blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Ons redakteur lewer kommentaar op onderstaande briewe met betrekking op die NG Kerk 2005-09-07

Geagte leser,

                Met die ter perse gaan van hierdie uitgawe was dit reeds duidelik dat die inleidende aktuele artikel van Augustus se dossier oor “Die (NG) kerk en sy tyd” - “Opstand in die NG Kerk” - heftige debat ontketen het. Ons publiseer drie sterk bewoorde briewe daaroor hieronder. Uit hierdie gewaardeerde briewe, maar ook uit voortgaande en gereelde gesprekke wat Die Vrye Afrikaan soos gebruiklik met lidmate in verskillende sektore van die NG Kerk voer, het dit duidelik geword dat die stand van sake tans in die NG Kerk nog ingewikkelder is as wat die betrokke artikel te kenne gegee het. In die lig hiervan het Die Vrye Afrikaan die Algemene Moderator van die NG Kerk, dr. Coenie Burger, genader om ’n omvattende onderhoud vir ons Oktoberuitgawe ten einde sy perspektief op die kerk en sy tyd te gee.

                Ofskoon Die Vrye Afrikaan, wat pas maar ’n jaar oud is en met meer geloof en liefde as materiële bronne vir denkende Afrikaanse lesers uitgegee word, en ongetwyfeld nog aan die leer is - per stuk van sake bestaan daar geen historiese presedent in Suid-Afrika vir wat ons doen nie - is dit eweneens kommerwekkend dat die meeste negatiewe reaksie wat ons op hierdie betrokke artikel ontvang het duidelik laat blyk dat ons kritici nie verby dié artikel na die res van die dossier gelees het nie. Die rasionaal agter die res van die dossier was by uitstek om ’n groter hermeneutiese bewustheid oor die kerk en sy tyd te probeer aanwakker, iets wat onses insiens van die allergrootste belang vir die oorlewing van die kerk as miskien dié sleutelinstelling van die Suid-Afrikaanse samelewing is. Ek het dit in my inleiding van die dossier duidelik gemaak dat elke enkele van die skrywers almal die (NG) kerk ernstig opneem en ’n lojaal-kritiese posisie teenoor die instelling het. In die proses is die uitdaging wat die neo-liberalisme (waarskynlik die kerk se grootste bedreiging) bied behandel; is na ons wete ’n nuwe vertolking van die verhouding kerk en staat ter wille van ’n “post-staatlike” NG Kerk gegee; is die genderdebat nie maar in die gewone terme van verwyte teen die “patriargie” hanteer nie; word oor die pre-Reformatoriese bronne vir die toekoms van die kerk gedink; word aangrypend poëties oor Skrifgesag geskryf; en word ’n onderhoud met een van die grootste lewende teoloë ter wêreld geplaas.

                Om in die lig van hierdie dossier Die Vrye Afrikaan van ’n anti-kerklike of anti-NG-houding te beskuldig, getuig presies van die gebrek aan ’n hermeneutiese bewussyn wat die kerk in Suid-Afrika al meer as een keer diep in krisis gedompel het. Ek nooi ons kritici dus uit om verder deur die vorige uitgawe te blaai: gelukkig het etlike predikante en teoloë dit inderdaad gedoen en hulle waardering deurgegee.

- Die Redakteur


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=324
Artikel nagegaan:
    -