|
||||
Anton Ehlers Deur Anton Ehlers* *Historikus, Departement Geskiedenis, Universiteit Stellenbosch
Die herdenking van die opstel en aanvaarding van die Freedom Charter (FC) 50 jaar gelede op 25-26 Junie 1955 het opnuut weer die emosies oor die dokument gaande gemaak. Ou persepsies en verskille oor die dokument en sy inhoud is deur die herdenking by hernuwing bevestig, maar in die gees van die post-1994 Suid-Afrika is ook gepoog om die dokument ’n versoenende rol toe te ken met wie se ideale alle Suid-Afrikaners kan identifiseer. Laasgenoemde pogings het dan ook tot ’n te verwagte polimiek in veral die Afrikaanse media aanleiding gegee. Dat die polimiek juis in die Afrikaanse media gevoer is, is waarskynlik die gevolg van die negatiewe persepsies wat sedert die dokument se ontstaan in blanke en veral Afrikanergeledere oor die dokument gevestig geraak het. Die interpretasie van die destydse NP-regering dat die Freedom Charter (FC) ’n kommunistiesgeïnspireerde poging/plan was om die staat met geweld omver te werp en ’n sosialistiese staat in Suid-Afrika tot stand te bring het die dokument in blanke en veral in Afrikanergeledere gedemoniseer - ’n persepsie wat deur die verbanne status van die dokument asook die Hoogverraadsaak wat in 1956 begin en vir meer as vier jaar geduur het, versterk is. Teen hierdie agtergrond is ’n historiese besinning oor die ontstaansomstandighede en -geskiedenis asook die reaksies en vrae wat die FC in dié tyd ontlok het, gepas. Die FC het ontstaan in die vaarwater van die radikalisering van buiteparlementêre weerstandspolitiek in die 1940’s en die toenemende verwerping van die bestaande maatskaplike orde soos gedemonstreer tydens die Uittartingsveldtog (Defiance Campaign) van 1952. Hoewel laasgenoemde veldtog se onmiddellike doelwit, naamlik om apartheidsdwetgewing geskrap te kry nie bereik is nie, het dit die kwik in die politieke barometer aansienlik laat styg wat gemanifesteer het in ’n verhoogde politieke bewussyn onder swartmense en ’n versterking van die ANC se ondersteuningsbasis. Dit is teen hierdie agtergrond dat die gebeure wat tot die Congress of the People (COP) en die FC gelei het, ontvou het. Die vader van die idee van ’n COP en ’n FC was professor ZK Matthews, president van die ANC in die Kaapprovinsie. Na ’n jaar in die VSA het Matthews in Mei 1953 na sy tuiste in Alice in die Oos-Kaap teruggekeer. Tydens ’n byeenkoms van politieke sielsgenote aan huis van prof. Matthews is mobiliseringsmeganismes bespreek waarmee mense se verbeelding vir die bevrydingstryd aangegryp en behou kon word. Die groep is aanvanklik gefassineer deur die moontlikheid van ’n massa “going-away-from-the-towns”-veldtog. Dit sou behels dat swartmense op ’n gegewe dag sou gaan werk tot 12 uur waarna hulle dan na die Tuislande sou begin stap om op dié wyse simbolies die beleid van die NP-regering uit te voer. Vanweë die praktiese onuitvoerbaarheid van die idee het die bespreking uiteindelik gekonsentreer geraak op die alternatiewe gedagte van ’n reeks openbare byeenkomste waarheen almal in Suid-Afrika, insluitende Afrikanernasionaliste, genooi kon word. Die byeenkomste moes dan kulmineer in ’n nasionale konvensie en die aanvaarding van ’n manifes. In Augustus 1953 het Matthews hierdie gedagte soos volg in sy presidentsrede voor die Kaapse provinsiale kongres van die ANC, wat dit aanvaar het, verwoord: “I wonder whether the time has not come for the African National Congress to consider the question of convening a National Convention, A CONGRESS OF THE PEOPLE, representing all the