blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Reeks: Wat is transformasie?: Die regstelling van regstellende aksie 2006-06-12
Neville Alexander

*Taalaktivis en direkteur van PRAESA, Universiteit van Kaapstad. Hierdie artikel is ’n geredigeerde weergawe van ’n lesing wat op 25 Maart, 2006 op die Oos-Londen kampus van die Universiteit van Fort Hare gehou is. Die volledige lesing is in Engels te lese by www.vryeafrikaan.co.za

 

Die beleid van regstellende aksie, die gelykmaak van die speelveld, verteenwoordigendheid of watter ander gepaste naam ’n mens ook al wil gebruik, is myns insiens een van die sensitiefste vraagstukke van die nuwe Suid-Afrika – nie omdat dit in enige opsig verkeerd is nie, maar vanweë die onbedoelde gevolge daarvan.

      My oogmerk hier is nie om die bedoeling of besonderhede van die beleid te kritiseer nie, al sê ek dat dit, alles in ag genome, ’n beleid is wat hoofsaaklik die opkomende swart middelklas bevoordeel en in der waarheid die oorgeërfde klasse-ongelykheid in ons samelewing verdiep.

      Ten einde my kritiek van die beleid en praktyk van regstellende aksie (RA) te verstaan, moet ’n paar belangrike begrippe en beleidsimplikasies verklaar word. Ten eerste moet ons ag slaan op die onderskeid tussen regstellende aksie en transformasie. Indien die bewoording van die Employment Equity Act, 1998 – hier geriefshalwe die Wet op Diensbillikheid (WDB) genoem – as vertrekpunt geneem word, slaan die term “regstellende-aksie-maatreëls” (affirmative action measures) op maatreëls wat —

 

... ontwerp is om te verseker dat paslik gekwalifiseerde mense uit aangewese groepe gelyke werksgeleenthede het en billik in alle beroepsgroepe en op alle vlakke van die arbeidsmag van ’n aangewese werkgewer verteenwoordig word. [art. 15, eie vertaling]

 

Omdat RA-maatreëls ’n aspek van transformasie is, is dit maklik om dit te verwar met wat ’n mens transformasiemaatreëls kan noem. Suid-Afrika is ’n land waarin transformasiemaatreëls per definisie, eerder as RA-maatreëls, nodig is om fundamentele maatskaplike verandering of “normaliteit” teweeg te bring. Prof. Sampie Terblanche (2002:27), wat die prikkelende maar enigsins kontroversiële History of inequality in South Africa geskryf het, sê die volgende oor die WDB en verwante wetgewing:

 

Although these laws have undoubtedly helped to address the legacy of apartheid and racism in the workplace, they have benefited only the aspirant African petit bourgeois, who have jobs and are members of trade unions. Unfortunately, these laws have also increased the costs of employing labour and negatively affected the growth potential of the economy (1).

 

Een van die implikasies van hierdie stelling is voor die hand liggend, naamlik die feit dat strukturele ekonomiese en maatskaplike verandering – dus transformasie, in die ware sin van die woord – noodsaaklik is om die meeste swart mense by die punt te kry waar hulle deur RA bevoordeel sal word. In ’n land met ’n reële werkloosheidskoers van ongeveer 50% is werkskepping, wat juis van sodanige strukturele veranderinge afhang, die prioriteit. Dit is dus oneerlik van regerings- en ander politieke woordvoerders om te beweer dat die skep van ’n paar duisend werksgeleenthede in ’n bepaalde sektor of die bou van ’n paar duisend huise vir mense wat voorheen in plakkersbuurte moes woon, voorbeelde van “regstellende aksie” of selfs van “swart bemagtiging” is. Dit is immers duidelik dat die term “regstellende aksie” slegs sinvol kan wees in ’n konteks van individue wat vergelykbare kwalifikasies of vaardighede het  en  waarin diegene wat tot een van die “aangewese groepe behoort”, voorrang moet kry bo ander.

      Gegee die aard van die oorgang tot ’n liberale demokrasie in Suid-Afrika is slegs die fanatieke ver-regses gekant teen die beginsel van RA, gesien as deel van die stel strategieë en beleide wat op die verwesenliking van die groter doel van historiese regstelling (redress) van onreg gemik is. Dit is egter ’n feit dat daar, vanweë die rassistiese beleide van wit opperheerssugtige Suid-Afrikaanse regimes, selfs ná tien jaar van politieke vryheid slegs ’n baie klein poel van geskoolde arbeid en ’n groot persentasie van haas onopleibare mense is, wat die gevolg is van die skade wat veroorsaak is deur die Bantoe- en ander stamgebonde onderwysbeleide van die apartheidsera. In sulke omstandighede is dit voor die hand liggend dat enige “bemagtiging”-strategie voorkeur sal moet verleen aan onderwys en (vaardigheids)opleiding, en wetgewing te dien effekte is trouens reeds sedert die laat 1990’s op die wetboek (2). Dit is egter ook ’n feit dat baie min vordering nog in hierdie opsig gemaak is. Trouens, in 2004 het die Departement van Arbeid ’n drastiese hersiening begin van die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerhede (Setas), instellings wat juis ingestel is om die vaardigheidsontwikkelingsprogram te bevorder. Hierdie proses het nodig geword omdat dié besondere benadering, op ’n paar prysenswaardige uitsonderings na, skouspelagtig misluk het. Hoewel die syfers deur regeringsverteenwoordigers betwis word, word beweer dat daar ’n uitsaksyfer van 90% is ten opsigte van leerders (vakleerlinge of kandidate vir vaardigheidsopleiding) wat geakkommodeer (gewerf) word kragtens die Seta-skema. Die beweerde gesindhede van die leerders self is miskien ’n aanduiding van hoe die skema beskou word deur ’n nuwe generasie jeugdiges wat ’n baie sterk sin van geregtigdheid (entitlement) het. Volgens Carol O’Brien, bestuurder vir kleinsake by die Suid-Afrikaanse Besigheidskamer (Sabek)—

 

… they see the learnerships as a stop-gap while they look for something else. At Sacob we find that about 25% of our learners have absconded or found other work. … There is just no commitment from the learners themselves in terms of their contracts (3).

 

On the other hand, because government has to demonstrate visible change for the better, we are faced in South Africa today with what often appears like a switchboard of square pegs in round holes, i.e., people who are simply not up to the job to which they have been appointed.

 

 

      Terreblanche (2002:447-448) verklaar ook dat hierdie tokenistiese aanstellings in der waarheid die neoliberale, minimalistiese staat in Suid-Afrika verswak. Dit is asof die regering onopsetlik die skroewe van die staatsdiens en die openbare sektor van die ekonomie losdraai deur die voorkeuraanstelling in besluitnemingsposte van “swart” mense met minder vaardighede en minder ondervinding.

      Dit bring ons by die vraagstuk van swart bemagtiging. Dit is noodsaaklik dat daar onderskei word tussen die sogenaamde swart bemagtiging (SB), spesifiek swart ekonomiese bemagtiging (SEB), en RA. Terwyl laasgenoemde vanselfsprekend in die eerste plek betrekking het op die werkende mense van die land, behels die SEB-aspek van regstelling (redress), minstens in die praktyk, gewis die hoër en middelklas. Die Suid-Afrikaanse regering gebruik trouens dikwels die begrippe “swart bemagtiging” en “swart ekonomiese bemagtiging” as ’n geriefsmiddel om die inkrementele vordering wat wel gemaak word, as ernstige “transformasie” te “verkoop”. Buiten die regering en die ANC se apologete is daar beswaarlik iemand in Suid-Afrika wat nie die feit erken dat slegs ’n dun lagie mense en, in sommige gevalle, ’n bepaalde groep invloedryke individue, ekonomies “bemagtig” word nie. In die afgelope paar maande het enkele van die meer linksgesinde lede van die regerende alliansie al hoe skerper hulle stemme laat hoor teen wat skrikwekkend baie soos handboekgevalle van die konsep “kornuitkapitalisme” in ’n Ekonomie 101-kursus begin lyk (4).

      Ironies genoeg is die skerpste kritiek op hierdie verskynsel gelewer deur Solidariteit, die voormalige eksklusief blanke Mynwerkersunie, waarvan die lede van die belangrikste begunstigdes van werkreservering onder apartheid was. Hulle stel voor dat “rather than targeting a particular race for offering the shares, they should be given to ‘low-income groups’”. Ondanks talle verskille in benadering en oriëntasie word hulle kritiek onderskryf deur die leierskap van Cosatu en ander werkersformasies.

      Volgens die regering se eie evaluering van die uitwerking van tien jaar van bemagtigingsmaatreëls was ’n skrale 13% van die “topbestuurders” en 16% van die “senior bestuurders” teen 2001 swart, terwyl die groei in die geledere van “bedrewe beroepslui” en “middelvlakbestuurders” selfs stadiger was.

      ’n Oorkoepelende evaluering van wat reeds bereik is, is moeilik vanweë die groot aantal veranderlikes wat betrokke is. Daar is egter geen twyfel nie dat die geledere van die “swart middelklas” die afgelope tien jaar soveel gegroei het dat daar (in 2004) gesê kon word, aan die hand van ’n redelike inkomstegebaseerde maatstaf, dat sowat 1,5 miljoen “swart” mense hulle sedert die laat 1980’s by die middelklas aangesluit het (5). Terselfdertyd is daar oorweldigende ooreenstemming dat verreweg die meeste armes feitlik niks by RA- of SEB-wetgewing gebaat het nie.

      Party mense met heelwat insig wat in en naby die regering beweeg, het begin vra of dit nie nou – meer as tien jaar ná die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika – tyd geword het om die beleide van RA, voorkeurverkryging en SEB in die enger vertolking daarvan te beëindig nie.

      Myns insiens is die belangriker, en trouens die histories beslissende, kwessie in hierdie hele vraagstuk van RA en SEB die onvermydelike handhawing van rasse-identiteite wat in die konseptualisering daarvan implisiet is en wat blyk uit die daaglikse uitvoering van die beleid in die praktyk. Ten aanvang in die bespreking wil ek dit duidelik stel dat wat ons van die situasie in Suid-Afrika sê, nie na die konteks van enige ander land verplaas kan word sonder sorgvuldige kwalifisering en oorweging van die heel verskillende historiese en maatskaplike dinamiek nie. Trouens, dit is juis een van my besware teen die beleid soos dit uitgevoer word, naamlik dat dit te swaar steun op ’n duplisering van die diskursiewe en sosio-ekonomiese strategieë wat in die VSA-konteks ontstaan het en wat daar in sommige gevalle reeds agtergelaat is of in ander gevalle in ’n doodloopstraat beland het.

      Dit gesê, wil ek ondubbelsinnig verklaar dat die beleid van RA en SEB soos dit vandag geïmplementeer word, ’n rampspoedige fout is en dat ons die dag sal berou dat die mense van Suid-Afrika teen wil en dank oorgehaal is om dit te aanvaar. Waarom dring ek aan op ’n standpunt wat nie in Suid-Afrika gewild is nie? Die antwoorde is eenvoudig, maar moeilik om in die praktyk toe te pas vanweë die ingewortelde rassehabitus wat sowel die konstruksie as die persepsie van die werklikheid deur verreweg die meeste Suid-Afrikaners skend.

      My uitgangspunt is, sonder om die belangrikheid van teenstand en inisiatief deur ondergeskikte groepe te ontken, dat die staat – en veral die demokratiese staat – die paradigmatiese prerogatief het, dit wil sê hy bepaal die sjabloon waarvolgens maatskaplike identiteite gevorm word.

      Sonder om hier in besonderhede te tree (6), wil ek graag ’n paar tersaaklike proposisies stel, al is dit bloot ter wille van debat.

      Eerstens is dit nie nodig om die rassekategorieë van die verlede te gebruik om RA-beleide in te stel nie. Vanweë die demografiese feit van ’n swart meerderheid in hierdie stadium van die bevolking se kulturele bewussyn sal die strategie in die Suid-Afrikaanse konteks net so doeltreffend wees en tewens presieser op die vlak van individuele begunstigdes afgestem wees indien klas of inkomstegroep as die belangrikste aandrywer van die program gebruik word. Die groot oorvleuelingsgebied tussen “ras” en “klas” in Suid-Afrika maak hierdie benadering moontlik. Bowendien sal dit dan vir alle ekonomies benadeelde individue, ongeag hulle kleur, moontlik wees om baat te vind by die programme wat uit die strategie voortspruit.

      Tweedens sal die vernederende ervaring van selfklassifikasie op grond van ras, asook die hele herhaling van die tegniese goëlery van die rasse-ideoloë van die apartheidsera om landsburgers op grond van hulle ras te klassifiseer, uitgeskakel word. In gevalle waar die monitering van verandering in demografiese terme nodig is – omdat sodanige verandering op kort- tot mediumtermyn haalbaar is – sal dit nie moeilik wees om ander maniere te vind om die feit en/of tempo van die verskuiwing aan te teken nie (7). In plaas daarvan om institusionele burokrate te onderwerp aan die ondankbare taak om soos hulle apartheidsvoorgangers te word – sonder om noodwendig “tegnieke” soos die “potloodtoets” of die toets van taalsjibbolets te gebruik – sal die monitering van die vereiste verskuiwings ’n verstaanbare en algemeen aanvaarde praktyk word. Insgelyks kan ons die taalvaardighede van mense gebruik om die regstelling van onreg op ’n organiese wyse te bevorder. Geen nuwe staatsamptenaar moet byvoorbeeld aangestel word nie, tensy hy of sy ’n bepaalde vlak van vaardigheid in een of meer inheemse Afrikataal het. Kortom, ons moet elke domein waarin regstelstappe gedoen moet word, in besonderhede bestudeer sodat ons die werklike bronne van benadeling deur die betrokke individue of groepe gely, kan identifiseer. Deur die snelskrif van “ras” te gebruik, bevoordeel ons nie net mense uit die swart middelklas ten koste van mense uit die werkersklas nie, maar veranker ons ook – al kan dit vermy word – juis die rassekategorieë wat die bereiking van die ideaal van ’n werklik nierassige demokratiese Suid-Afrika ondergrawe.

      Derdens, en sonder om enigsins die nablywendheid van maatskaplike identiteite te ontken, behoort dit vir minstens denkende staatsamptenare en politieke leiers duidelik te wees dat, as ons ooreenkom dat identiteite nie gegee is nie maar gekonstrueer word (8), ons elke geleentheid behoort te gebruik om ons mense te stuur in die rigting van die verwesenliking van die nierassige waardes vervat in artikel 1(b) van die ons Grondwet. Die erkenning van oppervlakkige verskille moet nie eens potensieel ’n hefboom vir die marginalisering of uitsluiting van enige individu of groep mense word nie. Dit is die essensie van ’n nierassige benadering tot die bevordering van nasionale eenheid en maatskaplike integrasie en kohesie. In teenstelling met hierdie insig is feitlik elke werklike RA-maatreël geneig om sodanige integrasie en kohesie te ondermyn. En laat ons dit maar duidelik sê: geen toegewings hoef vir die begunstigdes van apartheid en kolonialisme gemaak te word nie. Die beginsel van historiese regstelling bly in die huidige fase van die Suid-Afrikaanse geskiedenis die leid-ster van enige ernstige politieke of maatskaplike transformasie.

      Swart Suid-Afrikaners, hulle wat in die vorige bedeling op grond van sogenaamde velkleur onderdruk en uitgebuit is, maak die meerderheid van die bevolking van Suid-Afrika uit. Hulle beskik oor die burgerlike mag om aan te dring op nuwe maniere om watter inkome die staat ook al uit die produktiewe bedrywighede van al die landsburgers in, te verdeel en teoreties kan hulle, deur hulle beheer oor parlementêre mag, die manier waarop ons onsself identifiseer, opnuut vorm, selfs al duur dié proses geslagte eerder as dekades. Die basiese vraagstuk waarmee ons moet worstel, is die optimale verhouding tussen ons nasionale (Suid-Afrikaanse) identiteit en al die subnasionale identiteite.

 

_________

(1)  Kyk ook Terreblanche 2002:120-121.

(2)  Die belangrikste van hierdie wette is die Skills Development Act, 1998, en die Skills Development Levies Act, 1999 [nie in Afrikaans afgekondig].

(3)  Hierdie mening is veral skrynend in die lig van die institusionele visie van die Nasionale Vaardigheidsowerheid wat in Oktober 2000 geformuleer is en waarvolgens die verkryging van vaardighede deur die betrokke jongmense “… is not about the provision of diversionary activities simply to keep unemployed people active for short periods of time or about merely filling programmes offered by training providers”.

(4)  Die “Schabir Shaik-verhoor”, wat rampspoedige gevolge vir die statuur en posisie van die toenmalige Adjunkpresident van Suid-Afrika gehad het, is die konkrete voorbeeld met die hoogste profiel van hierdie verskynsel.

(5)  Kyk Bisseker 2004:19. Daar word die vraagstuk van definisies van “die middelklas” in Suid-Afrika in redelike besonderhede bespreek. Onlangse werk deur Schlemmer (2005) bevraagteken die melodramatiese syfers wat deur die populêre media rondgegooi word.

(6)  ’n Volledige ontleding hiervan kan in Alexander (2004) gevind word: Alexander, N. 2004. Brown v Board Of Education. A South African Perspective. PRAESA Occasional Paper No. 20 Cape Town: PRAESA, University of Cape Town.

(7)  So banaal soos dit mag klink, sal dit in die meeste gevalle voldoende wees om vas te stel as wat mense onder apartheid geklassifiseer was of, indien die individue te jonk is om aldus geklassifiseer te gewees het, as wat hulle ouers geklassifiseer was. So ’n benadering sal op sy allerminste die rassekategorieë problematiseer en aan die betrokke individue die ruimte bied om hulle van hierdie kategorieë te distansieer.

(8)  Soos vroeër gesê, spruit die nablywendheid van maatskaplike identiteite in der waarheid voort uit die feit dat die meeste individue nie bewus is van die sosiohistoriese dinamiek wat die identiteitsruimtes skep wat deur elke individu beset word nie. Vir die meeste individue is daar dus ’n sterk oerelement wat aan “hulle” maatskaplike identiteit gekoppel is.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=602
Artikel nagegaan:
    -