blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Reeks: Wat is Transformasie?: Die wit wortels van SEB 2006-05-19
Moeletsi Mbeki

*Politieke ekonoom en adjunkvoorsitter van die SA Instituut van Internasionale Aangeleenthede. Hierdie artikel is ’n uitgebreide weergawe van ’n openbare lesing gehou op 26 April, 2006 by die Universiteit van die Witwatersrand.

 

Dit is ’n groot eer om deur Suid-Afrika se leidende leersentrum uitgenooi te word om ’n openbare lesing te gee. Iewers het ek gelees dat een-derde van die topbestuurders van Suid-Afrika se groot korporasies Wits-graduandi is, terwyl een-derde van buitelandse afkoms is. Hierdie syfers illustreer die voorste bydrae wat Wits tot die land se ekonomie gelewer het en steeds lewer. Wits-universiteit is vir ons ekonomie wat die Universiteit van Fort Hare vir ons politiek is.

                Die laaste keer dat ek ’n openbare lesing aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit aangebied het, was dit oor die onderwerp van Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) by die Universiteit van Pretoria. Vir my moeite het ek my die gramskap van Suid-Afrika se SEB-magnate op die hals gehaal. Gelukkig is hulle hoflike, gekultiveerde mense wat nie vrot tamaties gooi nie en die kuns van toetakeling, soos vervolmaak deur sommige lede van die akademie en die vakbondwese, beoefen nie.

                Vandag is ek weereens gevra om te praat oor Suid-Afrika se elites se konsepte van transformasie. Aangesien ek weet dat hierdie groep óók verdraagsaam is, is dit nie vir hulle wat ek lugtig is nie. My vrees is eerder dat, aangesien ek nou al so lank uit voeling met die akademie is, wat ek te sê het vir die meeste van u afgesaag sal wees. As dit so is, stel ek voor dat diegene wat dit voorheen gehoor het, vry moet voel om die voorbeeld van ons parlementslede te volg en deur die aanbieding te slaap. Die Universiteit verseker my dat wyn en bier na die aanbieding bedien sal word, sodat u slaap goed beloon sal word.

                Iewers in sy vele uitsprake het Karl Marx die waarneming gemaak dat in enige gegewe epog die heersende idees in ’n besondere samelewing die idees van daardie samelewing se heersende klas of klasse is. Om dus te kan antwoord op die vraag, wat transformasie in Suid-Afrika vandag beteken, moet ek eers antwoord op die vraag wie die heersende klas of klasse in Suid-Afrika is.

                Dit lyk my asof ons nie een nie, maar twee heersende klasse het. Die swart hoërmiddelklas oorheers vandag die land se politieke lewe. Hierdie klas speel egter feitlik geen rol in die eienaarskap en beheer van die produktiewe ekonomie van Suid-Afrika nie. Hulle sleutelrol in die ekonomie is die van toesighouding oor die herverspreiding van welvaart na verbruik. Hulle bestuur – of moet ek sê wanbestuur? – ’n paar ondernemings in staatsbesit, geërf uit die era van die Nasionale Party.

                Op die vlak van die produktiewe ekonomie het Suid-Afrika ’n ander heersende klas wat ek Suid-Afrika se ekonomiese oligargie noem. Hulle is die eienaars en beheerders van die Mineraalenergiekompleks (MEK), wat volgens Zaveher Rustomjee en Ben Fine in hulle boek, The Political Economy of South Africa; From Minerals Energy Complex to Industrialisation, die heersende kern van die Suid-Afrikaanse ekonomie uitmaak. By die MEK sal ek die finansiële sektor insluit wat Rustomjee en Fine aantoon, ineengeskakel is met die land se mynmaatskappye.

                As ek wat ek vermoed nou ’n oudmodiese politieke kategorie is, mag gebruik, het Suid-Afrika dus ’n heersersklas. Dit is die vennootskap tussen, enersyds, die polities oorheersende swart hoërmiddelklas en, andersyds, die ekonomiese oligargie wat die MEK besit. Hierdie vennootskap is die eerste keer geïdentifiseer deur Sampie Terreblanche in sy boek A History of Inequality in South Africa, 1652-2002, waarin hy aangetoon het dat daar in die vroeë 1990’s in feite twee Kodesas was. Kodesa I, het hy gesê, was die openbare onderhandelings tussen politieke partye rondom die nuwe demokratiese Grondwet, en Kodesa II is wat hy geheime onderhandelinge tussen die ekonomiese oligargie en verteenwoordigers van die swart hoërmiddelklas genoem het.

                Dit is by laaste ontleding hierdie nuwe heersersklas wat bepaal wat transformasie vandag in Suid-Afrika beteken. Meer akkuraat behoort ek te sê dat dit hierdie heersersklas is wat bepaal wat in ons samelewing wenslike en wat onwenslike transformasie is.

                Kodesa I en II het dus aan ons Suid-Afrika se transformasievergelyking gegee. Volgens hierdie vergelyking, parlementêre demokrasie + globalisering + swart ekonomiese bemagtiging = transformasie.

                In my beskrywing van wat Suid-Afrika se heersersklas uitmaak, is daar twee groepe wat opvallend in hul afwesigheid van die heerersklas, maar baie sigbaar in die burgerlike samelewing is. Dit is die kapitalistiese klasse betrokke by vervaardiging en verspreiding en, natuurlik, die georganiseerde arbeid.

                As ’n mens Suid-Afrika se ekonomiese en maatskaplike beleide van nader beskou, sal jy vind dat die belange van vervaardigers en georganiseerde arbeid ver derde en vierde kom – en in sommige gevalle glad nie figureer nie – teenoor dié van die twee heersende klasse waarna vroeër verwys is.

                Hoe sien die ekonomiese oligargie transformasie, en wat wil dit getransformeer (en nie getransformeer nie) sien? Hoe sien die swart hoërmiddelklas insgelyks transformasie, en wat wil hy getransformeer (en nie getransformeer nie) hê?

                Om hierdie vrae te beantwoord, sal ek eers die aard van die MEK beskryf. Tweedens sal ek ’n bondige skets van die geskiedenis van die swart middelklas gee.

                Suid-Afrika is besonder ryk aan natuurlike hulpbronne, veral minerale en metale. Dit het ’n unieke vorm van kapitalisme geskep wat ek kapitalisme met Suid-Afrikaanse eienskappe noem. Die Suid-Afrikaanse ekonomie word oorheers deur die onttrekking van minerale uit die grond, die prosessering daarvan tot metale deur die gebruik van elektriese krag en chemikalieë, en die verkoop daarvan aan die res van die wêreld. Die meeste bates van die Suid-Afrikaanse ekonomie is aan hierdie aktiwiteite gewy. Hierdie aktiwiteite staan in vir die meeste van Suid-Afrika se uitvoere. Hier is hoe Rustomjee en Fine die MEK beskryf het:

                “As die MEK as in die kern van die ekonomie geïdentifiseer word, is daar in sy eie kern daardie sektore wat met minerale en energie in die eng tegniese sin verbind word. Die rol van goud as sleutelsektor in die Suid-Afrikaanse ekonomie is welbekend. Sy belangrikheid het in onlangse jare afgeneem met die dalende prys van goud, die vrugbaarheid van reserwes en die opkoms van ander voorsieningsbronne in die wêreldmark. Daarenteen het ander metale in prominensie toegeneem, veral platinum. Dieselfde geld steenkool; dit voorsien in 80% van die land se primêre energiebehoeftes. Dit verskaf ook 20% van die land se uitvoere en een-derde van alle nie-gouduitvoere. Maar baie min steenkool word vir regstreekse energiebehoeftes gebruik. Die oorgrote meerderheid word óf omgeskakel na elektrisiteit (meer as 50%), óf  olie (meer as 30%). Op ’n wêreldskaal is die Suid-Afrikaanse ekonomie uniek afhanklik van elektrisiteit en uniek elektrisiteitsintensief, met verbruiksvlakke per kapita vergelykbaar met dié van die Verenigde Koninkryk, in weerwil van beperkte binnelandse verbruik deur die meerderheid van die bevolking.”

 

                Onder die nywerhede wat die MEK vorm, is:

                - Steenkool-, goud-, diamant-, platinum- en ander mynaktiwiteite

                - Elektrisiteitsopwekking en -verspreiding

                - Niemetaal-mineraalprodukte

                - Yster- en staalbasisnywerhede

                - Nie-yster-metaalbasisnywerhede

                - Kunsmisse, plaagdoders, sintetiese harpuis, basiese chemiese en petroleumbedrywe

 

                Natuurlik is metale ’n seën vir Suid-Afrika (en Afrika) in soverre hulle gehelp het om ’n proses van kapitaalakkumulasie op dreef te kry deur buitelandse beleggers aan te trek en die konstruksie van fisieke infrastruktuur te begunstig. Onder die swakplekke van die MEK is sy afhanklikheid van die vermorsing van niehernubare bates, van ingevoerde tegnologie en kapitaal, en sy oorblootstelling aan wisselvallige wêreldmarkte. Die belangrikste, en ’n sleutelkenmerk van die MEK is egter sy afhanklikheid van oorvloedige, goedkoop, ongeskoolde arbeid.


                Die oorsprong van die swart middelklas dagteken vanuit die 1830’s toe die Britte uiteindelik besef het hulle kan nie die Xhosa verslaan sonder om bondgenootskappe met ander Afrika-stamme te vorm nie. Gedurende die oorlog van 1835-1837 het die Britte ’n groep genaamd Amamfengu of Fingoes as potensiële bondgenote geïdentifiseer.

                Die tweede groep wat die Britte geïdentifiseer het, was ander groepe onder die Xhosa wat ontwortel is in die opvolgingskonflik tussen Ndhlambe en Ngqika, veral die Gqunukwebe-sibbe.

                Die derde groep wat die Britte geïdentifiseer het, was ’n gemeenskap van Khoi-mense woonagtig in die Katrivier-vallei.

                Hierdie groepe het militêre bondgenote van die Britte geword in hulle stryd om die Xhosa te onderwerp. In ruil vir hul militêre ondersteuning het die Britte die verowerde grond en vee gedeel met die Afrikanerboere en die 1820 Britse setlaars, wat die kommando’s gevorm het wat ook die Britse weermag teen die Xhosa gesteun het. Die Britte het hulle swart bondgenote blootgestel aan die weë van die destydse moderne, kapitalistiese wêreld. Die Britte het hulle in kleinboere verander en bekendgestel aan Westerse religie, skrif, moderne medisyne, Westerse kleredrag, moderne burgerskap en verkiesingspolitiek. Hierdie model is oorgedra na Natal in die 1840’s toe die Britte die Trekboere uitgesit het en Natal suid van die Tugela-rivier ingeneem het.

                Uit hierdie kleinboerestand het Suid-Afrika se Afrikaan-middelklas opgekom – Christelik, sendelingopgeleid, Anglofiel, liberaal, pro-kapitalisties en ingestem op parlementêre demokrasie, wat gedurende die 1850’s deur die Britte aan die Kaapkolonie ingestel is.

                By die Afrikaan-middelklas het kort daarna aangesluit die bevryde Maleiers en ander slawe, waarvan sommige onafhanklike ondernemers geword het na die afskaffing van slawerny vanaf 1834 tot 1838. Gedurende die laaste kwart van die 19de eeu het by die kleinboer- en vryslawemiddelklas aangesluit die vry Indiërs wat hul weg na Suid-Afrika betaal en gewerk het as onafhanklike handelaars, onderwysers, dokters en, die beroemdste onder hulle, die Cambridge-opgeleide prokureur, Mahatma Gandhi.

                ’n Leidende lid van hierdie swart middelklas, ene Micah Kunene, wat in 1903 deur die Suid-Afrikaanse Inboorlingsakekommissie gevra is of hy sal wil sien dat die Britte Suid-Afrika verlaat en terugkeer huis toe, het die volgende gesê:

                “As die witmense en die Koning [van Engeland] ons nou sou verlaat en ons hier agterlaat, is daar ’n groot deel van ons wat die witman se manier van leef en manier van doen in ’n hoë mate toegeëien het; en daar is ’n groot deel van ons wat glad nie gevorder het nie, maar gebly het soos hulle prakties voorheen was. Ek is bevrees dat diegene wat in hulle vorige toestand gebly het ons sal vermoor, veral beskaafde Inboorlinge, omdat ons grond gekoop het en hulle nie grondeienaarskap gunstig beskou nie. Hulle weet ook dat wanneer daar ook al ’n oorlog teen Inboorlinge soos ons was, ons nog altyd met die [koloniale] regering was en uitgegaan het om hulle in daardie oorloë by te staan … Daarom voel ons dat ons baie beter daaraan toe is onder ons [koloniale] regering, baie beter as wanneer ons agtergelaat en aan die genade van ons mense oorgelaat sou wees.”

