|
||||
Pablo Neruda Hierdie is die eerste twee gedigte uit Pablo Neruda se “Twintig Liefdesverse en ’n Wanhoopslied”, ’n bundel waarvan meer as een miljoen kopieë al verkoop is. Uit die Spaans vertaal deur Henry September.
1. VROUELYF
Vrouelyf, wit heuwels, wit dye, jy lyk soos die wêreld in jou lê van oorgawe. My growwe knegteliggaam ploeg jou en laat spring die seun uit die dieptes van die grond.
Ek was eensaam soos ’n tonnel. Voëls het voor my gevlug en die nag het my oorspoel met haar kragtige inval. Om te oorleef het ek jou gesmee soos ’n wapen, soos ’n pyl aan my boog, ’n klip in my slingervel.
Maar die uur van wraak val, en ek het jou lief. Liggaam van vel, van mos, van gretige stywe melk. A die bekers van die bors! A die oë van afwesigheid! A die rose van die pubis! A jou stem so treurig en traag!
Lyf van my vrou, ek sal vasbyt in jou genade. My dors, my grenslose begeerte, my twyfelende pad! Somber rivierlope waar die ewige dors vloei, gevolg deur vermoeienis, en die eindelose pyn.
2. IN SY STERFLIKE VLAM
In sy sterflike vlam omhul die lig jou. Verenkeld, bleek roubeklaer, so geplaas teen die ou waaiers van skemer wat rondom jou wentel.
Stom, my vriendin, alleen in die alleenheid van hierdie uur van die dooies en gevul met die lewens van vuur, suiwer erfgenaam van die verwoeste dag.
Van die son val ’n vrugtetak op jou donker kleed. In die nag groei groot wortels skielik uit jou siel, en daar buite trek dinge hul terug in jou toemaakplekke, sodat ’n blou en bleek volk hulself voed met jou vars geborene.
O grandiose en vrugbare en magnetiese slavin van die sirkel waar swart en goud mekaar vervang: staan op, vuur ’n skepping aan wat so lewendig is dat haar blomme vergaan, en vol moet skiet met verdriet. |