blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Ook oor dieselfde artikel skryf Pieter Hurter van Hermanus 2005-10-19
Die geweldige sensitiwiteit van die teoloë en predikante na aanleiding van die "opspraakwekkende artikel" (soos hulle dit noem) spruit voort uit die feit dat dit op ’n baie sensitiewe senuwee getrap het. Die geleerde here weier volstrek om te glo dat die NGK inderdaad in ’n krisis is. Hoe verduidelik hulle die feit dat duisende lojale lidmate die afgelope 10 jaar die NGK verlaat het en ander (kerklike) heenkomes gaan soek het? Daar is harde syfers om hierdie standpunt te staaf.  Tweedens: die "gay-debat" in die kerk spruit regstreeks voort uit die besluitloosheid van die kerkleiding oor die saak. Die rondspringery oor die besluite van 1986 en 2004 se sinodes, watter besluite geld, watter nie en die geweldige verdeeldheid van teoloë onder mekaar oor die saak, sou ek nie reken, dra juis by om lidmate "gemaklik" te laat voel oor die leiding wat daar van die kerk se voormanne uitgaan oor sulke aktuele sake nie.  Derdens: As een van die kerk se voormanne, dr. Ben du Toit, ’n boek skryf soos God? Geloof in ’n postmoderne tyd' en daarin kategories die maagdelike geboorte van Christus verwerp, moet "gewone lidmate" dit maar stilswyend aanvaar dat die gesag van die Bybel eintlik ’n saak is wat onder verdenking staan?  Die studente van UP se teologiese fakulteit wat protesteer teen hul dosente, wek by buitestanders soos ek ’n agterdog dat alles beslis nie pluis is nie. Dit kos moed van enige student om sy dosent(e) openlik te konfronteer en die heftigheid van albei kante (gegewe dat dit ’n baie emosionele saak is) skep tog die indruk dat ook hulle ’n paar baie sensitiewe punte aangeroer het. Die kritiek van die studente gaan in hoofsaak oor die dosente se persoonlike belydenis oor die maagdelike geboorte van Christus en Sy opstanding uit die dood. Waarom is sommige van die dosente so traag om hul persoonlike belydenis oor hierdie sake weer af te lê as hul daarom gevra word? As dit ’n saak van soveel dringendheid vir hul studente is kan hulle dit daagliks doen! Dit sal immers alle onsekerheid onmiddellik die nek in slaan.  Terwyl die briefskrywers so skerp is met hul kritiek op die gewaardeerde bydrae, vra ek dat hulle in die openbaar helder en duidelik hul standpunte stel oor bogenoemde sake. Eers as dit gebeur kan hul kritiek in ’n ernstige lig beskou word.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=366
Artikel nagegaan:
    -