|
||||
Elders in vandeesmaand se uitgawe (p.16) verduidelik prof. Koos Malan waarom Artikel 235 van die Grondwet, waaroor daar verlede Oktober op Orania ´n kongres gehou is, selfbeskikking vir Afrikaners nie bevorder nie, maar eintlik beperk. Daarenteen voer Malan aan dat daar wel ander aspekte van die Grondwet is, veral dié wat met plaaslike regering te doen het, wat selfbeskikking vir Afrikaners kan bevorder. Dit is iets om in gedagte te hou op die vooraand van die plaaslike regeringsverkiesing, wat teen die agtergrond van die sentralisering van mag en die munisipale opstande, besondere belang verkry het as ´n geleentheid om die demokrasie in Suid-Afrika verder te versterk. Maar waar staan Afrikaners tans met die idee van selfbeskikking? As selfbeskikking beteken om verantwoordelikheid te neem vir die dinge wat jou lot bepaal, is daar tekens dat Afrikaners die afgelope twee of drie jaar goeie vordering in hierdie rigting begin maak. Die vakbond Solidariteit, die Rapport-Onderwysfonds, die FAK se Nasionale Onderwysaksie, burgerlike verset teen die verengelsing van die US, en talle ander dinge is sulke tekens. Maar dit is nog nie genoeg nie. As ´n mens na die breër Suid-Afrikaanse situasie kyk, is die manier waarop die Afro-nasionalistiese projek van die ANC in duie begin stort skaars tien jaar na magsoorname inderdaad skouspelagtig – en nie noodwendig iets waarin ´n mens jou moet verlustig nie. Wanneer begeerte nie deur ´n kollektiewe simboliese orde getemper word nie, ontstaan ´n situasie van begeerte bo alles, ´n wêreld waarin die mens vir die mens ´n wolf word. Die wyse waarop die ANC verander in die party van die swart burgery, eerder as om ´n agent van maatskaplike opheffing te wees, asook die wyse waarop Swart Ekonomiese Bemagtiging met ´n ysere rassepolitiek lei tot kitsverryking eerder as om werklik ´n nuwe ekonomiese orde in Suid-Afrika tot stand te bring, is voorbeelde hiervan. Dieselfde soort dekadensie het eers ´n goeie dertig jaar na 1948 onder die Afrikaner-elite posgevat. Wat hier aan die gebeur is, is dat die onwrikbare koloniale logika van die Suid-Afrikaanse staatskorporatiewe bestel nogmaals ´n groot politieke droom op die rotse van vraatsug en magslus laat loop. Die enigste alternatief is dat gemeenskappe in Suid-Afrika begin om vir hulself te sorg, hoe moeilik dit ook al mag wees. As selfbewuste gemeenskap met ´n lang geskiedenis is Afrikaners in die moderne Suid-Afrika miskien die gemeenskap wat die beste geposisioneer is om juis so ´n beweging van selfbeskikking te begin, nie een waarin elke gemeenskap net vir haarself sorg nie, maar een waarin gemeenskappe saamstaan om die houvas van die staatskorporatiewe bestel op kapitaal en mag in Suid-Afrika te verbreek. Soos enige klein gemeenskap loop daar ´n ou verdelingslyn onder Afrikaners tussen diegene wat hulle gemeenskap as hindernis op weg na hulle heil of as voorwaarde van hulle heil sien. Die Vrye Afrikaan glo in laasgenoemde opsie, omdat ons weet dat mense se identiteit vandag een van die min bolwerke teen die ekologiese verwoesting, sistemiese geweld en verbruik van die eietydse kapitalisme bied. Die uitdaging is om hierdie identiteit nie in isolasie nie, maar in gesprek met die wêreld uit te leef. Die Orania-eksperiment het tot dusver getoon dat territoriale selfbeskikking nie werklik groot appél op Afrikaners maak nie. Dit mag wees omdat die ANC se beleid van institusionele inpalming betreklik stadig en nie openlik teen die belange van Afrikaners nie gevoer word. Dit mag ook wees omdat heelwat Afrikaners wat oor finansiële of simboliese kapitaal beskik nog ly aan die illusie dat instellings mense noodwendig versmoor, en ook daarom nie wil deelneem aan die stryd om Afrikaanse instellings se behoud of nuutskepping nie. Soos wat die verdeeldheid in die ANC toeneem in aanloop tot die presidensiële opvolging kan ´n mens verwag dat die party sondebokke vir sy eie ellendes sal soek, en ook hier sal Afrikaners ´n bruikbare slaansak wees – iets wat juis die besef van die noodsaak van selfbeskikking onder Afrikaners mag aanhelp. Intussen is dit van groot belang dat diegene onder ons wat reeds die noodsaak van selfbeskikking in samewerking met ander gemeenskappe verstaan, voortgaan om dit met groot ywer uit te leef. In gesprek met van die leiersfigure in hierdie klein beweging om selfbeskikking hoor ´n mens soms moedeloosheid omdat hulle nog nie tot die groter massa Afrikaners deurbreek nie. Dit is goed om hierdie toon van moedeloosheid in voortdurende selfkritiek om te skakel, maar terselfdertyd moet in gedagte gehou word dat die losbreek van ´n massabeweging soms baie lank kan neem. In die geval van die ANC het dit ´n goeie veertig jaar vanaf Sol Plaatjie tot Mandela en die Jong Leeus geneem, soos ook met Afrikaners vanaf die Anglo-Boereoorlog tot 1948. Met die beskikbaarheid van moderne kommunikasietegnologie en klein suksesse vanuit die klem op aksie en deelname, kan so ´n beweging uiteindelik veel gouer onder Afrikaners massasteun geniet. |