang van die spoornetwerk gevolg deur die telegraaf- en posnetwerk) en voltooi teen die 1960’s (voltooiing van die motorpadnetwerk, vestiging van ’n nasionale elektroniese uitsaaidiens). Elke golf van modernisering van hierdie netwerke het gepaardgegaan met nuwe politieke beheer: vanaf Britse kolonisasie tot 1948 tot 1994. Wat egter konstant in hierdie golwe van tegniese modernisering bly, is twee keiharde onderliggende aannames: 1) dat die inheemse die uitheemse moet naboots (eers Groot Brittanje, vandag die VSA, maar wesenlik dieselfde Anglo-Amerikaanse wêreldbeskouing met sy radikale individualisme) 2) dat die inheemse groter toegang tot die stelsel moet kry, sonder om die stelsel self wesenlik na die beeld van die inheemse te probeer heruitvind. Die rede waarom hierdie twee aannames die afgelope 130 jaar konstant bly, is dat die MEK in sy hart gedra word deur ’n bepaalde Anglo-Amerikaanse subetniese groep (wat nie noodwendig wit is nie, maar dit tot nou toe hoofsaaklik was). Ons sal nooit die binnewerking van die MEK verstaan nie, as ons nie verstaan dat die MEK homself ook onderskei in sy formidabele vermoë om homself intern van geslag tot geslag oor te dra (waarin sekere privaatskole en universiteite bepalend is), en ekstern van geslag tot geslag die potensiaal vir weerstand teen hom weg te kommunikeer, en wel danksy sy enorme aandeel in die moderne Suid-Afrikaanse kommunikasiebedryf. In sy kommunikasie na buite was en is die MEK enorm doeltreffend in sy ondermyning en verspotmaking van inheemse tradisies en gemeenskappe, tensy dié as skadelose poskaartbeeld van Suid-Afrika se veelgeroemde diversiteit ingespan word. Hierdie ondermyning en verspotmaking lei op sy beurt tot ’n voortslepende krisis in die geledere van die uitgeslotenes, naamlik ’n toestand van simboliese ellende, soos Bernard Stiegler dit omskryf. Omdat die uitgeslotenes – dit is die meerderheid inheemse gemeenskappe in die land – nie wesenlik deelneem aan hierdie stelsel nie en deurgaans vervreem word van hul eie tradisies, word hulle gedompel in ’n permanente toestand van onvervulbare begeerte. Deur die daaglikse massiewe kommunikasie van die glans en mag van die MEK, veral deur TV, word die meerderheid Suid-Afrikaners vandag soos die anekdotiese man wat nie van sy Viagra-geïnduseerde ereksie kan wegkom nie. Dit is hierdie konstant geprikkelde en tegelyk onvervulbare begeertes wat oplaas mense dompel in enorme psigiese pyn, wat nie anders kan nie as om op geweld uit te loop. Dit is wanneer mense nie kan deelneem aan wat konstant as begeerlik voorgehou word nie, dat hulle uiteindelik gewelddadig toegang daartoe probeer kry – en die kwesbare middelklas die teiken van hulle woede word. Hieruit kan ons dan sien dat mimetiese begeerte in die kolonie Suid-Afrika op massiewe skaal deur die MEK gestimuleer word met die oogmerk om verset daarteen te neutraliseer, maar met die onbedoelde effek van groeiende geweld. (Al daardie gewillige, bruikbare transformasie-agente van die huidige Suid-Afrika kan gerus tob oor die mate waarin die geweldsmisdaadkrisis in Suid-Afrika ’n durende en tans verskerpte kenmerk van die koloniale staat en die MEK is – 1994 ten spyt.) Maar wat is transformasie dan as dit nie nabootsing en koöptering is nie? By die waag van ’n antwoord op hierdie onontkombare en oudste historiese Suid-Afrikaanse vraagstuk, lyk dit my asof die enigste alternatief vir ware verandering kan kom uit die reserwes van die uitgeslotenes of die dusver nog niegekoöpteerdes. In gewone Afrikaans: die gemeenskappe van Suid-Afrika met hulle inheemse tradisies en plaaslike maatstawwe van wat selfstandigheid, vryheid of demokrasie kan beteken. In aansluiting by en in aanvulling van Moeletsi Mbeki, wil ek voorstel dat Suid-Afrikaanse demokrate die volgende transformasievergelyking nastreef: kultuurpolitieke outonomie + ekonomiese selfstandigheid + ’n plurale (eerder as ’n eenheid)staat = transformasie. Hoe kan hierdie ideaal verwesenlik word? Dit is ’n omvattende onderwerp vir ’n ander artikel, maar ek gee graag enkele riglyne: 1) Daar sal geen kultuurpolitieke outonomie of ekonomiese selfstandigheid sonder die voortgaande modernisering van Suid-Afrika se inheemse tale wees nie. Taal is nie net die werktuig van deelname aan die politiek of die ekonomie nie, dit is ook die toegang tot ’n inheemse wêreldbeskouing uit ons tradisies. Die voortslepende verdrukking van die inheemse tale deur die hegemoniese taal van die heersersklasse (normaalweg Engels, maar eens ook Afrikaans) is bepalend in die onvryheid van moderne Suid-Afrika. 2) ’n Versetstryd wat hom dit ten doel stel om bloot die Suid-Afrikaanse staat oor te neem en te vergroot, is gedoem om te faal. Die oogmerk behoort te wees om die Suid-Afrikaanse staat radikaal te hervorm aan die hand van die mate waarin dit finansiële en simboliese kapitaal in die gemeenskappe van die land se hande stel, eerder as om hierdie kapitaal te vernietig of uit te voer. 3) Die radikale hervorming van die Suid-Afrikaanse staat sal nie kan plaasvind bloot op grond van die droom van ’n (sosialistiese of ontwikkeling-) staat wat bloot meer regverdig en verspreidend is nie, maar eers as gemeenskappe as die vernaamste agente van die politieke ekonomie erken word. 4) Die MEK is struktureel te magtig om dit suiwer ekonomies te probeer omvorm. Die enigste alternatief is om ’n radikale alternatiewe kultuurpolitiek met plaaslike inhoude te vestig. Hier sal die totale herdinking van die openbare media ’n eerste stap wees, want solank as wat verstedelikte, individuele verbruikerskap die hoofbeeld van die openbare media is, sal Suid-Afrika ’n koloniale agterplaas van die neoliberale wêreldwanorde bly. 5) Burgerskap moenie eerstens van ’n staat nie, maar van ’n gemeenskap wees. Waar dit nie moontlik is nie, moet deelname die sentrale deug wees, want burgerskap is vandag in Suid-Afrika ten beste ’n kliëntifikasie en pasifisering van die meerderheid Suid-Afrikaners. 6) Die basis van ’n ander Suid-Afrika is nie ’n “wêreldklasekonomie” of dergelike “wêreldklas”-kategorieë nie, maar ’n universeel gerespekteerde plaaslike ekonomie en simboliese orde wat die mense van hierdie land, eerder as die aandeelhouers, eerste stel. Om wêreldklas te wees, sal nooit deur die nabootsing van elders kan gebeur nie, maar slegs deur die heruitvinding van hier (in gesprek met elders). Alle “wêreldklaslande” gryp die verbeelding aan, omdat hulle eerstens plaaslik iets universeels kon beliggaam. Om saam te vat: die voortgaande vernedering van die meerderheid Suid-Afrikaners – ryk en arm – hetsy simbolies of materieel (of albei) het nie verminder nie, maar vermeerder. Solank as transformasie bedink word as nabootsing en toegang, sal die krisis vererger. Eers wanneer transformasie bedink word as heruitvinding en alternatiewe skepping, sal die krisis beëindig word. Hierdie stryd het maar pas begin – tensy Suid-Afrika institusioneel gedoem is om soos Rusland steeds deur die tsaar geregeer te word. Die keuse is ons s’n.
_________ (1) Moeletsi Mbeki, “Die wit wortels van SEB”, Die Vrye Afrikaan, Vrydag 19 Mei, 2006, http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=572 |