blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


“Vir my het Afrika ‘n bekoring soos geen ander plek op aarde nie”: Piet Botha van rockgroep Jack Hammer in gesprek met Die Vrye Afrikaan 2004-10-08
 

Piet (“Die Kommandant”) Botha toor met sy kitaar
Foto: Hannie du Plessis

Die Vrye Afrikaan: Piet, aan die begin van die onderhoud wil ons jou graag bedank vir jou bereidwilligheid om hierdie onderhoud aan ons toe te staan op die vooraand van die vrystelling van Jack Hammer se nuwe album, The Pilgrim. Wat ons betref, stel The Pilgrim ‘n nuwe standaard vir Suid-Afrikaanse rock, en nie in die minste nie danksy die besondere gesprek met Afrika wat julle onder heelwat meer op die album aanknoop. Maar voor ons oor The Pilgrim gesels, eers een en ander oor die ewe uitstekende konsertalbum wat julle onlangs vrygestel het by Wolmer Records, Live at the Nile. Dit is bekend dat julle die album al meer as ‘n jaar gelede gereed gehad het vir vrystelling. Waarom het julle dit nou eers vrygestel, en waarom het julle besluit om dit by ‘n klein, onafhanklike etiket soos Wolmer Records uit te reik?

Piet Botha: Die album sou oorspronklik op Rhythm Records uitgekom het en reeds in 2003 vrygestel word. Albert du Plessis (eienaar van Rhythm Records – red.) wou toe om een of ander rede dit nie meer uitgee nie - ek dink dis nie kommersieël genoeg nie - maar al die werk was klaar gedoen, met ander woorde die produksiekoste en so meer was reeds aangegaan. Lanie van der Walt het egter sy eie etiket, Wolmer Records, en toe besluit ons om dit dan self uit te gee om eerstens darem net die produksiekoste te verhaal. Dit was toe nogal wonderlik om dit so gou reg te kry.
Uiteindelik het Rhythm Records ons toe ‘n guns bewys, want dit is nou moontlik vir kunstenaars om hulle werk self te versprei deur bv. Bowline (daar is nog ‘n klompie onafhanklike verspreiders soos Sheer Music e.a.). Ons is tans besig om ander kunstenaars op te neem en vry te stel, soos bv. “Southern Gypsy Queen” wat klaar opgeneem is. Volgende aan die beurt is Bacchus Nel se debuut. Hierdie kunstenaars is deur die groter platemaatskappye geïgnoreer, maar nou kan ons hulle help om hulle werk uit te gee. Die vernaamste rede hiervoor is dat Lanie (wat die opnames en regie behartig) en ek nie op winsbejag ingestel is nie. Die kunstenaar kry die oorgrote meerderheid van die inkomste nadat die aanvanklike produksiekoste verhaal is. Sodoende kan mens ‘n alternatief op die uiters kommersiële mark bied, alhoewel mens altyd gekniehalter is deur ‘n tekort aan bemarkingtruuks en -begrotings. Die musiekbedryf blyk beheer te hê oor radio en TV en dit is waarom soveel goeie kuns nooit bekend word nie.


DVA: Daar is oor Live at the Nile gesê dat dit te veel ou, bekende snitte bevat. Jy is ‘n musikant wat jou nog nooit gesteur het aan treffers, die obsessie met nuutheid of gefabriseerde plastiekmusiek nie, en vir ons lyk Live at the Nile meer soos ‘n argief van ‘n groep wat twintig jaar oud is, waarvan die lede minstens ses jaar nou al saamspeel, en wat bly eksperimenteer met nuwe rigtings. Hoe sien julle self die album?

