blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Afrikaners en die transendente: Aktualiteit van die transendente 2006-04-26
Danie Goosen

*Filosoof en voorsitter van die FAK

 

’n Mens kan met reg vra waarom dit nou nodig is om oor ’n saak soos die transendente te skryf. Is dit nie in die sekulêre era onvanpas om ons daarmee besig te hou nie? Daar is tog belangriker sake in die openbare wêreld wat tans ons aandag verg?

      Dink maar aan dinge soos die gaping tussen ryk en arm, die plundering van die natuur deur die wildgroeiende verbruikersekonomie met sy onbeheerste uitbreiding van begeertes, die vergrype van nasie-state en die globale finansiële elites. En wat van die verrinnewering van ons tale, ons gemeenskappe, ons lokale tradisies en die kollektiewe geheue van die mensdom? Hierdie is tog alles dwingende sake wat tans ons aandag vra.

      Bowendien, is die saak van die transendente nie dikwels in die verlede met ’n verstikkende bedompigheid gehanteer nie? Voeg hierby nog die feit dat die transendente tydens die afgelope dekades deur die globale ‘ekonomie van geestelikheid’ tot blote kitsch uitgehol is. Waarom dit dan nog ernstig opneem? Lei dit nie ons aandag van bogenoemde brandende kwessies af nie?

      Ons wil hieronder aanvoer dat bogenoemde kwessies nie van die vraag na die transendente geïsoleer kan word nie. Ondanks die probleme wat die vraag na die transendente vandag omring, sal dit waarskynlik weer soos in die verlede ’n belangrike rol speel in ons pogings om antwoorde daarop te gee. Want roep maatskaplike en politieke vrae nie – altyd weer – die vraag na die transendente na vore nie?

      Dit is natuurlik nie ’n standpunt wat alom aanvaar word nie. As ’n mens jou vertrekpunte in die moderne liberale wêreld neem, sal jy bes moontlik hiervan verskil en die vraag na die transendente eerder as irrelevant vir die maatskaplike en politieke werklikheid afwys.

      Volgens die venynigste apologete daarvan is die transendente werklikheid immers niks anders as ’n blote projeksie van onsself nie. Om ’n beroep op die transendente te doen, is volgens dié tradisie so goed as om ’n sussende wiegeliedjie te sing terwyl die krisisse van menswees (lyding, geweld, ensovoorts) ongestoord voortwoed. As ons die talle brandende kwessies van vandag wil hanteer, sal ons volgens hulle van dié selfopgelegde projeksies ontslae moet raak.

      Maar nie alle vertolkers van die moderne liberale wêreld is so afwysend jeens die transendente nie. Anders as die venyniges sê die meer gematigdes dat daar vandag inderdaad nog iets soos ’n rol vir die transendente aan te wys is. Maar, voeg hulle dikwels by, die rol van die transendente moet tegelyk ingeperk word. Want, sê hulle, die transendente hou nie met die openbare wêreld en sy vraagstukke verband nie. Sy rol moet eerder in die private wêreld van die individu opgesoek word.

      Volgens die gematigde moderniste moet dit ook so wees. Want, sê hulle, as vrae oor die transendente binne die openbare wêreld ingenooi word, word die voorwaarde vir geweld geskep. Oortuigings rondom die transendente verdeel mense immers net in fanaties uitsluitende groepe. Die Islam-fundamentalisme is hiervan ’n klinkklare bewys. Hou die transendente dus op sy plek, aldus dié moderniste.

      Die moderne kritiek op die rol van die transendente in die openbare wêreld is egter vandag in ’n krisis gedompel. Sy poging om die transendente op sy plek te hou, is kennelik besig om te misluk. Terwyl hy alles in sy vermoë doen om die transendente tot die rande van die relevante uit te skuif, keer die vraag na die transendente vir ’n modernis om onverklaarbare redes telkens tot die openbare wêreld terug. Maatskaplike en politieke kwessies wil nou maar eenmaal nie van die vraag na die transendente geskei word nie.

      Ons verwys slegs na enkele aspekte van die hedendaagse terugkeer van die transendente:

1. In die sogenaamde postmoderne era het ons onder meer sensitief geraak vir die feit dat dit juis die sogenaamde transendente ‘buitekant’ is wat dit vir ons moontlik maak om hoegenaamd ’n menslike ‘binnekant’ te hê. As dit so is dat die beroep op ’n transendente dikwels tot erge geweld teen andere gelei het, is dit ook so dat die verlies aan ’n transendente buitekant ons menswees dikwels op ’n gewelddadige wyse verwring.

      Talle waarnemers van ons tyd, waaronder Peter Sloterdijk, Slavoj Zizek en John Milbank, het dit dan ook al beklemtoon: sonder transendente verwysingspunte sluit ons wêreld homself in ’n geslote wêreld toe. Met verpletterende gevolge.

      ‘Verpletterende,’ omdat ’n volledig immanente wêreld (dit is ’n wêreld sonder verwysings na die transendente) homself nie kan stig sonder om afwykendes uit te ban en kritiese stemme tot sondebokke te verklaar nie.      Die gewelddadige totalitêre sisteme van ons epog (die kommunisme, die Nazisme, ensovoorts) en ’n subtieler variant daarvan, soos die liberale kapitalisme, is voorbeelde hiervan. Sonder uitsondering word die herinnering aan ’n transendente buitekant in dié sisteme uitgedoof en mense so in ’n geslote werklikheid toegesluit. ‘Auschwitz’ en ‘Hiroshima’ is hiervan die duister uitdrukking. Ook die geweld van die globale ekonomiese orde teen natuur én kultuur.

      Sonder die situering van die mens binne die onmeetlike wydte en oneindige oopte van die transendente verskraal die sogenaamde immanente wêreld tot ’n benoude wêreld en word die eg menslike verwring. Daarom ook nie verniet nie dat daar vandag ’n wydlopende gevoel is dat die moderne verbanning van die transendente uit die openbare lewe hersien moet word.  

2. Daar kan vandag met oortuiging aangevoer word dat daar ’n direkte verband bestaan tussen die moderne opskorting of inperking van die transendente en die verskraling van die mens tot ’n hiper-individuele verbruiker. Waarom?

      Omdat die sogenaamde immanente wêreld nie deur die modernisme vanuit sy ‘kosmiese bondgenootskap’ met die transendente verstaan word nie, word mense by voorbaat ideologies tot eensame enkelingskap verskraal. Mense word daarom ook bykans sonder uitsondering in die modernisme verstaan as selfgesentreerde individue wat slegs hul eie private ekonomiese belange opsoek.

      Met behulp van onder andere René Girard kan ’n mens die gevolge daarvan binne die moderne wêreld so formuleer: hoe minder mense hulself vanuit hul gemeenskap met ’n transendente verstaan, des te meer herdefinieer hulle hulself as individue wat in ’n kompetisie om sogenaamde skaars hulpbronne met ander individue gewikkel is. Kortom, volgens Girard gaan die moderne verlies aan ’n transendente met die herdefiniëring van verhoudinge in mededingende terme gepaard.

      Die moderne liberale, kapitalistiese en Darwinistiese beeld op die mens as gewikkel in ’n voortdurende stryd om ekonomiese oorlewing het die  belangrikste ideologiese verbintenis van die heersende Westerse middelklas geword. Richard Dawkins se popularisering daarvan met sy idee dat ons menswees vanuit die logika van die selfish gene verstaan kan word, is hiervan vandag die hoëpriesterlike weergawe. Sy vertroue op die selfsugtige geen as die sleutel tot die verstaan van die lewe hou nie soseer met sogenaamde objektiewe feite verband nie, maar veel eerder met sy eie ideologiese aansluiting by die modernisme.

      Maar daarmee word die relevansie van die vraag na die transendente opnuut beklemtoon. As daar vandag antwoorde op die geweld van die verbruikerskultuur en sy gewelddadige mensbeeld gesoek word, kan dit waarskynlik nie buite-om verwysings na die transendente gedoen word nie.

3. Ten spyte van die inperking tot die private en innerlike wêreld waaraan die modernisme die transendente onderwerp, keer dit ironies genoeg telkens weer in die openbare lewe terug. Waarom?

      As maatskaplike en politieke wesens oriënteer mense hulself – altyd weer – op ’n transendente werklikheid. ’n Mens sou selfs kon sê dat elke maatskaplike en politieke orde tot stand kom in die gesprek tussen ’n immanente en ’n transendente werklikheid, tussen ’n binne- en ’n buitekant, tussen ’n hier en ’n daar.

