blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Martelings... 2006-01-16
Ignacio Ramonet

*Redakteur, Le Monde diplomatique

**Hierdie was die hoofartikel van die Desember-uitgawe van Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur Christel Cattin [email protected]

 

            “Ons martel nie”, het mnr. George W. Bush verseker. Dit was op 7 November in Panama, aan die einde van ’n vyfdaagse reis na Suid-Amerika, ’n streek wat vir ’n lang tydperk gebuk gegaan het onder diktatoriale regimes – met ondersteuning van Washington – en wat “verdwynings” en martelings van verdagtes op groot skaal beoefen het. Die President van die Verenigde State het geantwoord op aantygings wat deur die dagblad, die Washington Post (1), geformuleer is teen die Amerikaanse inligtingsdiens, wat daarvan beskuldig is dat hulle mense onwettig ontvoer en hulle buite die Verenigde State martel in geheime tronke wat as “swart terreine” bekend staan.

            Kan ’n mens Mnr. Bush glo? Die antwoord is nee. Het hy nie voorgehou dat mnr. Saddam Hussein se regime skakels met die Al-Qaida netwerk het, sodat hy Irak kan binneval nie? En dat Bagdad in besit sou wees van “wapens van massavernietiging” nie? Twee leuens in die naam waarvan Washington ’n “voorkomende oorlog” ontketen het wat die lewens van tienduisende mense gekos het (waaronder meer as 2 000 Amerikaanse soldate).

            Mnr. Bush swik nie. En nog minder oor die kwessie van martelingspraktyke. Organisasies wat bo alle verdenking staan, soos die Internasionale Rooi Kruis, Amnestie Internasionaal of Human Rights Watch (2), het verslae uitgereik wat bevestig dat die Amerikaanse owerheid, sedert die aanvalle van 11 September, in hulle stryd teen “internasionale terrorisme (3)”, nòg die Genève-konvensies vir die behandeling van aangehoudenes, nòg die Verenigde Nasies se konvensie teen martelingspraktyke respekteer.

            Met hulle besluit, kort na 11 September, om buitengewone howe in te stel en om die Guantanamo- strafkolonie buite die grondgebied van die Verenigde State te skep – dus buite enige Amerikaanse jurisdiksie – om “gevangenes van die oorlogsveld” (nie dieselfde term as “oorlogsgevangenes” nie, om sodoende die Genève-konvensies te systap) daar aan te hou, het die Bush-administrasie die reëls van die spel verander.

            Die neokonserwatiewe teorie van die regsgeleerde Alberto Gonzales, voormalige presidensiële raadgewer en deesdae Prokureur-generaal (Minister van Justisie), is min of meer die volgende: die VSA moet homself nie laat “verswak” deur sy respek vir menseregte nie. In twee verslae wat in Februarie en in Augustus 2002 voorgelê is, het Mnr. Gonzales die reg met betrekking tot martelingspraktyke herfomuleer. Hierdie term behels nou, binne die Verenigde State, slegs dade wat “die fisieke integriteit van gevangenes onherstelbaar beïnvloed”. Tot en met hierdie vlak is enige martelingspraktyk geoorloof.

            Waarom sou dit ’n mens dan verbaas dat martelingspraktyke in die Bagram-strafkolonie in Afghanistan deur die Amerikaanse weermag standaardprosedure geword het vanaf Desember 2002? Verdagtes word hier “in hulle selle vasgeketting en gereeld geslaan”, “teen mure of tafels gegooi”, ontvang “skoppe in die lies en op hulle bene”, en daar word “water in hulle monde gegooi totdat hulle verstik”. Verskeie het as gevolg daarvan gesterf (4).

            ’n Ondersoek van die New York Times (5) het bevestig dat pyniging deur Amerikaanse soldate “roetine” is, en dat hulle aangehoudenes in die meeste gevalle martel sonder om hulle selfs te ondervra ... Die ondersoek bring aan die lig dat die tegnieke wat deur die soldate van die 519de Bataljon vir militêre inligting in Bagram toegepas word, by Guantanamo aan hulle onderrig is ... En dat dieselfde 519de Bataljon daarvoor verantwoordelik was om die kragdadige ondervragings in die Irakese gevangenis van Aboe Graib uit te voer.

 

            Ander ondersoeke het aan die lig gebring dat die Central Intelligence Agency (CIA) verdagtes regoor die wêreld ontvoer – in Duitsland, in Italië, in Swede en elders – om hulle aan “goedgesinde lande” soos Saoedi-Arabië, Jordanië, Egipte oor te lewer waar hulle sonder perke gemartel kan word. Meer onlangs het ondersoeke aan die lig gebring dat die CIA as’t ware oor ’n netwerk van geheime tronke wêreldwyd beskik – wat deur Amnestie Internasionaal as die “Goelag van ons tyd” bestempel is – en waarvan sommiges in lande binne die Europese Unie (Pole?) en Oos-Europa (Roemenië?) gesetel is.

            Benewens die afstootlikheid vanuit ’n wettige en ’n etiese oogpunt kom hierdie feite veral na vore as ’n ware ramp vir Amerikaanse morele prestige in die wêreld. Net soos ander demokrasieë wat die bedreiging van terrorisme in die gesig staar, sien die Verenigde State hoe die kwessie van martelingspraktyke ’n sentrale politieke dilemma word. In sy debat met Adjunk-President Richard Cheney, wat voet by stuk hou, het die Republikeinse Senator, John McCain, hom daaraan herinner dat, aangesien daar sekere strafmaatreëls is waaraan ’n demokratiese regering nooit enige mens mag onderwerp nie, die grootsheid van ’n demokrasie gesetel is in sy vermoë om homself te weerhou van die gebruik van geweld. Waarvan martelingspraktyke die eerste is.

_________

(1) Dana Priest, "CIA Holds Terror Suspects in Secret Prisons", Washington Post, 2 November 2005.

(2) Lees "Au nom du droit, crimes et exactions en Afghanistan", uittreksels uit die verslag van die Human Rights Watch, Le Monde diplomatique, April 2004. Lees ook Stephen Grey, "Les Etats-Unis inventent la délocalisation de la torture", Le Monde diplomatique, April 2005.

(3) In die geval van “Islamitiese terrorisme”, want ware internasionale terroriste wat in die guns van Washington opgetree het, soos mnr. Luis Posada Carriles wat skuldig is aan die dood van tientalle onskuldige mense, word steeds beskerm deur die Amerikaanse owerhede wat weier om hulle uit te lewer.

(4) Le Monde, 16 Maart 2005.


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=435
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -