|
||||
Marlene Verhoef * Direkteur Taalsake, Noordwes-Universiteit Dis
Albert Einstein wat na bewering gesê het: “We cannot solve the problems we have
created with the same thinking that created them” (1). Dit kan beskou word as ‘n wenk hoe daar op nuwe en kreatiewe
maniere gekyk behoort te word na ‘n eietydse en relevante manier vir
taalbestuur by Suid-Afrikaanse universiteite.
In
hierdie reeks oor die voortbestaansmoontlikhede van Afrikaans en van Afrikaanse
universiteite binne die huidige Suid-Afrikaanse tersiêre bestel is dit deur
verskillende skrywers gestel dat Afrikaans se toekoms as hoëronderwystaal
taamlik uitsigloos lyk.
Hierdie
artikel wil egter betoog dat, as die aktiewe bestuur om die voortbestaan van
Afrikaans as hoëronderwystaal te verseker, nie wesentlik deel word en bly van
die toekoms van die nasionale transformasieagenda van die hoëronderwyslandskap
nie, dan is haar kans op oorlewing waarskynlik maar skraal. As dit nie gaan om
die innoverende bestendiging van Afrikaans se posisie binne ‘n groter
meertalige Suid-Afrikaanse werklikheid nie, waar dit om méér gaan as die
somtotaal van die dele – naamlik die vestiging van ‘n nuwe taalinklusiewe
institusionele identiteit by tersiêre instellings – dan verdien die meertalige
samelewing die hegemonie van Engels wat oor hom gaan spoel.
Ondanks
die gunstige de jure-bepalings oor
die totstandkoming van ‘n hoëfunksie-meertalige gemeenskap kan daar na baie
kante toe geredeneer word oor redes hoekom die afgelope tien jaar sy merk
gelaat het op die ontnugteringsvlakke van veral Afrikaanssprekendes en die
tanende de facto-posisie van
funksionele meertaligheid.
Wanneer
daar egter, daarteenoor, strategies en besinnend vanuit pragmatiese hoek gekyk
word na die praktiese of instrumentele waarde van taal en daar gekapitaliseer
word op die kommoditeitswaarde hiervan (natuurlik met verrekening van die eise
van die makro- en mikro-tersiêre omgewing waarbinne so ‘n taal haar sê moet
sê), dan kom al die winste van die metafore uit die bedryfswêreld ook tot diens
van taalbestuur. Dit is dan dat die begrip ‘funksionele meertaligheid’ soos
PanSAT dit definieer (2) teen die agtergrond
van die instelling se eie visie-, missie- en waardestelling geïnterpreteer word
en as werksdefinisie vir taalbestuur optree.
Dit
is teen hierdie agtergrond dat kort-, medium- en langtermyn strategiese
doelwitte vir die ontwikkeling van ‘n nuwe taalinklusiewe institusionele
taalidentiteit gekonseptualiseer en onderhandel word en in haalbare aksiestappe
omgeskakel word, nogmaals gekonsulteer word en aan die hand van toepaslike projekbestuursbeginsels
inbestuur word, terwyl daar weer en weer met verskillende belanghebbendes
gekonsulteer word.
Die
voorafgaande paar paragrawe gee in ‘n neutedop weer wat die mandaat van die
Institusionele Taaldirektoraat aan die Noordwes-Universiteit (NWU) is. Die NWU
het op 1 Januarie 2004 tot stand gekom na ‘n samesmelting tussen die voormalige
Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en die University of
the North West, met die gepaardgaande inkorporering van die Sebokengkampus van
die
Vista-Universiteit. Hierdie samesmelting volg na die kennisgewing van
samesmelting en inkorporering wat deur die Minister van Onderwys ingevolge
Artikels 23(1) en 24 van die Hoëronderwyswet (Wet 101 van 1997), soos gewysig,
aangekondig is.
Hierdeur
word die voormalige PU vir CHO die enigste van die vyf sogenaamd histories
Afrikaanse Universiteite wat deur ‘n volskaalse samesmelting en inkorporering
van drie universiteitskampusse tot ‘n nuwe multikampus hoëronderwysinstelling
transformeer, naamlik die Noordwes-Universiteit met kampusse in Mafikeng,
Potchefstroom en Vanderbijlpark.
Dit
is dan ook die transformasiekader waarbinne die instelling funksioneer wat die
taalbestuur by die NWU bepaal. Hierdie transformasie, saam met die
Regeringskennisgewing 855 (21 Junie 2002) en die Nasionale Taalplan vir Hoër
Onderwys (November 2002), is die uitdaging en stel die parameters vir die
manier waarop taalsake by die NWU benader word. Waar Regeringskennisgewing 855
dit duidelik in die vooruitsig stel dat alle toekomstige nuutsaamgestelde
(lees: merged)
hoëronderwysinstellings se aanvaarding van nuwe beleids-, prosedure- en
struktuurwysigings gedefinieer word teen die agtergrond van die nuwe instelling
se gesamentlike etos en kultuur, stel die Taalplan vir Hoër Onderwys as
strekdoelwit die gelyktydige ontwikkeling van ‘n werklik meertalige
hoëronderwysomgewing waar overt ruimte gemaak word vir die ontwikkeling van
voorheenbenadeelde inheemse tale vir hoëronderrigdoeleindes. Daarby stel beide
dokumente dit duidelik dat die sogenaamde histories Afrikaanse universiteite
behoort toe te sien dat onderrigmedium nie as hindernis vir toegang optree nie,
veral nie by hoëkosteprogramme met beperkte studentetoegang nie en impliseer
hierdeur dat daar kreatiewe oplossings gevind moet word om hierdie doelwitte te
verwesenlik.
Die
grondslag vir die gesamentlike taalstrategie by die NWU is reeds in 2003
gevestig in die tydperk wat die samesmelting voorafgegaan het met die
totstandkoming van ‘n gesamentlike interuniversitêre taaltaakspan. Hierdie
taakspan het ooreengekom op ‘n gesamentlike gedragskode en die beginsel van
funksionele meertaligheid aanvaar nog vóór die totstandkoming van die NWU in
2004. In 2005 is ‘n Institusionele Senaatstaaltaakspan in die lewe geroep. Die
taakspan bestaan uit verteenwoordigers van die verskillende bedryfstrukture van
die NWU. Die opdrag is om ʼn institusionele taalbeleid, binne die raamwerk van
die Nasionale Taalplan vir Hoër Onderwys en die Statuut vir die NWU, op te
stel, met belanghebbendes te onderhandel en die beleid ingevolge Art 27(2) van
die Hoëronderwyswet vir goedkeuring aan die Senaat voor te lê. In uitvoering
van die opdrag is ‘n institusionele taalbeleid wat (i) buigsaam en funksioneel
is, (ii) poog om die taalwanbalanse van die verlede reg te stel, (iii) die
bevordering van meertaligheid in die oog het, en (iv) toegang, integrasie en
eienaarskap bevorder in Mei 2006 by ‘n vergadering van die Institusionele
Senaat ter tafel gelê en aanvaar.
Die
taalbeleid is die resultaat van ‘n omvattende taalkonsultasieproses. Dit het
onder meer ´n institusionele taaloudit wat in September 2005 uitgevoer is,
ingesluit. Hiertydens is volledig bestek opgeneem van die taalwerklikheid,
taalbehoeftes en taalhoudings van meer as 6 000 interne belanghebbendes op al
die kampusse en bedryfsvlakke van die NWU (voorgraadse, nagraadse studente en
akademiese sowel as administratiewe personeel).
Tans is die taakspan besig om die institusionele taalbeleid in ‘n institusionele taalplan om te skakel en stapsgewys met belanghebbendes te konsulteer. Vanweë die radikale verskille in die taaldemografiese samestelling van die onderskeie kampusse bly dit ‘n uitdaging om ‘n enkele stel taalbeplanningsbeginsels uit die taalbeleid te abstraheer wat op eiesoortige manier op die verskillende kampusse geïmplementeer sal kan word. In die nastreef van die universiteitsmissie om op die voorpunt te bly staan van die generering van kennis en innovasie, is ‘n institusionele taaldirektoraat by die NWU gevestig. Die direktoraat is verbind tot die skep van ‘n taalstabiele funksionele meertalige bestel sodat ‘n bemagtigende omgewing gevestig kan word vir die versterking en verbetering van die universiteit se kernbesigheid. Een van die maniere waarop funksionele meertaligheid in die praktyk gevestig kan word, is die lewering van klaskamertolkdienste. Daar is in 2004 op klein skaal aan die Potchefstroomkampus begin met klaskamertolking as ‘n aparte afleweringsmodus naas parallel- en dubbelmediumonderrig in sommige van die sogenaamde skaars en duur onderrigprogramme wat ‘n beperking op studentegetalle plaas. In teenstelling met die dienslewering in 17 periodes per week binne die ingenieursprogram in 2004, word daar tans tolkdienste in 205 periodes per week in vyf onderrigprogramme gelewer en is die vooruitsig dat dit tot meer as 350 periodes per week in die tweede semester van 2007 sal vermeerder. Klaskamertolkdienste behels op basiese vlak die beste moontlike akkommodasiegeleenthede tussen gespreksgenote met verskillende taalbehoeftes. Dit gebeur in werklike tyd in ‘n enkele ruimte vir sover dit die onmiddellike fasilitering van kommunikasie moontlik maak tussen sprekers en luisteraars wat verskillende tale praat. Wat in die klaskamerpraktyk by die universiteit gebeur, is dat draagbare fluisterolktoerusting wat maklik van lokaal tot lokaal rondgedra kan word, gebruik word. Die tolke sit in die klas tussen die studente, en, terwyl die dosent die lesing in ‘n sekere taal gee, word die lesing onmiddellik in ‘n ander taal getolk. Deur hierdie afleweringsmodus is dit moontlik om leerders met verskillende taalbehoeftes tegelykertyd, in een groep, te akkommodeer sonder die nodigheid om voorsiening te maak vir klasse vir verskillende taalgroepe Dit word algemeen aanvaar dat klaskamertolkdienste, soos dit op die Potchefstroom- en Vaaldriehoekkampusse van die NWU gelewer word, innoverend en eiesoortig is, omdat dit nêrens (nasionaal of internasionaal) op hierdie skaal gebied word nie. Daarom is daar van die heel begin af besondere klem geplaas op die noukeurige ondersoek en monitering van die hele proses. Die volgende drie grafieke wat longitudinale navorsing oor drie jaar aan die Potchefstroomkampus weergee waar onderrig in Afrikaans gegee word en in Engels getolk word, gee ‘n samevatting van die persepsies van eindgebruikers van 2004 tot 2006 weer oor die haalbaarheid en wenslikheid van tolkdienste in universiteitsklasse. (Let op, die steekproefgrootte vir al drie grafieke stem ooreen, naamlik: 2004:38; 2005:52; 2006:88): Grafiek 1: Tolking as afleweringsmodus in die onderrigleergeleentheid by universiteitsklasse Grafiek
2 : Die ergonomie van tolking in die universiteitsklas
Grafiek
3: Die haalbaarheid van klaskamertolking as ’n manier om meertalige HO-omgewing
te fasiliteer
