blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Na aanleiding van dieselfde kommentaar skryf die Redakteur van Die Matie, André-Pierre du Plessis, van Stellenbosch 2006-01-20
Eerstens was dit vir my vreemd om te sien hoe min aandag die span wat die geleentheid georganiseer het aan die versorging van die agenda, wat aan almal wat die vergadering bygewoon het gegee is, gegee het. Sprekers is onder die hofie “spreukbeurte” geplaas en Rossouw se noemnaam is verkeerdelik as “Johan” gespel. Verder was Chris Brink se titel as visekanselier ook nie korrek nie. As dit ’n vergadering is vir die bemagtiging van Afrikaans en die uitbou daarvan is dit nie dan juis van kardinale belang dat ’n mens ten minste die agenda sorgvuldig versorg nie? Of was daar ’n onderliggende speletjie wat die opsteller daarvan probeer uitwys het, iets soos om die presiese gebrek aan voldoende onderrig in Afrikaans by die US uit te wys? Ek weet nie. Wat die “demokratiese” gesindheid van die gehoor behels het, soos u dit noem, was daar min sprake van. Ja, daar was ’n platform vir mense om hul onderskeie opinies te lewer maar die absolute verontagsaming van die woorde van Chris Brink as uitvoerende hoof van ’n tersiêre instelling, het my naar gemaak. Baie lede in die gehoor, onder meer dosente, het keer op keer Brink in die rede geval (alhoewel hy dit gelukkig nie gehoor het nie) en min het werklik geluister na wat hy te sê gehad het. Hulle wou hom die heeltyd doodpraat. Dit maak nie saak as mens nie van iemand hou nie maar om hom nie sy kans te gun, om sy “demokratiese” reg te gun en sy opinie te lug nie, is dom. Dit was juis dié mense wat toe Rossouw die gehoor opgesweep het, weens die feit dat sy retoriese vermoëns ver bo die van Brink vlieg, “juis, juis” en “is so!” en selfs “amen!” uitgeskree het. Was dit dan ’n politieke of religieuse samekoms dié? Dit het by my die indruk geskep dat dié wat aan Rossouw se “kant” is, dié is wat onverdraagsaam is en wat juis nie ander se demokratiese regte gun nie. En onthou net dat hoe jy ookal hierdie debat wil benader dit in die volgende lig gedoen moet word - ek sal eerder nie sê dat dit die woorde van Chris Brink is nie want net nou keer dit mense om dit enigsins te lees: “’n Brutale Afrikaans is nie ’n volhoubare Afrikaans nie. ’n Afsydige Afrikaans is nie ’n volhoubare Afrikaans nie”.

Wat taalfoute betref, kan u gerus hand in eie boesem steek deur werk te maak van die hope taalfoute in elke uitgawe van Die Matie. Het u dit al oorweeg dat die huidige rektor van die US keer op keer mense die harnas injaag met sy onderskatting van sy gehoor se intelligensie? Of reken u werklik dat mense bloot uit hoofde van hulle amp kritiekloos bejeën behoort te word? In welke geval u as studentejoernalis gerus weer kan besin oor die noodsaak van openbare kritiek vir die demokrasie, ook en veral deur die media. Tussenwerpsels is deel van die demokratiese tradisie, beginnende by die parlement. U wil landsburgers tog seker nie dié tradisie ontneem nie? Die las van onverdraagsaamheid rus in hierdie debat eerder op die mense wat transformasie as “ononderhandelbaar” hanteer, en hulle eie historiese skuldgevoelens probeer versteek agter “bestuur” terwyl hulle alle beskikbare wetenskaplike gegewens oor verengelsing van Suid-Afrikaanse universiteite arrogant ignoreer met ’n tuisgemaakte oplossing in die klassieke tradisie van Stellenbosse beterweterigheid, wat onder meer die apartheidsbeleid in die 1930’s gebaar het. Laastens kan u gerus onderskei tussen “brutale Afrikaans” en “hartstogtelike Afrikaans” – en ook meer besin oor “geslepe Afrikaans” – Red.
Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=432
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -