blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Na aanleiding van die artikel, “Nou wat vir ’n ding is ’n Afrikaner?” deur Hermann Giliomee en Lawrie Schlemmer (Die Vrye Afrikaan, 16 September, 2005) skryf Louis Kirsten van Johannesburg (met kommentaar van ons redakteur) 2005-10-19

Hierdie artikel bevat wat my betref presies dit wat die konsep Afrikaner muf laat. Eerstens net die volgende logiese probleme:  Hoekom beskou die skrywers deelname aan die "identiteitsdebat" sonder om jouself bekend te stel as Afrikaner as paradoksaal? Sou ateïste dan nie kon deelneem aan geloofsdebatte nie? Is dit paradoksaal vir ’n dowe om te spekuleer oor die klank van die wêreld? Daar word in die artikel van twee sogenaamde aanvanklike definisies van "Afrikaners" gepraat. Die een was sogenaamd "oop" maar die ander aanvanklike definisie, waarskynlik die "toe" een wat ondermaans bedryf is, word eenvoudig verswyg. Moet jy jouself werklik vereenselwig met die "groep en sy hele geskiedenis" om ’n "Afrikaner" te wees, soos die skrywers beweer? Die skrywers besef dit self in die tweede deel van die sin deur (paradoksaal) te stel dat dat jy jou nie noodwendig met spesifieke waardes hoef te vereenselwig nie, ens. As ’n mens dan so op jou eie terme ’n "Afrikaner" kan wees, kan jy sekerlik selfs kies om nie "Afrikaner" genoem te word nie terwyl jy, globaal gesien, ten volle "Afrikaner" is.  Tweedens is daar ’n stelling in die artikel wat eenvoudig onwaar is: Om "Afrikaner" te wees het nog nooit bloot beteken het dat jy hier bly en SA se belange bo ander lande s’n stel nie. Die gemiddelde "Afrikaner" het nog nooit gedink dat ’n swart persoon wat hier werk en SA se belange op die hart dra ’n "Afrikaner" is nie. Wie presies is of was die "Afrikaners" wat gedink het dink Sol Plaatje, Albert Luthuli, Nelson Mandela of Thabo Mbeki is of was "Afrikaners"? Derdens die kruispunt: Die titel en hele artikel handel oor "Afrikaner" identiteit, maar in die laaste paragraaf word daar eenvoudig gespring na die taalstryd. Deur hierdie (Freudiaanse glips?) sprong erken die skrywers dit wat alle nie "Afrikaners" eintlik deurentyd vermoed: om "Afrikaner" te wees beteken jy praat "Afrikaans" en veg vir die taal. Dit is presies die muwwe, die aanstootlike. Dit bly ironies dat die mense wat Afrikaans werklik eerste ge-eien het (deur dit te skryf) nog nooit vir haar, in ’n lukraak gedefinieerde vorm, geveg het nie en tot vandag toe nog die mees kreatiewe evolusionêre omgang met haar het. Maar was of is hulle "Afrikaners"?

 

Vermoedelik sou die woord Afrikaner onder geen onstandighede vir u aantreklik wees nie – wat natuurlik u goeie reg is – Red.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=362
Artikel nagegaan:
    -