Dit word uit die voortgaande persepsiemetings oor die tolkdiens duidelik dat daar oor die tyd nie gebruikersweerstand teenoor hierdie afleweringsmodus ontstaan het nie; dat die diens nie buitengewone negatiewe inbreuk maak op leerders se begripsvorming in onderrigsituasie nie; dat dit nie steurend/hinderlik ervaar word nie en as ‘n haalbare manier gesien word om diversiteit te help bestuur. In ‘n land met 11 amptelike tale wat elkeen ‘n kans gebied behoort te word om as hoëronderwystale te ontwikkel te midde van gestrenge begrotingsbeheer vir die tersiêre sektor, is dit duidelik dat kreatiewe oplossings gesoek behoort te word om die behoeftes van universiteitsleerders met verskillende taalbehoeftes te balanseer. In hierdie verband het die klaskamertolkdiensloodsprojek by die NWU tot nou toe voldoende empiriese bewys gelewer dat dit ‘n haalbare oplossing bied. Dit het voorts oor die afgelope twee jaar duidelik geword dat klaskamertolkdienste bekostigbaarder en haalbaarder op die lang termyn is as parallel-mediumonderrig en dat dit beter resultate bied as dubbelmediumonderrig. Benewens die feit dat tolkdienste ruimte vir speling laat op die universiteitsinfrastruktuur in so ver dit nie die rooster belas nie, beteken dit ook dat dosente nie nodig het om lesings te herhaal nie – nie by wyse van aparte lesings in verskillende tale nie, maar ook nie by wyse van die herhaling van lesinhoude in twee tale in een lesing nie. Deur die tolkdienste word groepe in al die klasse op die rooster bymekaar gehou, wat op sy beurt die eenheidsgevoel in klasgroepe, wat gewoonlik met parallelmediumonderrig verlore gaan, behou. Klaskamertolkdienste bied dus ‘n geleentheid aan die instelling om op aktiewe manier te streef na eenheid te midde van diversiteit en na die vestiging van ‘n ware multikulturele bedeling in onderrigleer- en sosiale verband. Met betrekking tot die vestiging van ‘n universiteitsbedeling waarin die ineemse Streeksafrikatale die geleentheid kry om as hoëronderwystale te ontwikkel, is die NWU met etlike loodsprojekte onder eksperimentele omstandighede besig. Die eerste een is die insluiting van meertalige glossaria (met begrippe en definisies in Afrikaans, Engels en Setswana) in studiegidse vir eerstejaarstudente in die eerste semester.Die oorhoofse doel met hierdie projek is om leerders vir wie Afrikaans die voorkeuronderrigtaal is, maar wie se handboeke hoofsaaklik in Engels is, deur die kernbegrippe te help begelei tot Engelse begrippe. Dit help tegelykertyd die onderrigleer fasiliteer vir studente wie se voorkeurtaal Engels is, maar wat Afrikaanse klasse bywoon. Dit behoort ook ‘n bydrae te lewer tot die konseptualiseringsproses van leerders wie se huistaal Setswana is, maar wat hul leerproses in ‘n ander taal as die huistaal rapporteer. ‘n Loodsprojek is ook aan die begin van 2006 binne die Fakulteit Opvoedingswetenskappe van stapel gestuur waardeur die verwerwing van basiese taalvaardigheid in ‘n derde taal (in hierdie geval Setswana) as deel van die kernaanbod van ‘n kurrikulum gebied word. Die projek, waarby 140 eerstejaar B.Ed Grondslagfase-studente betrokke is, word onder gekontroleerde omstandighede uitgevoer, gemoniteer, beskryf en geanaliseer met die doel om verdere aanbevelings te maak oor die haalbaarheid, bekostigbaarheid en praktiese uitvoerbaarheid van die uitbreiding van sodanige module tot ander onderrigprogramme by die NWU. Oor studente se verwagting oor die vaardigheid waaroor hulle sal wil beskik na afloop van die module en soos gemeet ter aanvang van die projek, is dit duidelik dat hulle graag oor die nodige kennis en vaardigheid in Setswana sal wil beskik om op basiese vlak binne onderwyswerksomgewing te kan funksioneer. Hulle het ook verwagting dat die houdings wat hulle sal verwerf, begrip sal bring vir die diversiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing. Dit is opmerklik na afloop van die praktiese onderwyssessie waar hierdie studente in meertalige onderwysomgewings indiensopleiding ondergaan het, dat hulle behoefte aan Setswana nie werklik op die onderrigvlak lê nie, maar op die fasilitering van leer soos dit in die meta-taalgebruik na vore kom. Vervolgens is daar pas ‘n haalbaarheidsprojek aan die NWU voltooi waar die werklike koste wat tot dusver meegebring is, asook die projeksie van toekomstige koste