blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Wat verkeerd is met Suid-Afrikaanse rugby: ´n Onderhoud met André Markgraaff 2006-01-16

Die Vrye Afrikaan: Suid-Afrikaanse rugby is nou sowat tien jaar gelede geprofessionaliseer. In hierdie tien jaar het die Springbokke by tye van hulle grootste laagtepunte ooit bereik, en is die spel ook deur buitengewone stryd op administratiewe vlak gekenmerk. Dink jy daar is foute in die professionalisering van Suid-Afrikaanse rugby begaan wat dalk ’n rol in die afgelope tien jaar se probleme gespeel het?

André Markgraaff: Ek dink dat Suid-Afrika die rugbyland in die wêreld is wat die swakste aangepas het by professionalisme, hoofsaaklik as gevolg van twee redes: Eerstens, in Nieu-Seeland en Australië behoort die top 120 spelers aan die nasionale rugbyliggaam. In Suid-Afrika behoort die spelers aan die onderskeie unies, en dan het SA Rugby ook nog kontrakte met die spelers. Twee werkgewers skep altyd probleme. Tweedens, in die res van die wêreld is die posisies van presidente en voorsitters hoofsaaklik honorêre posisies. In Suid-Afrika word die persone in beide hierdie posisies tans daarvoor vergoed. Dit is die rede waarom daar so min rugbymense oorgebly het wat die spel hoofsaaklik vir die liefde van die saak wil dien. Ons het genoeg spelers in Suid-Afrika om altyd ’n krag in wêreldrugby te wees. As daar egter agt Springbokafrigters oor ’n tydperk van 10 jaar was, moet daar laagtepunte wees. Of ons dit wil aanvaar of nie, politiek sal altyd ’n groot rol in Suid-Afrikaanse rugby speel. Sekere administrateurs het agendas en daarom sal daar altyd binnegevegte in SA Rugby wees.

Dan is daar ook nog die probleem van die afwesigheid van speler-boperking (player capping). Omdat daar nie ’n perk is op die hoeveelheid spelers wat ’n unie mag kontrakteer nie, monopoliseer die groter unies die beskikbare spelers en kan kleiner unies nie ontwikkel nie. TV speel ook die afgelope jare ’n geweldige rol. Dit veroorsaak dat die rugbyseisoen te lank is en spelers te veel speel, dikwels om hul kontraktuele verpligtinge teen sowel SA Rugby as hul provinsies na te kom.

 

 

DVA: Daar is nou al vir etlike jare ’n debat oor of die Curriebekerkompetisie tussen vyf of ses groter unies beslis moet word – sogenaamde krag-teen-krag – of eerder tussen ’n groter poel van unies. Watter van hierdie twee opsies verkies jy? En wat moet gedoen word om die opsie wat jy verkies, volhoubaar te maak?

AM: Ek het jare geveg om die Curriebekerkompetisie te vergroot. Ek is nog steeds van mening dat ons meer unies sterker moet maak. Ons het genoeg spelers om sowat tien sterk unies in Suid-Afrika te hê. Ek het egter ’n probleem met groot unies wat 80 spelers kontrakteer. Na my mening is sowat 35 spelers (juniors uitgesluit) genoeg in ’n unie. As daar 80 spelers by die Blou Bulle gekontrakteer is, kan almal onmoontlik geleentheid kry om te speel, en kan ’n span soos die Poemas nooit werklik kompeterend wees nie. Ons transformasieprogram kan ook nie suksesvol wees as ’n groot unie die beste agt spelers van Grens koop om getalle van kleur in sy span vol te maak nie. Só sal plaaslike talent nooit behoorlik ontwikkel word nie.

 

DVA: Hoe belangrik is klubrugby vir die totale rugbystelsel? En waarom is klubrugby in so ’n slegte toestand?

AM: Klubrugby is in ’n swak toestand in veral die groter unies. As daar sowat 80 professionele spelers in jou unie is, hoe kan klubrugby gesond wees? Almal is betrokke by die professionele groepoefeninge en voorbereiding. Almal wil betaal word. Geen afrigter of administrateur wil meer betrokke raak by klubrugby nie, want hy sien nie kans om dit sonder betaling te doen nie! Afrigters en administrateurs wil almal op die hoogste vlak betrokke raak en gevolglik is die bestaan van klubrugby in sekere provinsies amper chaoties. So kom dit dat die meerderheid spelers, afrigters en administrateurs eintlik vir die spel verlore gaan – en die poel waaruit hierdie mense kom, al hoe kleiner word. Al hoe minder leiers word van die onderste vlak af boontoe gevorm, sodat die kapteins ook swakker is. Die groot waarde van Potch se rugby-akademie was dat hulle spelers sowel liggaamlik as geestelik en akademies geslyp het.

 

DVA: Wat is jou standpunt oor transformasie in rugby?


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=436
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -