blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Na aanleiding van die voorbladartikel in Augustus se Die Vrye Afrikaan, “Opstand in die NG Kerk”, skryf dr. Kobus Gerber, Algemene Sekretaris van die NG Kerk, Hatfield, Pretoria (met kommentaar van ons redakteur) 2005-10-19

Die NG Kerk is ’n kerk op die markplein. As kerk op die markplein en as deel van die gemeenskap is die NG Kerk natuurlik in die oog van almal wanneer sy deelneem aan die aktiwiteite op die markplein. Alle deelnemers aan die spel van die gemeenskap op die markplein mag natuurlik krities wees oor die NG Kerk se manier van speel. Tewens, die NG Kerk verwelkom dit. Persoonlik het ek dit al op verskeie forums duidelik gestel. So verwelkom ek die grondige diskussie oor ’n groot klomp sake in die dossier oor die NG Kerk in die uitgawe van 19 Augustus 2005. Die spel op die markplein het ook sekere reëls. Een daarvan, meen ek, is dat wanneer ons met mekaar in (kritiese) gesprek is, ons dit nie anoniem doen nie. Die voorblad-/ inleidingsartikel in die uitgawe van 19 Augustus 2005 is anoniem. Dit kom nie uit die redakteur se pen nie. En dit bevat ’n klomp stellings wat feite nie reg, nie in konteks en soms slegs gedeeltelik hanteer. Hieroor sou ons as mede-markpleingenoot graag wou reageer. Ons is dit seker verskuldig aan ander mense op die markplein wat nou met ’n anonieme en slegte gerug leef. Ons sou met die oog op ons reaksie net graag wou weet van wie die anonieme artikel kom. Dit plaas die artikel asook die bronne van inligting in konteks. Dit kan konstruktiewe gesprek oopmaak as ons nie met ’n spook in Die Vrye Afrikaan praat nie. Verder sou ek wou aanvoer dat geen joernalistieke privilegie hier ter sprake is nie, en dat die plaas van ’n anonieme artikel nie pas by dit waarvoor Die Vrye Afrikaan hom beywer nie. My versoek: help ons om die gesprek in die oopte te kry. En kom ons bly (krities) met mekaar  praat.

 

Dit is algemeen aanvaarde praktyk in die joernalistiek dat artikels en berigte om ’n verskeidenheid van redes anoniem geplaas word. As redakteur staan ek in vir die artikel, waaroor die debat met hierdie uitgawe afgesluit word – Red.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=365
Artikel nagegaan:
    -