vir die implementering van ‘n funksioneel meertalige beleid aan die NWU bepaal is. Die studie was deel van ‘n meestergraadinternskap wat deur Bedryfswiskundestudente gedoen is. Hierdie ondersoek wat op grond van ‘n sogenaamde kosteaktiwiteitsanalise (“cost activity based analysis”) gedoen is, se projeksie dui daarop dat die implementering van ‘n drietaalmeertalige funksionele taalbeleid aan die NWU waarskynlik nie die normstelling van 2% van die institusionele begroting [soos bevind deur die Departement van Kuns en Kultuur met die opstel van die Nasionale Taalbeleidsraamwerk (2003)] sal oorskry nie. Uiteindelik moet die vraag gevra word tot watter mate die verskillende projekte en aktiwiteite tot die vestiging van ‘n funksioneel meertalige bestel die NWU in staat stel om sy visie in die praktyk te laat werk. In hierdie opsig is die vestiging van ‘n inklusiewe taalidentiteit binne ‘n stabiele meertalige institusionele omgewing ononderhandelbaar. Daarom bly die oogmerk met institusionele taalbestuur om die volgende strategieë en strukture sodanig te bly balanseer dat die doelwitte so effektief moontlik bereik kan word: · Die NWU-taalstrategie behels dat die NWU die realiteite van ʼn veeltalige samelewing en ʼn veeltalige universiteitsomgewing erken. Dit het tot gevolg dat daar ruimte is vir verskillende strategieë en modelle om funksionele meertaligheid binne die oorkoepelende veeltaligheids-konteks te implementeer. · Dié taalstrategie gee aanleiding tot ‘n taalbestuursbenadering wat breedweg beteken dat (i) daar rekening gehou word met die taalwerklikheid op die verskillende kampusse van die instelling, (ii) sensitief opgetree word rakende die taalvoorkeure, taalbehoeftes en taalverwagtinge van die individue en belangegroepe by die instelling, (iii) die taalbeleid en taalplan belyn word met die eise van die makro-omgewing waarin die instelling funksioneer, (iv) die streekstale wat op die kampusse van die NWU gebruik word (Afrikaans, Setswana, Sesotho en Engels) as nasionale bate gesien word, en ʼn inkrementele en meetbare bydrae gelewer word tot die gebruik van hierdie tale as hoëronderwystale. · Hoewel Afrikaans en Engels as primêre werkstale gebruik word, sien die instelling dit as sy taak om ʼn planmatige en meetbare bydrae te lewer tot die bevordering van Setswana en Sesotho as hoëronderwystale. · Die genoemde strategie en bestuursbendering word verwesenlik deur ‘n taaldirektoraat wat ‘n institusionele fasiliteringstruktuur is. Dit gebeur in onderhandeling met die kampusbesture en in uitvoering van die onderskeie kampusbedryfsplanne. Soos reeds genoem, stel die direktoraat die NWU in staat om die algemene bestuur van taalsake op pragmatiese, planmatige en volhoubare manier te doen. Die Taalsakedirekteur tree ook op as ombudsman vir die hantering en bemiddeling van taalgriewe indien gevalle van die taalregteskendings aanhangig gemaak word. Ter wille van die afronding van die argument pas dit om af te sluit waar daar begin is, en dit is met die implikasie van wat Einstein gesê het vir die manier waarop taalbestuur in Suid-Afrika gedoen word. Vir die hantering van taalsake binne die universiteitswese in Suid-Afrika, en by implikasie in die besonder die bestuur van die toekoms van Afrikaans as hoëronderwystaal, staan dit klinkklaar dat daar nuut en anders gedink behoort te word, konsultatief beplan word en op pragmatiese manier geïmplementeer en gemoniteer word. Dalk is dit juis omdat ons vanwëe
die verlede met al sy soorte hegemonieë en linguisismes vasgevang bly sit, dat
ons soms vergeet dat die oop en nuwe Suid-Afrikaanse samelewing ‘n vrugbare
teelaarde skep en ‘n uitstekende en lewende taallaboratorium is vir mense wie
se kernbesigheid kennis en innovering is.
__________ (1) http://www.brainyquote.com/quotes/authors/a/albert_einstein.html (2) Government Gazette, vol. 407, no. 20098, 28 Mei 1999 |