|
||||
Fanny Pigeaud *Joernalis. Uit die Frans vertaal deur Christel Cattin, [email protected]
Met ’n potjie jogurt in die een hand en ’n Bybel in die ander het die Malgassiese president, Marc Ravalomanana, nie die troefkaarte laat vaar wat hom in staat gestel het om die bewind in 2002 oor te neem nie. Die industriële vervaardiging van melkprodukte, waarvan hy oor die alleenreg in Madagaskar beskik, het hom inderdaad in staat gestel om hom tot die wedloop om die presidentskap te wend aan die einde van 2001. Verder het sy Protestantse geloofsoortuiging hom die steun van Christelike kerke, wat tradisioneel baie invloedryk op die Groot Eiland is (1), verseker. Die "jogurt-koning" gebruik dieselfde resep reeds bykans die afgelope vier jaar lank. Mnr. Ravalomanana is in Mei 2002 verkies na afloop van ’n ses maande lange politieke krisis, nadat die uitgaande staatshoof, Didier Ratsiraka – wat vir 20 jaar lank aan bewind was – geweier het om sy nederlaag te erken (2). Die volk se mobilisasie het die bejaarde outokraat (3) uiteindelik gedwing tot ballingskap in Frankryk. Die ondersteuning van die magtige Federasie van Christelike Kerke van Madagaskar (FFKM) was deurslaggewend. In 1991 het die FFKM reeds ’n sleutelrol gespeel deur bemiddeling te reël tussen President Ratsiraka en die opposisie se “heethoofde” en wat die samestelling van ’n oorgangsregering moontlik gemaak het. Sedert 2002 versterk die nuwe president sy bande met die land se kerkleiers voortdurend en tot ongekende vlakke. Hy is byvoorbeeld in Augustus 2004 herkies tot visepresident van die Gereformeerdede Kerk van Jesus Christus (FJKM), een van die vier komponente van die FFKM. Enkele weke later het mnr. M. Jean Lahiniriko, president van die Nasionale Vergadering en lid van die presidensiële party, Tiako i Madagasikara (TIM, “Ek is lief vir Madagaskar”), tesourier geword van die Lutherse Kerk. Die ander konfessies bly nie agter nie: “Die eerste minister, Jacques Sylla, Katoliek, is benoem op aanbeveling van Kardinaal Armand Razafindratandra”, erken mev. Madeleine Ramaholimihaso, stigterslid van die Nasionale Komitee vir die Waarneming van Verkiesings (CNOE). ’n Uitsonderlike gebeurtenis: ’n lening van die Wêreldbank het in April 2005 ’n nasionale byeenkoms van pastore van die FJKM gefinansier. Mnr. Ravalomanana het van die geleentheid gebruik gemaak om aan die deelnemers te verduidelik dat hy hoop om van hulle “agente vir ontwikkeling” te maak in diens van die staat. Kort tevore, tydens hierdie vergadering, het hy openlik die idee van ’n “teokrasie” geopper, terwyl die Grondwet die sekulêre karakter van die staat proklameer. Baie Malgasse wonder oor die president se oogmerke. Gaan hy werklik die kerke inspan tot diens van ’n spoedige ekonomiese herstel, of gebruik hy die volk se geloofsoortuigings om sy mag te vestig? Sommiges, soos die organisasie Sefafi (“waarnemer van die openbare lewe”), verbloem nie hulle besorgdheid oor die “gereelde teenwoordigheid van Christelike kerke by die opening van amptelike seremonies of werksessies in staatsinstellings se kantore en in openbare geboue nie, asook die vergunning, in ruil vir vergoeding, van massiewe finansiële staatshulp aan sekere geloofsoortuigings” nie. Verpligte gebede in laerskole tydens vlaghysings laat andere die wenkbroue lig. ’n Universiteitsdosent was erg geskok by die jaarlikse middagete van die Unie van dosentenavorsers in 2004: “Dit is met gebed ingelei. Die Minister van Tersiêre Onderwys was teenwoordig. Niemand het ’n oog geknip nie. Ek wou reageer, maar my bure het my vinnig op my plek gesit”, vertel sy. Desondanks tel sy onder diegene wat mnr. Marc Ravalomanana in 2002 ondersteun het. In daardie stadium het die ondersteuners van die nyweraar hom voorgestel as die “Messias” wat gekom het om die eiland te red van die ramp waarin mnr. Ratsiraka dit gedompel het. “Moenie vrees nie, glo net”, was sy gebruik om ’n vers uit die Evangelie van Markus te aan te haal. Byeenkomste waarby hy betrokke was, is altyd met gebed geopen: “Die FFKM was daar. Daar is enkele minute lank gebid en psalms gesing. Maar die byeenkoms het dan vinnig herfokus, en ander sake is aangeraak”, onthou die dosent. Vir haar was hierdie geesdrif by uitstek ’n uitdrukking van die Malgassiese gemeenskap se desperaatheid: “Sy maatskaplike verbeelding is geheel en al deur die Ratsiraka-regime vernietig en het sonder twyfel uitdrukking gevind in geloof. Daarna was dit die kerke se taak om die vloer te vee. Hulle het dit nie gedoen nie”, meen sy. Nietemin is laasgenoemde tans verdeeld. Op hierdie wyse vind die kardinaal se ondersteuning aan die staatshoof nie byval by sekere lede van die Katolieke kerk nie. Volgens Vader Rémi Ralibera, sekretaris-generaal van die FFKM, “gaan die Kerk nie ongedeerd van hierdie noue samewerking met die politieke mag afkom nie. Die sekulêre karakter van die staat is tans ongeldig”. Vir Vader Sylvain Urfer “is die FFKM se politieke verbintenis by uitstek uitstekende besigheid vir sektes. Dit stel hulle in staat om te sê: "Kyk na hierdie kerke wat politiek bedryf. Ons doen dit nie, kom na ons toe. En dit werk!” Radiostasies wat gebede of geestelike musiek uitsaai, het ook talryk geword in Madagaskar. Hierdie vermenigvuldiging skyn die owerhede te kwel. Aan die begin van 2005 het die regering drie geloofsverenigings tot sektes verklaar om die enkele rede dat hulle nie oor gevestigde aanbiddingsplekke beskik nie, en hulle is verbied. Die vreemdheid van die redenasie en ’n vae beskuldiging van “versteuring van wet en orde” laat die vrees ontstaan vir ’n amptelike “religieuse beleid” wat lynreg teenoor godsdiensvryheid staan. Al het die koninklike mag Protestantisme as staatsgeloof in die negentiende eeu ingelyf, is die bande tussen openbare instellings en die kerke relatief skaars. “Daar moet gemeld word dat die kerke baie na aan die landelike bevolking staan, die teiken van Ravalomanana se besorgdheid, aangesien hy self daaruit kom”, verduidelik mnr. Solofo Randrianja, dosent in Eietydse Geskiedenis aan die Universiteit van Toamasina. In ’n verslag wat in 2005 deur die Switserse vereniging, Swisspeace, gepubliseer is, merk hy die belangrikheid van hierdie band op “tot die mate waarin ’n Katolieke Kerk soos die FJKM, deur middel van hulle sekulêre takke vir liefdadigheid, by ontwikkelingsaksies betrokke is in samewerking met die staat en met internasionale borge (4).” As staatshoof en so te sê kerkhoof bly mnr. Ravalomanana steeds ten volle ’n maatskappybestuurder wat sy vingers klap wanneer botsende belange wat onvermydelik met so ’n situasie gepaard gaan, ter sprake kom. Hy bestuur steeds die landbougroep Tiko (5) wat in 1981 gestig is danksy ’n voordelige lening van die Wêreldbank. Op dieselfde wye as die FFKM het Tiko in die staatsmasjinerie beland: diegene wat die “Tiko boys” genoem word, het afgevaardigdes of amptenare van die administrasie geword. Mnr. Solofonantenaina Razoarimihaja, voorsitter van die presidensiële party, Tiako i Madagasikara (TIM – “Ek is lief vir Madagaskar ”) en vise-president van die Nasionale Vergadering is byvoorbeeld ’n voormalige bestuurder van Tiko. Daarteenoor wil dit voorkom asof verskeie maatreëls wat deur mnr. Ravalomanana in sy amp as president van die Republiek ingestel is, sy groep in die besonder tot voordeel strek. Op hierdie wyse het Tiko Oil in 2005 voordeel getrek uit die afskaffing van belasting op bruto olie soos dié wat die maatskappy hanteer, terwyl geraffineerde olie wat deur sy mededingers ingevoer word teen 20% belas word. Verskeie ekonomiese waarnemers is dit eens dat die industriële konsortium sy omset minstens verdriedubbel het sedert die verkiesing in 2002, en hulle veroordeel die ondeursigtigheid van die Malgassiese sakewêreld. “Daar kan gesê word dat Ravalomana homself baie meer as sy voorganger verryk het, neem mnr. Richard R. Marcus, dosent in Politieke Wetenskap aan die Universiteit van Huntsville (Alabama) waar. “Maar terwyl Ratsiraka dit gedoen het deur openbare fondse te verduister, maak Ravalomana gebruik van sy politieke posisie om seker te maak dat sy maatskappye daarin slaag om deurslaggewende kontrakte uit sy mededingers se hande te neem en om openbare maatskappe wat geprivatiseer word, teen ’n afslag te bekom”. Die groep het juis sy aktiwiteite gediversifiseer. Die firma, alreeds die eienaar van ’n radiostasie en ’n televisiekanaal, die Madagascar Broadcasting System (MBS), het ’n koerant geloods, Le Quotidien, wat hy self druk. Daar word uiteraard voortgegaan om sowel dierevoedsel te produseer as jogurt, roomys, botter, olie, drank, ens. Tiko het ook belê in openbare werke met twee maatskappye, ’n boufirma genaamd Asa Lalana Malagasy (Alma) en die siviele ingenieursfirma, die Compagnie de construction Malagasy (CCM). “Vele plaaslike ‘rykaards’ is steeds verbind tot die ou gesag en weier om saam te werk. Die president is dus verplig om dinge self te doen. Tiko is die enigste middel waaroor hy beskik,” kap die president van TIM terug in antwoord op diegene wat die groep se “bulimie” aanroer. Terwyl hulle kritiek relativeer, verkies sommiges, soos die dosent Solofo Randrianja, om klem te lê op dit wat Tiko se baas tot die land bydra: “Ravalomanana is ’n bourgeois in die klassieke sin van die woord. Sy maatskappye kan oorleef danksy die bestaan van ’n plaaslike mark. Maar die skepping van hierdie mark beweeg in die rigting van die land se integrasie: wanneer Ravalomanana paaie laat bou, vergemaklik dit uiteraard die sirkulasie van sy groep se produkte, maar die algemene bevolking vind ook baat daarby. Ratsiraka, daarenteen, het alleen gehandel soos ’n roofdier. Hy het byvoorbeeld openbare brûe laat agteruitgaan om sy maatskappy, Decagon, die geleentheid te gee om private toldeurgange te installeer”. Sedert 2002 het die regering die infrastruktuur versterk: die hawens van Toliara en Mahajanga is herstel; paaie wat in totaal 1 500 kilometer beslaan, en wat die hoofstad met die grootste provinsiale stede in die ses provinses verbind, is herbou; die nasionale pad wat Antananarivo met Toamasina verbind en vroeër in ’n bedenklike toestand was, is splinternuut (6). Dit lyk asof die nuwe regime in hoë mate by die “internasionale gemeenskap” byval vind. Madagaskar is die grootste begunstigde van die Verenigde Nasies se Millenium Ontwikkelingsdoelwitprojek se fonds; die Franse Senaat het die Louise Michel-prys, wat prominente persone vereer “wat republikeinse waardes verdedig”, aan mnr. Ravalomanana toegeken. In Oktober 2004 het internasionale bilaterale borge Malgassiese skuld gedeeltelik of geheel en al afgeskaf. Die land se ekonomie bly nietemin baie broos. Tussen Januarie en April 2004 het die Malgassiese geldeenheid 50% van sy waarde verloor. Aan die einde van September 2004 het inflasie 22% bereik. Tussen Desember 2004 en Desember 2005 het dit 11,4% bereik. Die wêreldwye verhoging in brandstofpryse het nie gehelp nie. Sedert Junie 2005 gaan die land gebuk onder daaglikse elektrisiteitsonderbrekings: die nasionale elektrisiteitsmaatskappy, Jirama – waarvan die bestuur in Januarie 2005 aan die Duitse firma Lahemayer afgestaan is – en wat deur al die vorige regimes sedert onafhanklikheidswording gemelk is, staan op die rand van bankrotskap. Tariewe het gevolglik in Julie 2005 met 30% opgeskiet en in November 2005, ’n verdere 30%. Aan die begin van 2005 is die groeikoers op 7% vasgestel, maar dit het oplaas ’n plafon van 5,1 % bereik. Gedurende die eerste kwartaal van 2005 het uitvoere van maatskappye in die vry sone met 24% verminder vergeleke met 2004. Sleg enkeles trek voordeel uit groei. Slegs groot ondernemers kon byvoorbeeld voordeel trek uit die afskaffing van belasting om hulle produksiegereedskap te moderniseer. “In werklikheid is ons sedert 2002 die toeskouers van ’n verskerpte liberalisme sonder voorbehoud,” merk Vader Sylvain Urfer op. “Dit is die wet van die sterkste, en die armes gaan swaar daaronder gebuk”. Die land word 146ste uit 177 geklassifiseer op die Verenigde Nasies se Program vir Ontwikkeling (UNPD) se skaal vir menslike ontwikkeling. Twee-derdes van die Malgasse (80% van die landelike bevolking en 55% van die stedelike bevolking) leef steeds onder die broodlyn; 60% ly aan wanvoeding. Salarisse het bykans niks verhoog nie. ’n Werknemer van die Departement van Onderwys vertel rasend van woede dat hy verplig is om privaatklasse na sy werksure te gee ten einde sy inkomste aan te vul. Openbare hospitale, wat voorheen deur die laer inkomstegroepe besoek is, ontvang die middelklas sedert die konsultasietarief in Februarie 2005 van 1200 tot 15 000 Ariary (7) verhoog is: die armste mense is uit die stelsel gewerp en wend hulleself tot tradisionele praktisyns, merk ’n dokter op. Al is skoolgelde afgeskaf, was dit eers in Oktober 2005 dat die staat begin het om skole te voorsien van die nodige om te kan funksioneer. Wat die gratis verspreiding (befonds deur die Wêreldbank) van skooltoerusting aan leerlinge betref, is dit goed en wel om dit voor te stel as ’n wyse om teen armoede te stry, maar dit is bloot ’n skuiwergat. “Word die ware oorsake of slegs die gevolge van armoede beveg?” vra ’n laerskoolonderwyseres in Antananarivo se buitewyke haarself af. Die situasie op die platteland waar meer as 70% van die Malgasse woon, het nie enige merkbare verbetering getoon nie. Die skouspelagtige verhoging in die prys van rys in 2004 – dit het verdriedubbel tussen April en Desember – het slegs enkele groot produsente bevoordeel, terwyl die groot gros van klein rysproduseerders verontagsaam is (8). Aan die ander kant van die spektrum het die bevolking, vir wie hierdie graan hulle basiese stapelvoedsel is, erg daaronder gely. “Ratsiraka het die ryspryse gesubsidieer om hulle kunsmatig laag te hou. Ravalomanana het hierdie subsidie afgeskaf. Hy het die pryse laat sweef en dit het opgegaan,” verklaar mnr. Richard R. Marcus. Die president se groot aantal buitelandse reise – onderneem aan boord van sy vliegtuig wat “Force One” genoem word – om buitelandse beleggers na wie daar met soveel verwagting uitgesien is, te verlei, het diesnieteenstaande geen uitwerking gehad nie. ’n Nieregeringsorganisasie (NGO), die Konsortium van Solidariteit met Madagaskar, lê klem op verenigings se besorgdheid oor hierdie groeiende armoede, omdat hulle nie die vermoë besit om die staat te vervang wat gesondheid of voeding betref nie (9). Mnr. Marc Ravalomanana het sy gewoontes as maatskappybestuurder behou vir die bestuur van nasionale aangeleenthede. Na bewering impulsief en wraaksugtig, het hy reeds verskeie ministers en staatsadviseure wat hy as “onbevoeg” beoordeel het, afgedank (10). Die meeste van hulle het hulle kort daarna by die opposisie geskaar. In die naam van hierdie einste “bevoegdheid”, gebeur dit soms dat die staatshoof nie altyd by die wetlike prosedure hou nie. “As die vrug van persoonlike nadenke van die president van die Republiek is die afskaffing van belasting in Augustus 2003 beslis en onmiddelik toegepas, voordat die Parlement aangevra is om hulle te begrawe,” reageer Sefafi. Verder, onder die voorwendsel van die “handhawing van wet en orde” en om politieke oproer tydens verkiesingsperiodes te beperk, het die regerings- en munisipale owerhede nie gehuiwer om twee van die opposisie se openbare vergaderings te verbied nie – op 22 November en 17 Desember 2005. Dit het protes uitgelok van die betrokke partye asook van organisasies soos Sefafi, wat ’n terugkeer na praktyke van die Ratsiraka-regime veroordeel. “Dit