PB: Soos ek hierbo gesê het, wou ons eintlik glad nie die media by hierdie album betrek het nie. Dit was ons toe nie beskore nie, omdat Bowline dit eenvoudig ter wille van blootstelling moet doen (en ek verstaan dit heeltemal). Ons het baie goeie resensies gekry met so ‘n bietjie kritiek soos jy genoem het. Die volgende is egter belangrik:
1. Geen Suid-Afrikaanse rockgroep het nog ooit ‘n dubbele konsert-CD uitgegee nie.
2. Hierdie is in wese ‘n afsluiting van Jack Hammer se eerste 20 jaar, en dit sluit derhalwe iets van alles in (Afrikaans, Engels en covers!). The Pilgrim, dink ek, is ‘n hele nuwe rigting en ons wil dan ook aanhoudend nuwe materiaal byvoeg sodat ons repertoire heel anders sal wees oor ‘n jaar of so.
3. Dis ‘n tweetalige rockalbum, iets wat nie te veel gebeur nie.
4. Dit is ‘n live album, bedoel vir ons hardcore ondersteuners. Dit was nooit bedoel om ‘n geldmaakstorie te wees nie.


DVA: The Pilgrim is julle eerste volledig Engelse album in amper tien jaar. Na die uitreiking van 1998 se Jan Skopgraaf het jy in ‘n onderhoud gesê dat jy meer aan die uitbouing van julle Engelse werk aandag wil gee, asook aan die harmoniese inslag van die musiek. Dit is opvallend dat The Pilgrim dan ook inderdaad ‘n sterk melodiese inslag met uitstekende harmonieë bevat, wat julle regkry deur die gebruik van instrumente soos die klavier, die tromboon en die tjello naas die gebruiklike rock-ensemble. Julle eksperimenteer ook met reggae en selfs ‘n stukkie honky tonk-klavier. Tematies is daar ook vir die eerste keer ‘n baie sterk bevestiging van Afrika. Julle het ook die afgelope twee jaar soms in Mosambiek gaan speel. Is daar ‘n verband tussen die tematiese en musikale uitbreiding van julle werk?

PB: Ek kan nie die onderhoud onthou nie (soos ek baie ander goed ook nie kan onthou nie!) Maar dit strook met wat ek lankal wou doen - om weer ‘n behoorlike Jack Hammer album te maak, veral ook om Johnathan (Martin, Jack Hammer se tweede kitaarspeler – red.) meer tot sy reg te laat kom. Die afgelope jare het my denke en navorsing my gelei na ‘n baie meer radikale opvatting van die wêreld en die geskiedenis soos ons dit geleer is. Die Westerse beskawing blyk vir my ‘n uiters vlak en gierige entiteit te wees waar alles op ‘n mal, gejaagde wins en nogmaals wins gebaseer is. Die aarde is in ‘n gevaarlike tyd waar die mens die planeet kan vernietig en tog lyk dit of die G8 en ander lande nie notisie neem hiervan nie. Van moraliteit kan mens nie eers praat nie. Afrika is vir eeue lank geplunder en gebrutaliseer deur o.a. Katolieke, Moslems, Protestante, konings, magnate en maatskappye. Dit het soveel skade aan die psige van die Afrikaan gedoen dat dit nog lank gaan vat om heeltemal te genees. Die wit Afrikaner het self gevoel hoe dit is met die oorname deur Brittanje in 1902. Vir my het Afrika ‘n bekoring soos geen ander plek op aarde nie. Die plante en diere en reuke en mense en berge en vlaktes en veral die Ooskus met die warm oseaan. Mosambiek kon net sowel die Tuin van Eden gewees het as dit nie soveel lyding en ellende onder die witman gehad het nie, in hierdie geval natuurlik die Portugese koloniste. Skrikwekkend dat hulle eie taal amper uitgewis is en almal Portugees praat. Ek wonder of dit ooit sal herstel.
Maar om terug te keer na die vraag! Ek sou reken dat ons nuwe album beslis en doelbewus gerig is op sekere van bogenoemde idees. Afrika moet homself ontdek en laat geld as dit kan en dalk sy bande sny met die gierige magsbehepte lande oor die wêreld. As ons net ‘n klomp wyse manne kan kry.
Om jou vraag eintlik te beantwoord - ‘skuus ek het bietjie afgedwaal daar - ek wou beslis ‘n Afrika-inslag hê op die album en daarom het ons vir Siya Makuzeni en ook vir Jakob Wulana en Samuel Shoai (van die reggaegroep Tidal Waves) gebruik op The Pilgrim. Sonder om snaaks te wees, vind ek dat swartmense om een of ander rede meer soul het as dit by musiek kom. Vir die toekoms sien ek ook dat ek al hoe meer na Afrika se invloede en klanke sal beweeg as na Westerse invloede. Mens moet versigtig wees dat jy nie bloot Afrika se skatte gebruik om jou eie beursie te vul nie. The Pilgrim is vir my egter ‘n besliste stap in die regte rigting.

DVA: Die Vrye Afrikaan glo dat ‘n skeppende wisselwerking tussen Afrikaner en Afrikaan groot moontlikhede vir die toekoms van Suid-Afrika en selfs Afrika inhou. The Pilgrim is tematies sowel as musikaal, byvoorbeeld met die ongelooflike stemwerk van Makuzeni, ‘n beliggaming van hierdie skeppende wisselwerking. Wat dink jy is die voorwaardes vir so ‘n wisselwerking om te slaag, op musikale maar selfs op wyer terrein?

PB: Gelukkig het die Afrikaner ook groot geeste gehad wat lankal hulle vooroordele afgeskud het en groot impak gehad het op die verandering wat plaasgevind het in ons land. Vir my bly die kern van enige dialoog of samewerking met Afrikane om eerstens ons meerderwaardigheid af te skud en te besef dat ons dalk nie so ontwikkeld is soos ons dink nie net omdat meeste van ons geld het. Tweedens sal ons ons geskiedenis moet suiwer van al die valshede wat aan ons opgedwing is. Die witman veral, as hy hier wil bly en voortplant, sal moet meer Afrikaan as Westerling wees. En hy moet ook tot die besef kom dat die chaos waarmee Afrika sukkel eintlik van elders ingevoer is en nie oorspronklik deel was van Afrika se wese is nie. Ongelukkig blyk meeste Afrikaners tans in die laer te wees, en wat my nog meer bekommer is die aantal jongmense wat so regsgesind is asook die vervlakking in die Afrikaanse musiek. As mens die vertroue van die Afrikane kan kry en sorg dat dit nie geskend word nie, is enigeiets moontlik. Maar ons moet ontslae raak van die Us and Them (Pink Floyd)-sindroom.


DVA: Jack Hammer is bekend as ‘n groep met ‘n sterk politieke inslag. Klassieke snitte soos Welcome to Sarajevo en Goeienag, Generaal is spore hiervan. Waarom handhaaf julle so ‘n sterk politieke benadering in julle werk? En hoe verseker ‘n mens dat die musiek nie die onderspit voor die politiek delf nie, soos wat so dikwels in, byvoorbeeld, die Afrikaanse letterkunde tydens die vorige bedeling gebeur het?

PB: Maatskaplike kommentaar was nog altyd deel van ons musikale reis, maar dit het altyd vanself gebeur. Dit was nie bewustelik gedoen nie. Vanweë die menslike toestand is daar altyd iets wat krap, veral wat ongeregtigheid en gierigheid betref. Soos wat jy ook al gesê het: wanneer sal ons na ‘n meer menslike samelewing streef? Korporatiewe beheer van die vermaaklikheidswêreld duld nie juis meer sogenaamde protesmusiek nie, veral as dit hulle betrek nie! Maar die tekens is dat die internet groot veranderinge in die kunswêreld sal bring, m.a.w. dat mens se keuses soveel wyer gaan raak en sodoende sal die skrikwekkende bemarkingsaanvalle wat op TV en radio op ons losgelaat word dalk aansienlik moet verander of hopelik wegraak. G’n mens op aarde kan tog sê dat die geweldige hoeveelheid tyd wat aan advertensies toegestaan word op TV, hulle nie irriteer nie . Maar dit word maar aanvaar. Goebbels, dink ek, het gesê, “As jy ‘n leuen lank genoeg herhaal, sal mense dit uiteindelik glo” (of so iets). Dit is verstommend dat daar nie meer maatskaplik bewuste musiek op TV en radio is nie, alhoewel daar ‘n magdom kunstenaars is wat dit bedryf, veral ook oorsee. Dit dui net op een ding: korporatiewe beheer.
Hopelik is die volgende geslag of twee meer ingesteld op die “humane” as die human. Om te voorkom dat mens net polities begin skryf of speel, is daar gelukkig die vroulike geslag wat ‘n onuitputlike bron van inspirasie blyk te wees!

