blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vandeesmaand se hoofartikel: Taal en universiteite 2005-08-17

Taal en universiteite

Naby die einde van Julie was die kwessie van taal en universiteite nogmaals in die openbare oog toe studente onder die vaandel van die ANC-jeugliga en SASCO tydens ’n betoging by die Universiteit van Stellenbosch (US) daarop aangedring het dat “every student in this university should be given a fair chance to be taught in a language (English or Afrikaans) that would be in the best interest of his or her education.” (1)

Die rektor van die US se gelukwensing aan dié studente vir die “gedissiplineerde en ordelike” (2) wyse waarop hulle betoog het, moet aangeteken word as een van die vreemdste reaksies ooit op ’n Suid-Afrikaanse betoging. Ook sy uitspraak dat “taal nie ’n probleem is wat opgelos moet word nie, maar ’n kwessie wat bestuur moet word” (3) boesem nie juis vertroue in in die mate waartoe hy hierdie probleem sal hanteer vir wat dit is, naamlik´n politieke kwessie wat politieke eerder as bestuursvaardighede vereis (waarmee ons nie wil sê dat bestuursvaardighede nie handig te pas kan kom in so ’n situasie nie).

Die betoging aan die US kom nà betogings vroeër vanjaar aan die universiteite van Johannesburg en Pretoria, toe Afrikaans as onderrigtaal ook in die spervuur gestaan het. Interessant genoeg het die ANC-jeugliga en SASCO in hulle memorandum nie geskroom om na hulleself as “ʼn minderheid” te verwys nie: “We demand that the SRC structure should include a minimum of three (3) closed portfolios for “minority students.” (4) En dít in ’n konteks waarin regeringswoordvoerders, onder wie president Mbeki onlangs in ANC Today, die erkenning van minderhede met ’n terugverlang na die apartheidsverlede gelykstel!

Prof. Brink het heeltemal reg as hy sê dat Afrikaans (en die ander inheemse tale) se toekoms binne ’n veeltalige omgewing, en in die aangesig van die oorheersende internasionale taal Engels, gehanteer moet word. Hy het insgelyks reg as hy sê dat die saak vir Afrikaans ook buite Afrikaans gestel moet word. (5)

Die probleem is egter dat die onus om Afrikaans en die ander inheemse tale dusdanig te hanteer in hierdie stadium vierkant op die skouers van die regering rus. Prof. Hermann Giliomee het in ’n onlangse rubriek (6) daarop gewys dat die meeste Afrikaners vanuit beginsels en binne die konteks van die Grondwet hulle sake stel – wat die sake nou ook al mag wees.

Wat die kwessie van die inheemse tale aan ons universiteite betref, is die feit van die saak dat die historiese Afrikaanse universiteite (HAU’s), insluitend die US, veel meer as die historiese Engelse universiteite gedoen het om voorheen benadeelde studente die afgelope jare in te neem. Die Universiteit van die Vrystaat het byvoorbeeld al jare gelede in oorleg met sy studente ’n skikking vir koshuisbeleid onderhandel, oftewel ’n politieke probleem met ’n politieke strategie hanteer.

Daarmee saam is dit ook so dat die meeste Afrikaanse en veeltaligheidsaktiviste – die meeste veeltaligheidsaktiviste is ook Afrikaans – al dikwels moes ervaar dat daar in die Engelse media en in regeringskringe vanaf onbegrip tot belangeloosheid tot vyandigheid jeens die kwessie gereageer word. Dit is byvoorbeeld nie so maklik om ’n artikel oor die taalkwessie in Engelse koerante geplaas te kry nie, ofskoon dit al in enkele gevalle gebeur het.

Daar is tekens dat die regering herbesin oor die taalkwessie aan universiteite. Vroeër vanjaar het ’n taakspan onder leiding van die rektor van die Universiteit van Kaapstad, prof. Njabulo Ndebele, byvoorbeeld vir die regering ’n verslag oor die inheemse tale aan ons universiteite gelewer, ofskoon hierdie verslag, sover bekend, nog nie wêreldkundig gemaak is nie.

Prof. Brink het ook in sy onlangse toespraak by die US verwys na ’n gesprek wat tussen die regering en die vyf rektore van die HAU’s gevoer is, en waarin welwillendheid klaarblyklik van regeringskant beleef is. (Maar waarom word die Afrikaanse wêreld so skrapsgewys oor hierdie gesprekke of hulle inhoud ingelig?)

Volgens inligting in die besit van Die Vrye Afrikaan het min. Pandor onlangs in ’n gesprek aan ’n politieke party aangedui dat sy binnekort aankondigings oor die onderwys gaan maak wat onregstreeks ook op die taalkwessie betrekking het, en wat moontlik goeie nuus kan wees.

Die beste nuus sal natuurlik wees as die regering hom nie net tot die bevordering van veeltalige universiteitsonderrig verbind nie, maar ook as hy uitspel watter vorme van ondersteuning hy hiervoor gaan gee. In die geval van die HAU’s word al die druk vir parallelmediumonderrig deur die dosentekorps geabsorbeer. Dan kan die regering ook aandui dat die inagneming van taalvaardigheid eerder as ras ook in die aanstelling van studente gevolg kan word, want daar is reeds´n kruipende verengelsing van HAU’s weens die aanstelling van personeel wat nie Afrikaans magtig is nie.

Kortom, die regering moet bewys dat hy eweseer verbind is tot veeltaligheid as die HAU’s, nie net deur die nodige finansiële ondersteuning vir parallelmediumonderrig waar nodig te verskaf nie, maar ook deur taal eerder as ras deel van personeelbeplanning te maak.

Oftewel: vir ’n politieke probleem moet ’n politieke oplossing gegee word. 

 

_________

(1) “Suggestions that could benefit transformation in Stellenbosch University”, Memorandum van die ANC-jeugliga en SASCO, http://www.sun.ac.za/News/dokumente/ancylmemo.pdf

(2) http://www.sun.ac.za/News/NewsItem.asp?ItemID=8297&Zone=AEX#english

(3) “Die Rektor en Visekanselier se Openbare Verslag 2005”, http://www.sun.ac.za/News/NewsItem.asp?ItemID=8262&Zone=AEX

(4) ANC-jeugliga-/ SASCO-memorandum.

(5) Rektor se Openbare Verslag.

(6) Die Burger, 19 Julie 2005.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=289
Artikel nagegaan:
    -