blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Ekonomierubriek: ASGISA: nie genoeg lere boontoe nie 2006-05-19
Johan van Zyl

*Gemeenskapsekonoom

 

In Februarie vanjaar is die opvolger van GEAR naamlik ASGISA (Accelerated and Shared Growth in South Africa) bekend gestel. Daar was verwagtinge dat die regering hierdie geleentheid sou gebruik om veral te toon dat hulle Suid-Afrika se skerp dualistiese ekonomie nou deeglik begryp en gevolglik nuwe innoverende beleidsprogramme sal instel om veral ons groot werkloosheids- en armoedevraagstukke meer effektief aan te spreek. Helaas! Dit het nie gebeur nie.

                Die lakmoestoets lê in die basiese vertrekpunt(e) van ASGISA. Dit is steeds stewig gegrond in die ortodokse (neoklassieke) ekonomie wat veral 'ekonomiese (BBP) groei' sterk as oorhoofse doelwit stel – eerder as vandag se mens- en natuurgerigte 'volhoubare ontwikkeling'. Daarby is eersgenoemde denkskool ook maar skepties oor die basiese verskynsel van ’n 'dualistiese ekonomie'.       

                Dit is hierdie konserwatiewe uitgangspunt(e) wat direk lei tot ASGISA se "sleutel-meganisme" om iets omtrent die groot gaping met die tweede ekonomie te doen, naamlik die "eerste ekonomie moet sterk ingespan word as die basiese hefboom en dryfkrag om die agterstande in die marginale sektor aan te pak".  

                Hierdie "sleutelmeganisme" word egter vandag, veral in ontwikkelingskringe, met aansienlike skepsis beskou. Die basis van so ’n standpunt is die bekende teoretiese proposisie dat 'die vrugte van sterk ekonomiese groei uiteindelik SAL deursyfer of 'afspoel' na selfs die armste van die armes' (die sogenaamde 'trickle-down effect'). Aansienlike ontwikkelingsondervinding dwarsoor die wereld en oor baie jare het egter reeds duidelik getoon dat, in die harde werklikheid, hierdie proposisie 'op die grond' dikwels slegs ’n mite is. Nogtans word hierdie uitvoerige getuienis steeds geïgnoreer deur die ortodokse ekonomie – en deur die ANC-regering !

                Die gevolg is ’n ernstige beleidsprobleem. Die nuttigste benadering (beide analities en prakties) tot ons dualistiese 'twee ekonomieë'-situasie in Suid-Afrika is om hierdie twee groot entiteite te beskou as, ekonomies gesproke, skerp verskillend van mekaar. So ’n siening sou lei tot aparte beleidsprogramme in eie reg vir elkeen van hierdie gevalle. Langs hierdie weg kan Suid Afrika se baie groot werkloosheids- en armoedeprobleme, wat inderdaad hoofsaaklik in die 'tweede ekonomie' voorkom, doeltreffender aangepak word. 

                In stede egter van so ’n skerp strukturele siening word die sogenaamde 'tweede ekonomie' blykbaar steeds (amptelik) beskou as eintlik niks nuuts nie -- slegs ’n ander, polities gepaster benaming vir die bekende probleem van die 'informele sektor'. Die beste oplossing bly dus steeds om hierdie aktiwiteite geleidelik 'in te trek' in die ontwikkelde kommersiële sektor. Daar is vir seker geen noodsaak om hierdie probleme 'in eie reg' aan te vat nie! Aldus ASGISA se "sleutelmeganisme" om die eerste ekonomie in te span om die tweede ekonomie reg te ruk. Eintlik het ons dus maar slegs 'business as usual'! 

                Daar is vir seker groter oorhoofse politieke motiewe hier ter sprake. Hierdie sal egter moet oorstaan vir later. Vir die oomblik enkele meer regstreekse redes.

                Een hiervan is ’n insiggewende stelling in die Asgisa-vrystelling,  naamlik: "ons het beplan volgens die beginsel (?!) dat institusionele intervensies baie duur is en tot die minimum beperk moet word. Reeds bestaande instellings moet eerder bemagtig word tot nuwe funksies en verantwoordelikhede".

                Hierdie 'beginsel' werk byna verdoemend in teen enige amptelike erkenning van die ware karakter van ’n dualistiese ekonomie in Suid-Afrika. Sodanige erkenning sou onvermydelik lei tot aansienlike nuwe 'institusionele intervensies' veral ten opsigte van die vestiging van ’n nuwe (gelyke) vennootskap tussen plaaslike regerings en georganiseerde plaaslike gemeenskapsgroepe. So ’n bedeling is inderdaad totaal nuut en dus vreemd in ons eie ekonomiese/politieke geskiedenis. Teenswoordig net te veel gevra ?   

                Die fokus val hier op die spesifieke beeld van ons dualistiese ekonomie, naamlik die van ’n 'dubbelverdiepinghuis', wat Pres. Mbeki voorgehou het toe hy vir die eerste keer die praktiese bestaan van twee ekonomieë in Suid-Afrika in die openbaar erken het. (Dit was tydens sy 'State of the Nation' toespraak, reeds in 2003.)

                Op die boonste verdieping woon die 'rykes' wat goed lewe. Vasgevang egter op die grondvlak is die meerderheid van Suid-Afrikaanse burgers wat dikwels die 'armes' is. Die basiese probleem is dat daar net nie (genoeg) LERE is wat aan hulle toegang tot die boonste verdieping bied nie. Die aangewese beleid om te volg is dus: (a) erken slegs een enkele ekonomie, naamlik die ontwikkelde sektor, wat prakties die vernaamste werkverskaffer is, en (b) voorsien meer 'lere van geleentheid' deur middel van investering in onderwys en opleiding, in ekonomiese infrastruktuur, ensovoorts. Dit sal dan die armes in staat stel om aan te sluit by die rykes op die boonste verdieping. 

                Daar is egter twee ernstige probleme met hierdie 'dubbelverdieping-analogie', wat skynbaar eerbiedig en getrou aanvaar word in ANC-kringe, tesaam met die voorgestelde oplossing:

·             Die ontwikkelde ekonomie, wat sorg vir 'die rykes' op die boonste verdieping, is vandag, dit wil sê in die 21ste eeu doodeenvoudig nie meer in staat om werk te verskaf aan alle Suid-Afrikaanse burgers nie. Hierdie drastiese ommekeer van wat byna ’n 'goue reël' was tot ongeveer die middel 1980's, is grootliks veroorsaak deur wêreldwye globalisering. Om internasionaal mededingend te kan word en te bly is dit deesdae noodsaaklik om op groot skaal rekenaargedrewe 'hoëtegnologie' inligting- en kommunikasiestelsels in te bring. Sulke produksietegnieke is egter uiteraard baie meer kapitaalintensief. Die gevolglike negatiewe uitwerking daarvan op arbeid is oral te sien. Die meeste maatskappye moet vandag hulle arbeidsmag voortdurend besnoei om mededingend te bly en dus die wye klem op 'down sizing' en 'right sizing' (afskaling en regskaling). 

        Die basiese implikasie is duidelik: ’n basiese 'werkverskaffingsleer' tot die boonste vloer wat prakties moet geld vir ALLE Suid Afrikaners, bestaan eenvoudig nie meer nie. Ekonomiese groei kan wel plaasvind, selfs tot 6% per jaar. Maar deesdae is dit groei in produksie- en kapitaalwinste, en in ’n baie mindere mate in werkskepping.  

        'n Bekende en geagte Britse ekonoom, James Robertson, het onlangs rondom globalisering die insiggewende stelling gemaak dat "full employment as we knew it in the past, will not (never?) return".  

        Dit sê veel vir ASGISA se beleid om hoofsaaklik te vertrou op die 'eerste ekonomie' om ons vraagstukke van armoede en werkloosheid op te los! Die harde (ongemaklike) feite is dat die moderne kommersiële sektor dit vandag glad nie meer op sy eie kan doen nie. 

       

·             Die regering se huidig aansienlike maatskaplike besteding van ongeveer R240 miljard per jaar, wat hoofsaaklik bestee word in die 'histories swart gebiede', skep prakties maar weinig volhoubare plaaslike ontwikkeling. Die ekstra inkomste hierdeur geskep, word gewoonlik bestee aan goedere en dienste wat 'ingevoer' word van verskaffers in die ontwikkelde sektor. Baie min bly agter om nuwe aktiwiteite en inkomste ('lere van geleentheid') op gemeenskapsvlak te stimuleer (lees hieronder).

 

Die praktiese gevolg ? Vir miljoene Suid Afrikaanse armes bly die 'boonste verdieping' steeds buite sig en onbereikbaar.  

                Gegewe die aansienlike weerstand daarteen om selfs die bestaan van ’n dualistiese ekonomie te erken, is dit belangrik om die basiese verskille duidelik te stel. Die begrip van die 'plaaslike inkomste-vermenigvuldiger' in die formele ekonomie is nuttig hier.

 

·             Van elke R100 se nuwe inkome wat ontstaan in Sandton (of in enige ander deel van Suid-Afrika se ontwikkelde eerste ekonomie) sal die grootste gedeelte gewoonlik 'agterbly om plaaslik te werk'. Hierdie inkome bly sirkuleer tussen plaaslike kopers en verskaffers. By elke ronde van besteding lek ’n gedeelte uit na buitebesighede wat 'ingevoerde' goedere en dienste verskaf. Nogtans stimuleer elke R100 se nuwe inkome -- via bogenoemde sirkulasieproses -- aansienlike verdere plaaslike ekonomiese aktiwiteite, dikwels soveel as R500 tot R1000 in totaal.

 

·             In skerp teenstelling hiermee sal die grootste gedeelte van enige nuwe R100 wat in Soweto of ’n plattelandse 'township' aanland (hetsy deur inkomste, oordragte of pensioene) baie vinnig weer uitvloei via 'invoere'. Dit word byvoorbeeld gewoonlik bestee aan ’n taxi om by die naaste kommersiële winkelsentrum of dorp in die ontwikkelde sektor al die benodigde goedere en dienste te koop. Die basiese alternatief, naamlik om in hoofsaak eerder by plaaslike verskaffers in die plaaslike gemeenskap te koop, bestaan eenvoudig nie. Aldus kan nuwe inkome net nie 'agterbly om plaaslik te werk' nie. Tewens, die interne besigheidsgerigte sirkulasieproses is so swak ontwikkel dat dikwels slegs sowat R30 tot R50 se addisionele ekonomiese aktiwiteit plaaslik gestimuleer word! Hierdie situasie is rêrig ’n treffende voorbeeld van vandag se oorhoofse strukturele probleem, naamlik van die skerp en basies nadelige implikasies van 'aansienlike ekonomiese afhanklikheid' eerder as 'groter (plaaslike) ekonomiese selfstandigheid'.

 

                Die 'dualistiese ekonomie' is net wat dit sê: twee ekonomieë wat in die praktyk baie verskillend van mekaar funksioneer. Die huidige uitkoms hiervan is ernstig. Die groot maar swak ontwikkelde, histories gemarginaliseerde ekonomie lewer tans nie naastenby die bydrae tot nasionale ekonomiese welvaart wat dit kan nie. Wat eintlik ’n reuse massamark behoort te wees vir plaaslik geproduseerde goedere en dienste -- om direk ongeveer 20 - 30 miljoen 'arm' inwoners te bedien -- ploeter tans voort teen miskien slegs 25% van sy kapasiteit. Watter yslike en steeds voortdurende vermorsing van potensiële ekonomiese welvaart!                  

                Wat benodig word, beleidsgewyse, is die basiese insig en erkenning dat ’n aparte stel 'ekonomiese lokaliseringsprogramme' dringend noodsaaklik is. Hierdie moet skerp fokus op die harde feit dat Suid Afrika se vele gemarginaliseerde plaaslike gemeenskapsekonomieë (beide swart en wit) eenvoudig nie doeltreffend werk nie. Ons het inderdaad slegs ’n kans om Suid-Afrika se ernstige landwye probleme van werkloosheid en armoede werklik op te los -- en nie slegs te verlig nie -- as hierdie menigte agtergeblewe gebiede in eie reg ekonomies aktief raak. Sodoende kan verseker word dat goed meer as die helfte van die bevolking die positiewe vrugte kan pluk van direkte deelname aan nuwe plaaslike ekonomiese aktiwiteite.

                Om saam te vat. Amptelike erkenning van die ware karakter, eienskappe en implikasies van Suid-Afrika se dualistiese of 'dubbellaag'-ekonomie is van groot belang, veral omrede die volgende 'groter prentjie'. Sulke erkenning kan prakties dien as:

(a) ’n teenvoeter vir die neoliberale (en ortodokse) skool van ekonomiese denke veral t.o.v. hulle basiese vertrekpunt dat dit slegs nodig is om op een sentrale, ontwikkelde sektor in die ekonomie van ’n land te fokus;

(b)   'n stewige basis vir die effektiewe ontwikkeling van plaaslike gemeenskappe, veral t.o.v. groter bevoegdhede om op plaaslike vlak meer selfstandig besluite te kan neem; en

(c)    geloofwaardige kritiek op die (sosialistiese) benadering van ’n noodsaaklik oorheersende rol vir die owerheid. In plaas hiervan dan eerder ’n nuwe demokratiese en gelyke vennootskap tussen die regering en plaaslike gemeenskappe.

 

                'n Laaste punt (nogal belangrik!): Dit is werklik ontstellend dat daar tans so min aandag gegee word aan deeglike navorsing oor ons dualistiese ekonomie. Baie private navorsingsinstansies is gretig om dit te doen. Maar hulle kan nie finansiering hiervoor kry nie omdat privaatsektorborge blykbaar deesdae eers aandring op die amptelike goedkeuring van die regering/senior amptenare. Hoe breek ’n mens deur sulke pynlik onderdrukkende 'politieke korrektheid'?

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=575
Artikel nagegaan:
    -