blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Die aftakeling van Franse apartheid 2006-01-16
Dominique Vidal

*Assistant-redakteur, Le Monde diplomatique

**Hierdie artikel kom uit die Desember-uitgawe van Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur Christel Cattin [email protected]

“On s’aimait pas alors tout nous était égal

On nous aimait pas alors on a fait du mal.”

(“Ons het nie van mekaar gehou nie, so niks het vir ons saak gemaak nie

Niemand het van ons gehou nie, so ons het kwaad gedoen.”)

- Magyd Cherfi, sanger, voormalige leier van die groep Zebda.

 

Vir ’n kruitvat om te ontplof, moet daar terselfdertyd buskruit en ’n slagdoppie wees. Sonder ’n slagdoppie kan die kruit nie ontplof nie. Sonder kruit sou die slagdoppie nie ver kom nie. Wat in die Franse buitewyke gebeur het vanaf einde Oktobermaand, is die gevolg van hierdie eenvoudige vanselfsprekendheid.

  Aangedryf deur sy presidensiële ambisies tot ’n deurentydse oorbieëry met die Eerste Minister, Dominique de Villepin, net soos met die verregse leiers, Jean-Marie Le Pen en Philippe de Villiers, het die Minister van Binnelandse Sake, Nicolas Sarkozy, duidelik ’n vuur aangesteek, net om te spog oor hoe hy dit uitdoof. En sy mondelingse uitlokking het opgeklink as ’n aansporing tot uitlokking in die praktyk in die ore van sommige polisiemanne wat hulleself soos ’n koloniale weermag wil gedra in buitewyke wat meestal deur Franse, maar van Arabiese of Afrika-herkoms bewoon word. “Dryf die inboorling uit, en hy kom terug op ’n galop”: watter simbool, inderwaarheid ’n keuse, is die toevlug tot die aandklokreël, ’n buitengewone wet van 1955, wat by uitstek die afmaaiing van tientalle Algeryne beteken het in die Parys-omgewing op 17 Oktober 1961, asook van negentien Kanak-militante in die Ouvéa-grot, in Nieu-Caledonië op 5 Mei 1988.

 Dit is dus die aankondiging van die “opruiming met ’n Kärcher-sproeispuit ” van die “uitvaagsels” in die buitewyke, gevolg deur die dood van twee tieners in Clichy-sous-Bois in ’n EDF-kragopwekker (1), en uiteindelik die gooi van ’n granaat voor die Bilal-moskee wat gelei het tot die toename in geweldpleging. Wat die Minister van Binnelandse Sake sonder twyfel onmiddellik sou kon stopgesit het deur daarheen te gaan om verskoning aan te bied. Maar om te beklemtoon dat mnr. Sarkozy grootliks daarvoor verantwoordelik is, is een ding; om hom – en hom alleen – te blameer, is iets anders. Die sosialistiese partyleiers het daardie risiko aanvaar, en nie sonder ’n goeie dosis skynheiligheid nie. Een jaar gelede het die baie amptelike Hof van Ouditeure hulle vooraf beantwoord: “Hierdie krisissituasie is nie ’n produk van immigrasie nie. Dit is die gevolg van die wyse waarop immigrasie gehanteer is […] Staatsinstellings word gekonfronteer met ’n situasie wat geleidelik geskep het wat oor die afgelope dekades tot stand gekom het (2)”. Die mislukking van dertig jaar se regsgesinde bewind, maar ook – ondanks enkele pogings vanaf die kantlyn – dié van linksgesindes, kan op geen beter manier beskryf word nie: die buitewyke is ’n konsentrasie van al die booshede waaronder die werkersklasse gebuk gaan.

 Enkele ideoloë wat aan “komplotitus” ly, het beweer dat hulle georganiseerde misdadigers en Islamiste agter hierdie gebeure gewaar. Die grootste gros van waarnemers het, daarenteen, klem gelê op die spontane karakter van die ontploffing. Almal weet dat misdadigers se doenighede floreer in ’n kalm situasie. Wat religieuse ampsdraers betref, hulle het die rol van tussengangers vertolk – tot en met hierdie vreemde fatwa teen geweld van die Unie van Islamitiese Organisasies van Frankryk (UOIF (3)). Maar die vraag is bowenal: wie kan enkele oortreders of “broers” verantwoordelik hou vir die ghettoïfisering van 752 sensitiewe stadgebiede (ZUS) waar sowat vyf miljoen mense woon? Tesaam met diskriminasie en rassisme waaronder jong Arabiere en Swartes gebuk gaan, is hierdie stedelike apartheid – ’n brutale miskenning van die “Franse integrasiemodel ” – voldoende faktore om die huidige ontploffing te verklaar. Om op te som, alles wat die nasionale debat oor die Islamitiese sluier enkele jare versteek het, kom uiteindelik aan die lig.

 Die gebeure in Clichy-sous-Bois sou nooit so ’n nasleep gehad het as die sogenaamd sensitiewe buurte hulleself nie op die kruispad van drie akute krisisse bevind het nie: ’n maatskaplike krisis, ’n postkoloniale krisis en ’n krisis van politieke verteenwoordiging. Hulle vereis nou omvangryke oplossings wat die neoliberale logika verbreek wat deur die regsgesindes ingestel is, nadat ’n groot aantal linkses dit voor hulle gedoen het …

 Dit is ongetwyfeld waarom die politici, waarvan die oorgrote meerderheid saamstaan agter die regering se leuse van “orde en geregtigheid”, baie breedsprakiger oor die eerste as die tweede woord was. Sal hierdie tendens om die beslissende vraag oor die uitkoms van die situasie te ontwyk, kan voortduur wanneer kalmte – voorlopig – weer seëvier? Hoe dit ook al sy, die toekoms van die buitewyke verdien nadenke, debat en aksie.

 Wanneer die term “integrasie” sy verskyning maak in die 1980’s, is dit aanloklik: in teenstelling met “assimilasie”, lyk dit asof dit die kultuur, tradisie, taal en geloof van die nuwe Franse burgers erken en respekteer. Maar in die praktyk lyk dit na ’n lokval. Sodra integrasie nie funksioneer nie, word daar inderdaad ’n beskuldigende vinger na die jongmense in die buitewyke gewys, asof daar vir hulle gevra word: “Hoekom doen julle nie moeite om te integreer nie?” In plaas daarvan om ’n gemeenskap in oënskou te neem wat nie daartoe in staat is om gelyke regte en geleenthede aan al sy kinders te verskaf nie, ongeag hulle herkoms, velkleur, die klank van hul name, hul geloof.

 En eenvoudige moraliteit vind hier aansluiting by nasionale belange. Want die seuns en dogters van gister se immigrante het min kanse op ’n menswaardige lewe vir hulleself en hul kinders as hulle nie hul plek in die Franse gemeenskap volstaan nie. Maar hierdie gemeenskap staan ook geen kans op ’n uitkoms vir die krisis wat dit tans beleef as hy sou afstand doen van die bydrae, die energie en bekwaamhede van ’n tiende van sy bevolking nie. Hierdie is een van die beslissende uitdagings van die volgende dekades.

 Hoe kan dit die hoof gebied word? Geensins deur die vermindering van middele wat vir bestuur en restourasie aangewend word nie. Sedert Jacques Chirac se verkiesing tot President in Mei 2002 was die buitewyke die eerste slagoffers van die begrotingsbesnoeiings in die naam van die Europese Unie se allerheilige Pakt vir Stabiliteit. Op hierdie wyse het regsgesinde regerings die krediet verminder wat aangewend sou word om die mees afgetakelde wooneenhede te herbou, het hulle honderde duisende tydelike jeugposte en onderwysassistentposte afgeskaf, die aantal onderwysers en ander staatsamptenare verminder, subsidies aan verenigings besnoei, die buurtpolisie opgeoffer ten einde ingrypingsmagte te ontplooi, ensovoorts. Die “plan” wat op 8 November deur die Eerste Minister, mnr. Dominique de Villepin, aangekondig is, is daarmee tevrede om slegs ’n klein gedeelte van die krediet wat sy voorganger afgeskaf het, te herstel – en trek voordeel uit bevraagtekening van die verpligte skoolonderrig tot en met 16 jaar wat deur Generaal de Gaulle in 1959 ingestel is!

 Daarbenewens sou die oplossing vir die meeste politici lê in die bevordering van ’n klein elite van immigrante-afkoms wie se lede, in ruil vir hulle maatskaplike sukses, daarvoor verantwoordelik sou wees om orde onder hul eie mense te handhaaf. Niemand kan hierdie visie beter as mnr. Sarkozy formuleer nie: net soos Dokter Jekyll en Meneer Hyde, doen die man van orde homself ook voor as een van verandering, voormalige voorstander van die afskaffing van die dubbele straf, peetvader van die Franse Raad vir die Moslemgeloof (CFCM), huiwerend ten opsigte van die antisluier-wet, aanhanger van “positiewe diskriminasie” en selfs van stemreg vir immigrante tydens munisipale verkiesings. Vergeleke daarmee het die “geheime verslag” van die Sosialistiese Party se Sekretaris vir Immigrasie, mnr. Malek Boutih, op ’n vreemde wyse reaksionêr voorgekom – dermate dat dit einde ten laaste in Solferinostraat (4) tot die vergetelheid verdoem is.

 Dit is uiteraard buite die kwessie om neer te sien op “klein veranderings”, op voorwaarde natuurlik dat hulle in die regte rigting beweeg. Net soos die konvensie wat die Instituut vir Politieke Navorsing (IPN) van Parys met ’n sekere aantal hoërskole in Sones met Prioriteitonderwys (ZEP) onderteken het. Sommiges het gevrees dat jongmense afkomstig van die buitewyke, wat aanvaar is sonder om die keuringseksamen te skryf, tweedeklasstudente sou word. Dit is hoegenaamd nie die geval nie: byna almal het hulleself vinnig onder die briljantste studente van die IPN bevind – daar moet nou gesien word of hulle beroepslewe net so suksesvol sal wees. En die sukses van hierdie eksperiment het ’n sekere hoop laat ontvlam in hoërskole in arm buurte waar daar volgehou word met die voogdyskap wat verskeie van hierdie “groot broers” aanbied. ’n Mens kan jou maklik indink wat die veralgemening van hierdie positiewe diskriminasie kan beteken – op maatskaplike, en nie-etniese terrein – by al die vername universiteite. Maar laat ons nie die trefkrag oorskat nie: dit sou in elk geval net enkele honderde studente onder die miljoen geïsoleerde jongmense raak.

 Ten einde te voldoen aan die verwagtings van die oorgrote meerderheid inwoners van die buitewyke, is wat ter sake is nie ’n vermenigvuldiging van “hulp-aksies” nie, maar – om die uitdrukking van die kommunistiese afgevaardigde van Seine-Saint-Denis, Patrick Braouezec, te herhaal – ’n “Grenelle van die buitewyke”. Die onlangse verslag van die Nasionale Observatorium van ZUS bevestig dat, vergeleke met die nasionale gemiddeld, die werkloosheidsvlak, net soos mislukking op skoolvlak, twee keer hoër is, die gemiddelde inkomste 40% laer is, "inrigtings vir mediese dienste" die helfte minder is, misdaad die helfte hoër is (5) … Hoe kan hierdie neigings omgekeer word sonder om voort te gaan met radikale hervormings wat met massiewe finansiering gepaard gaan?

 Die afbreek van die ghettoïfisering veronderstel tegelyk die aansienlike bespoediging van arm stede se restourasie en die ontwikkeling van vermenging in ryk stede, wat sowel tienduisende miljarde euro gaan kos, as ’n politieke gewilligheid wat omgeskakel moet word in meganismes met eienskappe soos die oplegging van die Wet op Stedelike Solidariteit en Hernuwing (SRU) –waaroor die UMP-gesinde Afgevaardigde en Burgemeester van Argenteuil, Georges Monthron, onlangs verklaar het: “As ons [dit] nie toepas nie (…), beweeg ons na ’n stedelike ontploffing (6).” Op soortgelyke wyse, hoe kan mislukking op skool in die buitewyke omgekeer word sonder om aansienlike materiële en menslike hulpbronne te versprei? En net so impliseer die noodsaaklike offensief teen werkloosheid ’n formidabele poging om werk te skep, in die openbare en die privaatsektor, buite die Vrye Stedelike Sones (ZUF) wat tans meer belastingvoordele as plaaslike aanstellings tot gevolg het. Al kos dit finansieel niks, veronderstel die stryd teen rassisme in sy verbale en fisieke uitdrukking, in alle tipes diskriminasie, ook maar ’n vasberadenheid wat lynreg staan teenoor sommige reflekse wat in die geskiedenis veranker lê ... Soveel noodsaaklike doelstellings wat die middelpunt van debatvoering moet wees ten einde vasgestelde voorstelle ter tafel te lê wat dit moontlik sal maak om hulle so gou as moontlik te bereik.

 Hierdie voorstelle moet nog die beweegrede word vir ‘n maatskaplike mobilisasie op nasionale vlak – in die buitewyke en elders verenig die stryd om behuising, skole, werksgeleenthede, openbare dienste, al die werkersmagte – maar ook in die woonbuurte self. Want hulle is, behoudens enkele rare uitsonderings, “politieke woestyne”. Die tradisionele linkervleuel het hulle laat staan, selfs al behou die Kommunistiese Party nog enkele bastions wat institusioneel aktief is (7). Die alterglobalisme het nie hier wortel geskiet nie. En twee dekades na die Optog vir Gelykheid van 1983 en die opname daarvan in SOS Racisme bly hierdie outonome assosiatiewe beweging swak gestruktureerd en diep verdeeld. Dit is sonder twyfel die rede waarom die reaksie op die Clichy-drama die vorm aangeneem het van ’n ontploffing van geweld teen al die simbole van die ghettoïfisering, by gebrek aan ’n politieke arena waarin die aspirasies van hierdie jongmense en al die progressiewe magte kan uiting vind. Maar hierdie nuwe styl van populêre opstande is ook ’n antwoord op die “muur” van aansprake wat ’n verdoemde bewind reeds jare lank teenstaan, in die stembus en ook in die strate …

 Hierdie strukturele swakheid is ernstig, soveel te meer omdat die tyd beperk is. Die kwessie van die buitewyke behoort van meet af aan een van die belangrikste vraagstukke van die Franse politieke lewe uit te maak. Om broodnodige hervormings uit te stel, sou neerkom op ’n risiko om die breuk tussen geïntegreerde Frankryk en geghettoïfiseerde Frankryk (immigrante en Franse “van oorsprong”) te verdiep, met ’n uiteindelike soort heersende guerillastryd, waarvan die onderdrukking ongetwyfeld nooit ten einde sal kom nie. Soos wat Tarek, hoewel hy een van die gelukkige uitverkorenes aan Sciences-Po is, ’n paar maande gelede gesê het: “As hulle net die tweede en derde geslagte uiteindelik ’n kans wil gee om gelyke regte te geniet. Andersins, eendag, gaan Ma 6T va crack-er (8) nie meer bloot ’n rolprent wees nie, maar ’n vreesaanjaende werklikheid van verrottende woonbuurte (9).” Die aftelling het in November 2005 begin.

 

__________

(1) Die hangende ondersoek sal moet verklaar of die twee gestorwe tieners, Zyed en Bouna, soos wat die oorlewende, Muhttin, beweer, deur polisiemanne gejaag is toe hulle op 27 Oktober ‘n EDF-kragopwekker binnegegaan het, en of die polisiehiërargie, wat daarvan geweet het, die nodige gedoen het om hulle te red.

(2) www.ccomptes.fr/Cour-des-comptes/publications/rapports/immigration/immigration.pdf

(3) Kyk Le Monde, 7 November 2005. Het die ampsdraers van die UOIF die geweld van vandale verklaar as ’n gevolg van hulle aanhang van Islam?

(4) Die voormalige President van SOS Racisme het hier veral die organisering van proefklasse, voor immigrasie, in die land van oorsprong voorgestel, die instelling van kwotas, die afskaffing van dubbele burgerskap en van familiegroepering, die skepping van ’n verblyfpermit met ’n wisselende geometrie. Soveel en so goed, dat France d’abord, koerant van die verregse Front National, die “sinrykheid” daarvan gesalueer het (13 Mei 2005).

(5) www.ville.gouv.fr/index.htm

(6) Le Figaro, 4 November 2005. In Neuilly-sur-Seine, byvoorbeeld, is die persentasie van HLM-wooneenhede 2,6 %. Afgesien van die boetes wat ondoeltreffend blyk op stede wat weier om die SRU-wet te gehoorsaam, hoekom word daar nie beoog om hulle burgemeesters onverkiesbaar te verklaar nie?

(7) Kyk Olivier Masclet, La Gauche et les cités. Enquête sur un rendez-vous manqué, Parys : La Dispute , 2003.

(8) “Kultus”-rolprent deur Jean-François Richet. Vervaardigers: Actes prolétariens en Why not Productions. Uitreikingsdatum: 2 Julie 1997.

(9) Le Mal-être arabe. Enfants de la colonisation, Marseille: Agone, 2005.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=427
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -