blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
Reeks: Die Afrikaanse universiteit van die toekoms: Die toekoms van Afrikaans aan ons universiteite 2006-06-12
Niek Grové

*Registrateur, Universiteit van Pretoria. Hierdie is die skrywer se persoonlike standpunt en dit verteenwoordig nie noodwendig die siening van die Universiteit van Pretoria nie.

 

Drie groepe gaan na my mening die toekoms van Afrikaans aan ons universiteite bepaal, te wete (1) die staat; (2) universiteitsrade en -besture; en (3) Afrikaanssprekendes self. Hierdie groepe se sienings en besluite sal op hulle beurt beïnvloed word deur die algemene politieke tendense en klimaat in die land.

      Die geskiedenis gee ons ’n idee van hoe universiteitsrade en -besture in die verlede die Afrikaanse saak gehanteer het. Die staat se huidige beleidsmaatreëls rondom Afrikaans (en ons ander inheemse tale) dui aan hoe die staat die pad vorentoe sien. Afrikaanssprekendes daarenteen, sal self moet besluit oor hoe belangrik hierdie saak vir hulle is en in watter mate hulle bereid is om aktief op te tree ter beskerming en uitbouing van Afrikaans.

      Kom ons neem die geskiedenis as vertrekpunt en die Universiteit van Pretoria as voorbeeld: die Universiteit van Pretoria het in 1908 as die Transvaalse Universiteitskollege sy beslag gekry. In die vestigingsjare van die TUK was die University of the Cape of Good Hope die eksaminerende instelling, en Engels vir alle praktiese doeleindes die akademiese taal. Baie studente en dosente was egter uit huis Afrikaans- of Nederlandssprekend. Soseer dat dr. F. V. van Engelenburg (van Akademie-faam) reeds in 1910 die Raad van die Universiteit versoek het dat daar, wat toetse en eksamens betref, pariteit moet wees tussen Hollands (Afrikaans) en Engels (“equality of languages in the examinations”). In 1916 is hierdie versoek deur die University of the Cape of Good Hope toegestaan. (Hierdie reël bestaan terloops vandag nog in die Universiteit.)

      Wat die kwessie van onderrigtale betref, is die vroeë jare van die Universiteit se geskiedenis gekenmerk deur ’n stryd tussen die pro-Engelse en pro-Afrikaanse faksies op kampus. Afrikanernasionalisme en die algemene nasionale politieke klimaat het as katalisators vir die taalstryd op kampus gedien. Die aanvanklike oplossing van die Raad van die Universiteit was ’n pragmatiese een: lesings is in Engels aangebied, maar in ’n aantal departemente, waar die departementshoofde hulleself daartoe bereid verklaar het, is lesings óók in Afrikaans aangebied. So byvoorbeeld het prof. D.F. du T. Malherbe (’n nakomeling van een van die stigterslede van die Patriot-beweging), in 1917 begin om “Organiese gemie” te doseer. Die kwessie van onderrigtale het egter in hierdie tyd nooit ’n gestadige posisie bereik nie. So byvoorbeeld het ’n student, W.J. du P. Erlank (die skrywer Eitemal), in 1919 ’n Union Jack op die kampus verbrand, wat nie net gelei het tot sy skorsing vir ’n tyd uit die Universiteit nie, maar ook tot ’n verdere polarisasie tussen die taalgroepe op kampus. Daarna was daar toenemende aandrang op ’n algehele gelykstelling van die twee landstale. In Desember 1930 besluit die Raad dat die Universiteit volkome tweetalig moet wees: “This institution is entirely bilingual in its policy and all sections of the community will receive equal rights at the hand of the University.” Dit was die begin van die sogenaamde “fifty-fifty”-era.

      Die “fifty-fifty”-era was van korte duur. Die emosie wat deur die Lamont-saak gegenereer is, was grootliks hiervoor verantwoordelik. Dr. H. P. Lamont was ’n senior lektor verbonde aan die Universiteit in die Departement Frans. Hy het onder ’n skuilnaam (Wilfred Saint-Mandé) ’n boek geskryf met die titel Wine, War and Woman (1931). In genoemde boek het een van die karakters, ene Danesford, hom kras uitgelaat oor Suid-Afrika, die Boere, die Voortrekkers, Jode, predikante en sommer oor Suid-Afrikaners in die algemeen.