people of this country irrespective of race or colour to draw up a FREEDOM CHARTER for the DEMOCRATIC SOUTH AFRICA OF THE FUTURE”. In Desember 1953 het die ANC se nasionale konferensie ook die voorstel aanvaar. Die ironie van die Congress of the People-inisiatief met sy verreikende gevolge was dat dit juis van Matthews, met sy reputasie as ’n “draadsitter” en ’n lid van die konserwatiewe faksie in die ANC, afkomstig was. Hoewel die idee van ’n nasionale konvensie nie nuut was nie moes die COP volgens sy voorsteller veral op twee vlakke kenmerkend anders wees as vorige sodanige voorstelle of pogings. Die konvensie moes die mees verteenwoordigende en inklusiewe tot datum wees - ’n ware “Parliament of the People” - in kontras met die eksklusiewe blanke parlement wat Suid-Afrika regeer het. Anders as die 1943 “African Claims”-dokument van die ANC wat die produk van die ANC se intellektuele elite verteenwoordig het, moes die Freedom Charter ’n “grass roots”-dokument wees in die sin dat dit die wense, begeertes en drome van gewone mense op grondvlak vir die soort toekomstige Suid-Afrika wat hulle tot stand wou bring, moes weerspieël. Dit was Matthews se verwagting dat juis hierdie grondvlakbetrokkenheid mense se politieke bewussyn en betrokkenheid sou verhoog. Na die aanvaarding van Matthews se idees het die ANC opdrag gegee dat die samewerking van die South African Indian Congress (SAIC), South African Coloured People's Organisation (SACPO) en South African Congress of Democrats (SACOD) gesoek moes word. Op ’n gesamentlike vergadering van die genoemde organisasies in Maart 1954 het die Congress Alliance (die naam waaronder die alliansie bekend sou word) ’n National Action Council (NAC) gevorm om die reëlings vir die uitvoering van Matthews se voorstel te tref. Van die agt lede van die NAC was slegs twee van die ANC, naamlik Albert Luthuli en Walter Sisulu. Onder leiding van die NAC is die idee van ’n nasionale konvensie wyd gepropageer deur ANC takke, New Age, streekskomitees van die NAC, die verspreiding van omsendskrywes en die NAC-pamflet “Call to the Congress of the People”. Die SACOD, wat hoofsaaklik bestaan het uit blanke kommuniste wat die ANC ondersteun het, het ’n belangrike rol in die voorbereidings vir die COP gespeel. Hulle betrokkenheid asook die NAC se verspreiding van Marxistiese literatuur in hierdie periode sonder die nodige klaring van die ANC of SAIC-leierskap sou bydra tot die latere aanklag dat die Freedom Charter ’n kommunisties geinspireerde dokument was. Wat betref die ideal om grondvlak insette te verkry vir die samestelling van die FC is daar voldoende getuienis dat daar wel geesdriftige meelewing en reaksie was op die oproepe om insette tot die dokument te lewer. Eise is van oor die hele land ingesamel en verskeie streeks- en plaaslike konferensies is gehou om eise te formuleer. Die afwesigheid van inligting oor die presiese aantal en tipe eise wat ontvang is maak ’n presieser bepaling van die omvang van die grondvlakinsette wat ontvang is egter onmoontlik. Die argitek van die Freedom Charter was die kommunis, Rusty Bernstein, wat die konsepdokument geskryf het met slegs enkele veranderinge wat vroeg in Junie 1955 deur ’n klein komitee, waarvan Nelson Mandela lid was, aangebring is. Nie Matthews of Albert Luthuli het voor die COP insae in die manifes gehad nie. Ten spyte dus van die pogings om insette vir die dokument so wyd as moontlik te versamel was die finale dokument dus nie die resultaat van ’n wye oorlegplegingsproses wat op alle vlakke van die ANC strukture deurgetrap is