blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vandeesmaand se hoofartikel in Le Monde Diplomatique: Londen-Bagdad 2005-08-17
Ignacio Ramonet

Vandeesmaand se hoofartikel in Le Monde Diplomatique:

Londen-Bagdad

Deur Ignacio Ramonet*

Daar is niks wat die terreuraanvalle op 7 Julie in Londen, wat twee-en-vyftig onskuldiges sowel as die selfmoordaanvallers laat sterf het, kan regverdig nie. Want die slagting van onskuldiges in die naam van ’n sogenaamd regverdige saak, dien nooit die regverdige saak nie, maar is bloot moord op onskuldige mense.

Hierdie aanvalle was voorspelbaar. “Hierdie aanvalle was nie vir ons ’n verrassing nie,” het mnr. Christophe Chaboud, hoof van die Koördineringseenheid vir die stryd teen terrorisme in Frankryk erken, “maar is die bevestiging van iets wat onafwendbaar is binne die huidige internasionale bestel, en by uitstek die oorlog in Irak (1).” Gedurende die afgelope maande het sekerheidsamptenare herhaal dat die kwessie nie is om te weet of hierdie aanvalle sou plaasvind nie, maar waar dit sou plaasvind. Die opening van die G8-beraad (die groep van die sewe rykste moondhede, sowel as Rusland) by Gleneagles in Skotland, het ’n simboliese geleentheid verskaf. En die befaamde Britse Sekerheidsdienste, beter bekend as MI5 en MI6 (Militêre Intelligensie), was nie in staat om die slagting te vermy nie. Dit bevestig dat niemand tot dusver ’n sekerheidsoplossing gevind het om terrorisme op die lang termyn te ontkom nie.

Mnr. Tony Blair, Britse Eerste Minister, weier om te erken dat daar enige verband bestaan tussen hierdie aanvalle en sy Irakese beleid. In weerwil daarvan is dit duidelik dat die groepering van Londen by Washington se strydlustigheid, inval en besetting van Irak ten spyte van sterk openbare verset, tragiese gevolge binne Groot Brittanje self sou hê. Die terreuraanvalle in Madrid op 11 Maart 2004 het, wat dit aanbetref, as ’n somber waarskuwing gedien.

Soveel te meer omdat die situasie in Irak steeds chaoties is. Die Amerikaanse owerhede – van wie dit nou bewys is dat hulle gelieg het om die inval in Irak te regverdig – het hulle na-oorlogse bevoegdheid onderskat. Irak het nie net ’n moeras geword nie, maar ’n ware kruitvat (kyk die artikel van Howard Zinn, p.19).

In teenstelling met President Bush se verklarings is die wêreld nie veiliger sedert die besetting van Irak nie. Inteendeel. Die Al Kaïda-netwerk is nie afgetakel nie. Mnr. Osama Bin Laden is nie gearresteer nie. En die newelagtige djihadiste kon toeslaan op plekke wat tot dusver gespaar gebly het: Istanboel, Bali, Casablanca, Madrid, Londen ... Selfs die Amerikaanse weermag is van mening dat Irak ’n “skool vir stedelike guerilla-oorlogvoering” geword het, ’n  ware “laboratorium van terreur (2)” wat honderde vrywilligers vanuit verskeie lande aantrek. Hier neem geweldpleging yslike afmetings aan. Die rebelle het meer as 12 000 mense gedurende die afgelope agtien maande doodgemaak. Tans beloop die aantal Irakiërs wat in terreuraanvalle sterf, 200 per week, oftewel 800 per maand! Die Pentagon reken dat die rebellie, hoofsaaklik van Soennitiese oorsprong, oor sowat 20 000 vegters beskik en deur sowat 200 000 ongereelde vegters ondersteun word ...

Die besettingsmag weet nie hoe om ’n einde daaraan te maak nie. In weerwil van ’n onderdrukking wat nie terugdeins voor praktyke soos ontvoerings, geheime tronke, martelings – soos die wangebruike in die tronk van Abu Ghraib aangetoon het – of disproporsionele magsmisbruik nie. ’n Soldaat, Jim Talib, wat aan die aanval op Falloedja deelgeneem het, getuig:  “Een dag, terwyl ek ’n gevangene na die tronk neem, het die offisier in bevel van ondervragings ons aangesê om hulle nie meer te bring nie. ‘Skiet hulle,’ het hy gesê. Ek was oorbluf. Ek kon nie glo dat hy dit werklik gesê het nie. En hy het nie gekgeskeer nie. ’n Paar dae later het ’n groep Humvee-voertuie verbygery, met  twee dooie Irakiërs wat soos prooi aan die masjienkappe vasgemaak is. Een van die liggame se skedels was oop en die harsings het reeds begin om op die voertuig se kap te bak. Dit was ’n afskuwelike gesig. Ek kan getuig van bitter min respek teenoor lewendes, amper geen teenoor dooies nie, en amper niemand was enige verduideliking verskuldig nie (3).”

By die Wêreldhof vir Irak wat vanaf 25 tot 27 Junie in Istanboel in sitting was, en wat die hoofstroommedia verberg het, is een van die mees verdoemende getuienisse deur die Libanees-Amerikaanse joernalis, Dahr Jamail, verskaf. Hy het vertel hoe ’n staatsamptenaar van die Bagdad-administrasie, mnr. Ali Abbas, na ’n Amerikaanse kamp gegaan het om navraag te doen omtrent die verdwyning van een van sy bure. Omdat hy knaend was, is mnr. Abbas sonder omhaal in hegtenis geneem, sy klere uitgetrek, is hy geblinddoek en gedwing om seksuele dade met ander gevangenes na te boots. Standaard prosedure. Daarna is honde op hom losgelaat, is hy op sy geslagsdele geslaan en is hy elektriese skokke in die anus toegedien. Met die loop van ’n wapen in sy mond gedruk, het sy folteraars gedreig om hom tereg te stel as hy sou skree. Daarna is hy gelos terwyl hy in sy ontlasting worstel (4) ...

Mnr. Blair is van mening dat daar geen verband bestaan tussen hierdie misdrywe wat in Irak gepleeg is en die terreuraanvalle in Londen nie. En as daar wel een sou wees?

 

*Redakteur, Le Monde diplomatique

_________

(1) Le Monde, 12 Julie 2005.

(2) International Herald Tribune, 22 Junie 2005.

(3) Jim Talib kan by die volgende adres gekontak word: [email protected]

(4) Kyk  http://dahrjamailiraq.com/ Lees ook John Pilger, “ Sono arrivati le bombe di Blair ”, Il Manifesto, Rome, 8 Julie 2005.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=290
Artikel nagegaan:
    -