blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


ANC-woelinge oor meer as Mbeki, Zuma 2005-10-19
William Mervin Gumede

*Navorsingsgenoot by die Skool vir Openbare en Ontwikkelingsbestuur (P&DM), Universiteit van die Witwatersrand; skrywer van Thabo Mbeki and the Struggle for the Soul of the ANC (Kaapstad: Zebra Press, 2005). Sy volgende boek, 100 years of Black Politics, verskyn in 2007 by dieselfde uitgewer

 

            Hierdie is moeilike tye vir die African National Congress. Moontlik die moeilikste sedert dit in 1994 aan die mag gekom het. Die ideologiese gom wat die uiteenlopende groepe in die ANC-familie tot met die totstandkoming van demokrasie in 1994 bymekaar gehou het, was die omverwerping van die apartheidsregime. Sedertdien het die vraag na watter beleide gebruik moet word om ’n nuwe nasie te bou uit die ruïnes van apartheid en kolonialisme, asook om terselfdertyd ’n einde aan die babbelas van verlammende armoede, werkloosheid en ongelykheid te maak, die befaamde hegte interne ideologiese samehang van die beweging verslap.

            Thabo Mbeki is verhef tot die president van die ANC omdat hy deur die meeste koningmakers en wyse manne van die party beskou is as die beste persoon om die beweging bymekaar te hou tydens die moeilike ‘afleweringsperiode’ in regering, wanneer die meeste voormalige bevrydingsbewegings elders oënskynlik uitmekaargeval het.

            Sedert sy stigting in 1912 het die ANC nog altyd uit etlike wedywerende ideologieë bestaan. In gegewe periodes voer een ideologie normaalweg die botoon bo die ander. Nietemin het die komponente van die wedywerende ideologieë nog deurgaans hulle verskille opsy geskuif om almal skouer teen die wiel te kan sit teen die apartheidsideologie. Die ANC beroem hom op sy vermoë om soveel uiteenlopende ideologieë en drade binne sy breë kerk te hou. Min bevrydingsbewegings ter wêreld het so ’n ideologiese verskeidenheid bestryk, veral in Afrika.

            Voor die verowering van mag in 1994 het die ANC uit vier min of meer verskillende hoofgroepe bestaan, elk met dikwels aparte ideologieë, en almal aan die meeding om oorheersing binne die individuele groepe en binne die ANC. Dit was die ANC as sodanig, die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP), die vakbonde in die Congress of South African Trade Unions (COSATU) en sy voorgangers, en die onderskeie ‘civic’-organisasies in die townships onder die sambreel van die South African National Civic Organisation (SANCO). ’n Vyfde, dog betreklik losse groep, was die verskillende burgerlike organisasies, nieregeringsorganisasies en kerke wat trou aan die bevrydingsbeweging gesweer het. Natuurlik was daar ook ander netwerke wat oor hierdie groepe gestrek het: diegene wat die grootste deel van hulle politieke lewe in ballingskap deurgebring het; diegene wat binne gebly het, die ingewekenes (inziles) wat later in die 1980’s die United Democratic Front gevorm het om al die plaaslike anti-apartheidgroeperings binne die ANC-kraal te verenig; die Robbeneilanders wat omrede hulle politieke aktiwiteite daar opgesluit is; en dan vanaf die 1970’s die ‘ou garde’, soos oud-president Nelson Mandela, Walter Sisulu en Ahmed Kathrada wat, danksy hulle politieke ervaring in die 1950’s en langdurige gevangenskap op Robbeneiland bykans op sigself ’n klein netwerk van invloedryke ‘oudstes’ gevorm het.

            In die drie dekades voor 1990 het die SAKP ideologies die botoon gevoer. Met die ineenstorting van die Sowjet-unie het die SAKP egter sy ideologiese ankers verloor. Dit het ook die verswakking van die invloed van die SAKP binne die ANC-alliansie ingelui. Talle van die SAKP se talentvolste kaderlede, soos die huidige Adjunk-Minister van Finansies, Jabu Moleketi, het die party in groot getalle verlaat. Onder hulle was die SAKP se elite- jonger leierkader, diegene wat gekies is vir spesiale ideologiese opleiding in die Sowjet-unie, met die bynaam die ‘Lenin-skool’. Ander, wat in die leierskapstrukture van die SAKP aangebly het, het hulle geloof verloor. Talle het hulle tot matiger sosiale demokrasie gewend, en die meeste is in Thabo Mbeki se politieke wentelbaan opgeneem.

            COSATU self is hewig betwis deur die verskillende linkse ideologiese groepe. Teen die laat 1980’s was dit onder die ferm beheer van die oorheersende groep in die SAKP, die Marxisties-Leninistieses, wat verbete gevegte met ander linkse groeperinge aangeknoop het om die beheer van die magtige vakbond. Hulle hoofopponent was die ‘werkeriste’. Die werkeriste was daarteen gekant dat vakbonde hulleself aan die bevrydingsbeweging onderwerp en het COSATU as onafhanklike organisasie gesien wat, ofskoon dit die oogmerke van die omverwerping van die rassistiese apartheidsregime gedeel het, moes werk vir die skepping van ’n opregte werkerstaat onder die leierskap van die werkers – die sleutel- maatskaplike mag, soos hulle geredeneer het. Teen die vroeë 1990’s, ná die ontbanning van die ANC en die ineenstorting van die Sowjet-unie, het baie van die werkeriste, soos Alec Erwin, van siening verander en hulle energie na die ANC oorgedra. Ofskoon die meeste van die vakbondlidmate swart was, was hulle uitkyk nierassig, met die verwagting dat lede hulle by die geveg om werkersregte sou skaar.

            Die civic-beweging was ’n enigsins nuwe verskynsel. Ofskoon daar altyd swart civic-groepe was, het hulle hulself eers teen die laat 1970’s begin organiseer tot ’n politieke groepering binne die bevrydingsbeweging, toe mense soos die voormalige voorsitter van die ANC in die Wes-Kaap en vakbondaktivis, Oscar Mpetha, in Kaapstad se townships begin organiseer het en gemeenskappe in areas soos Langa gemobiliseer het om swart plaaslike regeringsmarionette van apartheid te beveg. Die civics was besonder bedrywig onder die sambreel van die UDF en het SANCO in die vroeë 1990’s gevorm. Die beweging is hewig deur linkse groeperings binne die ANC bestry. Hul eerste leier, Moses Mayekiso, was ’n werkeris.

            In 1994 is talle van die prominente civic-leiers in die regering opgeneem. Vroeg in die nuwe demokrasie was SANCO verdeel tussen diegene wat geglo het dat dit die ANC onkrities moet steun, en diegene wat wou hê dat dit ’n waghond in die nuwe demokrasie moet wees.

            Teen die vroeë 1980’s het Mbeki en vele van sy geslag die dikwels beroerde toestande in sosialistiese Afrika en Oos-Europa gesien, en hulle wou g’n deel daarvan vir ’n demokratiese Suid-Afrika hê nie. Met die ineenstorting van die Sowjet-blok het die Mbeki-groep van sentristiese leiers begin kyk na die eksperimente van ander linkse partye in Wes-Europa, die Skandinawiese sosiale demokrasie, Franse sosialisme en die poging van die Griekse Pan-Hellenistiese Sosialiste Party. Maar met die ineenstorting van die Sowjet-unie het dit voorgekom of selfs dié eksperimente wankel. Midde-in die ideologiese verwarring in die ANC-familie aan die begin van die 1990’s het Mbeki die sentrum van die ANC se politieke en ekonomiese denke geword.

            Ideologies het Mbeki homself en die ANC geallieer met die Sosialistiese Internasionaal, die groep van hoofsaaklik Wes-Europese sosiaal-demokratiese lande, insluitend die Arbeidersparty onder Tony Blair, die Duitse Sosiaal-Demokratiese Party onder Gerhard Schröder en die Sweedse Sosiaal-Demokratiese Party onder Goran Persson. Om die waarheid te sê, het die ANC onder Mbeki se aansporing in die 1990’s formeel tot die groep geaffilieer.

            Toe die ANC in 1994 aan die mag gekom het, moes dit drie doelwitte gelyktydig verwesenlik: grondwetlike demokrasie; die industriële modernisering van die falende Suid-Afrikaanse ekonomie; en ekonomiese en maatskaplike hervormings om armoede, werkloosheid en diep ongelykheid soos deur apartheid nagelaat, uit te wis.

            Die ANC het egter gou ontdek dat die regering wat hulle geërf het hoog in die nood was, in weerwil van apartheidserapropaganda van ’n ryk middelslagland. Terselfdertyd was die ANC se hande afgekap, aangesien daar ’n reële bedreiging van moontlike regse geweld van sowel wit as swart groepe angstig oor ’n ANC-regering was. Die Mandela-presidensie was dus op die horings van ’n tweespalt met betrekking tot die gerusstelling van blankes, wat weerwraak gevrees het, en swartes, wat ongeduldig op  verandering gewag het.

            Die ergste was egter dat die ANC gou agtergekom het dat die mark nie vertroue in ’n swart regering had nie. Die probleem was drieërlei: die regering se ekonomiese bestuur is met skepsis deur die mark bejeën; fiskale aanwysers het getoon dat ’n finansiële krisis hangende was; en die ekonomie was selfs slegter daaraan toe as wat die somberste voorspellings dit wou hê. Die ANC se ondersteuners op voetsoolvlak was ongeduldig oor stadige ‘aflewering’, wat die ANC se linkervleuel op sy beurt gedruk het om vir meer ekspansionistiese beleide te vra, wat markvertroue weer ’n verdere knou toegedien het.

            Daar was rofweg twee benaderings in die ANC-familie oor hoe te werk gegaan moet word in die krisis wat die ANC minder as ses maande na bewindsaanvaarding in 1994 beetgepak het. Die groepe aan die ANC se linkervleuel – COSATU, die SAKP, SANCO en vele van die onderskeie burgerlike groeperinge in bondgenootskap met die ANC – het ’n vinnige program van herverspreiding onder sy ondersteuners geëis. Hulle het geëis dat die groei deur herverspreidingsgedeeltes van die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP), die ANC se 1994-verkiesingsmanifes, gou deurgevoer moet word.

            Die Mbeki-spil van die ANC was nou oortuig dat enige gebaar in die rigting van onmiddellike, radikale herverspreiding die krisis sou vergroot en dat Suid-Afrika sou eindig met die inflasie- en skuldprobleme van die eerstegeslagse nuutbevryde Afrikalande, soos Zimbabwe en Tanzanië, wat onmiddellik na bevryding maatskaplike besteding verhoog en vrylik geleen het.

            Mbeki, die behendige strateeg, het teen hierdie tyd vele van die linkses se steunpilare na sy kamp bekoor: mense soos Erwin, asook voormalige UDF-leiers soos Trevor Manuel, sleutel- civic-leiers, radikale in die ANC-jeugliga soos die wyle Peter Mokaba, belangrike vakbondleiers soos COSATU se Algemene Sekretaris, Mbazima Shilowa, en sleutelkommuniste, soos die SAKP-voorsitter, Charles Nqcakula. Hy het reeds lede van die sleutelgeslag van Swart Bewussynsleiers, soos Joel Netshitenshe en Nkosazana Dlamini-Zuma tydens ballingskap na sy kamp gelok. Mbeki se ambisie was om ’n nuwe leierskorps te skep, gebaseer op die politieke sentrum binne die ANC, wat stappe kon doen om markvertroue in te boesem terwyl die ANC byeengehou word.

            Tydens die vertrouenskrisis van onderskeidelik die mark en die ANC-ondersteuners in die ANC het die Mbeki-groep geredeneer dat die ANC twee dinge moet doen om ’n ramp te vermy. Die ANC moes as party moderniseer om veel vinniger te handel met die veranderende binnelandse en buitelandse politieke en ekonomiese omgewings. Daarvoor moes die ANC moderniseer vanaf die swaar bevrydingsbeweging na ’n moderne regerende party met sentristiese politieke en ekonomiese beleide wat markvertroue kon verseker. Mbeki het die markte se weerslag teen die Franse Sosialiste Party se poging om op eie houtjie te gaan, gesien.

            Bowendien het Mbeki aangevoer dat in die geval van Suid-Afrika wit, rassistiese persepsies van swart ekonomiese bestuursonbevoegdheid ’n bykomstige meulsteen was wat markvertroue gesink het, en waaraan die ANC moes werk. Om oënskynlik ortodokse ekonomie na te jaag, was minstens op die kort termyn die enigste manier om markvertroue te herstel, het Mbeki en die leidende hervormers rondom hom geredeneer. ’n Belangrike aspek was dus dat die ANC sigself sou stroop van persepsies dat dit ’n gevangene van skeefgetrekte linkse ideologie is.

            Mbeki het tot die gevolgtrekking gekom dat nóg die mark, nóg die staat die groot ongelykheid en armoede nagelaat deur apartheid eiehandig kon takel. Die sakesektor is nou gesien as ’n sleutelvennoot om Suid-Afrika se dwingende ontwikkelingsbehoeftes te vervul. Bowendien het die skepping van ’n swart sake- en middelklas ’n sleutelpilaar van Mbeki se ekonomiese strategie geword. Sy argument is dat die enigste manier om met rassisme te handel, is om swartmense ryker te maak. Bowendien betoog hy dat ’n swart middelklas ’n belangrike bolwerk kon wees om te verhoed dat die ANC na ’n linkse uiterste gedruk word. Wat byna ewe belangrik is, is Mbeki se geloof dat die enigste manier om met wit dreigemente van kapitaalvlug en die inherente pessimisme van die mark teenoor ’n swart regering te handel, is om ‘patriotiese’ swart Oppenheimers en sakespelers tot stand te bring wat die mark kan beïnvloed. Vandaar Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB), wat tot nog toe nie sy oogmerke bereik het nie.

            Die ANC se aanvaarding van die Mbeki-geïnspireerde Groei-, Werkskeppings- en Herverspreidingstrategie (GEAR) in 1996 was ’n belangrike wending in die nuwe strategie. Mbeki is vasberade om die ANC langs sosiaal-demokratiese lyne te moderniseer, met ’n steunbasis wat blank sowel as swart omvat, insluitende swartmense wat tradisioneel partye soos die IVP en die PAC gesteun het. ’n Vergrote swart middelklas is ’n belangrike deel van die nuwe ANC. So ook ’n noemenswaardige aantal swart blouboordjiewerkers binne en buite die tradisionele vakbondbeweging. Mbeki het dan ook gepoog om vakbondlede buite die tradisionele ANC-wentelbaan te lok, soos die Federasie van Suid-Afrikaanse Unies (FEDUSA) en die Swart Bewussyn Nasionale Raad van Vakbonde (NACTU). Blankes vorm ’n belangrike deel van hierdie visie. Vandaar sy inspanning om die Nasionale Party na die ANC te bring, en so ook sy offensief van sjarme teenoor die tradisioneel konserwatiewe blanke vakbond, Solidariteit.

            In ’n poging om te handel met die ekonomiese krisis wat die ANC-regering geërf het, het Mbeki dus gedruk vir makro-ekonomiese stabilisering en die opbou van markvertroue voor herverdeling. Dít was in die hart van die ANC se ideologiese struweling. Sedert 2000 het Mbeki probeer om gegriefde linkses terug te lok deur te betoog dat die regering in daardie stadium die makro-ekonomiese omgewing voldoende gestabiliseer het om nou herverspreiding te kan najaag – die sogenaamde post-GEAR-konsensus. Nou praat Mbeki en sy bondgenote van die skepping van ’n ‘ontwikkelingstaat’ soortgelyk aan dié wat Oos-Asiese nasies gelanseer het na die spits van globale mededingendheid. Hierdie opvatting is ’n poging om ’n gepaste ideologie te vind wat universele byval by die ANC-familie sal vind.

            In Mbeki se vasberadenheid om die ANC se rigting te verander het hy egter eendersdenkende hervormers vir sleutelposisies gekies, diegene wat hy gereken het nie met sy hervormings sal saamstem nie  op ’n syspoor gerangeer, en diegene wat krities jeens die ANC se nuwe rigting staan, streng gepolisieer. Dit het gelei tot wydverspreide wrokkigheid teenoor Mbeki self binne die ANC. Daar was opstande teen premiers wat hy met die hand uitgesoek het. Bowendien begin talle ANC-ondersteuners nou toenemend die dividende van demokrasie opeis. Hulle kan sien dat die ekonomie bloei, maar hulle pluk nie die vrugte daarvan nie. Hulle sien dat daar aan baie swartes ‘gelewer is’: SEB-magnate wat skaars tien jaar gelede hulle bure in die townships was. Hulle sien ook groeiende wit welvaart sonder enige ‘opofferings’. Blanke maatskappyhoofde betaal aan hulleself groot bonusse uit, en oor die algemeen is beter gekwalifiseerde blankes beter in staat om in die markekonomie te maneuvreer. Bowendien is Mbeki se uitdaging daarin dat die ekonomie in die eerste ekonomie ‘afgelewer’ het, maar dat hy diegene in die tweede ekonomie slegter daaraan toe gelaat het.

            Sedert verlede jaar was daar wydverspreide protes deur ANC-lede oor stadige ‘aflewering’ en die ontoeganklikheid van hulle plaaslike regeringsleiers, waarvan talle sentraal aangestel is en dikwels skerper fokus op die bevrediging van partybase en die vul van hulle eie sakke as op aanspreeklikheid teenoor hul plaaslike ondersteuningsgroepe.

            Die ANC se alliansievennote is ook nie onaangetas nie. COSATU-lede het druk op hulle leierskap uitgeoefen om afdankings en die besnoeiing van Suid-Afrika se vervaardigingsektor te beveg, wat die nadeligste deur die snelle modernisering van die ekonomie geraak is. Bowendien vra hulle ook groter maatskaplike en werksbeskerming van die ANC-regering in ruil vir hul steun aan die ANC.

            Die SAKP is eweneens in ’n krisis. Sy jonger lede vra toenemend dat dit meer radikaal moet wees en selfs op eie houtjie moet voortgaan. Tydens sy spesiale konferensie gedurende April 2005 in Durban het die ANC ’n kompromis met sy lede aangegaan. Hulle het aangebied om ’n kommissie te stig om die moontlikheid van ’n wegbreking van die ANC te ondersoek. Nog belangriker: hulle het hul lede aangemoedig om nog ’n poging aan te wend om die presidentskap van die ANC te verower en die ANC sodoende van binne te swaai. COSATU se sentralekomiteevergadering van November 2004 het basies besluit om ’n soortgelyke strategie te volg. Gevolglik het wie Mbeki moet opvolg nou ’n sterk politieke kwessie geword.

            Oud- adjunk-president Jacob Zuma, wat reeds aan die begin van 2001 met Mbeki haaks was, het probeer om die wye rusteloosheid in ANC-geledere tot sy voordeel in te span. Hy het die Kommuniste en die vakbonde die hof gemaak en aan hulle beloof dat hy die ANC sal terugneem na sy wortels van voor 1994. Aangesien die SAKP en COSATU nie self kandidate het nie, het hulle by Zuma ingeval. Hulle het egter nou aanvaar dat die onthullings wat waarskynlik uit Zuma se korrupsiehofsaak sal kom, sy politieke reputasie sal vernietig. Dus het hulle nou begin kyk na Kgalema Mothlante, die ANC se sekretaris-generaal en voormalige leier van die National Union of Mineworkers. Mothlante het egter reeds ingekoop by Mbeki se visie en sal sy nalatenskap - in geval hy self verkies word - waarskynlik beskerm.

            Mbeki, wat van sy nalatenskap bewus is, wil hê dat die volgende leier van die ANC moet inval by sy beleid om die ANC se nuutgevonde reputasie as ’n Afrikaregering wat sy ekonomie versigtig bestuur, te handhaaf. Dus sal iemand wat ortodokse, markvriendelike ekonomie met ’n versigtige welsynsbalans nastreef, en wat die ANC ideologies op sy sosiaal-demokratiese pad hou waarskynlik die goedkeurende kopknik kry – nie net van Mbeki nie, maar ook van die nuwe swart sake- en middelklasvleuel wat die ANC beheer. Die linkses verlang dat die ANC na radikale herverspreiding moet terugkeer.

            Dít is waar die stryd om die ideologiese siel van die ANC woed. Dit lyk asof Mbeki uiteindelik sal wen. As die linkses verloor, sal hulle waarskynlik ’n onafhanklike koers inslaan om ’n werkersparty na die voorbeeld van die Brasiliese Werkersparty te vorm. Maar dis na 2009.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=352
Artikel nagegaan:
    -