      Volgens antropologiese getuienis was dit reeds waar van die vroegste mense. Reeds vanaf ons vroegste oomblikke oriënteer ons onsself op ’n transendente buitekant. Die ritualistiese rotsskilderye van onder meer die Cro Magnon-mense uit talle grotte in die hedendaagse Frankryk en Spanje dui reeds daarop: ons ritualiseer altyd weer ons saam-wees en rig ons so op ’n transendente.

      Nie ’n enkele moderne maatskaplike en politieke beweging van die afgelope eeue weerspreek hierdie gegewe nie. Vanaf die Franse rewolusionêres tot en met die nasionalistiese en nasionaal-Marxistiese bewegings van die 19de en 20ste eeue word telkens ’n beroep op transendente groothede gedoen en ’n magdom simbole gebruik om uitdrukking daaraan te gee. Die rewolusionêre, nasionale en antikoloniale vlae, letterkundes en musiek lewer oorvloedig getuienis daarvan.

4. Die ironie is dat bogenoemde ook van die sogenaamde moderne liberale wêreld waar is. Terwyl laasgenoemde altyd weer voorgee om die transendente tot die private wêreld in te perk, stig ook hy homself nie anders nie as met ’n beroep op transendente groothede. En verwag hy van andere om hom daarin na te volg! Ten spyte van sy ontkenning van die transendente is die moderne wêreld self in ’n eie ‘teologie’ gegrond.

      Die moderne transendente kan onder meer opgespoor word in die moderne geloof in die onsigbare werking van die mark, die absolute vertroue in menseregte en die mag van kennis en tegniek, of die geloof dat alles deur ’n sublieme afgrond (’n leë niks, ’n radikale toevalligheid, ensovoorts) onderlê word. Laasgenoemde het die laaste dekades selfs ’n soort onuitgesproke credo onder veral postmoderne intellektuele geword.

      Maar daarom ook die hedendaagse oproep deur verskeie kritici van die moderne wêreld: As die moderne liberale wêreld homself ook en ten spyte van sy verklaarde oogmerke op transendente groothede beroep, kan ons onsself nog langer aan sy afkeur jeens transendente groothede behalwe sy eie onderwerp?

5. Vandag word vanuit verskillende kringe met reg aangevoer dat die moderne houding jeens die transendente tot ’n aanvaarding van die status quo lei. Dit weerhou ons daarvan om in die maatskaplike en politieke werklikheid positiewe alternatiewe na te strewe. Waarom?

      Die moderne wêreld voer nog altyd aan dat in die beweerde afwesigheid van ’n transendente saak soos die ‘goeie’ waarop ons ons handeling kan rig, dit slegs sin maak om na die vermyding van die kwaad te strewe. Die hoogste doel is nie die verwesenliking van ’n positiewe goed deur die kultivering van die ou deugde (redelikheid, geregtigheid, dapperheid en die goeie oordeel) nie. Die hoogste doel is eerder negatief, naamlik om die kwaad te vermy. Daarvoor is nie deugdelike handeling nodig nie, maar slegs die navolging en administrasie van die nodige reëls, regulasies en moralistiese voorskrifte. As daar nog ’n goeie na te streef is, is dit iets wat ons slegs in die private wêreld moet kultiveer.

      Vandag weet ons dat dié houding (buiten dat dit tot verregaande moralisering aanleiding gee) bestaande magstrukture na die mond praat. In plaas daarvan om laasgenoemde met ’n positiewe opvatting van die ‘goeie lewe’ uit te daag, word dit eerder onaangeraak gelaat.

      Nog meer, ons weet ook dat dit tot die opheffing van die politieke lewe as sodanig lei. In ’n wêreld wat deur reëls en regulasies geadministreer word, kan daar nie plek wees vir die politieke handeling wat vra hoe die goeie verwesenlik kan word nie. As daar dan ook vandag voorspraak vir die transendente gemaak word, gaan dit onvermydelik gepaard met ’n voorspraak vir die politieke lewe.

      Kortom, die transendente en die politieke sluit mekaar nie uit nie, maar vooronderstel mekaar. In die bondgenootskap tussen die politieke en die transendente kan bestaande hegemonieë deurbreek en anderkant die heersende kodes getree word. Maar daarom ook die aktualiteit van die vraag na die transendente.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=545
Artikel nagegaan:
    -