      Toe die boek se inhoud onder die breë publiek bekend geword het, het die openbare mening besluit dat Danesford se opinie óók die skrywer van die boek se opinie is. Nadat die identiteit van die skrywer (Lamont) bekend geword het, is hy een nag uit sy huis ontvoer en op Kerkplein in Pretoria geteer en -veer deur vier mans (wat onder andere ’n buitemuurse student van die Universiteit ingesluit het). Die vier mans is strafregtelik aangekla, skuldig bevind en beboet. Die uitkoms van die daaropvolgende siviele saak was dat die vier £750 aan Lamont moes betaal. 

      Die Lamont-saak het ’n geweldige polemiek in die land veroorsaak. Kollektelyste is landwyd versprei vir die sogenaamde “Teer-en-Veerfonds” wat ten doel gehad het om die vier te help betaal aan hulle boetes en aan die vonnisbedrag. In die proses is die personeel van die Universiteit, die publiek en selfs Afrikaanse skrywers in kampe verdeel.

      So byvoorbeeld het Louis Leipoldt die volgende in Die Volkstem geskryf oor die koerant se houding teenoor die “Lamont-herrie” (soos hy dit genoem het):

       

      “En nog verder protesteer ek ten sterkste teen die veronderstelling dat as iemand iets skryf wat sommige Afrikaners as verkeerd en lelik vind, hy daarom en daarvoor vervolg word [en] uit sy betrekking moet gesmyt word. .. [Dit is ’n] agteruitgaan na die verregaandste onverdraagsaamheid van die middeleeuwe waarteen elkeen van ons wat gestel is dat Suid-Afrika sy eie kultuur moet ontwikkel behoort te protesteer...”

 

      Teenoor Leipoldt het Langenhoven gestaan wat ’n artikel geskryf het getiteld “Die Boete-kollekte” (wat waarskynlik een van die vroegste geskrifte in Afrikaans is waarin burgerlike ongehoorsaamheid ondersteun word):

 

      “As ons dan praat van ’n gesonde openbare mening en van ’n gemeenskaplike gees van bereidwillige wetsgehoorsaamheid, dan soek ons dit by ’n volk met so ’n algemene eergevoel dat daar altyd van sy kinders sal wees om sy geskonde eer te wreek. En daarom vir my aandeel beskou ek dit ’n voorreg om, al was dit maar teen geringe koste van die betaling van my sjieling en die ondertekening van my naam, hierdie wetbrekers as my saakgelastigdes te erken en hulle daad tot my daad te maak.”  (Die Burger 17 Augustus 1932)

 

Enkele dae later, op 13 September 1932, het die Raad van die Universiteit van Pretoria besluit:

 

“[t]hat the present fifty-fifty policy be abolished… that the language of the University be Afrikaans, with the proviso: that safeguards be instituted to ensure the training of students in the full use of the other official language…”

 

      Met die aanbreek van die transformasiejare het die taalbeleid van die Universiteit weer onder die loep gekom. Die Raad van die Universiteit het vir die tweede keer in die Universiteit se geskiedenis ’n taalbeleid ingevoer wat baie sterk deur pragmatisme gekenmerk is. Afrikaans sou die dominante taal bly, maar programme kon ook in Engels aangebied word mits die studentegetalle dit regverdig. Die plan was dat dit egter sou geskied addisioneel tot die Afrikaanse programme en nie ten koste van daardie programme nie. Die beginsel van aanvraag gekoppel aan bekostigbaarheid is in hierdie tyd gevestig. In die daaropvolgende 15 jaar het studente se taalvoorkeure egter só verander dat die meerderheid studente op UP tans Engels as  voorkeurtaal aandui.

      Waarom hierdie lang geskiedenis as die essay veronderstel is om oor die toekoms te handel? Uit bogenoemde is dit duidelik dat die ontwikkeling van die Universiteit se taalbeleid baie nou verweef was met politieke gebeure in die land. Die Universiteit se taalbeleid was aanvanklik Engels (voor 1910), gevolg deur ’n era van pragmatisme (1910-1930) en ’n versoenende tweetalige era (1930-1933), wat met die opkoms van Afrikanernasionalisme oorgaan na ’n enkeltalige Afrikaanse onderriginstansie (1933-1989). Laasgenoemde word in die begin van die transformasiejare weer gevolg deur ’n era van pragmatisme waar “programme in Afrikaans en Engels aangebied word mits daar ’n aanvraag is en mits dit bekostigbaar is” (1989-2006).  Indien hierdie patroon toegelaat word om homself te herhaal, kan die Universiteit waarskynlik eindig by ’n enkel Engelstalige instansie. Dit is egter so dat die Raad van die Universiteit bewus is van die gevare van ongebreidelde pragmatisme. Die Universiteit se huidige Statuut (Desember 2003) bepaal dat die Universiteit se taalbeleid op so ’n wyse geïmplementeer moet word dat beide Afrikaans en Engels as akademiese tale oor die lang termyn uitgebou en versterk word.

      Watter les hou bogenoemde oorsig vir ons in? Die Rade van universiteite is in ’n baie groot mate geneig om hulle handelinge te rig in ooreenstemming met die beleidsrigtings van die regering van die dag. Indien die politieke ideologie van die dag byvoorbeeld pro-Engels sou wees, dan gaan dit op die lang termyn deur middel van Raads- en Senaatsbesluite neerslag vind in die taalbeleide van ons universiteite.

      En dit bring ons vervolgens by die kritieke vraag oor hoe die regering die posisie van Afrikaans aan ons universiteite beskou? ’n Sinvolle plek om die bespreking te begin, is by die Wet op Hoër Onderwys, 1997.

      Artikel 3 van die Wet op Hoër Onderwys, 1997 saamgelees met artikel 27(2), bepaal dat die Minister van Onderwys by wyse van regulasie die taalbeleidsraamwerke vir universiteite kan neerlê. Instellings se eie beleide moet voldoen aan die beleidsraamwerk wat deur die Minister verskaf word. Teoreties gesproke kan elke Minister van Onderwys dus ’n voorganger se beleid wysig of herroep en sy of haar eie beleid publiseer. In die wetgewing is daar dus geen permanensie en geen langtermyn-voorspelbaarheid nie – alles dinge wat taalbeplanning baie moeilik maak. Die Minister van Onderwys se taalbeleid soos gepubliseer in November 2002 erken die reg van instellings om onderrig te verskaf in Afrikaans, maar staan afwysend teenoor die beginsel van ’n “Afrikaanse Universiteit” (19):

 

      “The notion of Afrikaans Universities runs counter to the end goal of a transformed higher education system, which as indicated in the National Plan for Higher Education (NPHE), is the creation of higher education institutions whose identity and cultural orientation is neither black nor white, English or Afrikaans-speaking, but unabashedly and unashamedly South African.”

 

      Die beleid maak dit verder baie duidelik dat die onderrigtaal van ’n instelling nie daartoe mag lei dat studente toegang tot hoër onderwys ontsê word nie (20).  In wese kom dit daarop neer dat die Minister bepaal dat Engels die verstektaal van hoër onderwys word. As instellings in Afrikaans wil klas gee, dan is dit ’n ekstra (vergunning).

      Wat het intussen geword van die Minister se taalplan wat praat van instellings “whose identity and cultural orientation is neither black nor white, English or Afrikaans-speaking, but unabashedly and unashamedly South African”?  Kom ons kyk na ’n enkele voorbeeld in die ou Technikon-sektor (daar is meerdere voorbeelde):  Die Vaal Triangle Technikon (tans die Vaal University of Technology) was aanvanklik ’n Afrikaanse instelling. In 1999 het dit onder die leierskap van die huidige rektor volkome Engels geword. Nieteenstaande die feit dat die personeel hulle bes doen, sukkel hierdie instelling. Die meeste van die probleme is te wyte aan ’n rektor wat sy instelling op ’n kwetsende (in teenstelling met versoenende) wyse getransformeer het, asook dié van ’n eiegeregtige bestuurstyl. Watter kans het Afrikaans gehad om te oorleef in só ’n omgewing? Kan ’n mens hier enigsins van redelikheid praat? En dalk nog belangriker: Wat het die Departement van Onderwys gedoen om hierdie proses te probeer verhinder?

      Die afgelope twaalf jaar het die aantal Afrikaanssprekende studente aan ons openbare universiteite dramaties verminder. Dit is grotendeels te wyte aan demografiese faktore (kinders wat nie in die 1980’s gebore is nie), emigrasie en ’n oorloop van studente van die openbare na die privaat hoëronderwys-sektor:


 

Afrikaanssprekende Studente

 

1993

2004

 

Blank

122 188

98 550

Afname

23 638

(19,4%)

Bruin

14 346

17 137

Toename

2 791

(19.5%)

Totaal

136 534

115 687

Afname

(15,3%)

 

Daar was veral ’n dramatiese daling gewees van Afrikaanssprekendes wat inskryf by Universiteite vir Tegnologie.

 

Bogenoemde syfers moet gesien word in die lig daarvan dat die totale hoëronderwys-sektor se getalle soos volg gegroei het tussen 1993 en 2004:

 

1993

Universiteite

333,745

Technikons

130,768

Totaal

464,513

2004

Universiteite

343,321

Univ.vir Tegnologie

194,981

Komprehensiewe Instellings

206,187

Totaal

774,489
vermeerder
(66,7%)

Benewens die Minister se taalbeleid is daar heelwat ander beleidsraamwerke van die Departement van Onderwys en die staat wat die posisie van Afrikaans aan ons universiteite raak. Daar is al voorheen daarop gewys dat enige universiteit wat poog om in meer as een amptelike taal lesings aan te bied, hiervoor geen finansiële ondersteuning van die staat ontvang nie. Inteendeel, die histories Afrikaanse universiteite word in die subsidie-toedelingsmodel finansieel gepenaliseer, omdat daar volgens die regering van die dag in verhouding te min swart studente teenoor wit studente aan hierdie universiteite is. Die feit dat dit in sommige gevalle ’n bedryfsvereiste is dat dosente in Afrikaans moet kan onderrig verskaf, word blykbaar nie in ag geneem as die transformasieprestasies van universiteite beoordeel word nie. Laasgenoemde beteken dus dat die getal dosente wat in Afrikaans klasse kan aanbied, noodwendig gaan daal. Hierdie groep dosente se lesinglas gaan derhalwe net swaarder en swaarder word, totdat die individu later voel dat die las wat hy of sy moet dra om Afrikaans te bewaar en uit te bou, net te veel word.  Op nagraadse en navorsingsvlak gaan dit ongelukkig nie beter nie. Engels het as gevolg van internasionalisering en globalisering die binnebaan. As ’n dosent aansoek doen om by die NRF as navorser gegradeer te word, gaan só ’n dosent se nie-Engelse publikasies maar min gewig dra. Akademiese tydskrifte wat Afrikaanse artikels publiseer, is eweneens besig om onder druk te kom. Weens die nie-internasionale aard daarvan loop vele van hierdie tydskrifte die gevaar om hulle akkreditasiestatus by die Departement van Onderwys te verloor.

      Wat hou bogenoemde vir Afrikaanssprekendes in? Die antwoord is dat Afrikaanssprekendes in ’n baie ernstige debat met die owerheid sal moet tree oor die langtermyn toekoms van Afrikaans in die onderwys in die algemeen en hoër onderwys spesifiek. Tans word die debat grotendeels tussen Afrikaanssprekendes onderling gevoer, met kwaai woorde wat kwistig heen en weer vlieg. Hierdie onderlinge gemurmureer gaan ons egter nêrens bring nie. Die staat sal moet help om die antwoorde te verskaf en dalk belangriker nog:  die staat se woorde sal die staat se dade moet word.

      En as dit nie gebeur nie? Ons sal waarskynlik sien dat Afrikaans, wat die openbare universiteite betref, nog vinniger agteruitgaan as wat reeds die geval is. Sonder ’n daadwerklike plan en relatiewe eenstemmigheid onder almal wat hierby belang het, gaan ons nie werklik vorder nie. En om daar te kom, sal waarskynlik net ’n voortsetting wees van wat MER  in ’n ander konteks “ons hele nimmerverslappende opdraand gesukkel” noem.

      Afrikaans se probleme is tekenend van die probleme wat die ander inheemse tale in Suid-Afrika ondervind. Dit is veral die gebrek aan voldoende inheemse moedertaalonderrig in die laerskole wat, sonder om te oordryf, rampspoedig is. Ons kan die probleme rondom Afrikaans en rondom die ander inheemse tale in Suid-Afrika behoorlik oplos. Ons het die talent in die land en ons beskik óók oor die hulpbronne om dit te kan doen. Sou ons egter besluit om dit nie te doen nie, word die gevolge baie duidelik deur dr. Neville Alexander uitgespel (aangehaal in Jordaan Mites rondom Afrikaans (2004) 9):

 

      “Sonder taalbemagtiging en onderrig in heem- en broodtaal (moedertaal) is die Afrika-renaissance en die intellektuele en kulturele revolusie van sy mense gewoon net nie moontlik nie en huiwer Suid-Afrika op die rand van ’n groot treurspel.”

 

Kom ons probeer dit verhoed.

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=601
Artikel nagegaan:
    -