|
||||
Nadat dit verlede week bekend geword het dat die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) ’n voorstel goedgekeur het dat dubbelmediumonderrig vanaf 2006 vir ’n proeftydperk van drie jaar by die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte ingestel word, het ’n heftige reaksie ontstaan, veral in die briewekolomme van Die Burger. Hoe moet hierdie besluit van die US-Raad beoordeel word? ’n Goeie plek om te begin, is ’n artikel geskryf deur die rektor van die US, prof. Chris Brink, wat op Woensdag 28 September 2005 in Die Burger verskyn het onder die opskrif “Die taaldebat - hier en elders”. In sy artikel verduidelik prof. Brink hoe hy en vermoedelik die huidige bestuur van die US oor die posisie van Afrikaans in die algemeen en die instelling van dubbelmediumonderrig op ’n proefbasis aan die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte in die besonder dink. Brink baseer sy benadering in die eerste plek op waarnemings wat hy oor die hantering van taal aan Europese universiteite gemaak het, en veral dan universiteite wat ’n besondere verbintenis met kleiner tale het, soos die geval met die US en Afrikaans is. Hier kom hy tot die gevolgtrekking dat “wat die kleiner tale betref, geen universiteit tans sterk skyn te argumenteer ten gunste daarvan om streng eentalig te wees” nie, en dat “die voordele… daarvan om skouers te skuur met Engels beskou word as sterk genoeg om die gepaardgaande risiko’s te regverdig.” In die tweede plek beroep Brink hom op Michael Gibbons en andere se onderskeid tussen ’n sogenaamde modus 1- en modus 2-samelewing, soos gemaak in hul boek The New Production of Knowledge (1994). Die oorgang van modus 1 na modus 2 “het te make met die oorgang van ’n samelewing waarin elkeen, individu of organisasie, ‘sy plek ken’ en daarby hou, na ’n samelewing van oorvleueling van grense’ van ’n samelewing van ja-of-nee sekerhede na een van balansering van onsekerhede; van lineêre progressies na komplekse interaksies.” Modus 2-samelewings is, kortom, samelewings waarin die verband tussen oorsaak en gevolg nie lineêr is nie, en Brink beroep hom op hierdie kompleksiteit om te verklaar dat waarborge oor taal moeilik gegee kan word en “dat taal nie ’n probleem is wat jy oplos nie, maar ’n saak wat deurlopend bestuur moet word.” Hy skryf ook: “Enige aandrang daarop dat daar net in Afrikaans moet klasgegee word op Stellenbosch, is, glo ek, strategies sowel as opvoedkundig onwys.” Wat spesifiek die reaksie op die instelling van dubbelmediumonderrig by Lettere en Wysbegeerte betref, skryf Brink: “As ‘dubbelmedium’ in beginsel beteken 50/50, sal dit in die praktyk wel so uitwerk? Ons ervaring is dat studente nie skaam is om so te sê as hulle voel hulle kry nie wat hulle belowe is nie. Ons het studenteterugvoermeganismes, ons het ’n gedragskode vir taal in die klaskamer, en ons het ’n proefperiode van drie jaar ingebou in die aanvaarding van die T-opsie (oftewel dubbelmediumonderrig – Red.) van lettere en wysbegeerte.” Tot sover Brink se uiteensetting. Die eerste probleem met Brink se argumente is dat hy sy vergelykings tref met die Europese situasie, in weerwil daarvan dat die taalprobleem in Afrika totaal anders daar uitsien. In Europa vind die beweging na die groter instelling van Engels as onderrigtaal plaas teen die agtergrond van massiewe institusionele ondersteuning vir veeltaligheid; die hoë korrelasie tussen een of twee tale (wat nie Engels is nie) en ’n nasionale staat; en enigiets van 150 tot 600 jaar se gedrukte tradisie van die betrokke Europese tale. Nie een van hierdie faktore bestaan in Afrika nie. Selfs Afrikaans, die enigste Afrikataal wat gedurende die 20ste eeu volledig gemoderniseer is, kan nie eens naastenby op enige van hierdie faktore aanspraak maak nie. In Afrika, veral vanweë die durende rol van die koloniale staat, is daar bitter min institusionele ondersteuning vir veeltaligheid; voer alle inheemse tale die ondertoon teen die voormalige koloniale taal; en is die gedrukte tradisie in die inheemse tale baie broos – iets wat nog verder vererger word deur die opkoms van die era van die elektroniese beeld en klank, wat reeds enorme skade aan Standaardafrikaans aangerig het. In die tweede plek word Engels in die Europese konteks bygevoeg as ’n niehegemoniese brugtaal, terwyl dit in Afrika sonder uitsondering as hegemoniese magstaal funksioneer. Enige volhoubare veeltaligheidsbenadering in Afrika moet daarby begin om hierdie hegemonie te verreken, want anders eindig veeltaligheid by Engelse eentaligheid. In die derde plek maak Brink vir die soveelste keer wat hy hom op ’n modus 2-samelewing beroep, geen melding van die enkele belangrikste institusionele verskynsel in die huidige Suid-Afrikaanse samelewing nie, naamlik die hoeveelste massiewe program van staatsgedrewe ideologiese ingryping in die samelewing. Vanaf Britse kolonialisme na apartheid na transformasie is almal sodanige ingrepe wat almal met goeie bedoelings begin is, maar aaklig geëindig het (of nog gaan eindig). Om die waarheid te sê, is die huidige Afro-nasionaliste wat die poging dryf om die samelewing na die staat se beeld te herskep, allesbehalwe geïnteresseerd in ’n modus 2-samelewing: elke enkele wet of beleidsverklaring in verband met hierdie program spreek juis van ’n modus 1-mentaliteit waar elkeen volgens die beginsel van demografiese verteenwoordigendheid “sy plek ken”. Presies die modus 1-mentaliteit waarvan Brink sy taalkritici per implikasie beskuldig, is vaardig onder die Afro-nasionaliste. Die probleem met Brink se taalkritici is dus nie dat hulle nie die modus 2-omgewing verstaan of wil omarm nie, maar juis dat hulle die modus 1-benadering so uitstekend in sy huidige gedaante verstaan, en dat al wat hulle van die huidige US-bestuur hoor is dat taal “bestuur” moet word, terwyl die eintlike bedreiging vir alle inheemse tale in Suid-Afrika polities en ideologies van aard is. Met ander woorde, Brink se voorstel dat taal “bestuur” moet word, is niks anders nie as ’n ekonomies-administratiewe “oplossing” vir ’n polities-ideologiese probleem. In die vierde plek, en wat die instelling van dubbelmediumonderrig by Lettere en Wysbegeerte betref, beroep Brink hom nogmaals op administratiewe teenwigte en anekdotiese getuienis, in plaas van óf op die heersende navorsing oor die neiging tot eentaligheid in die aanwesigheid van ’n hegemoniese taal, óf op die bestaande getuienis by ander voormalig Afrikaanse universiteite. By die Universiteit van Wes-Kaapland, byvoorbeeld, is Engels op presies dieselfde gronde as wat Brink aanvoer eers in die administrasie en later in die klaskamer toegevoeg, tot verengelsing uiteindelik binne tien jaar plaasgevind het, ofskoon dit nie noodwendig die aanvanklike oogmerk was nie. Ofskoon prof. Leon de Stadler enkele jare gelede bevind het dat 70% van die studente aan die US onderrig in Afrikaans verkies – praat van die respektering van studentevoorkeure! – word hier nou ’n ander koers ingeslaan. ’n Lid van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte het vandeesweek aan Die Vrye Afrikaan gesê dat die besluit by die betrokke fakulteitsraadsvergadering gemotiveer is op grond van vae syfers oor nie-Afrikaanse studente uit die Kaapse metropool wat moontlik na die US sou kom indien die Engelse aanbod groter is. Prof. Brink mag voel dat beskuldigings dat beloftes oor taal aan die US nie nagekom word nie, ongeldig is, maar ongelukkig is dit presies wat nou hier gebeur: op grond van hoogs twyfelagtige analogieë met Europa, maatskaplike analises wat a-polities en onkontekstueel op Suid-Afrika toegepas word, asook administratiewe redenasies word in der waarheid afgewyk van die taalbeleid wat in 2002 aanvaar is, en waarvolgens dubbelmediumonderrig op voorgraadse vlak slegs by deeglike motivering aanvaar kon word. Prof. Brink mag dink dat taal “bestuur” moet word, en hom by die afwyking van beleid wat onder sy bewind aanvaar is hierop beroep, maar dan is die vraag watter waarde ’n beleid dan enigsins het. En as die aandrang op “slegs Afrikaans” dan so “strategies en opvoedkundig onwys” is, waarom word die dubbelmediumbeleid slegs in een faktulteit en op ’n proefbasis toegepas, in plaas daarvan om dit sommer dadelik oral in te stel? Prof. Brink begin al hoe meer klink na die hoofkarakter van The Big Lebowski, wat telkens na ’n verdere skeefloping van sy en sy vriende sy wêreldvreemde planne sê: “New information has come to light, man.” Brink se argumente of die inligting wat hy aanbied, oortuig geensins nie. In die lig hiervan is die instelling van dubbelmediumonderrig by Lettere en Wysbegeerte aan die US, selfs op ’n proefbasis, hoogs onverantwoordelik en geensins bevorderlik vir veeltaligheid nie. Die Vrye Afrikaan doen ’n beroep op die burgerlike samelewing en die studente en personeel van die US om nie hierdie ondeurdagte besluit te aanvaar nie, maar dit met alle moontlike demokratiese metodes van verset teen te staan. ’n Protesoptog sou ’n goeie begin wees. |