blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


George W. Bush vs. die Common Man: 'n Resensie van Michael Moore se Fahrenheit 9/11 2004-10-08
Gerrit Brand

Deur Gerrit Brand


Om ‘n rolprent te gaan kyk waaroor ‘n mens reeds vantevore – en maande lank – tallose resensies gelees het, is ‘n enigsins vreemde ervaring. Sommige van die tonele in Fahrenheit 9/11 wat dikwels in resensies ter sprake gebring is – soos president George W. Bush wat, nadat hy die media ernstig oor die “oorlog teen terreur” toegespreek het, omdraai vir ‘n gholfhou en nonchalant sê, “Now watch this shot” – het vir my minder trefkrag gehad. President Bush het immers ‘n potjie gholf onderbreek om die media te woord te staan; dit is nie so vreemd dat hy daarna weer met die spel voortgaan nie. Dat sy optrede by dié geleentheid van weinig finesse getuig, is polities- – selfs moreel- – gesproke nie juis betekenisvol nie. Ander tonele, soos die lang nabyskoot van Bush se gesig waar hy in ‘n klaskamer saam met kinders ‘n boek lees nadat hy pas van die tweede vliegtuigaanval in New York verneem het, was vir my veel erger as wat ek verwag het. In ‘n bepaalde opsig is dit ‘n wrede toneel – wie van ons sal graag in die kamera se lens wil wees op so ‘n oomblik? – maar in ‘n ander opsig openbaar dit tog iets ontstellend omtrent die karakter van die magtigste staatshoof ter wêreld. Immers, Bush het reeds van die eerste aanval geweet toe hy die klaskamer binnegestap het. Dit, gekombineer met tonele waarin Bush op ‘n onbeholpe, byna kinderlike manier moeilike vrae oor sy baie vakansie-houery gedurende die eerste fase van sy presidentskap probeer beantwoord – en teen die agtergrond van sy twyfelagtige militêre en sake-agtergrond wat ook in die rolprent ter sprake kom – laat by ‘n mens die ongemaklike indruk van ‘n nouliks volwasse swakkeling wat heeltemal uit sy diepte in ‘n uiters verantwoordelike pos is. Dit is dan ook ironies dat, in die huidige verkiesingsveldtog, Bush se vermeende daadkrag blykbaar as ‘n sterk punt teenoor John Kerry se meer huiwerende styl beskou word.

Dit is jammer dat Michael Moore in sy rolprent nie hierdie aspek van die post-9/11 drama verder blootlê nie. As Bush dan inderdaad, soos die rolprent aanvanklik suggereer, ‘n onsekere, besluitelose en onbeholpe dommerd is (volgens Nelson Mandela se gewraakte uitspraak “a man who cannot think properly”) – en by implikasie dus glad nie opgewasse vir sy taak nie – laat dit die vraag ontstaan of sy keuses en optredes, byvoorbeeld met betrekking tot die Irak-oorlog, nie sterk deur die raad van adviseurs bepaal word nie. Die feit dat Bush hom van die begin af omring het met mense soos Donald Rumsfeld, Dick Cheney en Paul Wolfowitz wat almal uit dieselfde ideologiese dampkring kom, en verbintenisse met dieselfde netwerk van neokonserwatiewe organisasies en instellings het – en dat in hierdie kringe vir jare al voorbrand gemaak word vir aksie teen Irak en ‘n sterker Amerikaanse teenwoordigheid in die Midde-Ooste – verdien meer aandag as wat in Fahrenheit 9/11 daaraan gegee word.

In sy klassieke The Rise and Fall of the Third Reich wys William Shirer daarop dat Adolf Hitler reeds in sy boek Mein Kampf, wat hy in die gevangenis geskryf het, al die kernelemente van wat hy later as diktator sou doen, uitgespel het – en op die naïwiteit van tydgenootlike politici en diplomate in Europa wat, ten spyte hiervan, nog lank geweier het om die ergste oor Hitler te glo. Insgelyks sou ‘n mens kon vra hoekom Moore in sy rolprent so min aandag gee aan die feit dat die Bush-presidensie sedert 9/11 byna alles ten uitvoer bring wat sy neokonserwatiewe adviseurs al vir jare lank openlik bepleit en in die vooruitsig gestel het. Dit betref hier ‘n blinde kol in Moore se aanpak wat ook ‘n breër tendens in die politieke analises van ons tyd weerspieël: ‘n onwilligheid of onvermoë om te besef dat ingrypende historiese wendings deur idees – ook vreemde, irrasionele idees – aangedryf kan word. Een van die skrikwekkendste aspekte van onlangse ontwikkelings in die politiek van die Verenigde State is juis die mate waarin die ekstreem-eksentrieke opvattings van Christen-Sioniste en dergelike groeperings daadwerklik die optrede van besluitnemers op die hoogste vlak bepaal. Sou dit kon wees dat Moore hierdie aspek onderspeel omdat hy besef dat die ideologie van die Christian Right op redelike breë steun onder die Amerikaanse bevolking kan reken en dat ‘n te kritiese houding ten aansien daarvan hom dus die simpatie van Jan Alleman kan kos?