DVA: Snitte soos G8 sinspeel op politici se miskenning van gewone mense. Hoe belangrik dink jy is die erkenning en selfstandigheid van gemeenskappe vandag, veral in Afrika? En kan musiek ‘n rol hierin speel?

PB: Die snit “G8” is reeds drie jaar gelede geskryf en blyk elke jaar meer relevant te word! Dit lyk vir my as leek op die gebied van ekonomie of die ryk lande van die wêreld steeds net hul eie belange probeer afdwing op die ontwikkelende lande. Hierdie uiterste kapitalisme stuur op ellende af, asof dit nie al genoeg ellende veroorsaak het nie. En dis alles oor gierigheid. Dit sal wonderlik wees as Afrika, en verskillende gemeenskappe binne-in Afrika meer selfstandig kan raak. Volgens oorlewering - of geskiedenis, as jy wil - was die vasteland aanvanklik juis so opgestel: ‘n magdom van klein gemeenskappe wat selfstandig was. Die koloniste, slawehandelaars en religieuse fanatici het die vasteland omskep en opgedeel soos dit nou lyk.
Juis ook daarom is daar so baie konflik: gemeenskappe is saamgedwing binne geografiese grense. Die musiek van Bob Marley is seker van die heel belangrikste wat hierdie miskenning van Afrika en sy mense verduidelik, en dit leef voort .
Musiek is natuurlik ‘n magtige wapen om vooroordele en grense af te breek.Maar nie as dit beheer word of onderdruk word nie.


DVA: Die verhouding tussen musiek en die mark was nog altyd moeilik, maar veral die afgelope tien tot vyftien jaar wil dit lyk asof platemaatskappye die oorhand bo kunstenaars begin kry, wêreldwyd maar ook in Suid-Afrika. Terselfdertyd moet ‘n mens al hoe verder soek na goeie, oorspronklike kunstenaars, en is dit opvallend dat musiekverkope in hierdie era van hiperkommersialisering begin daal. Dink jy ‘n oordrewe markgerigte benadering is besig om musiek skade te doen? En wat kan die ernstige kunstenaar hieraan doen?

PB: Ons het reeds aan hierdie aspek geraak, maar dit verdien meer aandag. Jy is heeltemal reg. Die swak gehalte van kommersiële musiek is beslis te danke aan korporatiewe beheer. Dis net soos die rolprentbedryf: Hollywood het geen bekendstelling nodig nie. Uiters swak rolprente word op die wêreld losgelaat en so oorweldigend bemark dat dit noodwendig geld maak. En dan volg die opvolgreekse! Die musiekbedryf word volgens meeste kenners beheer deur slegs 5 groot maatskappye: Sony, BMG, Universal, EMI en nog een. Hulle het oor die jare beheer gekry van kleiner, onafhanlike groepe, asook radiostasies en TV. Monopoly is die naam van die spel! Dis mos g’n vrye mark nie! Dit het gelei tot ‘n vervlakking in populêre musiek. Meet gerus vandag se radiomusiek aan dié van die 1960’s en 70’s.
Maar dit lyk of die wiel begin draai. Die mees optimistiese toekomsvisie stel dat kunstenaars weer totale beheer oor hulle werk sal kry en dat die publiek dit regstreeks vanaf die internet sal koop. Dit is dalk te utopies, maar al word dit net deur verspreiders hanteer, sal dit noodwendig vir die kunstenaar meer in die sak bring, meer vryheid bied en die prys van musiek ook afdwing. Die huidige pryse is te danke aan gierigheid en nogmaals gierigheid. Kyk maar na die illusie van sogenaamde rock- en rolprentsterre. Dit is sinteties van aard, maar word eenvoudig oor en oor bemark tot dit aanvaar word. Sepies het die wêreld oorgeneem. Almal leef in hierdie vreemde, plastiese TV-wêreld. Die Afrikaner self, lyk dit vir my, dink Sewende Laan is die werklikheid. Dit is skrikwekkend.
Wat kan die ernstige kunstenaar doen ? Ek reken as jy getrou bly aan die kuns is die ander goed in elk geval nie so belangrik nie. Die kortstondigheid van die mens se bestaan behoort mens altyd by te bly. Vir ons was dit altyd maar net vasbyt en aanhou. As die radio of TV jou nie ondersteun nie gaan jy maar weer op toer. Mense hou darem altyd nog van goeie lewende optredes en die bevrediging daaruit is genoeg om mens aan die gang te hou. Mens boet seker finansiële gewin in om jou vryheid te behou, maar dit is in orde. Enige ware kunstenaar wat hom aan ekonomiese kettings wil vasmaak, is in elk geval reed die kluts kwyt. Anders gestel, pleeg net jou kuns of jou ambag soos jy dit sien, en bly getrou daaraan. Ek weet dit klink baie romanties en roekeloos, maar dit is volgens my die enigste manier om eerlik te wees. As mens van tyd tot tyd dalk goeie inkomste verdien, is dit ‘n bonus maar dit moenie jou doelstelling word nie.