nie maar eerder “a vague, haphazard document assembled from all kinds of contradictory suggestions from Congress branches”. Hoewel daar aanvanklik oorweeg is om afgevaardigdes na die COP te verkies in ’n algemene verkiesing op grond van afgebakende kiesafdelings en ’n algemene kieserslys vir almal bo 21, was die idee prakties onuitvoerbaar. Die verteenwoordigers wat dus uiteindelik by Kliptown opgedaag het, was eerder die resultaat van ’n verskeidenheid van meer informele verkiesingsprosedures wat verteenwoordigers van enige denkbare groepering of eenheid opgelewer het. Die Congress of the People is op 25 en 26 Junie 1955 by Kliptown, suid van Johannesburg gehou. Ongeveer 2888 afgevaardigdes, waarvan die meerderheid swartmense was, het die byeenkoms bygewoon. Die polisie het op die tweede dag die byeenkoms ontwrig en alle beskikbare dokumente gekonfiskeer aangesien hulle dit as ’n sameswering tot moontlike hoogverraad beskou het. Hierdie optrede het die byeenkoms egter nie verhinder om die klousules van die Freedom Charter te bespreek en die dokument as geheel goed te keur nie. Die inhoud van die FC was nie nuut nie, en was oorwegend eise wat reeds by herhaling gestel is en gevra het vir ’n veelrassige demokratiese samelewing waarin almal gelyke toegang tot rykdom, onderwys en die regstelsel sou hê. Die doelbewuste pogings van die opstellers om so ’n wye spektrum belangegroepe as moontlik te akkommodeer het waarskynlik daartoe bygedra dat die dokument nie altyd by die uitspel van breë beginsels of doelwitte gebly het nie. Die gevolg was dat dit soms te gedetailleerd geraak het en sommige eise utopies van aard was met ’n groter propaganda- as praktiese waarde. Te midde van die talle eise in die FC het veral twee uitsprake in die dokument die debat daaromheen oorheers. Eerstens het die verwysing na die teruggawe van die banke, nywerhede en myne aan die hele bevolking die vraag na die sosialistiese aard van die FC laat ontstaan. Hiervan was daar verskeie interpretasies wat gewissel het van dié van Simons met sy siening dat dit nie ’n Marxistiese dokument was nie en sy uitspraak gegrond het op die afwesigheid van enige verwysing na die afskaffing van die klassestelsel en die gemeenskaplike besit van die produksie- en ruilmiddele in die dokument, tot dié van Nelson Mandela wat die verwysings wat as nasionalisering geïnterpreteer is eerder gesien het as meganisme om die ontwikkeling van ’n swart middelklas moontlik te maak en hulle toegang tot die produksie- en ruilmiddele te gee met die gepaardgaande erkenning van privaatbesit en inisiatief. In tandem met die vraag na die sosialistiese aard van die FC is die vraag na sy revolusionêre aard gevra - ’n vraag wat bemoeilik is deurdat die FC nie uitgespel het hoe die nuwe samelewingsorde bereik moes word nie. Hoewel die oorwig van uitsprake en interpretasies die nie-rewolusionêre aard van die dokument beklemtoon het, was daar ook ooreenstemming dat die samelewingsorde wat die FC gepropageer het slegs tot stand sou kon kom indien die bestaande politieke en ekonomiese orde vernietig word. In dié sin het Nelson Mandela dit as ’n revolusionêre dokument gereken. Die uitspraak in die openingsparagraaf van die dokument dat Suid-Afrika aan al sy inwoners behoort het die ander debat ontlok. Die weerstand van die Afrikaniste in die ANC teenoor hierdie omhelsing van veelrassigheid en wat hulle beskou het as ’n verloëning van die onvervreembare reg van swartmense se besitreg van Suid-Afrika het ’n baie meer onmiddellike en blywende impak op die ANC en weerstandspolitiek in Suid-Afrika gehad. Dit sou in 1959 lei tot ’n skeuring in ANC-geledere en die verskyning van die PAC as permanente rolspeler op die Suid-Afrikaanse politieke toneel. Die verwagtinge wat in sy ontstaanstydperk van die FC gekoester is, het sedertdien grootliks gerealiseer. As ’n saambindende, rigtinggewende en motiverende dokument wat as alternatief vir die apartheidsmodel moes dien het dit in die 50 jaar sedert sy ontstaan met wisselende intensiteit en sigbaarheid dié funksies in die “struggle” vervul. In die maer jare van ballingskap in die 1960’s en 1970’s het dit as teenvoeter vir die apartheidsbestel uitgewekenes en binnelanders se ideale verwoord en verenig ten spyte van hulle geografiese geskeidenhied. Met die stigting van die United Democratic Front in 1983 en die herlewing van grootskaalse binnelandse weerstand was dit die FC waaromheen hierdie amorfe groepering hulle as Charteriste verenig gevoel het en die ANC ten spyte van sy ballingskap teruggeplaas is in die sentrum van binnelandse weerstandspolitiek. Met die aanbreek van die De Klerk-fase en die onderhandelinge van die vroeë 1990’s was die FC steeds daar as een van die basisdokumente waarteen die nuwe Grondwet getoets is. Na tien jaar van demokrasie is Suid-Afrika ’n grootliks kapitalistiese staat waarin die beginsel dat die land aan al sy inwoners behoort steeds erken word. Die FC en die omstrede vrae wat in sy ontstaanstyd oor die dokument en sy inhoud gevra is asook die interpretasies wat destyds gegee is moet waarskynlik teen hierdie huidige realiteite beoordeel en beantwoord en geweeg word. Die FC sal vir solank daar beduidende groepe armes, ongeletterdes en verontregtes is ’n realiteit in Suid-Afrika en sy politiek bly. Anders as die formele regstaal van die Grondwet praat die FC die taal van die massas. Terwyl die ANC regering dus die land volgens die Grondwet probeer regeer sal hy steeds gedwing word om sy oog voortdurend op die FC gerig te hou. Sy opposisie, binne en buite die party sal hom steeds bly meet aan die ideale van die FC en die ontevredenes probeer mobiliseer op grond van die ANC se mislukkings gemeet aan die FC. In tye van linkse opposisie in sy eie geledere (soos wat die Zuma-faksie waarskynlik tans verteenwoordig) sal die ANC-regering gedwing word om, al is dit dan net in sy openbare retoriek, steeds die FC te omarm, al skrei sommige van sy beleidsrigtings en die huidige lewensstyl en ideale van sommige van sy leiers en lede teen dié van die FC. In die vyftig jaar van die FC en die tien jaar van die Suid-Afrikaanse demokrasie het die statuur van die FC, ten spyte van die omstredenheid daaromheen, steeds bly groei. Die feit dat dit nie aanhalings uit die Grondwet is wat op groot advertensieborde langs die land se snelweë uitgebasuin word nie, maar juis die slagspreuke van die FC: “There shall be houses, security and comfort! The doors of learning and of culture shall be opened!” is die sigbare getuienis hiervan. Dit sal alle Suid-Afrikaners baat om ten minste van die FC en sy ideale kennis te neem ten spyte van die ongemak wat hulle met sommige van die eise of uitsprake mag ervaar.
Bronne: T. Karis en G.M. Carter, From protest to challenge : a documentary history of African politics in South Africa, 1882-1964. Volume 3, Challenge and violence, 1953-1964, Stanford, Kalifornië: Hoover Institution Press, 1977. Anthony Sampson, Mandela, The Authorised Biography, Johannesburg: Jonathan Ball, 1999. Nelson Mandela, Long Walk to Freedom, The Autobiography of Nelson Mandela, Johannesburg: Macdonald Purnell, 1994. |