is oneerlik om te verwag dat alles binne drie of vier jaar kan verander. Baie van diegene wat die huidige regime kritiseer, doen dit omdat dit hulle belange dien,” reken Fara, ’n partylid. Ander is van mening dat vryhede op hierdie wyse beter beskerm word. Op soortgelyke wyse dui ’n verslag wat deur vier navorsers opgestel en in Oktober 2005 gepubliseer is (11), aan dat meer as vier uit vyf Malgasse van mening is dat “die vryheid om sonder druk te kies vir wie ’n mens wil stem” groter is as enkele jare tevore en dat 76% van die bevolking dink dat “die vryheid om te sê wat ’n mens dink” beter gerespekteer word. In weerwil van die polemiek is mnr. Ravalomanana bykans verseker daarvan dat hy volgende jaar herkies sal word. Teenoor hom kom die opposisie minder geloofwaardig voor. Sedert Junie 2005 eis dit die opstelling van ’n “oorgangsregering”, aangesien die presidentsverkiesing van 2002 – van ’n tweede rondte ontneem – nie volledig plaasgevind het nie. Hierdie vereiste word nouliks ernstig opgeneem. “Diegene wat hulleself in die opposisie bevind, wil bloot die mag en die rykdom wat daarmee saamgaan, terugvind. Dit is al wat hulle interesseer”, meen ’n inwoner van Antananarivo net soos vele ander. Al het die meerderheid van ekonomiese rolspelers een van hulle makkers met tevredenheid as staatshoof aanvaar, het hulle baie behoedsamer geword sedert die finansiële krisis in 2004, maar hulle stem nietemin saam dat die regering in 2007 hernieu moet word. “Hierdie eerste jare was ’n fase van vestiging. ’n Mens kan nie dadelik resultate sien nie. Die nuwe span moet voortgaan met dit waarmee hy begin het, anders gaan ons weereens van voor af begin en dit sal weereens katastrofies wees,” meen ’n ondernemer wat in die hoofstad gevestig is. “Vele dinge is vermag. In die platteland kom mense agter dat dinge nie meer soos voorheen is toe enigiemand enigiets kon doen nie: nou word alles bestuur, boere vorm verenigings en klein ontvangers kan nie meer by enigiemand aanklop nie.” In Antsirabe, ’n groot stad wat 160 km suid van die hoofstad geleë is, kom ’n sosioloog wat ’n spesialis van die landelike bevolking is, minder optimisties voor: die idee om ’n landboubedryf te ontwikkel wat dikwels deur die owerhede in Antananarivo aangemoedig word, kom vir hom heeltemal buite verband voor met die realiteit van Malgassiese landbou, wat grotendeels uit klein familie-eenhede bestaan. In 2005 het die staat ’n duisend Nieu-Seelandse melkkoeie ingevoer om boere aan te spoor om hulleself in die melkbedryf te vestig. Personeellede van die Departement van Veeteelt wat daarteen gekant was, is afgedank. Die helfte van die vee is deur Tiko aangekoop. Die res het tot op hede geen kopers gevind nie: die aantal boere wat ’n koei kan bekostig wat 4 miljoen Ariary kos (sowat 1800 Euro), is skaars (12). In 2002 het mnr. Marc Ravalomanana vier maande nodig gehad om internasionale erkenning te bekom. Met die vooruitsig van volgende jaar se verkiesing kan hy reeds op die ondersteuning van borge staatmaak wat tevrede is met sy neoliberale beleid, met die instelling van die Hoë Raad vir die Stryd teen Korrupsie (Cslcc) en met die Onafhanklike Anti-korrupsie Kantoor (Bianco). Waarom aanvaar die borge dat die staatshoof byvoorbeel ’n maatreël vir die ontheffing van belasting instel wat lynreg teenoor hulle beginsels staan, terwyl hulle voorheen met ’n vuis op die tafel moes slaan vir minder? “Die feit dat die regering die vermindering van armoede as doelwit op die voorgrond stel, bied ’n gedeeltelike verduideliking vir hulle inskiklikheid,” meen mnr. Philip Allen, dosent aan die Universiteit van Frostburg (Maryland). Hierdie wêreldwye finansiële instellings is deesdae alomteenwoordig. “’n Mens kry die indruk dat Ravalomanana nie vry is nie. Dit is die Wêreldbank, die IMF [Internasionale Monetêre Fonds] wat alles dikteer. Die intellektuele wat voel hulle is bevoeg, word heeltemal uitgesluit. Die president se tegniese assistente is buitelanders, amper soos onder die Eerste Republiek toe daar ’n Fransman agter elke Malgas was. Dit skep ongelooflike ongemaklikheid. Reeds onder Ratsiraka, vanaf die strukturele aanpassings in die middel van die 1980's, is daar aan Malgassiese bestuurders voorgesê om stil te bly”, verduidelik mev. Janine Ramamonjisoa, dosent in Sosiologie aan die Universiteit van Antananarivo. En die atmosfeer aan die universiteit is inderdaad stug. Vele dosente – waarvan die meerderheid mnr. Ravalomanana in 2002 ondersteun het – die meerderheid van hulle ouer as vyftig jaar (aan die begin van die 1990's het die Wêreldbank gevra om aanstellings te vries), erken teleurgesteld dat hulle uitgeput is. “Ek het aan die volksbewegings van 1972, 1991 en 2002 deelgeneem (13). Vandag is dit verby, ek het nie meer die energie om met enigiets te begin nie,” bieg een van hulle aan die stuur van sy ou Renault R5. Is dit toevallig dat die musiekgroep Mahaleo ’n doring in die voet vir mnr. Ratsiraka se regime, vandag, meer as dertig jaar na sy debuut, steeds net soveel stadions vul? “Ek vrees niks het verander nie. Die president veins die verlede. Soos meubelstukke in museums wat nie ’n skrapie het nie, maar toegegroei is onder mos”, het die protesteerders aan die begin van die 1980's gesing ... Die liedjie is steeds baie gewild. Nietemin, aan diegene wat twyfel of die rigting waarin die land gestuur word die regte een is, gee die president se ondersteuners raad: geduld. “Die pad is nie maklik nie,” soos mnr. Solofo Randrianja opmerk, “want daar moet terselfdertyd deursigtigheid aan staatsbestuur verleen word, terwyl voorregte en netwerke wat sedert die onafhanklikheidswording gevestig is, aandag moet kry ...”
_________ (1) Lees Sylvie Brieu, “La Grande Ile sous l’influence des Eglises”, Le Monde diplomatique, Oktober 1995. (2) Lees Jean-Aimé Rakotoarisoa, “Les racines culturelles de la crise malgache”, Le Monde diplomatique, Maart 2002. (3) Lees Philippe Leymarie, “Madagascar entre nationalisme et survie”, Le Monde diplomatique, Maart 1997. (4) “Ravalomanana, 2002-2005: Des produits laitiers aux affaires nationales” FAST Country Risk Profile Madagascar. Augustus 2005. (5) Die groep bestaan uit: Tiko Oil Products, Tiko Agri, Toamasina Oil Plants, Iko, Tia (landbou); Magro (Malagassiese groothandelaar), Tiko (handel), Alma, CCM (konstruksie), radio mada, mbs, radio fahazavana, le quotidien, Blueprint (media). www.tiko.mg (6) Daar is steeds veel om te vermag in ’n land wat berug is vir sy gebrek aan toerusting: daar bestaan 14 000 km "begaanbare" paaie in Madagaskar, die helfte minder as in 1960. (7) Sedert Desember 2004 vervang die ariary die malgassiese frank. Dit kan nie verruil word nie. Een ariary is gelykstaande aan 5 malgassiese frank. Een euro is gelykstaande aan 2500 ariary. (8) In 1999 het die rysbedryf 12% van die bruto binnelandse produk (BBP) uitgemaak en het rysproduksie ongeveer 10 miljoen mense van die 15 miljoen inwoners betrek. (9) Madagasconsortium.free.fr (10) Mnre. Andry Rasamindrakotroka (Gesondheid), Haja Razafinjatovo (Onderwys), Jean Seth Rambeloharijanona (Binnelandse Sake), Ndalana René (Sport), Zaza Ramandimbiharison (Adjunk Eerste Minister), Mejamirado Razafimihary (Nywerheid). (11) Navorsing gedoen deur die Navorsingsinstituut vir Ontwikkeling, l’Institut de recherche pour le développement (IRD); die Raad vir Studie en Opleiding, Conseil, étude, formation (Coef); Ontwikkeling, Instellings en Langtermyn-analises (Dial). www.afrobarometer.org/madagascar.htm (12) Die minimumsalaris is vasgestel op 52 000 ariary (24 euro). (13) In 1972 het ’n volksbeweging vir Philibert Tsiranana, wat as neokoloniaal bestempel is, omvergegooi. In 1991 het ’n ander volksbeweging vir mnr. M. Didier Ratsiraka ’n eerste keer verdryf. |