DVA: Kunstenaars is aangewese op afsetpunte vir hul musiek, soos radiostasies en kunstefeeste. Dit is bekend dat jy nie baie lief vir veral laasgenoemde is nie. Watter alternatiewe is daar beskikbaar? En wat kan gemeenskappe doen om te verseker dat goeie kunstenaars steeds ‘n bestaan voer?

PB: Die geluk van dertig jaar op die langpad is dat mens ‘n sesde sintuig ontwikkel. Die vraag is: is dit rock & roll of nie? Die groep Jack Hammer is al 20 jaar oud. Dis heelwat ouer as die KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees – red.). Ek dink daar is iets fout met die hele feesbeheptheid deesdae, te min kuns en hopeloos te veel sokkie en ander nostalgiese, outydse produksies. Dalk deel van die laertreksindroom in die tydperk na die verlies van politieke mag? Die rockvertonings is gewoonlik baie lekker, moet ek bysê, maar dis net nog ‘n optrede, as jy weet wat ek bedoel, en deesdae kry mens ook nie ondersteuning ten opsigte van reis en verblyf nie. Op die koop toe vat hulle nog tussen 30% en 40% van jou inkomste. So jy kan eintlik op enige ander plek wees. Kunstefeeste in die ware sin van die woord behoort tog juis ‘n hupstoot vir kunstenaars in die geheel en gesoute kunstenaars in die besonder te wees, of hoe? ‘n Viering van ware kuns. Ek glo nie dit gebeur hier by ons nie. Miskien is dit ook ‘n geval van too many chiefs, not enough Indians. Wie beheer nou eintlik die feeste ? Is dit nie die mediareus Naspers nie? En hoeveel komitees, ens.? En wat is die einddoel? Om wins te maak.
Dit lyk of ons laaste Afrikaanse werk, Die Mamba, heeltemal oor die gewone feesgangers se koppe is. Maar dit was in elke gerespekteerde kritikus se top vyf albums van die jaar. Deesdae word sogenaamde Afrikaanse musiekfeeste gehou by casino’s met mense wat nog nooit saam met ‘n groep gespeel het nie! Wat is die doel van kultuurorganisasies as hulle nie die geestelike vooruitgang van hulle mense nastreef nie? Ons hoop op vernuwing. Maar dit sal nog tyd vat.
Die alternatiewe is altyd ‘n uitdaging: Gaan op die pad. Neem die musiek na die mense. Jy speel vir kleiner gehore, maar dis eerlik en jy is vry. Sodoende bou mens maar ‘n reputasie en probeer altyd vorentoe beweeg. Dit is wat ons nou met The Pilgrim wou doen. Gelukkig is daar in ons land baie mense wat wel respek het vir oorspronklikheid en dit is hulle wat ons aan die lewe hou. En dit raak net al lekkerder om te speel en nuwe werk te skep.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=35
Artikel nagegaan:
    -