blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


“Gee ons Engels!”; Professor ontdek stille opstand van die massa 2005-09-07
Kleinjan Schietekat

Deur ons rondreisende verslaggewer, Kleinjan Schietekat

 

“Daar is ’n stille opstand onder Afrikaanssprekendes. In plaas van wat die taalgeleerdes sê, wil die mense eintlik Engels praat (en wees).” So sê professor Philip Hardick van die Universiteit van Surrey, ’n sosiolinguis en voormalige Marxis, wat die afgelope drie jaar indringende navorsing onder Afrikaanssprekendes gedoen het. In ’n reeks onderhoude wat Die Vrypostige Afrikaan by een van die geliefkoosde hotelle van voormalige Marxiste, die Mount Nelson in Kaapstad, met hom gevoer het, het Hardick ons ingelaat in die skokkende onthullings van sy navorsing.

                Hardick vertel dat hy drie jaar gelede met ’n ruim toekenning van die British Council met navorsing in Suid-Afrika oor die taalkwessie begin het. “In die buiteland vind mense julle 11 amptelike tale saam met ’n strewe na nasionale eenheid ’n komiese teenstrydigheid. Niemand in die wêreld het 11 amptelike tale nie, en een nasie beteken een taal. Dit leer mens al in sosiolinguistiek vir eerstejaars.”

                Hardick, wat sy Afrikaans spesiaal by die taalverwerwingskursus van ’n Wes-Kaapse universiteit vir sy navorsing geleer het - “Ek sukkel nog bietjie met al die dialektiese variasies van Afrikaans” - sê hy het besluit om uitsluitlik onder Afrikaanssprekendes navorsing te doen, omdat Afrikaans die sterkste inheemse taal is, en die houdings van dié taalgroep beslis iets oor die lewensvatbaarheid van 11 amptelike tale sal aandui.

                “Toe ek eers met my respondente begin gesels het, het ek gou besef dat ek eintlik my tyd gemors het om eers Afrikaans te leer. Van die mense was verskriklik kwaad omdat ek met hulle Afrikaans wou praat. Hulle het my beskuldig daarvan dat ek hulle nie kans gee om hulleself te bewys nie. Die mense se wil om Engels te praat is eenvoudig wonderbaarlik. Gee my twintig miljoen sulke Engelse en ons vee Mandaryns van die kaart af!”

                Hardick was bereid om Die Vrypostige Afrikaan met sommige van sy respondente te laat gesels ten einde sy navorsingsresultate te kontroleer. In die proses het ons gesels met mense vanaf korporatiewe Afrikaanse sakemanne tot parkeeraanwysers op straat. Stefan van der Merwe, met groot belange op die aandelebeurs, dring daarop aan om sy naam as “Steven wên der Murf” uit te spreek. Dit het mooipraat gekos, maar uiteindelik het hy wel ingestem om in Afrikaans met ons te praat. “My Afrikaans is baie verroes. Die feit van die saak is dat Engels die language of commerce is. In my maatskappy help ons nou mense deur niemand te employ wat net eentalig is nie, behalwe natuurlik as hulle net Engels kan praat. Ons het ook ’n spesiale taaltalentkursus ingestel om mense te help met die jargon of capital.

                “Ook by die huis stoot ek deur. Al wanneer ek nog Afrikaans praat, is as ek en my vrou in die slaapkamer kom, en dan skree ons ook gewoonlik so dat ek embarrassed is dat die kinders ons dalk hoor.”

                Nog een van prof. Hardick se respondente is At Jacobs, ’n boer van die Noord-Wes. Jacobs, wat merkbaar verlig was toe hy na Afrikaans kon oorslaan, vertel dat hy nie ’n spesiale Engelse kursus of akademiese opleiding “vir dié soort ding gehad het nie”. Hy is ’n produk van die Noordwes-Landboukollege wat onlangs in die nuus was, en wie se afgestudeerdes as “Pampoenboere” bekendstaan. Toevallig boer hy naas varke ook met pampoene.

                Jacobs sê, “Jong, hier in die Wes-Transvaal vra ons of ’n ding werk, en as hy nie werk nie, maak ons ’n plan. Dis hoekom ek nou nie meer met my werkers Tswana praat nie. Dit gaan maar moeilik om hulle te oortuig om met mekaar Engels te praat, maar ons probeer. Ek dink die gesukkel met die Engels het iets te doen met die trekker wat gedurig breek, en laasjaar se pampoenoes was ook in sy moer. Maar ons gee nie op nie.”

                Hardick sê sy onderhoude met Van der Merwe en Jacobs het ’n geweldige indruk op hom gemaak. “Jy moet onthou dat die boere en die sakemanne omtrent die ruggraat van die Afrikaanse ekonomie is. En hierdie mense se moed en versiendheid is eenvoudig verstommend. Wys jou net jy kan dié mense nie afskryf nie.”

                Hardick het egter nie net met praktiese mense of mans gesels nie. Ofskoon hy steeds op 52 ’n enkellopende is, is hy veral onder sy vroulike kollegas by Surrey bekend en selfs gewaardeerd vir sy genderbewustheid. Dit is ook aan Die Vrye Afrikaan bevestig deur een van sy vroulike respondente, ’n nagraadse filosofiestudent aan die Universiteit van Stellenbosch wat verkies het om anoniem te bly. Sy sê dis duidelik dat daar in Afrikaans “’n opstand deur ’n spontane koalisie van gewilliges is”, wat net weer wys hoe “bodemvas ons mense is”. Wat haar ook beïndruk is “hoe ordelik hierdie opstand is. Die mense is gedissiplineerd. Dié soort ding gebeur nie in Europa nie. Kyk hoe gaan dit by hulle sokkergames of met hulle lughawestrikers. Afrikanerselfbeheptheid is clearly history. Identiteit ook. Kyk maar na karre en word wys. Al die karre is vandag wit en boxed-up. En Benedict Anderson is overrated. In hierdie opstand is geen imagination en niks community nie. Ons is almal individuals en ons gaan inpas. Dis demokrasie, man.”

                Prof. Hardick sê dis jammer vir veeltaligheid, maar minstens gaan almal mekaar verstaan. “Uiteindelik sal gender en kleur ook verdwyn. Dit bewys maar net Marx was reg. Al hierdie identiteite is eintlik konstrukte.”


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=323
Artikel nagegaan:
    -