                Ek wil nie ingaan op die wel en weë van hierdie swart middelklas in die honderd jaar tussen 1892, toe hulle stemreg begin verloor het, en 1994, toe hulle stemreg herwin en die oorheersende politieke mag in die land geword het nie. Hierdie verhaal is onder meer op die mees bevoegde wyse vertel deur Colin Bundy in sy boek, The Rise and Fall of the South African Peasantry; Govan Mbeki in South Africa: The Peasants Revolt; Eddie Roux in Time Longer than Rope; en Tom Lodge in Black Politics in South Africa since 1945.

                In 1994 het die swart hoërmiddelklas as uiters magtig na vore getree omdat hulle vir honderd jaar die fakkeldraers van demokrasie in Suid-Afrika was, terwyl hulle 19de-eeuse vennote, die Britse imperialiste, demokrasie in Suid-Afrika verruil het vir superwinste uit diamante en goud. Tuis het die swart elite magtige instellings soos die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en die Katolieke Biskoppe Konferensie beheer. Dit het politieke leierskap verskaf aan die formidabele vakbondbeweging van COSATU en NACTU. Dit is dus tuis en in die buiteland gesien as die natuurlike plaasvervanger van die wankelende Afrikaner-elite wat Suid-Afrika regeer het sedert 1907 toe die Britte geleidelik polities aan Suid-Afrika onttrek het en politieke mag oorhandig het aan die militêr verslane Boeregeneraals.

                Die swart elite se verbintenisse het dus gestrek tot in die Withuis en die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake, asook Downingstraat 10 en die Buitelandse Statebondskantoor in die Verenigde Koninkryk.

                In gevolgtrekking wil ek nou ingaan op die transformasievergelyking van parlementêre demokrasie + globalisering + swart ekonomiese bemagtiging = transformasie.

                Die hoofdoel van die ekonomiese oligargie tydens die Kodesa II-onderhandelings was om die instandhouding van die MEK te verseker. Die quid pro quo vir die swart hoërmiddelklasverteenwoordigers se instemming tot die instandhouding van die MEK was die skepping van Swart Ekonomiese Bemagtiging.

                Die tweede oogmerk van die ekonomiese oligargie was om die opkomende swart politieke elite sover te kry om in te stem om globalisering te gebruik om die stelsel van goedkoop arbeid soos vereis deur die MEK in stand te hou. In die verlede is goedkoop arbeid vir die MEK verwesenlik deur onder meer metodies ongeskoolde arbeid te werf in die uitgestrekte streek van Suider-Afrika, so ver noord as Angola en Tanganjika. Lank voor die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) in die 1980’s gevorm is, is Suider-Afrika as geïntegreerde streek uitgevind deur Wenela, die Kamer van Mynwese se Witwatersrand-inboorlingarbeidsvereniging.

                     Die ou maniere om goedkoop arbeid in stand te hou, is bestudeer deur Francis Wilson in sy beroemde boek, Labour in the South African Goldmines. Hierdie ou metodes kon nie volgehou word na die onafhanklikwording van Suider-Afrikaanse lande en die groei van die vakbondwese onder swart arbeiders in Suid-Afrika nie. Die nuwe manier om arbeid goedkoop te hou, was gevolglik om basiese goedere van goedkoop vervaardigers, veral in Sjina, in te voer.

                Die uitkoms van die gebruik van globalisering om verbruiksgoedere vir die werkersklas in Suid-Afrika goedkoop te maak, is egter die vernietiging van die nie-MEK- vervaardigingsektor in Suid-Afrika. Dit verklaar waarom die kapitaliste in die nie-MEK- vervaardigingsektor uit Kodesa II gesluit is. Dit verklaar ook waarom georganiseerde arbeid uitgesluit is. Die vernietiging van die vervaardigingsektor is in werklikheid aan die wortel van die groeiende verarming van Suid-Afrikaners soos dit tot groeiende strukturele werkloosheid lei.

                Ons het hierbo gesien dat die swart middelklas vir meer as honderd jaar die bevorderaars van demokrasie in Suid-Afrika was. Hulle was ook die geswore vyande van die MEK, wat hulle gesien het – en tereg ook – as synde agter die onteiening van Afrikaan-kleinboere, die instelling van die passtelsel, die handhawing van goedkoop arbeid en hul uitsluiting van eiendomsbesitting. Die nasionalisering van die MEK was gevolglik bo aan die lys vir die swart middelklas. Ironies was die nasionalisering van die myne ook bo aan die lys van die Afrikaner-elite onder leiding van die Nasionale Party.

                So het Nelson Mandela die belangrikheid van die nasionaliseringsklousule in die Vryheidsmanifes in 1956 beskryf:

                “Die Manifes dien die finansiële en goudmynmonopolieë wat die land vir eeue geplunder en sy mense tot onderdanigheid verdoem het, ’n noodlottige slag toe. Die opbreek en nasionalisering van hierdie monopolieë sal vars velde open vir die ontwikkeling van ’n welvarende, nie-Europese, bourgeois-klas. Vir die eerste maal in die geskiedenis van hierdie land sal die nie-Europese bourgeois-klas oor die geleentheid beskik om in hul eie naam en reg meule en fabrieke te besit, en handel en privaatonderneming sal soos nooit tevore gedy en bloei.”

                Ten einde te vermy wat Mandela wou implementeer, naamlik die opbreek van die MEK, het die ekonomiese oligargie SEB by Kodesa II aangebied.

                Die SEB-model is oor baie jare ontwikkel sedert die vestiging van die Stedelike Stigting in 1977 deur Harry Oppenheimer en Anton Rupert. SEB het die herverspreiding van welvaart vanaf die ekonomiese oligarge na die swart hoërmiddelklas geïmpliseer. ’n Belangrike dog sekondêre effek van hierdie vrywillige herverspreiding van rykdom is die opkoms van die nuwe klas van onproduktiewe ryk, swart politici en voormalige politici wat die politieke sleutelbondgenote van die ekonomiese oligarge in die instandhouding van die MEK geword het.

                Wat duidelik behoort te wees, is dat terwyl die transformasievergelyking stabiliteit en elemente van welvaart gebring het wat ons vandag in Suid-Afrika sien, dit op die lang termyn besig is om ’n yslike stedelike onderklas te skep.

                Heersersklasse dwarsoor die wêreld en dwarsdeur die geskiedenis gebruik hul dominante posisie in die samelewing om hul belange beskerm en te bevorder. In hierdie opsig is die hedendaagse Suid-Afrika geensins anders nie. Soos ons in hierdie uiteensetting gesien het, is nie alle heersersklasse dieselfde nie, aangesien verskillende maatskaplike en ekonomiese stelsels verskillende verhoudings tussen die heersende klasse en die oorheerste of onderworpe klasse meebring.

                In die beroemde voorwoord van sy boek A Contribution to the Critique of Political Economy het Karl Marx die volgende waarneming gemaak:

                “In die maatskaplike beskerming van hul bestaan tree mense onvermydelik in bepaalde verhoudings onafhanklik van hul wil, naamlik produksieverhoudings paslik vir ’n gegewe stadium in die ontwikkeling van hul materiële produksiekragte. Die geheel van hierdie produksieverhoudings konstitueer die ekonomiese struktuur van die samelewing, die ware fondasie waarop ’n wetlike en politieke superstruktuur verrys en wat saamval met bepaalde vorme van maatskaplike bewussyn. Die produksiemodus van materiële lewe kondisioneer die algemene proses van maatskaplike, politieke en intellektuele lewe.”

                Suid-Afrika se maatskaplike en ekonomiese struktuur word oorheers deur die MEK, wat op sy beurt gelei het tot ’n eiesoortige Suid-Afrikaanse kapitalistiese stelsel wat myn-, goedkooparbeids- en elektrisiteitsintensief is. Op die kruin van dié struktuur sit ’n ekonomiese oligargie wat met sy weermag van bestuurders ’n handjievol groot maatskappye beheer. Hierdie maatskappye beheer op hul beurt groot minerale reserwes wat in sommige gevalle slegs of hoofsaaklik in Suid-Afrika bestaan, met platinum die voor die hand liggende voorbeeld.

                Vir 120 jaar sedert die aanvang van goudmyning in die 1880’s het Suid-Afrika se ekonomiese oligargie talle storms deurgeloods. Beginnende by die gewapende insypeling wat dit in samewerking met die Jameson-inval (1895-96) teen die bewind van Paul Kruger georganiseer het, het dit die oorlog tussen die Britte en die Boere in 1899 aangestig, én heelwat opstande en stakings deur wit en swart werkers – 1907, 1911, 1913, 1922, 1946, 1987.

                Die belangrikste is dat die ekonomiese oligargie die MEK volledig ongeskonde gehou het deur verskillende nasionalistiese regerings heen – Afrikaner en swart – wat uiters vyandig was teenoor die sentrale rol en aktiwiteite van die MEK in Suid-Afrika se ekonomiese lewe. Oor die jare het die ekonomiese oligargie metodes om die opeenvolgende politieke elites te paai, vervolmaak, Swart Ekonomiese Bemagtiging synde die jongste onder vele instrumente wat hulle uitgevind het. Hierdie instrumente dra ’n sekere koste vir die ekonomiese oligargie, soos Sasol onlangs aan die New Yorkse Aandelebeurs gesê het, maar hierdie kostes is weglaatbaar in vergelyking met die beskerming wat hulle koop.

                Die magte van die oligargie om die politieke elite te beskadig in ’n konfrontasie is ’n paar jaar gelede skerp in fokus gebring toe dit uitgelek het dat die ANC-regering die SEB-instrument oorweeg as middel om beheer oor die MEK te neem. Die ekonomiese oligargie het deur die gebruik van sy reuse internasionale netwerk die alarmklokke in finansiële wêreldhoofstede laat lui. Binne ure het groot hompe van Suid-Afrika se rykdom verdwyn.

                Suid-Afrika se transformasieformule is dus nie bloot gebaseer op ’n gemeenskaplike ekonomiese visie binne die heersersklas nie, maar dit word ook onderskryf deur die onafhanklike vermoë van elke onderdeel van die heersersklas om sy belange te verdedig.

                Die politieke elite beskik natuurlik oor die vermoë om die belange van die ekonomiese oligargie te skaad deur die gebruik van die staat wat dit deur demokratiese prosesse beheer. Die werklikheid is egter dat die politieke elite by vergelyking kwesbaarder is, aangesien die ekonomiese oligargie nuwe politieke partye kan bevorder ten einde die vyandige regerende party uit te daag.

                Skermutselinge in die heersersklas vervaag egter in verhouding tot die uitdaging wat Suid-Afrika se krimpende vervaardigingsbedrywe stel. Ons het gesien dat die formule van transformasie = SEB + globalisering + parlementêre demokrasie onvermydelik lei tot die oopstelling van die ekonomie vir die ysige winde van Asiatiese mededinging. Die MEK is immuun teen wêreldmededinging, aangesien dit minerale en metale verkoop wat grootliks eie aan Suid-Afrika is. Vervaardingingsbedrywe beskik egter nie oor sodanige natuurlike beskerming nie. Sedert 1990 het Suid-Afrika se privaatsektorwerkvoorsiening stadig afgeneem, wat die groeiende verarming van talle Suid-Afrikaners aangedryf het. Op dieselfde tydstip as wat armoede onder die onderste helfte van die bevolking toeneem, het die boonste 10% tot 20% van die bevolking ryker geword danksy bevoordeling deur SEB-rykdomherverspreidingsprogramme, en meer onlangs ook danksy skerp stygende kommoditeitspryse.

                Dit is hierdie dinamika wat Suid-Afrika ’n stadige, tikkende tydbom maak. Suid-Afrika se modus van toetreding tot die wêreldekonomie is onderhandel om die eise van die MEK vir goedkoop verbuikersgoedere te vervul sonder om rekening te hou met die vermoë van die land se vervaardigingsbedrywe om te oorleef, mee te ding en voort te gaan om werk te skep.

                Suid-Afrika benodig dus ’n nuwe transformasievergelyking. Hierdie nuwe transformasievergelyking kan nie ontwikkel word sonder die aktiewe deelname van vervaardigings- en verspreidingsektorkapitaliste, georganiseerde arbeid, die akademie en ander rolspelers in die burgerlike samelewing nie. Duidelik sal dit die verbreding van Suid-Afrika se heersersklas beteken ten einde tans uitgeslote samelewingsklasse in te sluit.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=573
Artikel nagegaan:
    -