Hierdie moontlikheid kan nie uitgesluit word nie gesien Moore se moeite – ook in sy vorige rolprent, Bowling for Columbine – om hom aan die kant van die common man te skaar en sodoende populistiese steun in te oes. In teenstelling tot sy meedoënlose ontmaskering van Bush en trawante se kleivoete en kasgeraamtes gaan Moore dan ook uiters sagkens en onkrities te werk met die Amerikaanse volk. Hy gebruik ‘n skaamtelose ons-hulle retoriek om die volk teen die magshebbers op te sweep, maar vra nooit ongemaklike vrae oor die volk se toegenome steun aan Bush na 9/11 nie; ook nie oor die feit dat genoeg Amerikaners in 2000 óf van die stembus weggebly het óf vir Bush gestem het om hom in beheer van sake te stel nie. Die common man is per slot van rekening ook aandadig aan die korrupsie en geweld van die Bush-regime. Die popster Britney Spears word gewys waar sy die mening uitspreek dat Amerikaners maar liewer vir President Bush ten volle moet vertrou en so aan hul patriotisme uitdrukking moet gee, maar dat sy hiermee die gesindheid van ‘n groot deel – indien nie die groot gros nie – van die Amerikaanse bevolking verwoord, word oorverdowend verswyg.

In sy gesprekke met “gewone” Amerikaners – veral in sy tuisdorp Flint Michigan wat ook sterk in Bowling for Columbine gefigureer het – doen Moore telkens ‘n beroep op ‘n romantiese Amerikaanse nasionalisme, moontlik in die hoop om dié gevestigde diskoers téén diegene aan te wend wat dit vir siniese doeleindes misbruik. Teenoor ‘n vrou met ‘n seun in die weermag sê hy byvoorbeeld “It [die VSA] is a great nation, isn’t it?” en hy praat in ‘n gewyde toon oor arm, werkersklas Amerikaners wat hul lewe onbaatsugtig “sacrifice ... for our freedom”. Daarmee laat hy egter die vraag onaangeroer of die probleem nie juis hierdie soort Amerikaanse patriotisme is nie. Vir ‘n buitestaander is daar iets onsmaaklik aan die sakrale sfeer wat selfs deur anti-establishment figure soos Moore rondom Amerikaanse nasieskap geweef word. Is die ou cliché nie waar dat, in ‘n demokrasie, die volk die regering kry wat hulle verdien nie? Moore se wêreldbeeld word net soveel soos Bush s’n deur ‘n simplistiese goed-en-kwaad skema bepaal: Die presidensie, die Kongres en Senaat, die korporatiewe sektor en die media is boos – hulle mislei, bedrieg en buit uit, is gevoelloos, gierig en lafhartig; die volk, daarenteen, is onskuldige slagoffers, uitgelewer aan die gekonkel van die bose magshebbers.

Moore se werk kan vertolk word in die lig van die driehoek staat-korporasie-gemeenskap. Binne dié driehoek kies hy dan onmiskenbaar die kant van gemeenskappe. Hy wil uitwys hoe gemeenskappe benadeel en hul menslike waardes onderploeg word deur ‘n staat en korporatiewe sektor wat kop-in-een-mus en buite proporsie magtig is en hul eie, gemeenskapsvreemde agendas najaag. Dit is ‘n waardevolle perspektief wat beslis aandag verdien en grondliggende vrae oor die aard van demokrasie in die kapitalistiese nasiestaat oproep. Terselfdertyd laat Moore se onkritiese solidariteit met die common man ‘n mens egter ook wonder of die antwoord werklik uitsluitlik lê in die groter soewereiniteit van gemeenskappe. Fahrenheit 9/11 – soos Bowling for Columbine – bied immers, onbedoeld, ‘n netjiese illustrasie van hoe gemeenskappe en hul waardes ook maar op ‘n gevaarlike manier verromantiseer kan word.

Hiermee hang saam die vraag of dit nie dalk te eenvoudig is om die gemeenskap so teenoor die staat en die korporasies te stel nie. In ‘n land soos die VSA is die mag van staat en korporasie haas ondenkbaar sonder die onkritiese steun en/of toestemming van gemeenskappe. Vir gemeenskappe is dit dan altyd maklik, wanneer dinge verkeerd loop, om die blaam op die bose magshebbers af te skuif, soos inderdaad in Fahrenheit 9/11 te sien is wanneer die families van gesneuwelde en ook verminkte soldate self hul woede teen die Bush-regime rig sonder om een keer te wonder hoekom hulle hul in die eerste plek deur daardie einste regime laat mislei het. Daar is geen maklike antwoorde op hierdie vrae nie en Moore se rolprent help ons helaas nie juis verder daarmee nie.

Miskien sou meer aandag aan die dominante diskoerse wat sowel die etos van gemeenskappe as die ideologieë van staat en korporasies bepaal belangrike insigte kon oplewer oor wat presies verkeerd geloop het in die Amerikaanse samelewing. Dit sou ook die belang help onderstreep van pogings om nuwe, beter diskoerse op alle vlakke van die samelewing te vestig. So ‘n langtermyn – en permanente – taak lê oënskynlik buite die sigveld van die soort analise waartoe Moore hom met die onmiddellikheid van populistiese joernalistiek as genre beperk.

Tog bly Moore ‘n vaardige dokumentaris wat daarin slaag om ‘n paar belangrike punte oor te dra. Een daarvan het betrekking juis op die rol van die visuele media in ons tyd. As bekwame rolprentmaker het Moore ‘n skerp oog vir die manier waarop die media aangewend word om ‘n bepaalde werklikheid tot stand te bring. Hy ondermyn dan ook telkens allerlei vertroude beelde en disoriënteer so sy gehoor. Vroeg in die rolprent is daar ‘n lang reeks tonele van mense in die Bush-presidensie wat grimeer en opgetof word voordat hulle die media toespreek. Om mense soos Bush, Colin Powell en Dick Cheney in hierdie situasie waar te neem, is werklik ‘n openbaring. Wat Moore hiermee – en met vele ander tonele – sigbaar maak, is hoe kompleks en verskuiwend die grens tussen skyn en werklikheid in die virtuele wêreld van vandag geword het.

Die “werklikheid” geld nie meer as verwysingspunt of kriterium vir die beeld wat die media voorhou nie, maar omgekeerd: die beeld word nou self die verwysingspunt waarop die gemedieerde werklikheid sig moet oriënteer. Moore illustreer dit besonder treffend deur grepe uit Bush se toesprake af te wissel met grepe uit ou Cowboy-rolprente waarin dieselfde frase – “We’ll smoke them out” – voorkom. Kennelik modelleer Bush hom, bewus of onbewus, op hierdie rolprentiese rolmodelle. Die Amerikaanse publiek kan dan ook met Bush identifiseer omdat hulle hom in die konteks van dié klassieke rolprent-genre kan plaas en vertolk. Moore wys ook ‘n advertensie wat nuwe lede vir die burgermag wil werf: Dit begin met ‘n skoot van soldate wat afgeëts teen ‘n beligte horison op ‘n heuwel staan. Die figure van die soldate gaan dan oor in Playstation-agtige elektroniese karakters wat in ‘n “lewensgetroue” rekenaarspel met helikopters en gewere die virtuele vyand uitdelg. Die klankbaan vertel van blink loopbaanmoontlikhede en die geleentheid om jou “plig teenoor die gemeenskap” te doen. Die advertensie eindig met die elektroniese figure wat weer in “werklike” soldate op die heuwel verander. Die boodskap is duidelik: Deur by die burgermag aan te sluit, kan jy deel word van ‘n opwindende aksie-rekenaarspel. In ‘n ander toneel vertel soldate in Irak hoe hulle na opruiende heavy metal-musiek luister wanneer hulle met hul tenks Bagdad binnery en watter “thrill” dit hulle gee. Dit is asof die oorlog in Irak eers betekenis kry en “werklik” word, as dit gemedieer word deur die beelde en kodes van populêre kultuuruitinge.

Laastens iets oor Moore se sentrale tese. Ek het vroeër reeds genoem dat die rol van neokonserwatiewe ideoloë in die Bush-regime in die rolprent onderspeel word. In plaas daarvan word veel meer aandag bestee aan die konneksies tussen Bush en sy plaaslike finansiers en ondersteuners enersyds en die Saoedi’s andersyds. Moore maak dit aanneemlik dat die finansiële belange van Saoedi-magnate dermate met dié van die Bush-familie en hul vennote verstrengel is dat dit ‘n deurslaggewende invloed op die Amerikaanse politiek uitoefen – ‘n teorie waarvan hy nie die uitvinder is nie, maar wel ‘n bekwame woordvoerder. Sommige kritici van Fahrenheit 9/11 meen dat Moore hom hiermee aan ‘n soort samesweringsteorie waag waarmee hy sy geloofwaardigheid verloor. Ek deel nie hierdie siening nie. Die rolprent gee geensins te kenne dat die gebeure van 9/11 die resultaat van ‘n komplot gesmee tussen die “Huis van Bush” en die “Huis van Saoed” was nie.

Wat wel ontbloot word, is die uiterste mate waarin Bush en sy kring – ook sy pa, die oud-president – al vir jare deur die Saoedi’s verryk word en die groot aandeel van Saoedi-magnate in die Amerikaanse ekonomie. Dit verklaar deels hoekom die Bush-regime so gretig was om die gebeure van 9/11 met Afganistan en veral Irak te verbind en nie met die Saoedi’s nie – ten spyte daarvan dat die meeste van die 9/11-kapers, net soos Osama Ben-Laden, Saoedi’s was. Dit verklaar ook hoekom lede van die Ben-Laden-familie in die VSA onmiddellik na 9/11 landuit gevlieg is terwyl alle ander vlugte vir etlike dae gestaak is. Kennelik het die Amerikaanse regering uit hul pad gegaan om nie die Ben-Ladens, met wie hulle al jare sake doen, of ander Saoedi’s te affronteer of agterdog rondom hulle te wek nie. Nie ‘n enkele lid van die Ben-Laden-familie is byvoorbeeld ondervra nie, ten spyte daarvan dat hulle blykbaar tog nog sporadiese kontak met Osama en sy gesin gehad het.

Voeg hierby Bush se verhouding met die Afgaanse Taliban voordat hy president geword het, sy traak-my-nie-agtige houding teenoor terreurbedreigings voor 9/11, sy regering se growwe inperking van burgerlike vryhede in die Patriot Act en die talle leuens waarmee hulle skaamteloos hul imperialistiese agenda aan die publiek regverdig en ‘n prentjie begin vorm aanneem – nie van ‘n bewuste sameswering nie, maar van ‘n president en ‘n regime wat alle grense van betaamlikheid in die amp oorskry en wat hoegenaamd nie die belange van die Amerikaanse volk of enige ander volk op die hart dra nie, maar suiwer uit eiebelang handel. Dit is ‘n prentjie wat op harde feite gebaseer is en wat Moore genadeloos in uitspattige kwashale vir ons teken. En dié prentjie alleen behoort genoeg te wees om enige regdenkende mens, in die VSA of elders, te laat sidder by die gedagte aan nog ‘n Bush-ampstermyn. Miskien het daardie plakker wat tans op sommige Amerikaners se motors pryk dit tog nie so ver verkeerd nie; dit lees: “Someone else for president”.

Ten spyte van sy baie tekortkominge slaag Fahrenheit 9/11 uitmuntend daarin om opnuut die waarheid en aktualiteit van twee baie geykte wyshede van die common man aan te toon: “Power corrupts, and absolute power corrupts absolutely” en “Money is the source of all evil”. Dalk moet ons nie Moore se werk as joernalistiek beoordeel nie, maar as ‘n rolprentiese kunswerk wat ‘n bepaalde kyk op die dinge wil oordra. Hy gebruik elemente uit die genre van die dokumentêr, maar kombineer dit kreatief – en meesterlik – met ‘n ad hoc-seleksie van ander genres en tegnieke. Sy rolprent herinner byvoorbeeld aan iets soos The Wall en roep terselfdertyd eggo’s van Andy Warhol op, terwyl dit put uit Bybelse en republikeinse motiewe wat eie aan die Amerikaanse verbeelding is. In die proses vermaak en ontstig hy tegelyk en roep hy vurige reaksies, polemieke en debatte op. Daarvoor alleen is ons hom veel dank verskuldig.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=36
Artikel nagegaan:
    -